Vinnige feite

  • Een van die bekendste aanhalings oor die Stormloop is: “Toe die sendelinge in Afrika aangekom het, het die Afrikane die grond gehad en die sendelinge die Bybel. Hulle het ons geleer om met ons oë toe te bid. Toe ons ons oë oopmaak, het hulle die grond gehad, en ons die Bybel.” 12
  • Die bekende Cecil John Rhodes was bekend daarvoor dat hy ’n voorstander was van ’n Britse Ryk wat sou strek van die Kaap tot by Kaïro.
  • Ethiopië (toe bekend as Abessinië) het onder hul leier Menelik II, die Italianers by die Slag van Adowa in 1896 verslaan. 13
  • Die lande wat by die Kongres verteenwoordig was, was die Verenigde State van Amerika, die Ottomaanse Ryk, Duitsland, België, Frankryk, Portugal, Italië, Oostenryk-Hongarye, Brittanje, Denemarke, Nederland, Rusland, Spanje en Swede. Nie almal van hulle het egter kolonies gekry of wou dit gehad het nie. 5

In 1870 was omtrent 10% van Afrika onder beheer van ’n Europese land. Teen 1914 was dit 90%. Hierdie verandering, wat bekend staan as die Stormloop vir Afrika, was ’n tyd toe gulsige Europese lande na Afrika gegryp het asof dit ’n groot stuk koek was en elkeen wou natuurlik die grootste hap gehad het. 1 Net twee lande het Europese beheer vrygespring: Ethiopië en Liberië. 2

Benaming

Hierdie tydperk word die Stormloop vir Afrika (“Scramble for Africa”) genoem vanweë die manier waarop die Europese lande “resies gejaag het” om byna die hele Afrika-kontinent as deel van hul ryke onder hul beheer te bring.

Daar is egter ook ander name daarvoor. Dit word soms die Wedloop vir Afrika genoem. Party mense noem dit die Nuwe Imperialisme (wanneer een land oor baie ander lande regeer). 3 [Lees meer oor imperialisme.] Dit word soms ook die Opdeling (“Partition”) of Verowering (“Conquest”) van Afrika genoem, omdat hierdie woorde die negatiewe impak (uitwerking) op Afrika beter beskryf as die woord stormloop. 2

Oorsake

Daar was ’n verskeidenheid redes waarom Europese lande Afrika wou oorneem en word hieronder bespreek. Maar partykeer het hulle die land oorgeneem – selfs nuttelose veld of woestyn – net sodat ’n ander land dit nie kon doen nie Dis was dus ook ’n wedloop vir mag. 4

Sosiale redes

In die 19de eeu het beroemde Europese ontdekkingsreisigers, soos David Livingstone, Afrika begin verken. Nuus van hul avonture het Europeërs se verbeelding aangegryp.

Kort op die ontdekkingsreisigers se hakke (kort agter hulle) was sendelinge wat Christenskap na die Afrikane wou versprei. Meeste sendelinge het geglo dat Afrikane onopgevoede barbare was. Deur verhewe (om in jou eie gedagtes beter as ander te wees) Christenskap en Europese beskawing (gemeenskappe wat goed georganiseerd is) vir die Afrikane te “gee”, het hulle geglo hulle kon die Afrikane “red” van hul agterlikheid (minder ontwikkeld as ander). Die sendelinge het begin aandring by Europese regerings om hulle te beskerm en te help in hul sendingwerk. 3

Hierdie Europeërs was beïnvloed deur die idee van oorlewing van die sterkstes (“survival of the fittest”), die idee dat die Europese samelewing die beste was omdat Europese mense biologies (dit wat verband hou met die natuurlike prosesse van lewende dinge) die beste was. 5

Ekonomiese redes

Die ontdekkingsreisigers het rekord gehou van markte en natuurlike hulpbronne (dinge wat tot nut is van die mens) soos rubber, hout, katoen, gom, suiker en koffie. 3 [Lees hier oor natuurlike hulpbronne.] Besigheidsmanne en regerings het begin kennis neem van die moontlike rykdom wat hulle uit Afrika kon maak. 6 Die Industriële Revolusie in die 18de en 19de eeu het in Europa plaasgevind. Dit het gelei tot die oprig van fabrieke. 5 Die fabrieke het twee goed nodig gehad om te funksioneer: hulpbronne vir die fabrieke, en mense om die fabrieke se produkte te koop. 3

Die Europeërs kon seker maar net handel met die Afrikane gedryf het. Maar as jy ’n kolonie kon stig, kon jy ’n monopolie hê op daardie gebied se hulpbronne. ’n Monopolie is die reg om alleen daardie produkte te gebruik soos jy wil. 1 Jy kon ook die Afrikane forseer om as werkers op jou plantasies te werk.

