Vinnige feite

  • Tydens die droogte en Groot Depressie tussen 1932 tot 1934 is nagenoeg 15 miljoen skape dood. 15
  • Op 25 Januarie 1980 het drie mans die Volkskas-tak in Silverton, Pretoria, binnegestorm en 25 kliënte gevange geneem as ʼn manier om die Suid-Afrikaanse regering te dwing om, onder andere, oudpresident Nelson Mandela, wat toe nog op Robbeneiland in die tronk was, vry te laat. Die polisie was om 13:00 by die bank, maar kon eers om 19:00 daardie aand daarin slaag om die gyselaars (mense wat gevange gehou word in ruil vir eise wat die rowers stel) te bevry, maar nie sonder dat geweld losgebars het nie. Die rowers het ʼn handgranaat (soos ʼn klein bom wat ontplof as die slagpennetjie uitgetrek word) tussen die gyselaars gegooi. Een van die gyselaars het die handgranaat eenkant toe gegooi, maar van die gyselaars is wel beseer. Die situasie is ontlont toe die polisie al drie rowers doodgeskiet het. Twee gyselaars is ook dood. Kyk gerus die rolprent Siege of Silverton op Netflix. 16
  • Joseph Jacobus Bosman, die stigter van Volkskas Bank, het uit ʼn baie arm gesin gekom. Oom Bossie, soos sommige mense hom genoem het, moes in graad 8 die skool verlaat om vir ʼn hongerloon (net genoeg geld om kos mee te koop) in ʼn winkel te gaan werk. Oor die jare het hy homself rekeningkunde geleer en later by rekenmeesters gewerk. Sy lewenslange droom om eendag sy eie bank te stig, is in 1935 bewaarheid met die opening van Volkskas Bank in Pretoria. 17
  • Vroue in die VSA is eers in 1974 toegelaat om ʼn kredietkaart te hê. Dit is ook net aan getroude vroue gegee, want die banke het gevoel as ʼn geskeide vrou nie haar huwelik kan laat werk nie, sal sy ook nie met geld kan werk nie. 18
  • Die grootste spaarvarkie (of eerder spaarvark) in die wêreld is in Ludwigsburg, Duitsland. Dit is 8,03 m lank en 5,58 m hoog. Munte word in ʼn kleiner spaarvarkie aan die onderkant van die groot spaarvark gegooi. ʼn Hyskraan lig dan daardie varkie op sodat die munte een vir een in die gleuf van die groot spaarvark gegooi kan word. 19
  • Daquiri, ʼn hond van Kanada, het in 2020 die rekord opgestel vir die hond wat die meeste munte binne ʼn minuut in ʼn spaarvarkie kon gooi. 20
  • Die hoogste bank in die wêreld is in Peru in Suid-Amerika. Teen 4 387 m is dit meer as 4 km bo seevlak. 21

Ons sien elke dag arm en vuil mense wat bakhand by die verkeerslig op pad skool toe of winkel toe staan en bedel vir kos of geld. Dit ís so dat sommige mense eenvoudig glad nie wíl werk of werk wil soek nie, maar baie smag dalk net na ʼn tweede kans in die lewe. Om te oorleef! 1

Daar was ʼn tyd toe dit finansieel selfs nóg swaarder in Suid-Afrika gegaan het. In die dertigerjare (1930’s) het meer as 300 000 Afrikaners nie eens geld vir brood gehad nie (ʼn mens sê ook hulle het onder die broodlyn geleef), en droogte en siektes onder die diere het ons land se boere op hul knieë (moedeloos) gehad. 2

Danksy banke soos Volkskas, wat deur ʼn groep Afrikaners opgerig (begin of gestig) is, het duisende mense ʼn kans op oorlewing gekry. Baie van hulle het uiteindelik groot sakeondernemings opgebou en ons land se boerderye kon van vooraf blom. ʼn Mens kan waarlik sê Volkskas het vir baie mense wat nie ʼn uitkoms (oplossing) gesien of gehad het nie, nuwe hoop gegee!

Oorloë en armoede

Ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 was die Verenigde State van Amerika (VSA) een van die min lande in die wêreld wat nog ʼn goeie (sterk) ekonomie gehad het en waar mense nog genoeg geld gehad het om vir goedere (soos kos en klere) en dienste (soos mediese sorg) te betaal. 3

In baie ander lande is stede en dorpe gedurende die oorlog heeltemal verwoes. Dié lande se ekonomieë was swak en mense het nie geld of werk gehad nie. Hierdie lande het by die VSA geld geleen om hul ekonomieë te herbou of hul oorlogskuld te betaal (soos Duitsland), maar nie almal kon dié geld (of lenings) en rente terugbetaal nie.

