Vinnige feite

  • Christine Lagarde is die eerste vrou wat in Junie 2011 as die uitvoerende direkteur van die IMF aangestel is. 17
  • Argentinië het in 2018 met $57 miljard (meer as R1 biljoen) die grootste lening tot dusver van die IMF gekry. 18
  • Andorra, ’n klein landjie tussen Spanje en Frankryk, het in 2022 die jongste lidland van die IMF geword. 19
  • Suid-Afrika is een van die stigterslede van die IMF wat vanaf 27 Desember 1945 deel van die organisasie geword het. Sedert 1945 het Suid-Afrika al ses keer geld van die IMF geleen. 20
  • Amerika se ekonomie is met $25 biljoen (“trillion”) die grootste in die wêreld. 24
  • Die oudste papiergeld in die wêreld is in China in die jaar 960 gebruik. Dit was so groot soos ’n A4-papier. Op die note was daar prentjies van muntstukke met ’n rooi stempel aan die onderkant om te keer dat dit nagemaak word. 25
Foto: iStock

Wie monitor wisselkoerse in verskillende lande? Wat maak lande as hulle in tye van oorlog skielik geld nodig het? By wie kan ʼn land geld leen of hoe kan hulle probleme in hul land se ekonomie takel? Die antwoord is natuurlik ’n organisasie genaamd die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Aan die einde van die 1920’s was een uit elke vier Amerikaners werkloos en mense se inkomste het met gemiddeld 40% gedaal. Hierdie tydperk is die Groot Depressie genoem en mense oor die hele wêreld heen het swaargekry toe die pryse van die Amerikaanse aandelebeurs geval het.

Daar was nie kos nie en mense moes in rye staan om brood in die hande te kry. Kinders het beurte gemaak om te eet. Mense het slegs elke tweede dag kos gekry. Kinders moes soms gaan werk wanneer hulle ouers hul werk verloor het. 1

In 1944 is die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) tot stand gebring om seker te maak dat die wêreld nooit weer soveel armoede beleef nie. 2

Oor die jare het IMF al geld aan lande geleen en finansiële hulp aan lande gegee waar daar oorlog is. Vandag is die IMF ’n organisasie met 190 lidlande en 2 700 werknemers wat van 150 verskillende lande af kom. 3

Ekonomiese gevolge van die Eerste Wêreldoorlog

Om te verstaan waarom die Internasionale Monetêre Fonds nodig was, moet ons eers na die jare ná die Eerste Wêreldoorlog kyk.

Die wêreld was in twee groepe verdeel: daar was die geallieerde lande (byvoorbeeld Engeland, Frankryk, Rusland, Italië, Roemenië, Kanada, Japan en die VSA) en die Spilmoondhede (lande soos Duitsland, Bulgarye, Oostenryk, Pole en Hongarye). 4

Infrastruktuur (byvoorbeeld die paaie, spoorweë, hospitale en skole van ’n land) is tydens die oorlog verwoes. Die Verenigde State van Amerika (VSA) was een van die min lande wat finansieel nog sterk was. Die VSA het geld aan die geallieerde lande geleen, maar wou hê dié lenings moet terugbetaal word. Die lande het egter nie die geld gehad om Amerika terug te betaal nie.

Hulle het geglo hulle sal dit kan terugbetaal uit die oorlogskuld wat Duitsland aan die geallieerde lande moes terugbetaal vir die skade wat hulle tydens die oorlog gely het. Duitsland het egter ook nie geld gehad nie! In 1921 was die koste – net om Duitsland te herstel – sowat 132 miljard Duitse mark (ongeveer R1 134 miljard). Dit was twee keer meer as wat Duitsland se totale inkomste voor die oorlog was. 5

In daardie tyd is goud as ’n betaalmiddel tussen lande gebruik, maar die Spilmoondhede het nie meer goud besit nie. Hierdie lande het begin om papiergeld te druk wat later geen waarde meer gehad het nie, omdat te veel daarvan gedruk is. Omdat die geld niks meer werd was nie, het hiperinflasie ontstaan en Duitsland, Oostenryk, Pole, Bulgarye en Hongarye se ekonomieë het in duie gestort. 6

Die Amerikaanse aandelemark stort in 1929 in duie en die hele wêreld word in ’n ekonomiese depressie gedompel. In plaas daarvan om saam te werk, kies lande om hul ekonomiese probleme op hul eie te hanteer. 7

Die weiering om saam te werk, het ʼn vernietigende uitwerking op die wêreldekonomie gehad:

  • Die wêreld se werkloosheidsyfer het in 1932 tot 30% gestyg.
  • Wêreldhandel het met 35% van die vlakke van 1929 gedaal. 7

Die stigting van die IMF

Dit was 1944. Die einde van die Tweede Wêreldoorlog was naby, maar net soos die tyd ná die Eerste Wêreldoorlog, was die wêreld aan flarde (stukkend). Die grootste dele van Europa en Asië, asook gedeeltes in Afrika, se stede en infrastruktuur was verwoes. Die platteland was ook só vernietig dat mense nie gou weer sou kon boer om vir hul lande van kos te voorsien nie. Daar was dringend ʼn plan nodig om ʼn herhaling van die gebeure ná die Eerste Wêreldoorlog te voorkom.

