Vinnige feite

  • Bugaku is danse wat in die koninklike howe uitgevoer word en is afkomstig van tradisionele dansvorme wat afkomstig is van China, Korea, Indië en Suidoos-Asië.
  • Tradisionele volksdanse gee uitdrukking aan gevoel en moedig nuwe denkpatrone aan.
  • Die rieldans word as die oudste danssoort in Suider-Afrika gereken omdat die hedendaagse vorm direk na die Khoi-San, die eerste bewoners van die streek, herlei word.
  • Die pantsula-dans is ‘n hoogs energieke dansvorm wat tydens die apartheidsera in die swart townships van Suid-Afrika ontstaan ​​het.
  • Die country dances van Engeland het in Frankryk tot die kotiljons en kadriel ontwikkel.
Foto: iStock

Dans is ‘n opeenvolging van bewegings van die voete, hande en lyf op die maat van musiek, deur ’n individu, ‘n danspaar of ‘n groep. 1 Daar is verskeie vorme van dans: ’n informele manier vir sosiale ontspanning en pret, of ’n formeler vorm wat ’n spesifieke styl behels. Daar is verskeie vorme van dans: ’n informele manier vir sosiale ontspanning en pret, of ’n formeler vorm wat ’n spesifieke styl behels.

Dans gaan meestal gepaard met die tradisies van ’n kultuur, of word ingespan vir kompetisies as deel van ’n sportsoort. 2 Dans is ook ’n manier om gevoel uit te druk, ’n boodskap te kommunikeer en word altyd met musiek en ritme gekombineer.

Dans is reeds van die vroegste tye deel van die mens se bestaan. Tekeninge wat uit die antieke tye dateer, bevat prentjies van mense wat dans – die bewys dat dans toe reeds van belang was. Dans is veral in die antieke tye verbind aan godsdienstige rituele of is gebruik om ’n volk se tradisies te vier en uit te beeld. Dit is een van die oudste vorme van kuns wat veral ook in die antieke tye vir ’n vorm van kommunikasie gebruik is. 2

Turkse danse

Verskillende vorme van dans

Elke mens het al een of ander vorm van dans uitgevoer. Babas wat musiek hoor, beweeg hul lyfies en selfs bejaarde mense hou nog maat op die ritme van musiek. Dans, in watter vorm ook al, word wyd en syd geniet as ontspanning by partytjies en ander sosiale geleenthede. Dit word op die verhoog uitgevoer om gehore mee te vermaak of in ’n spesifieke kultuur gebruik om tradisionele rituele uit te voer.

Dans word in twee hoofgroepe opgedeel: kulturele danse en uitvoerende danse. 3 Slegs die kulturele danse word hier bespreek.

Meksikaanse dansers

Kulturele danse

Hierdie dansvorm is verteenwoordigend van alle gemeenskappe. Dit reflekteer die lewe van die dansers, het belangrike geestelike en kulturele funksies en ‘n gevoel van eenheid word deur dié dansvorm geskep.

Kulturele dansvorme kan in die volgende groepe verdeel word:

Tradisionele danse

Hierdie danse word van een generasie na die volgende oorgedra, byvoorbeeld die Kathak-dans (Indiese dansvorm).

Indiese danse

Indiese danse kan in klassieke, volks- en stamdanse verdeel word. Dit kan van ver voor die Middeleeue teruggespoor word toe dans die hoogste vorm van aanbidding was. Daar was toe na dansers as Devadasi-dienaars van God verwys. Dié kunsvorm is ’n wyse van lewe met sy herkoms diep in die tradisie en godsdiens geplant. Dit kan in tempels se sneewerke, skilderye en versierings op Indiese erfenisgeboue gesien word.

Indiese danse

Een van die voorbeelde van so ’n dans, is die Kathak, ’n Noord-Indiese klassieke vorm wat in die tempels ontstaan het waar priesters godsdienstige stories met gebare vertel het. Vinnige draaie en komplekse voetwerk, tesame met digkuns in lofprysing vir die keiser, het die godsdienstige tema gedemonstreer. Volks- en stamdanse is danse wat alledaagse gebeure, gebruike en tradisies van mense van ’n spesifieke streek beskryf. Die klimaatstoestande en geografiese liggings speel wel ’n rol in dié danse. Dit is ’n gemeeenskapsdansvorm en het dus vele herhalende passies. 3

Ierse danse

In die vorige eeue was dans in Ierland, nes baie ander plekke in die wêreld, grootliks deel van die land se sosiale struktuur. Samekomste soos troues, partytjies en ander geleenthede is gebruik om fees te vier en te dans.

Danse in Ierland het eers ’n georganiseerde struktuur ontwikkel met die ontstaan van die “toerende dansmeesters” gedurende die 18de eeu. Hierdie meesters het hul beroep baie ernstig opgeneem en het op ’n rigiede dansdissipline in hul klasse aangedring. Met die ontstaan van die Gaeliese Liga in 1893, het Ierse danse nuwe lewe gekry waar die Ierse kultuur en nasionalisme deur dans bemark is. Dit het tot ’n kompeterende Ierse danskultuur gelei en tot wêreldbekendheid gevorder. 3

Ierse danse

Hierdie dans word op Ierse musiek – wat op ’n klavier, trekklavier of bodhran-trom gespeel word – uitgevoer. Die Ierse dans, ook bekend as Riverdance, behels baie vinnige voetwerk wat sprongetjies en hoogskoppe insluit.

