Vinnige feite

Tipiese armblanke huisie
  • Die term armblanke is by die suidelike state van die VSA, wat ’n soortgelyke probleem gehad het, geleen. 1
  • Die armblankevraagstuk was die inspirasie vir baie letterkundige werke in Suid-Afrika, soos dié aangrypende gedeelte uit een van Totius se gedigte in Trekkersweë:

Hulle lewe van ’n hongerloon

in huisies aanmekaar gepas

en jaardjies vol van steenkool-as

Die vroeg’re boere-paradys

Is nou één molshoop, groot en grys. 7

  • Die Carnegie-korporasie was ’n fonds van die Amerikaanse miljoenêr Andrew Carnegie. Die korporasie het £4 000 gegee vir die kommissie, wat genoeg was om die kommissielede se salarisse en uitgawes te betaal. 12
  • M.E.R. was die enigste vroulike lid van die Carnegie-kommissie. Sy is aangestel omdat hulle gevoel het slegs ’n vrou sou die arm moeders se menings behoorlik in ag kon neem. 12
  • Hendrik Verwoerd het landwyd bekendheid verwerf vir sy aandeel in die 1934-konferensie. 14
  • D.F. Malan, wat die eerste minister was toe die Nasionale Party (NP) in 1948 aan bewind gekom het, het sy bediening as predikant opgegee om die armblankes op te hef, en toe deel geword van die NP. 1
Foto: iStock

In elke dorp of land is en was daar maar altyd ryk en arm mense. Maar het jy geweet dat daar aan die begin van die 20ste eeu soveel arm wit mense (destyds armblankes genoem) in Suid-Afrika was dat hierdie mense en die krisis waarin hulle hulself bevind het, ’n naam gekry het en in die geskiedenisboeke opgeteken is?

Kom ons kyk hoe dit gebeur het…

Deur die eeue heen het die meeste Suid-Afrikaners ’n sukkelbestaan gevoer en soms in totale armoede verval. ’n Belangrike rede hiervoor was dat hoewel die meeste mense boere was, Suid-Afrika weens droogtes en swak grond nie ideaal vir boerdery was nie.

Armblanke huisie, Humansdorp-distrik

Daarbenewens het die verwoesting van plase tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) tienduisende mense verder verarm. Teen die eerste twee dekades van die twintigste eeu het armoede in Suid-Afrika ’n krisis geword.

Hierdie krisis het vinnig ’n groot vraagstuk geword en daar is dringend gesoek na antwoorde vir die toenemende armoede onder die witmense. Deur die jare het verskeie Afrikanerorganisasies die vraagstuk probeer oplos. Vanaf die middel van die 1930’s het ontwikkeling in fabrieke werkgeleenthede geskep wat uiteindelik teen die 1950’s meeste armblankes uit armoede gelig het.

Tipiese skooltjie
Skoolkinders in die Transvaalse Laeveld, feitlik almal met malaria.

Wat is ’n armblanke?

Die term armblanke het op verskillende tye na verskillende mense verwys, en het ook vir verskillende mense verskillende definisies. Oor die algemeen verwys dit na daardie wit mense wat te arm was om soos mense van die hoër wit klasse te lewe. 1 Die NG Kerk het armblankes gedefinieer as mense wat nie in staat was om sonder hulp vir hul gesinne te kan sorg nie. 2

Langtermynoorsake

Die oorsprong van die armblankevraagstuk kan gevind word in die leefstyl van die Afrikanertrekboere in die negentiende eeu.

Hierdie mense was bestaansboere – hulle het geboer om self genoeg kos te hê, maar nie om die kos te verkoop nie. Daar was in elk geval nie markte naby nie. Sommige het gejag en die ivoor en velle verloop, maar dit was ’n moeilike proses.

‘n Tipiese plaasskool

Die trekboere het nomadies gelewe, wat beteken hulle het heeltyd rondgetrek op soek na weiding vir hul vee. Hoe meer mense daar was, hoe verder moes hulle trek.