Op 1 Julie 1944 het 730 afgevaardigdes van 44 lande in die Mount Washington-hotel in Bretton Woods, New Hampshire in die VSA, bymekaargekom. Die grootste doel van hierdie konferensie was om planne te beraam hoe die lande kon saamwerk om seker te maak die ekonomiese probleme, soos ná die Eerste Wêreldoorlog, word voorkom. Hulle het ook gesels oor ’n manier om al die lande in die wêreld te help om ekonomies te groei. 8

Hoofkantoor van die IMF

Die IMF en die Internasionale Bank vir Heropbou en Ontwikkeling (IBHO), beter bekend as die Wêreldbank, word tydens die Bretton Woods-konferensie, voorheen bekend as die Verenigde Nasies (VN) se monetêre en finansiële konferensie, tot stand gebring. 9

Hoewel al twee hierdie organisasies spesiale agentskappe van die VN is, verskil die redes waarom hulle gestig is, asook die werk wat deur die IMF en Wêreldbank gedoen word. Die IMF maak seker die wêreld se geldelike stelsel bly stabiel, terwyl die Wêreldbank hulp aan arm lande gee sodat hul ekonomieë kan verbeter. 9

Al die afgevaardigdes het die uiteensetting van die doelwitte van die IMF onderteken. Op 27 Desember 1945 het die organisasie se eerste 21 lidlande deel van die IMF geword. 8

Daar word besluit om die IMF se hoofkantoor in Washington in die VSA te vestig en die jaar daarna het die werksaamhede van die organisasie amptelik begin. 10

Struktuur van die IMF

Die IMF bestaan uit die volgende afdelings:

  • Die raad van presidente

Die raad van presidente is die groep in die IMF wat besluite neem. Dit bestaan uit een verteenwoordiger van elke land wat deur die lidlande aangewys word. Hierdie presidente is gewoonlik die ministers van finansies of hoofde van ’n land se sentrale bank (’n bank wat aan ’n regering behoort en oor dinge soos rentekoerse besluit. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is Suid-Afrika se sentrale bank). 11

Hierdie raad vergader elke jaar – twee jaar ná mekaar by die hoofkantoor in Washington en elke derde jaar in ’n ander land. Tydens hierdie jaarlikse vergadering moet die raad van presidente besluite neem oor die aanstel van uitvoerende raadslede en die goedkeuring of afkeuring van lande wat vir lidmaatskap aansoek doen.

Enige veranderings aan die amptelike beleid van die IMF soos byvoorbeeld die voorwaardes waarop lenings aan lande toegeken word, moet deur die raad van presidente goedgekeur word voor dit in werking kan tree. Besluite oor byvoorbeeld hoeveel geld ’n land by die IMF mag leen, word ook tydens hierdie vergaderings geneem. 11

Lidlande het met hierdie byeenkoms kans om hul land se mening oor die internasionale ekonomie met die res van die wêreld te deel. Indien nodig, word daar gesamentlik besluit hoe huidige internasionale monetêre kwessies (sake) hanteer moet word. 11

’n Voorbeeld van só ’n besluit is toe die IMF in Maart 2022 besluit het om dadelik $1,4 miljard (sowat R22,4 miljard) aan Oekraïne beskikbaar te stel om te help tydens die oorlog met Rusland. 12

  • Ministeriële komitees

Daar is twee komitees (die lede van ’n komitee konsentreer of fokus op spesifieke sake en gee terugvoer aan ’n groter vergadering) wat aan die raad van presidente verslag doen, naamlik die ontwikkelingskomitee en die internasionale monetêre en finansiële komitee (IMFK). 11

Die IMFK bestaan uit 24 direkteure wat al die lidlande verteenwoordig. Tydens die jaarlikse vergaderings van die IMFK bespreek die komiteelede sake wat die ekonomie wêreldwyd kan beïnvloed. Aan die einde van die vergadering gee hierdie komitee voorstelle aan die raad oor wat die werk van die IMF vir die volgende paar maande moet wees. 11

