Vinnige feite

  • As jong mens het Hindon baie gehou van sport, en hy het deelgeneem aan voetbal, krieket en boks. 5
  • Om die myne te bou om die treine op te blaas, is ʼn Martini-Henry-geweer korter gesaag, en die sneller só onder ʼn treinspoor geplaas dat die sneller in kontak met die dinamiet is. As die trein daaroor ry, trek die gewig van die trein die sneller, en ʼn mens kan dit nie sien nie. 3
  • Hindon het persoonlik vir Kitchener ontmoet, en Kitchener het vir hom gesê dat hy op sy verbindingslinies meer moeite besorg het as enigiemand anders. Toe Kitchener sy twyfel oor die wettigheid van Hindon se dade uitspreek, het Hindon aan hom uitgewys dat baie Britse troepe soos hy opgetree het, en hy het voorbeelde gereed gehad. Kitchener het hierna niks verder gesê nie. 3
  • Hindon is in die Middelberg-Wes-begraafplaas te Middelburg begrawe, nie ver van die plek waar Henri Slegtkamp ook later begrawe is nie. 2
  • Van 1970 tot 1975 het die Suid-Afrikaanse weermag ʼn Jack Hindon-medalje uitgeloof. Dit het aan die een kant ʼn uitbeelding gehad van die foto waar Hindon en sy vriende die vlag op Tabanyama hys. 3
Foto: iStock

Die Boere se bloedige stryd vir hulle vryheid teen Brittanje tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het helde van reg oor die wêreld opgelewer. Oliver John (Jack) Hindon (1874-1919) was een van hulle: Hy was ʼn Skotsman wat een van die Boere se bobaasverkenners – burgers wat opgelei is om die gebied te ondersoek en inligting oor die vyand bymekaar te maak – en beste spoorwegvernietigers geword het, en het vir die Britse opperbevelvoerder, lord Horatio Kitchener, soveel moeite veroorsaak, dat Kitchener dit teenoor hom erken het!

Vroeë jare

Jack Hindon is in Stirling, Skotland, gebore. Dit is nie bekend wie sy ouers was nie. 1 Hy het op 14-jarige ouderdom as tromslaner by die Britse leër aangesluit en het na Suid-Afrika gekom om in Zoeloeland te kom diens doen. Hy is egter so erg deur ʼn sersant-majoor aangerand dat hy en ʼn paar medesoldate besluit het om te dros – hulle het onder toestemming weggeloop. 2

Hy het hom in Wakkerstroom gevestig, waar hy eers gewerk het as messelaar (iemand wat geboue bou), en later het hy spoorbrûe by Vereeniging en Middelburg gebou. Hy is hierna Laeveld toe, waar hy brûe by Godwana en Nelspruit help bou het. Hy het in sy tyd in die Laeveld twee maal malaria – wat destyds moeraskoors genoem is – opgedoen, en ʼn dokter het aan hom voorgestel dat hy eerder moet terugkeer na die hoëveld – die streek land in Suid-Afrika wat hoog bo seespieël is, meestal rondom Gauteng – waar daar nie malaria was nie. Dit het hy toe gedoen, en gaan help bou aan die tonnel by Waterval-Boven, en later ook aan die Oosterspoor – die spoorlyn van Pretoria na Delagoabaai (vandag se Maputobaai). 2

ʼn Skot word ʼn Boer

Hindon het hom gou met die Boere se ideale begin vereenselwig – met ander woorde, hy het simpatie met hulle saak gehad. In 1895 het sir Leander Starr Jameson die Transvaal ingeval, en Hindon was een van die eerste vrywilligers – iemand wat iets uit eie vrye wil uit doen – vir die kommando om teen Jameson se troepe te gaan veg. 1 Hy het só braaf geveg dat hy Transvaalse burgerskap gekry het – wat beteken het dat hy nou amptelik ʼn Transvaler was. 3 Hy het hierna by die Middelburgse kommando aangesluit, en in diens getree van die Zuid-Afrikaansche Republiek Politie (ZARP). Toe die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) uitgebreek het, het hy saam met die ZARP na Natal vertrek. 1

