Vinnige feite

Skokkende statistiek uit ’n verslag wat die WGO in 2020 uitgereik het ná ’n studie wat in 155 lande gedoen is, het onder meer die volgende getoon:

  • Tot drie uit elke vier kinders (of 300 miljoen kinders) tussen die ouderdom van twee en vier jaar word gereeld fisiek gestraf (geslaan) of aan emosionele geweld of mishandeling deur ouers of versorgers blootgestel.
  • Een uit elke drie leerders tussen 11 en 15 jaar was al die slagoffers van boelies.
  • 120 miljoen meisies en jong vroue onder 20 jaar is al seksueel mishandel.
Foto: iStock

Jou ouers het jou waarskynlik al verbied om na ’n TV-program, reeks op Netflix of ’n rolprent te kyk omdat dit ’n ouderdomsbeperking het, of om sekere videospeletjies te speel omdat dit te gewelddadig is?

Hulle doen dit met goeie rede! Geweld is wanneer mense mekaar fisiek seermaak of emosioneel skade aandoen. Geweld kom egter nie net op televisie, in videospeletjies en verwysings daarna in musiek voor nie. ’n Mens kry ook geweld by die skool en selfs by die huis. 1

Geweld lei tot verdere geweld (met ander woorde as jy aan baie geweld blootgestel word, kan jy dalk self geneig wees om geweld te gebruik of gewelddadig op te tree) en kan van een geslag na ’n volgende oorgedra word. 2

Geweld teen vroue en kinders is ’n diepgewortelde maatskaplike probleem in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die oorsake van geweld sluit faktore in soos persoonlikheid, geslagsrolle, godsdiens en kulturele gebruike. Hierdie faktore het egter almal een ding in gemeen, naamlik die rol wat mag speel.

Geweld teenoor kinders

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is geweld teenoor kinders alle vorme van geweld wat teenoor kinders jonger as 18 jaar gepleeg word.

By babas en jonger kinders behels geweld hoofsaaklik kindermishandeling (fisieke, seksuele en emosionele mishandeling, asook verwaarlosing) deur hul ouers, versorgers of ander gesagsfigure. Seuns en meisies loop dieselfde risiko vir fisieke en emosionele mishandeling en verwaarlosing, maar die gevaar is groter vir meisies om seksueel mishandel te word. Namate kinders adolessensie bereik, is geweld tussen maats van dieselfde ouderdom baie algemeen. 3

Gesinsgeweld

Gesinsgeweld is die gebruik van geweld, dreigemente of intimidasie om ’n familielid, ’n lewensmaat of voormalige huweliksmaat te beheer of te manipuleer. In só ’n verhouding is daar ’n magswanbalans en word gedrag of geweld gebruik om die ander persoon te beheer en hom of haar van keuse te ontneem. 4

Nie alle gesinsgeweld word deur mans gepleeg nie, maar navorsing toon dat mans in die meeste gevalle die geweldenaar (die een wat die geweld pleeg) en vroue en kinders dikwels die slagoffers is. Internasionale navorsing het bevind dat een uit elke drie vroue wêreldwyd geweld deur ’n maat ondervind. In baie kulture word vroue as minder belangrik (’n laer status) as mans gesien.

Gesinsgeweld kan in enige gesinsverhouding voorkom, insluitend tussen paartjies, familielede, in huwelike, en teen mense wat bejaard of gestrem is.

Daar word algemeen geglo dat gesinsgeweld hoofsaaklik deur alkoholmisbruik veroorsaak word. Dit is egter nie waar nie. Hoewel alkohol ’n sneller vir erger geweld kan wees, is dit selde die oorsaak. In 50% van gevalle van gesinsgeweld waarvoor die polisie ontbied word, is die geweldenaar heeltemal nugter.

Geslagsgebaseerde geweld

Mans en seuns kan ook slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (geweld wat teenoor iemand gepleeg word net omdat hulle ’n man of ’n vrou is) wees, maar vroue en meisies is verreweg die grootste slagoffers. 5

Daar is sommige vorme van geweld waardeur mans die meeste getref word, soos oorlog en etniese suiwering (wanneer geweld teenoor iemand gepleeg word as gevolg van hul herkoms). Bende- en straatgeweld is dikwels op mans gemik op grond van persepsies van hul rol as aggressors, verdedigers of “die vyand”.

Geslagsgebaseerde geweld vind meestal plaas as gevolg van sosiale norme of persepsies oor die rolle en gedrag wat van elke geslag (ook genoem gender) verwag word.