Polities

Die negentiende eeu in Europa was ’n tyd van nasionalisme (liefde vir jou eie land en die mening dat dit beter as enige ander land is). 5 [Lees hier oor nasionalisme.] Een manier om te bewys dat jy beter is, was om ’n sterk ryk (gebied waaroor jy regeer) te bou. Daar was nie regtig meer grond in Europa om oor te neem nie, en daarom het hulle hul aandag na Afrika verskuif. 1

Party Afrika-lande, soos Egipte, se ligging (die plek waar dit geleë is) was belangrik. Die Suez-kanaal is in 1869 in Egipte geopen, wat die seereis tussen Europa en Indië en China baie verkort het. 7 Teen 1882 was die Egiptiese regering egter só onstabiel dat Brittanje gevoel het hulle moet Egipte oorneem om toegang tot die Suez-kanaal te verseker. 4 Dít het egter spanning tussen Brittanje en Frankryk, wat besig was om húl invloed in die gebied uit te brei, vererger. 2

Hoekom is groter dele van Afrika nie vroeër gekoloniseer nie?

Die eenvoudige antwoord is dat Europese lande dit nie kon regkry nie. Omtrent al die kontak met Afrika voor 1870 was met Afrika-tussenhandelaars. Afrika was bekend as die “wit man se graf” omdat meestal malaria en soms ook geelkoors soveel mense doodgemaak het. 1 En dit was nie net mense wat deurgeloop het nie: beeste, wat noodsaaklik was vir vervoer, is ook afgemaai deur tsetsevlieë (die oordraers van malaria). 2

In ander dele van die wêreld kon Europeërs maklik die plaaslike mense se weerstand oorkom deur genoeg soldate te gebruik. Maar in Afrika het die soldate en beeste doodgegaan. Daar was dus min genoeg Europeërs dat die Afrikane, wat wel hier en daar gewere by handelaars gekry het, suksesvol kon terugveg. 1

Europeërs sou eers hierdie probleme moes oplos voordat hulle Afrika sou kon binnedring.

Tegnologie

Die Industriële Revolusie het gelei tot drie belangrike uitvindsels wat alles verander het.

Die eerste was die uitvinding van die stoomenjin, wat gelei het tot die bou van stoombote en stoomtreine. Vroeër het Europeërs seilbote gebruik wat van die wind afhanklik was (daarop staatgemaak het), en as die wind nie gewaai het nie, kon die boot nie vaar nie. Stoombote, daarenteen, was nié van die wind afhanklik nie en kon boonop maklik op riviere vaar. Stoombote het byvoorbeeld vir Livingstone in staat gestel om op riviere te vaar – iets wat hy nie met ’n seilboot sou kon doen nie. 1

Waar daar nie bevaarbare riviere was nie, is stoomtreine gebruik. Afrikane, wat ’n sterker weerstand teen malaria gehad het, het nie van hierdie siekte doodgegaan nie. Derhalwe kon hulle gebruik word om treinspore te lê wat Europeërs in staat gestel het om soldate en wapens tot diep in Afrika in te ry, verby die malariagebiede. 5 Die treine kon ook meer hulpbronne terugbring vir die fabrieke.

Die tweede uitvindsel was gewere wat vinniger kon skiet, veral die Maxim-geweer, die eerste masjiengeweer (outomatiese geweer wat ’n groot aantal skote kort ná mekaar kan vuur). Die Europeërs het seker gemaak dat die verkoop van masjiengewere aan Afrikane verbode was, 1 so selfs al het die Afrikane gewone wapens gehad, was hulle magteloos teen die Maxim-geweer. 5

Daar het heelwat Afrikane teruggeveg, soos die Ashanti, Zoeloes en Shonas. Maar hulle is uiteindelik almal met Europese wapens verslaan. Die enigste suksesvolle terugvegpoging was die Ethiopiërs wat die Italianers in 1896 verslaan het, en dit was omdat hul leier dit reggekry het om Europese wapens in die hande te kry. 6

Die derde ontdekking was kinien wat van die bas van die kinaboom gemaak is. Kinien is as medisyne teen malaria gebruik. 5 Toe kinien algemeen beskikbaar geword het, kon Europeërs malaria oorleef. 1

Korttermynoorsake

Die uiteindelike Stormloop is veroorsaak deur twee korttermynfaktore.