Die ontwikkelingskomitee het ook 24 lede wat die lidlande van die IMF verteenwoordig. Die lede is gewoonlik ministers van finansies of die ministers van ontwikkeling van ’n land. Hierdie komitee fokus meer op ontwikkelende lande en gee raad oor hoe ontwikkelende lande se ekonomieë verbeter kan word. 11

  • Die uitvoerende raad van direkteure

Hierdie raad bestaan uit 24 lede wat verantwoordelik is vir die daaglikse werksaamhede van die IMF. Die besturende direkteur staan aan die hoof van die ongeveer 2 700 werknemers van 150 lande. Die besturende direkteur is gewoonlik van ’n Europese land en hy of sy word vir ’n termyn van vyf jaar aangestel. 11

Finansiering en stemreg van die IMF

Elke lidland betaal ’n bedrag geld wat deur ’n kwota bepaal word. Die kwota is ’n aanduiding van die sterkte van ’n land se ekonomie as dit met die wêreld se ekonomie vergelyk word. Hoe ryker die land en hoe sterker die ekonomie, hoe groter is ’n land se kwota. Hierdie kwota bepaal hoeveel stemme ’n land het wanneer besluite geneem moet word. Die VSA het op die oomblik 17% van die stemme. Kanada, Duitsland, Italië, Japan en Rusland het saam meer as 50% van die totale stemme. 10

Die kwota bepaal verder hoeveel geld elke land by die IMF kan leen (dié lening word spesiale trekkingsregte genoem). Hoe groter ’n land se kwota, hoe groter die spesiale trekkingsregte wat aan ’n land gegee word. 13

Werksaamhede van die IMF

Die IMF het drie hooffunksies, naamlik om ’n ogie te hou oor enigiets wat lidlande en die wêreld se ekonomie kan raak; die uitleen van geld aan lande wat dit nodig het om hul ekonomieë sterker te maak; en om hulp en raad aan lidlande oor finansiële sake te gee. 14

  • Toesig oor internasionale en lidlande se ekonomieë

Die IMF se belangrikste werk is om seker te maak die wêreld se ekonomie bly bestendig (stabiel). Die IMF hou die internasionale en lidlande se ekonomieë dop om betyds te weet as iets gebeur wat die wêreld se ekonomie negatief kan raak. Lidlande moet onderneem om voorstelle te volg wat die IMF maak om die land se ekonomie sterker te maak. 14

  • Lenings aan lidlande

’n Betalingsbalans is ’n lys van al die transaksies wat ’n land byvoorbeeld in ’n jaar gedoen het. Wanneer ’n land ’n negatiewe betalingsbalans het, beteken dit dat daar meer geld uit die land gevloei het as wat daar geld ingekom het. Die IMF sal geld aan daardie land leen om seker te maak dat die geldeenheid van die betrokke land nie al sy waarde verloor nie, want dit kan ’n negatiewe impak op die hele wêreld se ekonomie hê. Die IMF verwag van die lande om die lenings terug te betaal en die IMF se voorstelle te volg hoe om die land se ekonomie te verbeter. 14

  • Raad en hulp aan lidlande

Die IMF gee hulp aan lidlande om hul ekonomieë te versterk en meer werk vir die mense van die land te skep.

Hierdie hulp, wat tegniese bystand genoem word, is byvoorbeeld opleiding en advies (raad) oor die volgende:

  • Fiskale beleid, soos byvoorbeeld die reëls oor belasting is die geld wat die burgers van ’n land aan die regering betaal sodat die regering dienste (soos water- en elektrisiteitsvoorsiening) kan lewer en infrastruktuur (soos paaie en skole) kan bou. Die hoeveelheid belasting wat ’n persoon moet betaal, hang af van hoeveel geld hy of sy verdien;
  • Statistiek, wat ’n land help om beter besluite oor geldsake te neem;
  • Die manier hoe banke in die land moet werk; en
  • Idees oor hoe die wisselkoers van ’n land bestuur moet word. 14

Suksesse van die IMF

Oor die jare het die IMF baie suksesse (welslae) behaal.

Hier is ’n paar: 15

  • Rentekoerse wat stabiel bly: Oor die jare het rentekoerse nooit meer as 2,5% op ’n slag verander nie.
  • Verbeter internasionale handel: Deur geld aan lande te leen waar nodig, het gehelp om handeldryf tussen lande te verbeter.
  • Verleng die terugbetalingsperiode vir lande wat nie dadelik geld het om lenings terug te betaal nie: Aan die begin het lande drie tot vyf jaar gehad om lenings terug te betaal. Die IMF het die tydperk later na vier tot tien jaar verleng.
  • Hulp en bystand aan lidlande: Oor die jare kon die IMF sy lede laat verstaan dat een land se swak ekonomie die hele wêreld se ekonomie negatief kan beïnvloed. Die IMF gee raad en hulp aan lande wat probleme het. Navorsing word ook gedoen om uit te vind wanneer nuwe probleme in ʼn land se ekonomie ontstaan.
  • Hulp aan lande wat nog besig is om te ontwikkel: Voorheen het die IMF net geld aan lidlande geleen. Deesdae gee hy hulp en bystand aan ontwikkelende lande sodat armoede in daardie lande ook verminder kan word.

