Vinnige feite

  • Facebook was nie die eerste sosialemedianetwerk nie. SixDegrees.com was een van die eerstes wat jou toegelaat het om inligting en foto’s met klein groepies (netwerke) te deel, maar het net van 1997 tot 1999 bestaan. Facebook, wat in 2004 begin is, het einde 2020 sowat 2,8 miljard gebruikers gehad. 9
  • Mense spandeer bykans 7 ure per dag aanlyn (op die internet of sosialemediaplatforms). Dit is amper 100 dae per jaar vir elke internetgebruiker
  • Daar is meer as 1 miljard webtuistes op die internet, maar net sowat 200 miljoen is aktief. 13
  • Die topdrie-webtuistes wat die meeste besoek word, is Google, YouTube en Facebook. 14
  • Die eerste e-pos is in 1971 deur Ray Tomlinson 16 aan homself gestuur (na ’n rekenaar langs hom). Tomlinson word as die uitvinder van e-pos op die ARPANET-stelsel en die gebruik van die aapstert (@) in e-posadresse beskou. Volgens Statista is 6 uit elke 10 e-posse (60%) gemorspos. 17
  • Singapoer het in 2023 met die vinnigste internetspoed gespog, naamlik teen 60,39 Mbps (megagrepe per sekonde). 18
Foto: iStock

Die internet is ’n supersnelweg van inligting (soos ’n klomp paaie met baie motors) en een van die grootste uitvindings van die 1900’s. Soos met baie soorte tegnologie wat blitsvinnig verander en uitbrei, is die uitvinding van die internet nie te danke aan ’n enkele persoon nie, maar danksy talle wetenskaplikes, ingenieurs en programmeerders wie se navorsing oor baie jare saamgevoeg is om die internet soos ons dit vandag ken, te word. 1

Die internet word gebruik om inligting op te soek (soos vir take), met ander mense te gesels, lêers of inligting te stuur, en om e-pos (elektroniese pos of “briewe”) te stuur en ontvang. 2

Die beginjare

In die 1960’s het die Amerikaanse weermag, sakeondernemings en universiteite saamgewerk (Advanced Research Project Agency of ARPA) om ’n stelsel of sisteem te ontwikkel waardeur inligting tussen rekenaars oor die VSA heen gedeel kon word. Dit het gelei tot die eerste “weergawe” van die internet, genaamd ARPANET (Advanced Research Project Agency Network), in 1969. 3

Teen die 1970’s was baie groepe rekenaars met mekaar verbind (netwerke) en kort daarna is TCP en IP (“Transmission Control Protocol” en “Internet Protocol”) ontwikkel om ’n standaard te skep vir die stuur van data (inligting).

In 1989 is hiperteks (“hypertext”) ontwikkel. Hiperteks is ’n skakel tussen dele van ’n elektroniese dokument of tussen verskillende dokumente. Hiperteks was die basis vir die wêreldwye web (vandaar die afkorting www vooraan die meeste internetadresse) se ontstaan in die vroeë 1990’s.

Die Britse rekenaarwetenskaplike Tim Berners-Lee word beskou as die skepper van die wêreldwye web. Terwyl die internet bloot ’n netwerk van netwerke is, is die wêreldwye web die sisteem wat ons gebruik om toegang tot die internet te verkry. 4

Al dié mense het ’n bydrae gelewer

Paul Baran (1926–2011) was ’n ingenieur wie se werk oorvleuel het met ARPA se navorsing. In 1959 het hy by ’n Amerikaanse dinkskrum (’n groep wat saam oplossings vir probleme soek), die Rand Corporation, aangesluit en hy is gevra om ondersoek in te stel na hoe die Amerikaanse lugmag beheer oor sy vloot kan behou as ’n kernaanval ooit sou plaasvind (die VSA en Rusland – toe die Sowjetunie – was in die Koue Oorlog gewikkel). In 1964 het Baran met die idee van ’n kommunikasienetwerk sonder ’n sentrale bevel- of beheerpunt opgekom. As een punt vernietig sou word, sou al die oorblywende punte steeds met mekaar kon kommunikeer. Hy het dit ’n verspreide netwerk genoem.