Uiteindelik het dit ook in die VSA swaar begin gaan. Die VSA se ekonomie het só verswak dat die Amerikaanse aandelemark (ʼn plek waar ʼn mens aandele koop en verkoop) in 1929 in duie gestort het. Die moeilike finansiële tyd wat gevolg het, word die Groot Depressie genoem – ʼn tyd waarin grootskaalse (wydverspreide of erge) armoede geheers en mense reg oor die wêreld sonder werk én kos gesit het. 4

In Suid-Afrika het die Groot Depressie veral die boere geraak. Ons boere het voorheen onder meer vrugte en groente aan ander lande verkoop, maar skielik het dié lande nie geld gehad om ons produkte in te voer (by die boere te koop) nie. Die boere het gevolglik hul inkomste verloor en kon nie meer vir hul plase betaal nie. Toe die boere nie meer vir hul plase kon betaal nie, het hulle dit verloor. Baie gesinne het na die stede getrek, maar daar was nie vir almal werk in die stede nie en hulle het net nóg armer geword. 5

As ʼn mens die horlosie of tyd nóg verder terugdraai, vind ʼn mens nóg ʼn rede waarom die boere swaargekry het. Dit was as gevolg van die Britte se verskroeideaardebeleid tydens die Anglo-Boereoorlog. Tydens dié oorlog (1899-1902) tussen die Boererepublieke (die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek – die ZAR of Transvaal) en Brittanje, het die Britte die boere en selfs hul werkers se plaashuise en landerye tot op die grond afgebrand. Met hul terugkeer ná die oorlog het baie boere niks oorgehad nie. Hulle moes van vooraf begin, sonder ʼn sent op hul naam of ʼn enkele bees of skaap in die kraal. Dit het die boere dekades geneem om weer op hul voete te kom. 6

Die laaste strooihalm wat die kameel se rug gebreek het, was ʼn groot sprinkaanplaag en die Groot Droogte in Suid-Afrika tussen 1932 en 1933. Teen 1934 was daar sowat 300 000 Afrikaners wat nie eens geld vir brood gehad het nie. Hierdie mense, wat met ander woorde onder die broodlyn geleef het, is armblankes genoem. 2

Die stigting van Volkskas

Die enigste groot handelsbanke in Suid-Afrika in 1934 was Standard Bank en Barclays Bank. Albei dié banke se hoofkantore was in Londen, Engeland. 7

Mense wat nie by enige van die kleiner volksbanke (distriks- of streeksbanke wat dikwels deur plaaslike inwoners gestig en gefinansier is) lenings kon kry nie, kon net by Standard Bank en Barclays Bank gehelp word. Die probleem was dat die mense van hierdie twee groot banke wat besluite oor Suid-Afrikaners se geldsake geneem het, meer as 10 000 km ver weg was. Hulle was baie suinig en ten spyte van die armoede in Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog wou hulle nie sommer geld uitleen nie. Die kanse vir ekonomiese groei vir Suid-Afrikaners was dus skraal.

In Oktober 1934 het ʼn groepie Afrikanerleiers in Kimberley bymekaargekom om planne te maak om die finansiële posisie van die Afrikaners te verbeter. Joseph Jacobus Bosman het op hierdie vergadering voorgestel dat ʼn bank vír Afrikaners gestig word sodat dit mense in goeie én slegte tye finansieel kon help. 8

Daar is besluit dat ʼn koöperatiewe bank, wat ook ʼn kleinleningsbank genoem word, die armoede in Suid-Afrika beter sou kon oplos as wat ʼn groot handelsbank kon doen. Die verskil tussen die koöperatiewe bank (wat die mense met hierdie vergadering beplan het) en die volksbanke (wat reeds bestaan het), was dat ʼn koöperatiewe bank takke landwyd het – nie net in ʼn spesifieke omgewing nie. ʼn Koöperatiewe bank wou wel wins maak en die grootste doel was nie om mense te help nie. 8

Op 9 Julie 1934 is die bank as Volkskas (Koöperatief) Beperk geregistreer en op 1 Februarie 1935 open die bank amptelik sy deure in Pretoria. Hoewel dit aanvanklik net Joseph Bosman (wat die voorstel vir dié bank gemaak het) en ʼn sekretaresse was wat in die begindae vir Volkskas gewerk het, stroom die kliënte gou na dié nuwe bank. Binne elf maande, aan die einde van Junie 1935, het kliënte altesaam ₤21 674 by Volkskas gespaar en die bank het ₤23 583 aan mense geleen. 8

Dit klink dalk nie na baie geld nie, maar in daardie jare was Suid-Afrika se geldeenheid nog die Britse pond. Bogenoemde bedrae is in werklikheid ’n sak vol geld as ’n mens dink dat die gemiddelde huishouding se inkomste in die 1930’s slegs ₤530 was! 9

Op 1 Augustus 1935 het Volkskas sy eerste tak in Johannesburg geopen. Dié bank se takke groei oor die volgende 12 jaar tot altesaam 53.