Leander Starr Jameson
Arrestasie van Jameson

Aanvang van die oorlog

Hindon het aan die slag van Talana op 20 Oktober 1899 deelgeneem, en daarna aan skermutselings – klein gevegte – by Bulwana op 30 Oktober 1899 en Chieveley op 15 November 1899. Toe die Boere op 17 November besluit het om die dorpie Weenen te beset, het Hindon die telegraafdrade – drade vir die elektriese seintoestelle wat boodskappe oor lang afstande kon stuur – geknip. 2 Teen die einde van November het hy die Britse forte op Devonshire Hill, tussen Lombardskop en Ladysmith, stoksielalleen verken. 1

Tabanyama

Hindon het groot bekendheid verwerf toe hy op 20 Januarie 1900 (kort voor die Slag van Spioenkop wat op 24 Januarie plaasgevind het), 1 saam met Henri Slegtkamp en Albert de Roos, ʼn kop in die Tabanyama-bergreeks beset het. Van hier af het hulle drie alleen op die Britse linkerflank geskiet, 4 terwyl die Britte hulle met kanon- en kleingeweervuur bestook het. 1

De Roos en Slegtkamp by Tabanyama met die Vyfkleur

 Die Boere-aanvoerder, generaal Louis Botha, was verbaas, want hy gedink die burgers het teruggetrek. Die drie manne het boonop, in ʼn poging om die Kakies (soos die Boere in die ou dae neerhalend na die Britse soldate verwys het) te tart (te terg), die Vyfkleur bo-op Tabanyama geplant. (Die Vyfkleur was die Transvaalse Vierkleur met ʼn oranje baan skuins daaroor, omdat oranje en wit die kleure van die Vrystaat was.) Die drie manne se aanval het nie net gemaak dat die Kakies nie aangeval het nie, maar hulle het teen laatmiddag ʼn ent teruggeval! 4

Slegtkamp by Spioenkop met die Vierkleur
Op die kruin van Spioenkop, die dag na die geveg
Boere bou verskansings op Spioenkop

Verkenner

Hindon het hierna as verkenner diens gedoen. In Februarie 1900 het hy waardevolle verkenningswerk by Pietershoogte vir die Boere se terugtog na Biggarsberg gedoen. 2 In Junie 1900 het hy by Danie Theron se verkennerskorps in die Vrystaat aangesluit. Hier het hy vir die eerste keer Britse militêre treine in die Vrystaat en Wes-Transvaal aangeval en beroof. 2 Op 18 Junie het hy deelgeneem aan ʼn aanval op ʼn Britse konvooi (ʼn groep voertuie wat voorrade rondgery het) tussen Kroonstad en Lindley. Op 26 en 27 Junie het hy weer naby Lindley geveg, en daarna verskuif na die omgewing van Bethlehem. 1

Danie Theron

In Augustus het hy die hoof van sy eie verkennerkorps geword. Dié korps se doel was om die Britte se verbindinglinies – treine wat voorrade, kos, ammunisie en troepe vervoer het – te ontwrig, asook om verkenningswerk te doen en indien nodig briewe tussen die Boeregeneraals, soos generaal Christiaan de Wet en generaal Louis Botha, te neem. 1

In Oktober 1900 is hy bevorder tot kaptein, en hy is opdrag gegee om ʼn korps van 50 manne op die been te bring. 1 Hulle moes konsentreer op aanvalle op en die ontsporing van treine langs die Oosterspoor en Noorderspoor (die spoorlyn tussen Pretoria en Pietersburg – vandag se Polokwane), 2 asook om telegraafverbindings tussen verskillende Britse groepe te verbreek, sodat die Boere aanvalle kon loods. 1 Hierdie korps was vir die Britte ʼn groot kopseer.