Lawrence Roberts (1937–2018) was die hoofwetenskaplike by ARPA, verantwoordelik vir die ontwikkeling van rekenaarnetwerke. Hy het baie van Baran se idee gehou en het begin werk aan die skepping van ’n verspreide netwerk.

Lawrence Roberts

Leonard Kleinrock (1934–) is ’n Amerikaanse wetenskaplike wat saam met Roberts gewerk het aan ’n verspreide netwerk.

Leonard Kleinrock

Donald Davies (1924–2000) was ’n Britse wetenskaplike wat op dieselfde tyd as Roberts en Kleinrock soortgelyke tegnologie by die National Physical Laboratory in Middlesex in Engeland ontwikkel het.

Donald Davies

Bob Kahn (1938–) en Vint Cerf (1943–) is Amerikaanse rekenaarwetenskaplikes wat TCP/IP ontwikkel het, die stel protokolle wat bepaal hoe data deur ’n netwerk beweeg. Dit het ARPANET gehelp om te ontwikkel tot die internet wat ons vandag ken. Cerf was die eerste wat die woord “internet” gebruik het.

Bob Kahn

Paul Mockapetris (1948–) en Jon Postel (1943–1998) is die uitvinders van DNS (Internet Domain Name System), die “telefoonboek van die internet”.

Paul Mockapetris

Tim Berners-Lee (1955–) is die skepper van die wêreldwye web en het baie van die beginsels ontwikkel wat ons vandag nog gebruik, soos HTML, HTTP, URL en webblaaiers.

Tim Berners-Lee

Marc Andreessen (1971–) was die uitvinder van Mosaic, die eerste webblaaier. 5

Marc Andreessen

Hoe werk die internet?

Inligting op die internet word op webtuistes of -bladsye gerangskik. Mense besoek webtuistes met behulp van rekenaarprogramme genaamd internetblaaiers. Mense skep webtuistes met behulp van ’n kode genaamd HTML (“hypertext markup language”). Blaaiers lees die HTML-kode en laat mense dan toe om webtuistes op ’n rekenaar of selfoon te besoek. Elke webtuiste het sy eie, unieke internetadres, wat ’n URL (“uniform resource locator”) genoem word.

Hoe baie mense gebruik die internet?

Meer as 5,3 miljard mense (65% van die wêreld se bevolking of amper 7 uit elke 10 mense) was teen 2023 aktiewe internetgebruikers. Meer as 90% van dié mense verkry toegang tot die internet op hul selfone. 6

Die internet het eers in November 1993 in Suid-Afrika posgevat, en MWEB se Big Black Box was in 1997 een van die eerste kommersiële telefooninternetverbindings (’n toestel of modem is aan jou huistelefoon gekoppel en het dan teen net 56 kbps – kilogrepe per sekonde – met die internet verbind). Telkom het gevolg met ’n ISDN-diens teen 64 kbps.

Die breëbandera (vinniger internetspoed) het in 2002 in Suid-Afrika aangebreek met Telkom se ADSL-verbinding van tot 512 kbps. Koordlose breëband het eers in 2004 gekom (wat ’n verbindingspoed van tot 1 Mbps gebied het), danksy diensverskaffers soos Sentech MyWireless, iBurst en Vodacom. In 2014 het Telkom die eerste geword om optieseveselverbindings (“fibre to the home”) te bied. 8

Vandag is daar talle Wi-Fi-maatskappye wat blitsvinnige internetverbinding (meer as 100 Mbps) bied en ons kan op bykans enige plek in die wêreld internettoegang kry. Terwyl baie sakeondernemings en restaurante aanvanklik gratis internettoegang net vir ’n beperkte tyd of hoeveelheid data gebied het, kan jy nou byna oral gratis, onbeperkte toegang kry – van hospitale tot winkelsentrums, lughawens, hotelle en selfs haarkappers.

Het jy geweet?

Daar is ’n internetheldesaal, of Internet Hall of Fame, met mense wat ’n bydrae gelewer het en steeds lewer tot die ontwikkeling van die internet. Jy kan by https://www.internethalloffame.org allerlei nuusbrokkies lees en meer uitvind oor die geskiedenis van die internet.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Ray Tomlinson: Uitvinder van e-pos

Wat is die internet?

Geskiedenis van die internet

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024