Riverdance is ‘n Ierse dansstuk wat die storie vertel van mense wat na nuwe plekke beweeg en verander met verloop van tyd, neem hul danse en hul stories saam.

In ’n Ierse dans beweeg die bolyf nie terwyl die danser spring en hoogskop nie. Die rede hiervoor is dat die boonste deel van die lyf nie die aandag moet aftrek van die ingewikkelde voetwerk wat die danser uitvoer nie.  Die Ierse dansuitvoerings, Riverdance en Lord of the Dance van Michael Flatley, het in die 1990’s groot gewildheid verwerf en wêreldwye aanhang en bewondering geniet. 4

Japannese danse

Tradisionele danse in Japan word al vir eeue gedoen. Die algemeenste vorme is die Noh– en Kabuki-dansdramas wat gekombineer word met mimiek en danspassies. Bugaku is danse wat in die koninklike howe uitgevoer word en is afkomstig van tradisionele dansvorme wat afkomstig is van China, Korea, Indië en Suidoos-Asië. Hierdie Japannese danse verskil baie van Westerse danse in dié sin dat dit baie formeel van aard is met bewegings wat baie stadig en statig uitgevoer word. 2

Tradisionele Japanese danse

Inheemse danse

Inheemse danse word gevind waar hulle ontwikkel het, byvoorbeeld die Pantsula.

Beginsels van Afrika-danse

  • Gebruik natuurlike buigings van die liggaam.
  • Dans naby die vloer.
  • Gebruik basiese en komplekse ritmiese patrone.
  • Dramatiseer die natuur (voëls, diere, insekte of plante) of elemente soos vuur, water, aarde en lug en boots dit na.
  • Danse het oor die algemeen ’n tema en doel.

Afrika-danse

Afrika is ’n vasteland met ’n groot verskeidenheid kulture en tradisies. Die vasteland bestaan uit meer as 53 lande.

Afrika se dansstyle en tradisies verskil baie van die Europese danse en tradisies en vir ’n lang tyd deur die Europeërs as primitief beskou. Deur middel van sosiale wetenskappe is wel al bewys dat Afrika-dansstyle en -tradisies hul eie ware betekenis en identiteit opneem in die dansgenre. Dans is ’n komponent van dié mense se geskiedenis en lewenswyse, wat ook aanhoudend verander en vernuwe word.

Afrika-danse

Afrika-danse sluit onderwerpe in van geboorte tot die dood. As ’n kind gebore of iemand begrawe word, word ’n dans uitgevoer. Sommige is vir die voorbereiding van jag en ander vir inlywingseremonies, ensovoorts.

Sommige dansstyle en tradisies word as begeleiding vir storievertellings of gedigte gebruik, terwyl sekere danse deur kruiekenners of genesers gebruik word as poging tot genesing van siektes. Daar is danse wat mans en vroue eer – getroud of ongetroud. Sommige danse is om gaste te verwelkom of vorm deel van die seremonie wanneer ’n nuwe leier in sy amp bevestig word.

Afrika-dansers sien nie dans en musiek as apart van mekaar nie, maar as ’n eenheid; dit word as twee komponente wat bymekaar aanhaak en mekaar komplementeer. 3

Tradisionele Afrika-danse

Gumbootdanse (Isicathulo)

Hoewel bronne oor die oorsprong van hierdie dans verskil, blyk dit dat dié dansstyl by die amaBhaca-volk ontstaan het – migrante van die suidelike KwaZulu-Natal. Dit was aanvanklik ’n vorm van ontspanning, maar het later ’n uitdrukking van groepsidentiteit geword vir ’n span en sy leier. Baie van die migrante het na Johannesburg verhuis om in die myne te werk en hierdie soort dans het vir hulle ’n gevoel van samehorigheid gegee.

Afrika ‘gumboot’-dans

Die gumbootdans gebruik komplekse ritmes, stampende voete, die saamslaan van hakke en energieke danse in lynformasies. Soms is daar ’n roep en antwoord wat gepaard gaan met die ritmiese geslaan op stewels. ’n Fluitjie word ook soms gebruik wat saam met bevele die span lei om te weet watter bewegings volgende uitgevoer moet word. 3

Pantsula

Die pantsula-dans is ‘n hoogs energieke dansvorm wat tydens die apartheidsera in die swart townships van Suid-Afrika ontstaan ​​het. 1 Wat die opvallendste is – afgesien van die steeds groterwordende variasies in styl, die dolle energie en spoed, die stampende maatslae van kwaito-huismusiek – is dat Pantsula ’n toenemend politieke dansvorm is, wat die bekommernisse van die jongmense wat dit dans, weerspieël.