Dit het hulle natuurlik baie afgesonder van ander mense, en nóg meer afhanklik van veeboerdery en jag gemaak. Omdat hulle so ver van ander alles af was, het hulle slegs die noodsaaklikste lewensmiddele gehad – definitief geen luukshede (duur en weelderige produkte) nie. 3

Primitiewe waterpomp, Namakwaland

Die gevolge van hierdie leefstyl was in alle opsigte negatief. Ons kyk na ’n paar:

  • Die trekboere was totaal en al van die natuur afhanklik en het nie gehuiwer om die plante en diere vir eie gewin uit te buit.
  • Hul lewensuitkyk was een van noodlotsberusting (die aanvaarding dat mens se lot deur magte buite jou beheer bepaal word en dat jy niks daaromtrent kan doen nie). Om hierdie rede het hulle nie gevoel dis die moeite werd om te beplan vir die toekoms nie.
  • Hulle het ook hul vermoë verloor om in beperkte ruimtes (soos dorpe en stede) te leef en spaarsamig te werk. Dit sou later beteken dat hulle gesukkel het om aan te pas toe hulle gedwing is om te verstedelik (na ’n dorp of stad toe trek). 3
Gesin by meul

Diversifikasie vs. spesialisasie

Die belangrikste langtermyn-impak was waarskynlik dat die trekboere ’n leefstyl van diversifikasie beoefen het. Die trekboer was ’n jan-van-alles (“jack of all trades”) wat álles self moes doen – nie net boer nie, maar huise bou, waens maak, herstelwerk doen en klere, skoene en meubels maak.

Tipiese skoolvervoer vir armblanke kinders

In die dele van die wêreld wat ekonomies sterker was, het die teenoorgestelde van diversifikasie gebeur: spesialisasie. Dit is wanneer mense in beroepe spesialiseer, soos byvoorbeeld een mens bou huise en koop dan met die geld wat hy/sy daaruit maak goed by ander mense wat ook spesialiseer.

Die trekboere was só afgesonder dat hulle nie gespesialiseer het nie, en dit het hulle tot in die twintigste eeu arm gehou. 3

Die armblankes voor die ABO

In die 1870’s en 1880’s is diamante en goud in die Suid-Afrikaans binneland ontdek. Dit het dinge eensklaps laat verander.

Tipiese armblanke gesin by delwery

Die Transvaal se ekonomie het gedraai van ’n bestaansekonomie na ’n geldekonomie, want daar het myndorpe ontstaan waar daar markte was om plaasprodukte vir geld te verkoop. Die meeste bestaansboere kon ongelukkig nie hierdie geleentheid benut nie. Omdat hulle só lank al as bestaansboere geleef het, het hulle nie genoeg plaasprodukte gehad om te verkoop nie. Hulle boerderymetodes was ook verouderd. Ryk boere het gou armer boere se plase begin uitkoop. 4

Om alles erger te maak, was daar ook natuurlike faktore wat boerdery bedreig het. In 1896-’97 was daar ’n runderpes-epidemie wat die boere se vee afgemaai het. Daar was ook gereeld droogtes en sprinkaanplae. 5

Armblanke gesin voor sinkhuisie

Baie boere en die bywoners – wit mense wat op ander mense se plase gebly het – het hul woonplekke verloor. 3 Hulle moes nou werk kry. Daar was werk beskikbaar op die delwerye en myne, maar die boere het gesukkel om dié werk te kry. Die taal van die delwerye en myne was uitsluitlik Engels, maar die Boere kon nie Engels praat nie. Hulle was ook halfgeskool of glad nie geskool nie, met ander woorde hulle was nie opgelei in iets of het kennis en ervaring van ’n werk gehad nie. 4 Bowendien was sommige traag om met hul hande te werk. 3

Bywonersgesin naby Heilbron

Die impak van die Anglo-Boereoorlog (ABO)

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het tot die ondergang van nog tálle boere gelei. 5 Baie mense wie se plase deur die Britte se verskroeideaardebeleid, die Britte se beleid om plase af te brand, vernietig is, kon nie ná die oorlog hul plase herbou nie. 6 Nóg ongeskoolde mense het dus na dorpe en stede gestroom vir werk. 1 Daar is hulle pateties behandel. Maar onthou, hulle was swak opgelei, en baie kon skaars of glad nie lees en skryf nie. Die meer geskoolde stedelinge het op hulle neergesien en hulle geminag. Baie wou die stede verlaat, maar daar was nêrens vir hulle ’n heenkome nie. 7

Die armblankes het saam met armes van ander bevolkingsgroepe, soos swart mense en Indiërs, in vervalle agterbuurte soos Ferreirasdorp en Brickfields (vandag se Braamfontein) gewoon. Die lewensomstandighede en gesondheidstoestande hier was haglik. 4