’n Vorm van geslagsgebaseerde geweld wat wyd aandag in die media kry, is geweld teenoor lesbiese, gay, biseksuele, transgender, interseksuele en aseksuele (LGBTQIA+) mense.

Geslagsgebaseerde geweld kan baie vorms aanneem, insluitend:

  • seksuele teistering;
  • verkragting en/of seksuele geweld;
  • agtervolging (om iemand doelbewus en herhaaldelik te volg, dop te hou en/of te teister, ook op sosiale media en selfoonboodskapdienste soos WhatsApp en Telegram);
  • fisieke, emosionele en ekonomiese mishandeling; en
  • kindermishandeling.

Hoe tree ’n geweldenaar op?

Oortreders is geneig om ander mense, alkohol of omstandighede te blameer vir hul gewelddadige uitbarstings. Oortreders verkleineer en blameer ander, en regverdig of ontken hul gebruik van geweld of die impak daarvan op die mense rondom hulle. Iemand wat berading ontvang (hulp kry) vir sy of haar gewelddadige gedrag, moet erken dat die herstel van die gesin se vertroue in hom of haar tyd sal neem, en dat sy of haar lewensmaat die reg het om die verhouding te beëindig. Dikwels wil een van die ouers juis hul kinders én hulself beskerm teen vernietigende en gewelddadige omstandighede wat vir niemand goed of opbouend is nie.

Geweld op die skerm

Alle TV-programme, flieks en selfs speletjies moet volgens wet aantoon vir watter ouderdom dit geskik of nié geskik is nie.

Dit is hoekom alle speletjieomslae, fliekplakkate en TV-programme ’n syfer (soos 13, 16 of 18) in byvoorbeeld ’n driehoekie vertoon. Dié syfer sê dat dit vir kykers van dié spesifieke ouderdom en ouer geskik is. Die letters N, L, S en V dui aan hoekom daar ’n ouderdomsperk op die materiaal is en staan vir naaktheid (“nudity”), kru taalgebruik (“language”), seks (“sex”) en geweld (“violence”).

Soms is daar nie ’n ouderdomsperk nie, maar wel die letters PG. Dit staan vir “parental guidance”, oftewel ouerleiding. Dit beteken jy mag dit kyk as jou ouer of voog dit saam met jou kyk of toestemming gee. 6

Gevolge van geweld of blootstelling aan geweld

Geweld lei dikwels tot meer geweld en deur aan geweld blootgestel te word, veral as jy nog baie jonk is, kan veroorsaak dat jy self gewelddadig teenoor ander mense (en in sommige gevalle selfs diere) optree.

Ander nadelige gevolge van geweld sluit in:

  • swak gesondheid en verwaarlosing van jouself (insluitend gewigsverlies, slaaploosheid, geen belangstelling in dinge nie en gebrekkige konsentrasievermoë);
  • sielkundige en emosionele trauma (maak jouself seer, depressie, angs en selfdood);
  • fisieke trauma (van kneus- en snyplekke tot ernstige liggaamlike beserings soos beenbreuke);
  • ongewenste swangerskappe en seksueel oordraagbare siektes (soos MIV/Vigs);
  • ’n lae of baie swak selfbeeld;
  • verbrokkeling van verhoudings (isoleer van vriende, familie of kollegas);
  • misbruik van alkohol en/of dwelms; en
  • min tot geen produktiwiteit tuis, by die skool of by die werk. 7

Woordbank

fisieke  Fisieke geweld is wanneer iemand ’n deel van hul liggaam of ’n voorwerp gebruik om ’n ander persoon se optrede te beheer of om die persoon fisiek seer te maak.
seksuele  Seksuele geweld is wanneer iemand gedwing word om onwillig (teen sy of haar wil) aan seksuele aktiwiteite deel te neem.
emosionele  Emosionele geweld is wanneer iemand iets sê of doen om iemand dom of waardeloos te laat voel.
sielkundige  Sielkundige geweld is wanneer iemand deur die gebruik van dreigemente en vrees iemand anders beheer.
 godsdiens Verering/aanbidding van God of ʼn god.
kulturele  Groepe mense se manier van leef.
verwaarlosing Verwaarlosing vind plaas wanneer iemand die verantwoordelikheid het om vir ’n individu te sorg of hulp aan daardie persoon te verleen, maar dit nie doen nie. Dit gebeur veral teenoor kinders, ouer mense en gestremdes.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Soorte geweld

 

Die debat rondom gewelddadige videospeletjies 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Oktober 2021 | Bygewerk op 19 Januarie 2024