Volkskas se heel eerste logo (handelsmerk) was ʼn kleurprentjie van ʼn ploeg wat die grond omwerk, met die slagspreuk arbeidsaamheid (ywerigheid). Bosman het die simboliek verduidelik as “Ons eie bank, gebore uit die mense om die mense te dien”. Die handelsmerk is later verander na ʼn onderstebo rooi driehoek tussen twee grys driehoeke en die bank se bekende slagspreuk, “Jou bankgenoot deur dik en dun”, was vir jare op almal se lippe.

Van koöperatiewe bank tot handelsbank

Volkskas het baie vinnig gegroei in vergelyking met die ander banke in die land. Teen die einde van die veertigerjare het Volkskas met 24,7% gegroei terwyl die bates (geld en besittings soos eiendom wat iemand of ʼn maatskappy besit) met slegs 11% meer geword het. 10

Hierdie groei het beteken dat Volkskas nie meer net ʼn koöperatiewe bank kon bly nie. Volgens die wette van Suid-Afrika moes Volkskas toe as ʼn handelsbank (of ʼn kommersiële bank) registreer. Die verskil tussen ʼn handelsbank en ʼn koöperatiewe bank is dat ʼn handelsbank nie net aan boere en klein sakeondernemings geld leen nie, maar ook aan ander mense. ʼn Koöperatiewe bank se hoofdoel is om mense (soos boere en klein sakeondernemings in Volkskas se geval) te help, terwyl ʼn kommersiële bank se oogmerk (doelwit) is om wins te maak uit die finansiële dienste wat hy lewer. ʼn Handelsbank verskaf nie net lenings aan mense of ʼn veilige plek om jou geld te spaar nie, maar leen ook geld aan mense om motors en huise te koop. 11

Nog voordat Volkskas as ʼn handelsbank geregistreer is, het hy reeds vanaf 1 Maart 1941 tjekrekenings aan sy kliënte gebied. 7 ʼn Tjek werk só: As iemand vir jou ʼn tjek as betaling gee en jy betaal dit by jou bank of die kitsbank (outomatiese bankteller of OTM) in, stuur jou bank die tjek na die bank van die persoon wat vir jou die tjek gegee het. Daardie bank moet seker maak dat die tjek nie nagemaak (vervals) is nie en dat die bedrag geld wat op die tjek geskryf staan wel in die ander persoon (die rekeninghouer) se rekening is. Sodra die bank seker is dat die tjek gebruik kan word, stuur daardie bank die geld na jou bank toe. Hoewel tjeks deesdae nie meer algemeen gebruik word nie, is dit vir baie jare gebruik omdat mense nie met groot bedrae kontant (papiergeld en muntstukke) in hul beursies wou rondloop nie. 12

Voordat jy ʼn tjek gebruik, moet jy seker wees die ander banke aanvaar wel tjeks van jou bank. Omdat Volkskas Bank so goed op die platteland (klein dorpies) gevaar het, wou die groot handelsbanke nie Volkskas se tjeks aanvaar nie. Indien een van dié banke wel ʼn tjek aanvaar het, moes die kliënt baie ekstra geld betaal sodat die tjek gewissel kan word (geruil vir die bedrag kontant wat op die tjek aangedui is). Teen Oktober 1947 het Volkskas egter só groot geword dat die ander handelsbanke geen ander keuse gehad het as om Volkskas se tjeks te aanvaar nie. 8

Volkskas se uitbreiding na ander bedrywe

Jy ken seker die gesegde dat ʼn mens nie al jou eiers in een mandjie moet pak nie, nè? Wel, dit was ook só in Volkskas se geval. Volkskas se bates (geld en besittings soos geboue) het van £7 miljoen in 1944 tot £50 miljoen in 1955 toegeneem. Hoewel die meeste Volkskas-kliënte aanvanklik boere was, het die bank mettertyd besluit om sy sake ook na ander gebiede of bedrywe buiten landbou uit te brei, want as daar iets soos ʼn groot droogte in Suid-Afrika sou kom, sou dit nie goed wees vir die landbou in Suid-Afrika nie en kon Volkskas baie geld verloor.

Om hierdie rede het Volkskas sy belange onder meer na die volgende bedrywe uitgebrei: 8

Boubedryf

In 1959 het Volkskas ʼn bougenootskap (ʼn onderneming wat geld leen sodat nuwe geboue opgerig kan word), die Nasionale Bouvereniging, in Pretoria begin. Dié bougenootskap se bates was in 1966 meer as R45 miljoen. Die Nasionale Bouvereniging en Saambou het later een maatskappy geword (saamgesmelt) om die Saambou Nasionale Bougenootskap te vorm. In 1981 het dié maatskappy meer as R270 miljard se bates besit.