Weeskindertjies

Omdat die Afrikaners nie kon Engels praat nie, was die armoede vir hulle ’n groter probleem as vir die Engelssprekende armes. Laasgenoemde groep was oor die algemeen beter opgelei. Die Afrikaners het gou minderwaardig en onderdanig gevoel. En waar hulle wel ongeskoolde werk soos ondergrondse arbeid gedoen het, was die salarisse nie groot genoeg om hul gesinne te onderhou nie. 5

Nog faktore wat bygedra het tot die probleem, was dat daar ná die ABO ’n bevolkingsontploffing was wat nóg meer werksoekers die arbeidsmark ingestoot het. Daar was ook ekonomiese probleme buite die armblankes se beheer, soos die ekonomiese depressie (’n tydperk van ernstige ekonomiese insinking) tussen 1904-1909.) 5

Wit leiers het alreeds in die 1890’s hul kommer oor die armblankes uitgespreek, en die NG Kerk het in 1893 ’n kongres oor die verarming van die Afrikaners gehou. 8 Die verwoesting van plase gedurende die ABO het die situasie vererger, en dit het gou ’n krisis geword. 6

Gesin voor hul huis, Maquassie

Die situasie ná Uniewording in 1910

Die Unieregering het tussen 1912 en 1926 meer geld aan onderwys spandeer, asook ambag– en nywerheidskole – skole waar mense opgelei is in handwerk, fabriekswerk, en so meer. Kosskole (skole met koshuise) vir behoeftige kinders is opgerig om te probeer verseker dat alle wit kinders skool toe kon gaan. 1

Die getalle armblankes het egter aanhou vermeerder. Die Rebellie van 1914 het die situasie vererger en baie Wes-Transvaalse boere is daardeur geruïneer. Teen 1916 was daar omtrent 106 000 armblankes. 1

Hierna was daar nóg terugslae: in 1918 was daar weer ’n runderpes-uitbreking en in dieselfde jaar die 1918-grieppandemie (vroeër die Spaanse griep genoem). Toe kom die droogtes van 1919 en 1920 en, om alles te kroon, weer ’n depressie in 1921. 5

Die armblankeprobleem kry aandag

Buiten die NG Kerk se kongres van 1893, is die probleem deur verskeie organisasies en mense aangeroer. 8

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) is in 1904 gestig met die doel om gesinne in nood te help. Die probleme wat hulle moes oplos, was onder meer ’n gebrek aan kos as gevolg van die oorlog, te min opleidingsgeleenthede as gevolg van ’n gebrek aan skole, en die moedeloosheid van die mense. 9

Skooldogters leer vrugte inmaak

Die Helpmekaarbeweging is in 1915 gestig. Dit het begin as hulp vir die veroordeelde rebelle van die Rebellie van 1914, maar dit het stadigaan ’n beweging geword om alle Afrikaners te ontwikkel en te bevorder. Die fokus was veral opvoedkundig: om die armblankevraagstuk op te los deur die opvoeding van die Afrikanerjeug. Die jeug is hierdeur in staat gestel om positiewe bydraes te maak tot die toekoms van die land. Die beweging het ’n belangrike begrip onder die Afrikaners laat posvat, en dit was dat samewerking, en nie individuele mense nie, probleme kon oplos. 10

Daar is ook kongresse in Cradock (in 1916) en Bloemfontein (in 1923) oor die armblanke kwessie gehou, 8 en die Armblanke Verbond van 1917 het gepoog om armblankes te help om werk te kry. 3

Skoolkinders op ‘n uitstappie

Die situasie in die 1930’s

Die Nasionale Party (NP)-regering onder generaal J.B.M. Hertzog, wat sedert 1924 aan bewind was, het probeer om die armblankevraagstuk op te los. So het hulle in 1929 Yskor gestig, waar duisende Afrikaners werk gekry het. Maar in dieselfde jaar het rampspoed Suid-Afrika asook die res van die wêreld getref. 3

In Oktober 1929 het die Amerikaanse ekonomie in duie gestort. Die Groot Depressie het vanaf die vroeë 1930’s gevolg. Suid-Afrika was ’n droewige plek. Die Depressie was vernietigend, en boonop was daar in 1933 ’n verwoestende droogte. Nóg meer mense het verarm. 11

Op pad skool toe

In ’n poging om te keer dat die Depressie nog meer armoede tot gevolg het, het die Hertzog-regering lenings aan boere gegee. Hulle het ook werkloosheid probeer verlig deur vir mense tydelike werk op openbare projekte, soos die bou van paaie, te skep. Teen 1933 het die regering omtrent ’n sesde van hul begroting – die totaal van al die geld wat die regering gehad het om per jaar te spandeer – op armoedeverligting spandeer. 1