Jy sal pantsula-dansers vind wat teen drank, dwelms en geweld veg – dinge wat alles kenmerke van sy vroeë dae was. Jongmense raak meer sosiaal bewus van hul omgewing en hoe hulle kan bydra en op hul omstandighede kan reageer.

Straatdansers

Rieldans

Die rieldans word as die oudste danssoort in Suider-Afrika gereken omdat die hedendaagse vorm direk na die Khoi-San, die eerste bewoners van die streek, herlei word.

Ná ’n goeie oes of jagtog het die Khoi-San graag feesgevier en al sirkelend om die vuur gedans. Baie van dié passies word vandag nog steeds in ’n sirkel gedoen. In Namakwaland staan dié dans as die ikhapara bekend. Dis veral die vernuftige voetwerk en energieke pas waarmee die dans gedoen word, wat die aandag trek. Dit staan vandag in Afrikaans as die rieldans bekend en het verskeie ooreenkomste met die “Scottish Reel Dance”.

Die dansers wat die rieldans beoefen, probeer ook deur middel van hul kleredrag iets van daardie era weergee. Die rieldansers maak ook diere en voëls na in hul dans en die askoekslaan is ’n bekende deel van die dans – waardeur die regtervoet gedurende die dans vinnig en sekuur bokant die linkerknie geplaas word. Die rieldans word veral in die Noord-Kaap en Karoo en enkele ander streke gedans. 5

Ontspanningsdanse/sosiale danse

Volksdanse

Volksdanse is danse in ‘n bepaalde volksverband wat deur tradisie oorgedra is. Die beoefening van volksdanse het aan die begin van die twintigste eeu tot stand gekom met die doel om kulturele erfenisse te bewaar en ook omdat die jeug ‘n vorm van ontspanning gesoek het.

Ná die Tweede Wêreldoorlog, het die volksdanse nuwe lewe gekry. Verenigings is gestig wat verskillende soorte volksdanse in hul repertoires opgeneem het. Hulle het klubs, kursusse en internasionale samekomste georganiseer, instruksieboeke uitgegee en grammofoonplate verkoop. In verskeie lande is daar beroepsvolksdansers, wat hul land se kostuums dra en hul eie danse ontwikkel.

Tradisionele volksdanse gee uitdrukking aan gevoel en moedig nuwe denkpatrone aan.

Russiese danse

In Europa vind mens die oudste dansvorm, naamlik sirkeldanse, hoofsaaklik in die Balkan. Sekere danse het hul oorsprong in Antieke Griekeland, waar die dansers hul plek in die ry behou en die pas die hoofsaak is. Voorbeelde is die Joego-Slawiese kolos, die Roemeense horas en die Griekse syrtos. Die mans beeld hul krag en vaardigheid uit; die vroue rustigheid en sedigheid.

In die ou Oos-Europese lande word volksdanse deur die staat beskerm en aangemoedig. In Wes-Europa het die meeste van die oorspronklike volksdanse verlore gegaan, vervlak tot ‘n loopdans of ontwikkel tot geselskapsdanse.

Die country dances van Engeland het in Frankryk tot die kotiljons en kadriel ontwikkel. Baie volksdanse in Wes- en Midde-Europa is via die geselskapsdans deur paredanse beïnvloed. Van die Hongaarse czardas is veral die musiek bekend. Dit word vinnig gedans, met ‘n geklap van die hakke aan die einde van elke melodiefrase.

Spanje het sy tradisionele volksdanse lank behou en party toon steeds ‘n sterk sigeunerinvloed, byvoorbeeld die flamenco. Ander bekende Spaanse danse is die bolero, fandango en jota.

Italiaanse volksdanse het minder sigeunerinvloed en die tarantella, die forlana en saltarello het tot in die twintigste eeu gewild gebly. Die gavotte is ‘n geselskapsdans in Frankryk. Uit Rusland is veral die Kosak-danse bekend.

In Suid-Afrika, is volkspele vir baie jare beoefen as ’n sosiale onstpanningsdans (met konsertina, kitaar en soms mondfluitjie) wat eie is aan die Afrikaanse kultuur en terugverwys na die Voortrekkers.

Volkspele-dansers

Woordbank

geselskapsdanse Versamelnaam vir danse wat met ‘n vaste volgorde van figure deur verskillende groepe uitgevoer word; dit vorm skakel tussen kuns- en boeredans. 6
volkspele Geleentheid waarby lede van ’n kultureel samehorige groep mense hul tradisionele sang, danse en speletjies uitvoer, dikwels in hul tradisionele drag.
kotiljons Lewendige outydse dans, gekenmerk deur gereelde omruiling van dansmaats en ingewikkelde dansfigure wat in ’n bepaalde volgorde uitgevoer word.
kadriel Uudtydse dans met vier pare teenoor mekaar geplaas in ’n vierkant.

Kyk na die volgende video’s om nog meer te leer

Ierse danse

Zoeloedanse

Pantsula

Volkspele

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Februarie 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024