Suikerbedryf

In 1971 het Volkskas die Transvaalse Suikerkorporasie gekoop wat met suiker, sitrus (vrugte soos lemoene, nartjies en suurlemoene) en subtropiese vrugte (vrugte wat in warmer streke van die wêreld groei, soos piesangs, mango’s en avokado’s) handel gedryf het (koop en verkoop). In 1981 het hierdie maatskappy ʼn wins van R10,4 miljoen getoon.

Ander bedrywe

In 1982 was Volkskas die derde grootste handelsbank in Suid-Afrika. Benewens belange in die bou- en suikerbedryf was hy ook bedrywig op die gebied van ingenieurswese, mynbougereedskap (masjiene wat in myne gebruik word), motorfietsverspreiding, versekering en bosbou.

Volkskas het in 1979, in samewerking met Mastercard en Visa, ook sy eie kredietkaart uitgereik. Volkskas het in hierdie stadium ook uitgebrei na versekering, Diners Club en trust- en beleggingsbestuur. 8

Die tagtigerjare en stigting van Absa

In 1981 was 211 (75%) van Volkskas se takke op die platteland en net 71 van die takke in stede. Aan die einde van die tagtigerjare het hierdie situasie egter verander en was daar ongeveer ewe veel kliënte in die stede as wat daar op die platteland was. ʼn Groot gedeelte van Volkskas se kliënte was steeds wit Suid-Afrikaners en veral wit Afrikaanssprekende mense. 8

In die vroeë negentigs het Suid-Afrika voorbereidings begin tref vir die eerste demokratiese verkiesing in 1994 ná die vrylating van Nelson Mandela. Terwyl onderhandelings tussen die land se verskillende politieke partye voortgeduur het, het die bestuur van Volkskas ook begin nadink oor die bank se toekoms. Volkskas wou deel van die nuwe Suid-Afrika wees en wou nie gehad het mense moet die bank net sien as ʼn instansie (maatskappy of instelling) wat slegs wit Afrikaanssprekendes finansieel help nie. 8

In 1991 het Volkskas met drie ander banke, Allied, United en Trust Bank, saamgesmelt om ʼn splinternuwe bankgroep te vorm, naamlik die Amalgamated Banks of South Africa (oftewel Absa soos ons dit vandag ken). Al hierdie banke het aanvanklik steeds onder hul eie naam sake gedoen, maar vanaf 1998 het almal as Absa bekendgestaan. 13

Vandag is Absa nie net een van die grootste banke in Suid-Afrika nie, maar hy doen ook sake in onder andere Tanzanië, Uganda, Zambië, Botswana, Namibië, Nigerië, die Verenigde Koninkryk, die VSA en selfs in die Tsjeggiese Republiek in Europa. 14

Woordbank

aandele Een van die gelyke dele waarin die kapitaal van ʼn maatskappy verdeel is.
aandelemark Instelling waar aandele deur makelaars of agente gekoop of verkoop word; aandelebeurs.
Afrikaners (Veral wit) persoon (met ʼn sterk gevoel van nasietrots) wie se moeder- of huistaal Afrikaans is.
banke Plek waar geld bewaar/uitbetaal/uitgeruil word.
demokratiese Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, gekenmerk deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg, van die media, ens.; volksregering.
Eerste Wêreldoorlog Die eerste oorlog waarby lande van die hele wêreld betrokke was; 1914 tot 1918.
ekonomie Stelsel waarvolgens die handel/produksie/ens. beheer word.
Groot Depressie Wêreldwye ekonomiese ineenstorting (ongeveer tussen 1929 en 1933).
koöperatiewe Op samewerking gegrond.
kredietkaart Kaart uitgereik deur ʼn finansiële instelling wat die houer in staat stel om op krediet te koop, waarna betaling aan die uitreiker gemaak word.
lenings Som geld wat jy leen of wat aan jou geleen word.
platteland Gebied buite groot dorpe en woelige stede.
regering Bestuur van ʼn land; landsbestuur; oppergesag; bewind.
rentekoers Bedrag, aangedui as ʼn persentasie, wat betaal word op geld wat geleen/belê is.

Lees dié artikels om nog meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

André Stander, ʼn polisieman wat Suid-Afrika se bekendste bankrower geword het

ʼn Honderd jaar van geld in Suid-Afrika

Só werk ʼn bank

What is a Bank?

Kyk hoe praat hierdie kitsbank

Dít is hoeveel goud daar in die Bank van Engeland se kluis is

Gepubliseer op: 7 Junie 2022 | Bygewerk op 22 Januarie 2024