Henry Stanley

In die 1870’s het die bekende ontdekkingsreisiger Henry Stanley in opdrag van koning Leopold II van België ’n geheime ontdekkingstog langs die Kongorivier onderneem. Hy moes kyk watter hulpbronne daar was en uitvind of dit moontlik sou wees om ’n kolonie te stig. Die Franse het terselfdertyd hul eie agent, Pierre Savorgnan de Brazza, gestuur om dieselfde te doen. 1 In 1876 het Stanley terugvoering aan die koning gegee oor die ryk hulpbronne, veral rubber, in die Kongovallei. Leopold was bang die Franse neem sy gebied oor, en het vir internasionale erkenning (aanvaarding) vir sy beheer oor die gebied gevra. 7

Die konflik tussen Brittanje en Frankryk ná Brittanje se oorname van Egipte, het mense in Europa besorgd gemaak dat oorlog moontlik tussen dié twee lande sou kon uitbreek. 4

Henrey Stanley ontmoet David Livingstone

Onder leiding van die Duitse kanselier, Otto von Bismarck, is daar toe ’n kongres belê om hierdie sake te bespreek. 7

Otto von Bismarck

Die Berlynse Kongres (November 1884 tot Februarie 1885)

Verteenwoordigers van veertien lande het in 1884 in Berlyn ontmoet. 5 Daar was geen verteenwoordigers van Afrika genooi nie, al sou dit ’n massiewe impak (uitwerking) op Afrika gehad het. 2

Die doel van die konferensie was om te bespreek hoe Afrika tussen Europese lande verdeel kon word sonder dat dit tot oorlog tussen hulle sou lei. 2

Berlynse Kongres

Vir amper vier maande lank het hulle onderhandel oor grense 3 en reëls gemaak vir wat nodig was voor ’n deel van Afrika aan ’n Europese land behoort het. 2 Die belangrikste reël was dat ’n land ’n gebied effektief moes beset voor ander lande die beheer sou erken. 7 Met ander woorde, hulle kon nie net ’n aankondiging maak nie, 8 hulle moes reeds verteenwoordigers daar hê om die gebied te regeer. 7

Die reëls het ’n behoorlike stormloop aan die gang gesit, soos wat lande so vinnig as moontlik verteenwoordigers gestuur het om stukke land effektief te gaan beset. 2 Dit is dan juis waarna die naam van dié tydperk verwys: die stormloop of wedloop ná afloop van die konferensie om te kyk hoe vinnig hulle die beste kolonies kon kry. 5

Die agterkant van Shiyane-berg, wat uitkyk oor Rorke’s Drift, waar die Zoeloe-leër die Britte aangeval het nadat die Britte Zoeloeland in Januarie 1879 binnegeval het

Hoekom was dit so maklik vir die Europeërs om Afrika oor te neem?

Eerstens het Europeërs beter wapens gehad, met die gevolg dat hulle enige weerstand maklik kon oorkom. Tweedens was daar baie keer wedywering tussen Afrika-leiers. Europeërs het sommige leiers met geld of beloftes van mag oortuig om die Europeërs te ondersteun teen hul Afrika-vyande. Derdens het natuurlike rampe, soos ’n groot droogte in 1895, die Afrikane verswak en dit dus makliker gemaak het om hulle te oorwin. En vierdens het die Europeërs siektes (soos pokke) met hulle saamgebring wat Afrikane afgemaai het. 3

Wie het wat gevat?

Brittanje het 20 nuwe kolonies bygekry, en ná die stormloop kolonies van Egipte tot in Suid-Afrika (met insluiting van Nigerië, Ghana, 7 Kenia, Uganda, Zimbabwe, Botswana en Malawi) besit. 2 Frankryk het veral kolonies in Wes-Afrika oorgeneem, van Senegal tot by Algerië en Tunisië. 4 Frankryk het ook die Niger-delta en die land noord van die Kongorivier beheer. 1 Duitsland het Tanganjika (vandag Tanzanië) en Duitswes-Afrika (vandag Namibië) oorgeneem, 7 en Portugal het, onder meer, Angola en Mosambiek oorgeneem.