Boere by ‘n Britse veldkanon wat hulle by Nicholsonsnek buitgemaak het

Amperse oorname van Kitchener se trein

Een van Hindon se bekendste aanvalle was op ʼn trein waarin Kitchener van Pretoria na Middelburg in Januarie 1901 gereis het. 1 Kitchener se trein het tekens van Boere-aktiwiteit gesien, en iemand gestuur om te gaan kyk of die treinspoor gesaboteer was – met ander woorde of dit lyk asof daar aan gepeuter was.

Horatio Kitchener

Daar is terug gerapporteer dat dit gelyk het of dit veilig was. Kitchener was egter nie oortuig nie, en het beveel dat twee swaar trokke voor die trein moes ry, met die trein stadig agterna. Die dinamiet wat deur Hindon-hulle onder die treinspoor versteek is, het toe wel ontplof, maar slegs die twee voorste trokke is beskadig, wat vir Kitchener se trein die kans gegee het om stil-stil terug te trek. Daarna was daar ʼn kort geveg tussen die Britse versterkings en Hindon se manne. Hindon-hulle het ʼn paar Britte krygsgevangene geneem. 3

Die Britte maak hul werk moeilik

In die eerste paar maande van 1901 was Hindon-hulle se doen en late vir die Britte ʼn groot doring in die vlees. Hulle troepe kon nie by versamelpunte uitkom nie, en waardevolle voorrade is gebuit (geroof) of vertraag. 2 Die Britte het egter begin terugveg. Teen Julie 1901 het hulle langs die Oosterspoor ʼn reeks blokhuise (klein fortjies) opgerig, met doringdraad tussenin, asook diep loopgrawe (lang dun vore waarin soldate kon wegkruip) digby die treinspore. Hulle het ook gepantserde treine (treine wat versterk is) gebruik, en daar was gereelde patrollies om te kyk of hulle die Boere kon vang. 3

In Julie en Augustus het Hindon en sy manne geskuif na die Noorderspoor. 3 Hulle was op 9 Augustus suid van Naboomspruit-stasie in ʼn bloedige geveg met Britte betrokke. Agtien dae later het Hindon opdrag gekry om ʼn Britse trein te buit om die ammunisie te kry, wat hy suksesvol reggekry het. Op 31 Augustus het hulle ʼn trein tussen Waterval en Hammanskraal ontspoor, en heelwat Britse voorrade gebuit. 1

Voorbeeld van ‘n blokhuis

Kitchener se dreigement om Boervrouens en kinders voor in Britse treine te laai, tesame met die oprigting van blokhuise deur Britte langs die treinspoor, het Hindon laat besluit om ook te begin om klopjagte (onverwagte aanvalle) op swart groepe wat Boeregesinne aangeval het, uit te voer. So het hy byvoorbeeld ʼn groep by die Botsabelo-sendingstasie aangeval. 1

Van die begin van 1902 af, tot en met die sluiting van vrede in Mei 1902, het Hindon-hulle se geleenthede om treine aan te val, afgeneem. Die verkennerkorpse se getalle was uitgedun. Gewapende swart mense in diens van die Britse weermag het die spoorweë gepatrolleer, en joiners – ʼn neerhalende term wat die Boere gebruik het vir ander Boere wat aan Brittanje se kant gaan veg het – het die Boere se posisie aan die Britte verklap. Die blokhuise het hulle vertraag. Die Britte het tot dertien rye doringdrade langs die spore gespan, met leë blikke vol klippies of ander klankgewende items wat alarm kon maak. 2 Die korps was deurentyd in skermutselings met Britse troepe op die Hoëveld betrokke, en hulle is meedoënloos – sonder genade of simpatie – deur die vyand tussen die blokhuise rondgejaag. 1

Hindon se oorgawe

Die Britte het gedreig om vir Hindon te fusilleer (tereg te stel) vir sy aksies gedurende die oorlog, so Hindon was natuurlik bekommerd oor wat met hom sou gebeur indien hy gevange geneem word. Hy het daarom besluit om kontak te maak met ʼn Britse aanvoerder, wat met Kitchener bevestig het, en toe vir hom ʼn geskrewe belofte gegee het dat hy nie vir sy dade vervolg sou word nie, met ander woorde dat hy nie in ʼn hof daarvoor aangekla sou word nie. Hy kon ook sy perde en wapens hou. 2