Een positiewe effek van die NP se skema was dat die land se infrastruktuur baie uitgebrei het met die bou van bosbounedersettings, besproeiingskemas, die aanlê van water na plase (vir die landerye) en die bou van paaie en spoorlyne. 1

Pogings om die armblankevraagstuk op te los: die Carnegie-kommissie

Die NG Kerk se besorgdheid oor die probleem het daartoe gelei dat hulle by die Carnegie-korporasie van New York aansoek gedoen het vir geld, sodat hulle kon navorsing doen oor die armblankeprobleem. Hul aansoek was suksesvol, en die Carnegie-kommissie het tot stand gekom. 2

Lede van die Carnegie-kommissie

Die kommissie het bestaan uit ’n klompie navorsers wat die land deurkruis het om die probleem te ondersoek. Hierdie navorsers het in 1929 en 1930 met twee motors omtrent 50 000 km afgelê. Hulle het besoek afgelê by dorpies, individuele mense, en skole. 12 Hul bevindinge – bestaande uit vyf omvattende verslae – is in 1932 gepubliseer. 2

Skoolkinders in Transvaal

Bevindinge

Die kommissie het bevind dat daar minstens 300 000 armblankes was, of omtrent een uit elke ses wit mense in die land. Hiervan was 250 000 Afrikaners (een uit elke vier Afrikaners). Een van die skrywers van die Carnegie-verslag het gesê dat as “arm” en “baie arm” bymekaar getel word, meer as die helfte van wit skoolkinders uit gesinne gekom het waar hulle nie behoorlike kos en klere gekry het nie. 1

Gesin voor matjieshuis

Die oorsake van die probleem

Mense het veral sedert die 1880’s op plase verarm. Boere met groot gesinne het plase onderverdeel – met ander woorde in kleiner dele gedeel om vir hul kinders elkeen ’n plaas te gee – maar daar was vanselfsprekend nie ’n toekoms op klein plasies nie. Boonop het die boere nie enige vaardighede gehad wat hulle in dorpe of stede kon gebruik nie. Hulle kon nie behoorlik lees of skryf nie. Omtrent ’n kwart van wit kinders het die skool verlaat sonder behoorlike onderrig of opleiding. 2

Gesin trek met hul besittings na delwerye

Die kommissie het bevind dat sommige armblankes volslae agterlik was, en dat probleme soos gebrekkige huislike opvoeding, liggaamlike gebrek, en drankmisbruik (alhoewel relatief min) bygedra het tot hul situasie. Daar was sommige mense wat gesê het die rede vir die agterlikheid was omdat die armblankes dom was. Maar die kommissie het bevind dat die mense se intelligensievlakke normaal was. Die armoede het laer intelligensievlakke veroorsaak, nie andersom nie. Nog ’n probleem was dat te veel seuns wat skoolopvoeding gehad het, gaan boer het. Maar daar was nie genoeg grond of goeie plase vir hulle nie. Die armes het ook swak mediese en sanitêre dienste gehad. 12

Een van die kommissielede, die skrywer M.E. Rothmann (M.E.R.), het die volgende geskryf:

“Hoe langer hoe meer lyk dit vir my die hele verarmingsproses was die natuurlikste en onvermydelikste ding in die wêreld: ons het as handjievol witmense kans gesien om met die hele tamaai Suid-Afrika te boer… Maar ons het nooit rekening gehou met die reaksie van die veld [en] die eensaamheid op onsself nie.

“Veral het ons nooit rekening gehou met die uitwerking van daardie invloede op die huisgesin nie. Begryp [sic] jou, geen opvoedende invloede van verkeer, lees, omgang met mense, kennis van wêreldontwikkeling nie, baie min van die Kerk, al opvoedingsmiddel vir daardie boerevolk was die huisgesin, d.w.s. was die moeder …

“En daardie moeder moes ook die helfte van die boerdery dra, ag(t) tot vyftien swangerskappe deurmaak, geboorte gee met min of geen hulp … Te veel! Agteruitgang, behalwe van uitsonderings, was onvermydelik …” 2