Impak op Afrika

Die stormloop het ’n aantal positiewe gevolge gehad. Daar is heelwat infrastruktuur gebou soos paaie, brûe, treinspore en hawens. Baie klinieke (plekke waar mediese behandeling gegee word) en skole is opgerig. Europeërs het nuwe soorte gewasse (plante) en boerderymetodes na Afrika gebring, wat gelei het tot groter kosproduksie. Sommige Afrikane se lewensgehalte het verbeter, veral diegene wat met die Europeërs saamgewerk het. 9 Dit was egter die uitsondering. Bogenoemde positiewe effek was ook net op plekke waar die Europeërs geld kon maak. In gebiede waar daar nie hulpbronne was nie, is min infrastrukture gebou. 3

Die uiteinde van die Stormloop was ’n kaart van Afrika met 50 lande met onnatuurlike grense, bo-oor 10 000 inheemse stamme en gebiede en ’n mengelmoes van etniese groepe en koninkryke. Die grense het groepe wat bymekaar gehoort het, uitmekaar gehou, en groepe bymekaar gesit wat glad nie bymekaar gehoort het nie. 1

Voor die Europeërs oorgeneem het, was daar in Afrika baie buigsaamheid as dit gekom het by regerings, die kom en gaan van mense en hul leefstyl. Die leefstyl was meer gemeenskaplik. Daar was minder privaat eienaarskap van grond, en hoofmanne het die grond namens hul mense beheer. 3 Daardie leefwyses het meestal verdwyn.

Die stormloop het gelei tot migrasie (om ’n plek te verlaat en jou in ’n ander een te vestig), wat gemeenskappe, kulture en families ontwrig het. In die proses het sosiale en kulturele idees en tradisies (gebruike en opvattings wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word) verlore geraak. 3 [Lees hier oor tradisies.] Talle mans het op myne en plantasies gaan werk, met die gevolg dat die vroue en kinders alleen in landelike gebiede agtergelaat is. 3

Vandag praat mense in Afrika Europese tale en lewe volgens Europese regeringsvorme en onderwysstelsels. Baie van hierdie veranderinge is ten koste van Afrika-tale, -kulture en -tradisies wat voor kolonisering bestaan het. 2

Daar is wel skole gebou, veral sendingskole, omdat bekeerdes die Bybel moes kon lees. Dit was egter nie orals dieselfde nie, en die gehalte van onderwys was soms baie swak. 3

Die vernaamste geloof wat met die Stormloop versprei het, was Christenskap. Vandag is meer as die helfte van Afrikane Christene. 3 Soos wat Christenskap versprei het, het dit Afrika-gelowe ondermyn, en die Afrikane het begin kyk na die Europeërs (eerder as hul tradisionele leiers) as bronne van gesag. 9

Die gevolg hiervan was dat Afrikane oornag (onmiddellik) beheer oor hul eie sake verloor het. 6 Europeërs het outoritêre (nie demokratiese) koloniale regerings geskep wat Afrikane moes beheer, en ook moes help met die effektiewe uitbuiting (om onregverdig en selfsugtig soveel as moontlik voordeel uit iemand te trek) van die Afrikane. 3

Europeërs was inherent rassisties. 3 Hulle het geglo die Europese ras en kultuur is beter as die Afrika-rasse en -kulture. 9 Die Europeërs het niks geweet van die mense oor wie hulle nou sou regeer nie. Wat vir die Europeërs belangrik was, was orde, en dat die Afrikane só opgedeel word dat dit makliker sou wees om hulle te verstaan en beheer. Hulle het glad nie gedink aan die impak op óf belange van Afrikane nie. 6

Daar is miljoene Afrikane dood, direk en indirek, as gevolg van die Stormloop. 2

Waar meeste van die Afrikane voor die Stormloop bestaansboere was, het baie na nuwe werk in dorpe en stede gaan soek. Talle het trekboere geword. Dit alles het die hele ekonomiese stelsel omver gewerp. 3

Afrika-lande is ekonomies deur Europeërs uitgebuit: Die hulpbronne is na Europa gestuur 2 en die winste is gemaak deur Europeërs, nie Afrikane nie. 9

Koning Leopold II en die Kongo Vrystaat

Die bloedigste deel van hierdie geskiedenis is die geskiedenis van die Kongo. Koning Leopold II het by die Berlynse Kongres toestemming gekry om die Kongo suid van die Kongorivier as sy persoonlike koninkryk te regeer, ’n gebied 60 keer so groot soos België! 2 Hy het dit die Kongo Vrystaat genoem. 5

