Vinnige feite
- Die Jameson-inval: Hierdie inval is georganiseer deur, onder andere, dr. Leander Starr Jameson wat in daardie stadium administrateur in Rhodesië (vandag Zimbabwe) was. Die rede vir die inval was ontevredenheid onder uitlanders oor verskeie sake. 8
- In die Anglo-Boereoorlog het die Boere onder generaals Beyers en De la Rey op 13 Desember die Engelse magte by Nooitgedacht aangeval en groot sukses behaal. Nooitgedacht was noordwes van Krugersdorp. 3
- Vir Beyers was onderwys baie belangrik. Hy was voorsitter van die komitee vir Christelik-Nasionale Onderwys (CNO) in die destydse Transvaal. 2
- Die Universiteit Stellenbosch is voorheen Victoria Kollege genoem.
- Die Suid-Afrikaanse Lugmag is eers die Lugkorps genoem. 3
Daar is nie baie mense wat in die politieke wêreld bekend en boonop ’n bekende rugbyspeler was nie. ’n Klompie jare gelede was daar wel so ’n persoon in Suid-Afrika, naamlik dr. Dawie de Villiers. Hy was nie net kaptein van die Springbokrugbyspan nie, maar hy was ook ’n predikant, ’n ambassadeur van Suid-Afrika in Brittanje en ’n minister in die Suid-Afrikaanse regering. 1
Baie jare voor Dawie de Villiers, was daar ook ’n politikus wat rugby gespeel en vir Transvaal uitgedraf het – sy naam was Christiaan Frederik Beyers. Hy word egter nie onthou vir die rugby wat hy gespeel het nie, maar omdat die Afrikaners hom as ’n dapper soldaat en ’n standvastige politikus beskou het. Hy word ook onthou vir die manier waarop hy gesterf het.
Beyers se voorgeslagte en jeugjare
Christiaan Frederik Beyers is op 23 September 1869 naby Stellenbosch gebore.
Sy pa was Christiaan Frederik Beyers wat op die plaas Zorgvliet by Banghoek geboer het. Sy ma was Anna Maria van der Bijl van Paardenvallei, Somerset-Wes. Sy oupagrootjie aan sy pa se kant was Johann David Beyer (1733-1797). Hy het in 1757 uit Erfurt, Duitsland, na die Kaap gekom. 2
Sy familie was bekende en ryk wynboere in die Boland. Toe hy nog ’n tiener was, het sy pa geld belê in ’n bank wat net ’n paar weke later gesluit het. Dit was ’n groot finansiële terugslag vir die gesin. Sy pa is kort hierna oorlede. Die boerdery moes voortgaan en die jong Beyers moes baie hard op die plaas werk.
Hy het nogtans klaargemaak met skool en daarna aan die Victoria Kollege gestudeer. Hierdie kollege het later die Universiteit van Stellenbosch (nou Universiteit Stellenbosch of US) geword. 2
Beyers as student en rugbyspeler
Tydens sy studentejare het hy aktief aan die studentelewe deelgeneem en ook in die eerste rugbyspan gespeel. Later het hy vir die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) rugby gespeel. Kan jy glo, hy het, onder meer, vir die destydse Transvaal in Curriebekerwedstryde gespeel 3 en 1891 vir die Transvaalse rugbyspan teen die Britse toerspan uitgedraf! 2
Loopbaan in die regte, godsdiens en huwelik
In 1889 het hy na Pretoria vertrek om daar werk te soek. Omdat hy ’n Kaapse burger was, kon hy nie in Pretoria by die staat werk kry nie. ‘n Mens moet onthou dat die Kaap en die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek twee verskillende regerings gehad het. Dit was daarom nie so maklik soos vandag om in die een provinsie werk te kry as jy in ’n ander provinsie gewoon het nie.
Hy het later ’n prokureur geword en in 1894 het hy ’n praktyk in Boksburg begin. Terloops, Beyers het ná die Anglo-Boereoorlog weer ’n prokureurspraktyk begin – hierdie keer in Pretoria.