M.E. Rothmann

Voorgestelde oplossings

Die kommissie se belangrikste aanbeveling was dat die armblankeprobleem opgelos moes word deur die jeug beter op te voed: beter voorligting op skool (met ander woorde beter leiding en advies), beter onderwys en beter tegniese opleiding. Hulle het ook bevind dat die oplossing nie was, soos baie mense gedink het, om mense op plase te help nie. Inteendeel, mense moes aangemoedig word om die plase te verlaat en eerder ’n toekoms in dorpe en stede te bou. Maatskaplike sorg deur opgeleide mense, soos sosiale werkers, was ook krities. En omdat daar nie ’n probleem was met die mense se intelligensie nie, was dié probleem gelukkig oplosbaar. 12

Skoolkinders staan tou vir kos van liefdadigheid

Die impak van die Carnegie-kommissie

Die Carnegie-kommissie het bewys dat die armblankeprobleem in die oorgrote meerderheid van gevalle nie ’n probleem was waarvoor die armblankes self verantwoordelik was nie. Dit was die gevolg van omstandighede waaroor hulle nie beheer gehad het nie. 2

Daar is egter niks gedoen direk ná die verslag gepubliseer is nie, want niemand het ’n plan gehad om die aanbevelings te implementeer nie. Dit het egter indirek gelei tot die Volkskongres van 1934 oor die armblankevraagstuk, wat hieronder bespreek word. Universiteitsopleiding vir maatskaplike werkers en sosioloë – mense wat sosiale toestande soos werkloosheid en armoede moes bestudeer – is uitgebrei. M.E.R. se idees is gebruik om pogings te ondersteun om ambagskole vir jong meisies te vestig. 12

Skoolseuns leer van erosie bestryding
Skoolseuns leer boukuns

Die 1934 Volkskongres

Volgehou pleidooie van J.D. Kestell (algemeen bekend as Vader Kestell) het gelei tot die inisiatief deur die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad (ANK) van die FAK om ’n volkskongres byeen te roep. Hierdie kongres moes fokus op die oplossing van armoede. 8

Ds J.D. Kestell

Gedurende die kongres, wat in Kimberley gehou is, is verskeie voorstelle en planne om die probleme op te los bespreek. Die grootste kwessie was hoeveel die regering moes help.

Vader Kestell het geskryf dat hy gevoel het dat daar ’n manier gevind moes word waarop die mense hulself kon ophef, sodat hulle nié op die regering hoef staat te maak nie. 3 Die algemene gevoel was dat die armes gered kon word as die hele volk saamgestaan het – die res van die gemeenskap moes dus verantwoordelikheid vir die armes aanvaar. 1

By die kongres is ’n komitee in die lewe geroep wat die werk van die Volkskongres moes uitvoer, en planne moes opstel om die armoede te bestry. Hulle het nog ’n kongres gereël vir 1939. 8

Die kongres het ook gelei tot die stigting van Volkskas, ’n bank vir Afrikaners. Hierdie bank sou Afrikaners help met lenings sodat hulle hulleself kon ophef (om mense te bemagtig om hul eie probleme op te los). 13

Die 1939 Ekonomiese Volkskongres in Bloemfontein

Op die 1939-kongres is daar uiteindelik besef dat opheffing eerder as welsyn – waar organisasies na arm mense omsien – die oplossing was. 8

Hierdie kongres het gelei tot die stigting van die Ekonomiese Instituut en die Reddingsdaadbond, asook die Afrikaanse Handelsinstituut van 1942. Hierdie organisasies het op verskillende maniere probeer om die Afrikaners te bemagtig, onder meer deur geld beskikbaar te hê om besighede – wat dan werkgeleenthede sou bied – te stig. 3

Ander besluite wat in 1939 geneem is, was meer tegniese opleiding, beurse, finansieringsmaatskappye wat aan mense kon geld leen om besighede te begin, fabrieke, hulp aan ondernemings te verleen, en om Afrikaners aan te spoor tot positiewe vryetydsbesteding en ontspanning. 8

Embleem van die Reddingsdaadbond

Oplossing van die probleem

Die armblankeprobleem is tussen 1933 en 1950 grootliks opgelos. Die land het ekonomies gegroei, veral omdat die goudprys in 1933 skerp gestyg het en Suid-Afrika baie goud uitgevoer het. In die daaropvolgende jare het die Suid-Afrikaanse ekonomie aanhou groei, wat beteken daar kon deurentyd werk geskep word. Die regering het ook aan arm wit mense ongeskoolde werk gegee en hul opgelei. 2

Afrikaners het in die 1930’s begin gewoond raak aan die stad, en op groot skaal na die stede begin verhuis. 3