Leopold II

Die Kongo het veral baie rubberbome gehad. Rubber was uiters waardevol omdat fietse en motors al hoe meer in Europa gebruik is en bande van rubber gemaak moes word. Leopold II het die Kongolese geforseer om vir hom rubber en ivoor te produseer deur vir hul kwotas (die deel wat jy tot iets moet bydra) te gee. Indien hulle nie hul kwotas kon haal nie, het Leopold se eie persoonlike weermag hulle gestraf deur amputasies van ledemate, ontvoering van familie, en teregstelling (met die dood straf). In sommige gevalle het die Kongolese hulle eie (of selfs hul kinders!) se hand of voet geamputeer (afgekap) sodat hulle die doodstraf kon vryspring indien hulle nie hul kwota haal nie. 10 In enkele gevalle is hele dorpies afgebrand. 2

Gedurende Leopold se bloedige bewind is daar ten minste 10 miljoen mense doodgemaak of het gesterf. 2 Dit is omtrent helfte van die mense wat in die gebied gewoon het. 3

Toe Leopold se gruweldade openbaar gemaak is, het internasionale druk hom naderhand geforseer om die grond aan die Belgiese regering te gee. Dit het toe die Belgiese Kongo geword. 2

Dekolonisasie en die gevolge van kolonialisme

Van die 1950’s af het Europese lande uit Afrika onttrek en beheer aan die Afrikane teruggegee. In sommige gevalle is soveel probleme nie opgelos nie, dat Afrika-lande vandag nog daarmee sukkel. 6

Een van die probleme is dat daar verskillende rasse en etniese groepe in een land saamgevoeg is. In sommige gevalle het sulke groepe mekaar so gehaat, dat dit gelei het tot oorlog of volksmoorde (soos die volksmoord in Rwanda in 1994). ’n Ander “nalatenskap” is dat Europese lande nie in Afrika industrieë gebou het nie. Afrika-lande was dus oor die algemeen ekonomies onderontwikkeld, en het gesukkel om met ander lande te kompeteer. Derdens is sekere Afrikane bo ander bevoordeel, soos dat sommige beter opvoeding as ander gekry het. As gevolg hiervan is daar massiewe sosiale ongelykheid, waar die Afrika-elite baie ryk is, maar die massas arm. 11

Woordbank

afhanklik Onderhewig, onderworpe; Wat deur iets anders bepaal of beheers word; wat die hulp van iets/iemand nodig het.
afgemaai In groot getalle laat sterf.
agterlik Met minder as die gewone ontwikkeling.
amputasie Verwydering van ’n liggaamsdeel/ledemaat.
bekeerde Gelowige; Iemand wat die Christelike geloof aangeneem het.
beskawing ’n Gemeenskap wat goed georganiseerd en ontwikkel is, veral op ’n bepaalde plek of tyd.
biologies Wat verband hou met die natuurlike prosesse van lewende dinge.
erkenning Die handeling van iets aanvaar.
gewas ’n Soort plant.
hulpbron Enigiets wat tot nut van die mens is.
imperialisme ’n Politieke stelsel waarin een land oor baie ander lande regeer.
inherent Ingebore; volgens aard; uiteraard.
kanselier In party lande ’n hoë regeringsamptenaar wat feitlik met die eerste minister gelyk staan.
kliniek ’n Plek waar mense wat nie in ’n hospitaal opgeneem hoef te word nie, (dikwels goedkoop/gratis) mediese behandeling kan kry.
kwota Die deel wat ’n mens kry as goed uitgedeel word of die deel wat jy tot iets moet bydra.
ligging Die plek waar iets geleë is.
masjiengeweer ’n Outomatiese geweer wat ’n groot aantal skote kort ná mekaar kan vuur.
migrasie ’n Land/streek/plek verlaat en jou in ’n ander een vestig; verhuis; trek.
monopolie ’n Reg wat iemand het om alleen met ’n bepaalde produk handel te dryf.
nasionalisme Liefde vir jou eie land en die mening dat dit beter as enige ander land is.
outoritêr Nie demokraties nie.
ryk ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser/ens.) regeer.
teregstel Met die dood straf.
tradisies Sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word.
uitbuit Om onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit iemand of iets te put.
verhewe In jou eie gedagtes beter as ander. 14

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Stormloop vir Afrika

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Stormloop vir Afrika

Inleiding tot Stormloop vir Afrika

Hoe was die lewe in Afrika voor kolonialisme? (1)

Die Berlynse Konferensie (2)

Die gevolge van Kolonialisme (3)

Stormloop vir Afrika (Klank sag, draai gerus die volume bietjie op)  

Hoekom was Ethiopië nie gekoloniseer nie?

Gepubliseer op: 8 Februarie 2023 | Bygewerk op 15 November 2023