Vinnige feite

  • Suid-Afrika is die land waar die meeste kuberafknouery ter wêreld plaasvind. Amper 25% (1 uit elke 4) van kinders is al deur kuberboelies afgeknou. 10
  • 57% (1 uit elke 2) van kinders in Suid-Afrika was al die slagoffer van boelies. 11
  • Die meeste kuberafknouery vind op Instagram (42%) en Facebook (37%) plaas. 12

Foto: iStock

Afknouery is wanneer iemand opsetlik (doelbewus) en herhaaldelik (oor en oor) seergemaak word deur iemand/ander se woorde of optrede, sleg voel as gevolg daarvan en dit moeilik vind om te stop wat met hulle gebeur. Afknouery of boeliegedrag is nooit reg nie en niemand verdien om geboelie te word nie. Seuns én meisies kan boelies wees en ’n mens kry selfs grootmense wat soos boelies optree. 1 Boeliegedrag verskil van konflik. Konflik is wanneer ’n mens van iemand verskil. Jy en die persoon kan op ’n mooi manier oor die verskillende kante van ’n saak praat, of bespreek hoe iemand oor iets voel.

Soorte afknouery

Fisiek

Dit is as iemand jou fisiek seermaak, maar ook as iemand op enige manier aan jou raak wat jou ongemaklik laat voel.

Dit is wanneer iemand: 2

  • jou klap, slaan, stamp of stoot;
  • jou laat struikel;
  • onbeskofte of lelike gebare maak; of
  • jou goed vat of breek.

Verbaal

Dit is as iemand: 3

  • op jou skree;
  • jou name noem en spot;
  • jou dreig; of
  • vir jou lag.

Emosioneel

Dit is as iemand: 4

  • jou met opset uitskuif of uitlaat;
  • skinderstories of leuens oor jou vertel; of
  • jou sleg laat voel oor wie jy is.

Kuberafknouery

Kuberafknouery is wanneer iemand die internet, teksboodskappe (soos WhatsApp, SMS en Telegram) en sosiale media gebruik en dinge oor iemand sê wat hulle dalk nie reguit vir die persoon sal sê nie.

Dit kan insluit: 5

  • om lelike of afbrekende teksboodskappe te stuur;
  • beledigings of leuens oor iemand op sosiale media plaas;
  • maak asof jy iemand anders is en dan lelike boodskappe stuur;
  • afbrekende kommentaar op byvoorbeeld Instagram-foto’s lewer; of
  • persoonlike inligting, foto’s of video’s plaas om iemand anders seer te maak of in die verleentheid te stel.

Hoe laat afknouery ’n mens voel?

  • Bang 6
  • Gespanne
  • Depressief of angstig
  • Skaam en teruggetrokke
  • Dink aan selfdood of om jouself seer te maak
  • Sukkel met skoolwerk (punte daal) en om te konsentreer
  • Wil glad nie skool toe gaan nie
  • Sukkel om te slaap of kry nagmerries
  • Het nie baie energie nie en eet baie minder
  • Is skielik aggressief of ongeduldig

Hoe lyk ’n boelie?

Boelies kan seuns of meisies wees.

Hulle is gewoonlik: 7

  • vrolik of aggressief (hulle spot jou of maak jou fisiek seer);
  • skaam of skelm (hulle doen goed in die geheim of kan anoniem stories of leuens versprei); of
  • vriendelik of vals (hulle gee voor om jou vriend te wees sodat jy dinge vir hulle kan vertel of doen, maar sê of doen dan lelike dinge agter jou rug).

Boelies is amper almal dieselfde.

Hulle:

  • hou daarvan om in beheer van ander te wees;
  • is op hulself gefokus;
  • het swak sosiale vaardighede (sukkel om met mense oor die weg te kom);
  • gee dalk nie om vir mense nie of het nie empatie nie; en
  • is dikwels onseker en boelie ander om hulself beter te laat voel.

Sommige boelies verstaan ​​nie normale emosies soos skuldgevoelens, empatie, medelye of berou nie en het ’n volwassene se hulp nodig.

Wie word meestal geboelie?

Afknouery is áltyd die boelie skuld. Daar is sommige kinders wat meer dikwels die slagoffers van boelies word.