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was Suid-Afrika ’n belangrike verskaffer van oorlogsvoorrade. Dit het gelei tot die bou van fabrieke wat baie mense in diens geneem het. Dit het dan ook ’n reusebydrae gelewer tot die verdwyning van die armblankevraagstuk. 3

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog (1945) was die armblankevraagstuk iets van die verlede. 3

Woordbank

afgemaai Om iets in groot getalle dood te maak of vernietig.
agterbuurte Baie swak en arm woonbuurt.
agterlik Met minder as die gewone verstandelike of ander ontwikkeling.
ambag Handewerk as ’n beroep.
armblankes Baie behoeftige wit persoon wat deur ander onderhou word.
besproeiingskemas Skema om water by plase te kry om landerye water te gee.
bestaansboere Boere wat op hul plase slegs kos vir hul eie gebruik produseer, en nie om te verkoop nie.
bevolkingsontploffing Dramatiese toename in die bevolking van ’n plek.
bywoners Mense wat nie hul eie grond of huis besit nie en op ander se plase/grond bly.
diversifikasie Om ʼn verskeidenheid van dinge/take self uit te voer.
droewige Swak of sleg.
eensklaps Skielik of meteens.
ekonomies Die stelsel waarvolgens ’n land se goedere vervaardig en geld gebruik word.
epidemie ’n Groot aantal gevalle van ’n siekte wat op dieselfde tyd in ’n voorkom.
finansieringsmaatskappye Maatskappye wat aan iemand/’n saak geld gee.
geskool Iemand wat opgelei is en dus kennis en ervaring het.
Groot Depressie ’n Tydperk van ernstige insinking in die handel wêreldwyd waartydens min sake gedoen kon word en baie mense werkloos was.
haglik Ellendig of sleg.
heenkome Woonplek of manier van bestaan.
in duie gestort Misluk.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
jan-van-alles Iemand wat niks behoorlik kan doen nie. Ook genoem hansie-my-kneg of ’n man van twaalf ambagte en dertien ongelukke.
kongres ’n Formele vergadering waar verteenwoordigers van verskillende groepe idees bespreek, besluite neem, ens.
kosskole ’n Skool met ’n koshuis.
luukshede Produkte wat duur en weelderig is.
maatskaplik Wat met die samelewing of mense se lewens te make het.
geminag Geen respek vir iemand hê nie; op iemand neersien.
minderwaardig Minder werd of van laer gehalte as ander.
nomadies Mense wat van plek tot plek rondtrek in plaas daarvan om heeltyd op een plek te woon – gewoonlik op soek na weiveld vir hul diere.
noodlotsberusting Opvatting waarvolgens ’n mens se lot deur ’n onafwendbare, dikwels vyandige mag bepaal word.
nywerheid Die werk en prosesse wat betrokke is by die verwerking van grondstowwe, veral op groot skaal, soos in ’n fabriek.
onderdanig Altyd gewillig om iemand te gehoorsaam, al behandel die persoon jou ook onvriendelik.
onderverdeel Om plase in kleiner dele te verdeel.
onvermydelikste As jy iets nie kan keer nie.
ophef Iemand help om in beter omstandighede te lewe.
pateties Swak, betreurenswaardig.
pleidooie ’n Dringende versoek.
rampspoed Baie ellende, teenspoed en rampe.
runderpes Hoogs besmetlike koorssiekte, veral onder beeste, maar ook by skape en bokke.
sanitêr Wat tot die gesondheidsdiens behoort, veral wat betref die verwydering van (menslike) afval en riool.
skema ’n Uitgewerkte plan vir iets.
sosiale werkers Maatskaplike werker, welsynswerker.
sosioloë Mense wat sosiale toestande soos werkloosheid en armoede bestudeer.
tamaai Vreeslik groot, enorm.
traag Stadig; langsaam.
uitkoop Al iemand se bates koop; deur koop oorneem.
uitsluitlik Slegs, net; spesifiek.
verstedelik Na ’n dorp of stad trek.
volslae Totale.
voorligting Om iemand te onderrig/in te lig in verband met ’n sekere saak.
welsyn Organisasies wat na arm mense omsien. 15

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die armblankevraagstuk

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die armblankevraagstuk

Grepe uit die lewe van Vader Kestell

In 1949 is Helpende Hand gestig om aan arm mense hulp te verleen

Daar is vandag steeds baie wit armes

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 Mei 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024