Kritiek teen die IMF

Hoewel die IMF oor sewentig jaar die ekonomie van die hele wêreld beter gemaak het, was daar ook kritiek teen die organisasie: 15

  • Die IMF neem lank om besluite te neem: Dit het al gebeur dat lande baie dringend hulp nodig het. Omdat daar ’n sekere hoeveelheid stemme nodig is om belangrike besluite te neem, kan hulle dikwels nie betyds gehelp word nie.
  • Hoë rentekoerse: Al leen die IMF geld aan lande wat dit nodig het, was die rentekoers om ’n lening terug te betaal, al meer as 14%. Armer lande sukkel om die lening plus rente terug te betaal en word net armer.
  • Baie glo die VSA is vir die IMF belangriker as die arm lande: Met 17%-stemreg het die VSA die grootse sê in besluite wat geneem word, maar lidlande voel dat die IMF uitermatig (te veel) gefokus is op die ekonomiese belange van die VSA.

Woordbank

aandeel Een van die gelyke dele waarin die kapitaal van ’n maatskappy verdeel is. 16
aandelebeurs Instelling waar aandele deur makelaars of agente gekoop of verkoop word; aandelemark. 16
afgevaardigdes Iemand wat na ’n vergadering gestuur word om die mening/standpunt van ’n vereniging/groep/regering te stel. 16
belasting Verpligte betaling aan die staat of ander owerheidsliggame om uitgawes te dek. 16
betalingsbalans Totaal van die betalings wat ’n land aan die buiteland gedoen het en van die buiteland ontvang het. 16
beleid Plan/program vir die bestuur van ’n groep/onderneming/party/ens. 16
biljoen Miljoen maal miljoen; 1 000 000 000 000. 16
depressive Tydperk van insinking gekenmerk deur, onder meer, swak verkope, lae pryse, geringe inisiatief, werkloosheid en geldskaarste; verslapping; handelslapte. 16
Eerste Wêreldoorlog Die eerste oorlog waarby lande van die hele wêreld betrokke was; 1914 tot 1918. 16
ekonomie Toestand waarin die handel/produksie/ens. van ’n land/streek verkeer. 16
fiskaal Wat die staatskas/inkomste/geldsake betref; belasting. 16
Geallieerde Magte Bondgenote teen Duitsland en die Spilmoondhede (Italië, Japan, ens.) in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog. 16
Groot Depressie Wêreldwye ekonomiese ineenstorting (ongeveer 1929-1933). 16
handel Die koop en verkoop of die ruil en verruil van goedere met die oog op wins. 16
hiperinflasie Uitermatige hoë inflasie. 16
inflasie Waardevermindering van geld, veral deur die grootskaalse uitgee van ongedekte papiergeld.
kwota Aandeel wat ’n enkeling of maatskappy moet bydra tot of ontvang uit ’n totaal. 16
lenings Som geld wat jy leen of wat aan jou geleen word. 16
miljard Duisend miljoen; 1 000 000 000. 16
monetêr Wat geld of die muntstelsel betref. 16
ontwikkelende lande ’n Land met ’n betreklik lae vlak van nywerheidsvermoë, tegnologiese gevorderdheid en ekonomiese produktiwiteit, en lewenstandaarde wat daarmee gepaardgaan. 16
rentekoerse Bedrag, aangedui as ’n persentasie, wat betaal word op geld wat geleen/belê is. 16
sentrale bank Nasionale bank. 16
statistiek Metode/wetenskap wat gegewens in verband met massaverskynsels soos die bevolkingsaanwas, ’n land se gesondheid of die invoer en uitvoer van ’n land versamel en dit in getalle en figure uitdruk. 16
Tweede Wêreldoorlog ʼn Wêreldwye militêre konflik wat van 1939 tot 1945 geduur het. 16
werkloos Sonder werk. 16
wisselkoerse Koers van vreemde geld; koers waarteen die geldeenheid van een land teen dié van ’n ander land verruil kan word. 16

Lees die volgende artikels om nog meer te leer oor die ekonomie en die IMF

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die ekonomie

Hoe werk inflasie?

Hoe werk die aandelebeurs?

Die ekonomiese omstandighede ná die Tweede Wêreldoorlog

Wat is die IMF?

Verstaan wisselkoerse beter

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Junie 2022 | Bygewerk op 11 April 2024