Hulle is gewoonlik: 8

  • suksesvol (kinders wat goed presteer of baie aandag by onderwysers en hul maats kry);
  • intelligent, gedetermineerd of kreatief (hulle doen ekstra moeite met hul skoolwerk en take, of kan dinge vinniger en mooier doen);
  • kwesbaar (dit is kinders wat dalk skaam en teruggetrokke is of hou daarvan om ander mense tevrede te stel);
  • geïsoleerd (hulle sit baie keer pouse alleen en het nie baie vriende nie);
  • gewild (veral meisies teiken ander wat dalk meer gewild as hulle is);
  • anders (hulle lyk anders – hulle is baie kort of lank, of baie maer of oorgewig);
  • siek of gestremd (hulle is dalk allergies vir iets, kry asma of het ’n fisieke gestremdheid); of
  • van ’n ander kultuur, ras of geloof (hulle het ander gewoontes en gebruike).

Staan só op teen boelies

Daar is baie dinge wat jy kan doen as jy geboelie word of iemand ken wat afgeknou word: 9

  • Praat

    Praat met iemand wat jy kan vertrou. Volwassenes in gesagsposisies, soos ouers, onderwysers of afrigters, kan dikwels afknouery hanteer sonder dat die boelie ooit weet hoe hulle daarvan uitgevind het.

  • Ignoreer

    Ignoreer die boelie en loop weg. Boelies hou daarvan om reaksie te kry. As jy wegstap en hulle ignoreer, stuur jy ’n duidelike boodskap dat jy jou nie aan boelies steur nie.

  • Moenie terugbaklei nie

    Jy sal waarskynlik in die moeilikheid beland as jy met ’n boelie terugbaklei. Sê vir die boelie dat sy of haar gedrag ernstig en verkeerd is.

  • Oefen selfvertroue.

    Oefen maniere om mondelings of deur jou gedrag op die boelie te reageer. Sê vir die boelie hoe hy of sy jou laat voel. Oefen ook om goed te voel oor jouself.

  • Vind ware vriende.

    Vind vriende wat vir jou omgee. As jy gerugte of skinderpraatjies hoor, moet jy dit vir jou vriende vertel sodat hulle jou kan ondersteun en help om veilig te voel.

  • Staan op vir ander

    Staan op vir ander wat jy sien geboelie word. Jou optrede sal die een help wat geboelie word. Sê ook vir die boelie dat hy of sy moet ophou om ander af te knou.

  • Teenboelieveldtog

    Raak betrokke by ’n teenboelieveldtog. As julle skool nie een het nie, vra jou onderwyser of iemand van buite oor afknouery kan kom praat. Jy kan ook voorstel dat almal plakkate maak wat wys dat boeliegedrag nie in julle skool geduld word nie. Die plakkate kan dan oral in die skool opgesit word.

Woordbank

afbrekende Verkleinerende, beledigende, kritiserende.
afknouery Wanneer iemand jou seermaak of boelie.
aggressief Aanvallend; bakleierig, veglustig.
anoniem Iemand wie se naam nie bekend gemaak word nie; naamloos.
berou Wanneer jy spyt is oor iets wat jy gedoen het.
depressief Terneergedruktheid van die gemoed; ernstige bedruktheid/neerslagtigheid wat iemand laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
empatie Om jou in iemand anders se skoene (situasie) te plaas en sodoende te verstaan hoekom hy of sy iets doen.
gebare
Om in plaas van woorde iets aan iemand te sê deur middel van vinger-, hand-, arm- of gesigbewegings.
gedetermineerd Vasberade; iemand met wilskrag om ’n taak suksesvol te voltooi.
geïsoleerd Afgesonder, op jou eie, alleen.
gerugte ’n Berig/praatjie/storie wat nie bewys kan word nie.
gesagsposisies Mense wat gesag het, soos onderwysers, predikante, ouers, ens.
gestremd Iemand met ’n liggaamsgebrek, soos verlamming, kreupelheid, doofheid, blindheid/swaksiendheid, ens.
herhaaldelik Oor en oor, weer en weer.
ignoreer Wanneer jy jou nie aan iemand/mense steur nie of geen notisie van hulle neem nie.
intelligent Slim, skrander.
konflik Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe.
kuberafknouery Wanneer iemand ’n ander persoon teiken (kies) en aanlyn treiter, beledig, ens.
kwesbaar Iemand is kwesbaar wanneer hy/sy baie fyngevoelig is (maklik ontsteld of angstig raak).
medelye Dit is wanneer jy vir ander mense omgee en hulle troos wanneer hulle hartseer is.
opsetlik Aspris, doelbewus.
staan op Om dapper genoeg te wees om iemand te verdedig.
teenboelieveldtog ʼn Georganiseerde optrede teen iets, in hierdie geval boelies.
teruggetrokke Skaam.
vals Nie eg nie.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Beskerm jouself só

Wenke vir kinders

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Augustus 2021 | Bygewerk op 22 Maart 2024