Terwyl hy in Boksburg gewerk het, is hy met Mathilde König getroud. Sy het buiten Afrikaans en Engels ook Duits en Frans vlot gepraat. Hulle het nie kinders gehad nie, maar nogal ’n bedrywige sosiale lewe.
Vir albei van hulle was godsdiens ’n belangrike deel van hul lewe. Beyers was reeds as jongman diep godsdienstig en godsdiens het ’n groot invloed op al sy besluite gehad. 3
Militêre diens en politiek
Beyers het in 1896 as vrywilliger aan die Jameson-inval deelgeneem – hy het dus self gekies om deel te neem en het dit nie gedoen omdat hy dit moes doen nie. Dit het gemaak dat hy gekwalifiseer het om ’n burger van die ZAR te word. Omdat hy nou ’n burger was, moes hy vir militêre diens aanmeld toe die oorlog teen Brittanje in 1899 begin het.
In September daardie jaar het hy die tweede hoogste rang in die weermag van die ZAR gekry toe hy assistant-kommandant-generaal vir die noordelike distrikte geword het. Hierdie noordelike distrikte was dié van Zoutpansberg en Waterberg. 3
Gedurende die laaste deel van die oorlog voer hy ’n guerrillaveldtog in die distrikte van Waterberg en Zoutpansberg. Hy en sy kommando val kort-kort die Britse magte aan en vlug dan elke keer weg.
Op 15 Mei 1902 word hy gekies as voorsitter van die Boere se afgevaardigdes wat oor voorwaardes vir vrede moes onderhandel. Beyers wou eintlik hê dat die Boere met die oorlog moes voortgaan, maar omdat die meeste van die afgevaardigdes vrede wou maak, het hy ook daarteen besluit. 2
Beyers is as ’n lid van die Transvaalse parlement verkies as verteenwoordiger vir Waterberg. Hy is ook as speaker van die parlement verkies. Toe die Unie van Suid-Afrika in 1910 ontstaan het, is hy weer tot die parlement verkies. Hierdie keer was hy verteenwoordiger vir die kiesafdeling Pretoria-Suid.
Toe die Unie van Suid-Afrika in 1912 ’n eie verdedigingsmag kry, het Beyers kommandant-generaal in hierdie mag geword. Hy het daarom op 1 Julie 1912 as parlementslid bedank toe hy by die Unie se verdedigingsmag aangesluit het. 3
In Augustus 1912 vertrek hy na Europa waar hy, onder meer, kyk hoe burgermageenhede daar werk. Tydens hierdie besoek het hy ’n kort ontmoeting met die Duitse keiser Wilhelm II gehad. Toe hy na Suid-Afrika terugkeer, het hy hier die Aktiewe Burgermag gestig. Hierdie mag het in 1914 gehelp om die arbeidsonrus aan die Witwatersrand te help hanteer. 2
Rol in die Rebellie van 1914
Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, het die Britse regering die kabinet van die Unie van Suid-Afrika gevra om Engeland te help. Hulle wou hê dat die Unie van Suid-Afrika Duits-Suidwes-Afrika, ook bekend as Duitswes-Afrika (vandag Namibië) moes aanval.
Kom ons kyk eers na waar ons nou in die geskiedenis van Suid-Afrika staan.
Die Anglo-Boereoorlog het in 1902 geëindig en die vier state wat voor die oorlog in Suid-Afrika bestaan het, het nou saamgesmelt en die Unie van Suid-Afrika gevorm. Generaal Louis Botha was die eerste minister van die Unie en generaal Jan Smuts was die minister van verdediging.