Henri Slegtkamp, Hindon se boesemvriend wat saam met hom was van Tabanyama af, was by Hindon toe hy oorgegee het. Hy was amper ongelowig oor Hindon se besluit, en het vir Hindon gevra om ʼn brief vir sy troepe te skryf omdat hy bang was dat húlle hom nie sou glo nie. Hindon het op 16 Mei 1902 oorgegee, twee weke voor die vrede gesluit is. 2

Lewe ná die oorlog en dood

Hindon het op 23 Februarie 1903 met Martha Pauline Coetzee, ʼn Afrikanermeisie, getrou. Hulle het nie kinders gehad nie. Ná die oorlog het hulle enkele jare in Nederland en Amerika deurgebring, maar hulle het dit nie daar geniet nie en het na Suid-Afrika teruggekeer. 1

Hindon het motorneuronsiekte opgedoen, wat sy hande en gesigspiere aangetas het. Vir die laaste vyf jaar was hy ʼn hulpelose invalide (iemand wat nie na hulself kan omsien nie), wat getrou deur sy vrou opgepas is. Die gesin het in armoede verval. Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie en andere het hulle oor hom ontferm. In 1918 is ʼn gewaagde operasie op hom uitgevoer. Hy is kort hierna, op 2 Februarie 1919, weens inwendige bloeding in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria oorlede. Hy was 45 jaar oud. 2

Hindon was ʼn denker, kalm en prakties. Hy het geluk, vrede en voorspoed nageleef. Hy het geglo die voorspoed en voortbestaan van die Afrikanervolk was belangriker as persoonlike roem. 2

Sy avontuurlike loopbaan en aandeel in die oorlog het die verbeelding van baie mense aangegryp. Sy vreesloosheid en vernuf was bykans sonder gelyke, en sy opofferings vir die Boeresaak het vir hom ʼn ereplek in die Afrikanervolk besorg. 1

Woordbank

blokhuis ʼn Klein fortjie (versterkte skuiling) wat die Britte opgerig het om sleutelpunte teen Boere-aanvalle te beskerm.
burgerskap Die reg om in ʼn bepaalde land te woon.
dros Sonder toestemming wegloop, veral uit die weermag.
fusilleer Teregstel met gewere as militêre straf.
invalide Iemand wat as gevolg van siekte, ouderdom of ʼn besering nie oor al die funksies van ʼn gesonde mens beskik nie, en in meerdere of mindere mate versorg moet word.
klopjagte ʼn Onverwagte besoek of soektog deur byvoorbeeld die polisie om iets/iemand op te spoor.
konvooi Voertuie met voorrade wat deur gewapende magte begelei word.
loopgrawe ʼn Lang, smal voor wat in die grond gegrawe word, veral tydens ʼn oorlog sodat soldate daarin kan skuil en daaruit kan skiet.
meedoënloos Wat geen simpatie of genade betoon nie.
messelaar Iemand wie se werk dit is om met bakstene/klip en sement of klei te bou.
pantser ʼn Sterk laag metaal wat militêre voertuie teen aanvalle beskerm.
gesaboteer Om in die weg van iemand se planne te kom of dit te belemmer.
skermutselings ʼn Klein, onbelangrike geveg.
tart Iemand terg.
telegraafdrade Die drade vir ʼn elektriese seintoestel wat boodskappe oor groot afstande kon stuur.
vereenselwig Simpatie met iemand/iets hê; jou in iemand/iets se plek kan indink.
verkenner Iemand wat opgelei is om ʼn gebied te bestuur om inligting oor die vyand te kry.
vervolg Iemand van ʼn misdaad aankla en in ʼn hof probeer bewys dat hy/sy skuldig is.
vrywilligers Iemand wat iets doen uit vrye wil en sonder verpligting doen. 6
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Oktober 2022 | Bygewerk op 9 November 2023