Daar was in hierdie tyd groot verdeeldheid onder Afrikaners. Sommige het die regering van die Unie van Suid-Afrika gesteun wat vir Engeland in ’n oorlog teen Duitsland wou help. Ander wou glad nie vir Engeland help nie omdat die Anglo-Boereoorlog maar net 12 jaar gelede beëindig is en hulle nog baie verbitterd was oor Engeland se optrede in die oorlog. Hulle kon nie dink dat hul regering nou die land wat teen die Boere oorlog gemaak het, in ’n ander oorlog wou help nie. En dit boonop teen Duitsland wat nooit ’n vyand van die Unie van Suid-Afrika was nie! Duitswes-Afrika was in hierdie stadium onder die beheer van Duitsland.
Hierdie teenkanting van Boere teen die regering se steun aan Brittanje, is die Rebellie genoem – hulle het dus gerebelleer teen hulle regering se optrede.
Beyers het nie die kabinet se besluit gesteun om Duitswes-Afrika binne te val en so vir Brittanje in die oorlog te help nie. Hy stuur op 15 September 1914 ’n brief aan die destydse minister van verdediging, generaal Jan Smuts, waarin hy sê dat hy as kommandant-generaal bedank. Hy stuur dieselfde brief ook aan die koerante. In dié brief verduidelik hy waarom hy nie die regering se planne oor die oorlog kan steun nie.
Op dieselfde dag ry hy in ’n motor saam met generaal De la Rey na Potchefstroom. By Langlaagte was daar ’n padblokkade deur die polisie en omdat die motorbestuurder nie gestop het nie, het die polisie hulle as misdadigers aangesien en na die motor geskiet. Generaal De la Rey word noodlottig gewond en sterf. 2
In hierdie maande het Beyers deurentyd kontak gehad met die Afrikanerleiers wat die Rebellie gesteun het. Hy het ook op 28 Oktober saam met generaal Kemp ’n manifes uitgereik waarin hulle hul teenkanting teen die regering se standpunt oor Duitswes-Afrika uitspreek. Sy kommando word ’n hele paar keer deur soldate van die regering aangeval, maar daar is nie getuienis dat Beyers self aanvalle op die regering se magte gedoen het nie. Die laaste van hierdie aanvalle op hom was op 1 Desember.
Sy standpunt was om te wys dat hy nie die regering se planne steun nie, maar hy wou nie by gewapende verset betrokke raak nie. 2
Ten spyte van Beyers se standpunt dat hy nie by gewapende verset of by die Rebellie betrokke wou raak nie, het die feit dat hy as hoof van die verdedigingsmag bedank het, die regering laat dink het dat hy wel aan die Rebellie deelneem. Die regering het dus probeer om hom te vang. 4
De Volkstem het op 26 Oktober die volgende oor die Rebellie berig (die taal wat die koerant gebruik het, was Hooghollands): “Generaals Beyers en De Wet rebelleren/ Heilbron in handen der rebellen/ Trein te Reitz aangehouden/ Overgrote meerderheid der burgers lojaal”.
Ander dorpe in die Vrystaat wat in die rebelle se hande was, was Vrede, Frankfort, Harrismith, Koppies, Parys, Lindley en Ventersburg. Kommando’s uit hierdie dorpe het by De Wet aangesluit. 5
Beyers se dood
Ná die aanval op 1 Desember het Beyers en die 23 burgers wat nog saam met hom was, in die rigting van die Vaalrivier beweeg. Regeringsoldate het hulle gevolg en hulle op 7 Desember teen die rivier vasgekeer – dit was ongeveer 40 km vanaf die dorp Makwassie aan die Transvaalse kant van die Vaalrivier (vandag is dit in Noordwes). 2
Beyers en een van sy manskappe, Jan Pieterse, het die volgende oggend besluit om deur die rivier te swem om te ontsnap. Toe Jan byna aan die oorkant van die rivier was, het hy omgekyk en gesien dat Beyers in die moeilikheid is. Sy ryperd is deur die regeringsoldate gewond en sy handperd is deur hulle doodgeskiet. Jan het omgedraai om te gaan help, maar volgens inligting is hy toe self deur die soldate doodgeskiet.
Beyers het verdrink en sy liggaam is later gevind. Hoewel hy kon swem, moet ‘n mens onthou dat hy met sy klere in die water was en ook ’n jas aangehad het. Daarom was dit sekerlik vir hom moeilik om te swem toe sy perd doodgeskiet is. 4
In ’n ander bron word genoem dat Jan Pieterse ook verdrink het en nie doodgeskiet is nie. 6
Generaal Smuts wou nie hê dat sy liggaam na Pretoria geneem word om daar begrawe te word nie. Beyers is daarom op die plaas Oersonskraal naby Makwassie begrawe. Hierdie plaas se naam is later verander na Beyersrust. 2
Hoe word hy onthou?
- In Danville, Pretoria, en ook in Springs is daar laerskole wat na hom vernoem is.
- In Pretoria-Noord en in Sasolburg is daar strate wat sy naam dra en in Boksburg is daar ’n voorstad met sy naam.
- Ná sy dood in 1914 het baie mense hul kinders na hom vernoem. Die naam Beyera is selfs aan meisies gegee en die bekende skrywer C.F. Beyers-Boshoff is ook na hom vernoem. 3
- In die Oorlogsmuseum in Bloemfontein is daar ’n borsbeeld van Beyers wat in 1910 deur Anton van Wouw gemaak is. 2
Boeke wat handel oor Beyers
- Generaal Christiaan Frederik Beyers, 1869-1914 deur Gert Daniel Scholtz.
- Vaalrivier die broederstroom of die uiteinde van generaal C.F. Beyers deur S.P.E. Boshoff.
- Voor God en vaderland: korte beschrijving van het leven en afsterven van generaal C.F. Beyers en kommandant Jopie Fourie (Bloemfontein: Volksblad-Drukkerij).
- C.F. Beyers: sy dood en begrafnis deur Joan Lötter.
- Generaal Christiaan Beyers: ‘n lewenskets deur E.C. Van Wijk.
- Vechten en vluchten van Beyers en Kemp “bôkant” de Wet, deur J.F. Naudé. 7
- G.D. Scholtz het ’n biografie oor Beyers geskryf, naamlik Generaal Christiaan Frederik Beyers. 3
Woordbank
afgevaardigdes | ’n Persoon wat na ’n vergadering gestuur word waar hy die standpunt van ’n groep of ’n regering moet gaan stel. |
burgermag | Die deel van die verdedigingsmag van ’n land wat nie deel is van die staande mag (permanente en heeltydse mag) nie. |
guerrillaveldtog | Die woord guerilla is glad nie dieselfde as die woord gorilla wat ons gebruik vir daardie baie groot ape wat mens gewoonlik in oerwoude kry nie! ’n Guerilla is iemand wat deelneem aan ’n guerrillaoorlog. Hierdie soort oorlogword gemaak deur klein groepies soldate wat vinnig optree teen die vyand en dan weer verdwyn. Hulle doen dinge soos om spoorlyne te vernietig sodat die vyand se treine nie kan ry nie. |
handperd | Boere wat oorlog gemaak het, het op perde gery en meeste van die tyd ’n tweede perd by hulle gehad waarop hulle dinge soos kos en klere gelaai het. |
manifes | Om iets in die openbaar bekend te maak – ’n politikus sal byvoorbeeld ’n manifes uitreik en daarin sal hy of sy verduidelik hoe sy of haar beleid gaan werk. |
onverskrokke | Om sonder vrees en dapper te wees. |
speaker | Die voorsitter van die Volksraad van ’n regering. |
standvastige | Iemand is ’n standvastige leier wanneer hy by sy standpunt/mening oor ’n saak bly staan en dit nie verander nie. So ’n leier is iemand op wie mens kan staatmaak. |
arbeidsonrus | Wanneer werkers ontevrede is oor dinge soos die omstandighede waaronder hulle moet werk of oor hul salarisse en dan staak of gewelddadig raak. |
verset | Weerstand of opstand teen die owerheid of regering. |