Vinnige feite

Die volgende beginsels dien as fondasie vir die ontwerp van die kostuums:

  • Karakter: Dit is belangrik dat die kostuumontwerper elke karakter goed verstaan en die teks goed bestudeer om te weet hoe elkeen graag hom-/haarself wou uitdruk, sodat hul persoonlikhede die beste na vore sal gebring word.
  • Styl: Die kostuumontwerper moet die periode waarin die verhaal afspeel goed navors en presies weet hoe mense in daardie tyd aangetrek het.
  • Ruimte: Dit is belangrik om te weet hoe groot die ruimte gaan wees waarin die karakters moet beweeg, sodat die kostuums nie byvoorbeeld haak indien die spasie knap is nie.
  • Kleur: Die meer vrolike karakters sal iets meer kleurvol dra om by hul gesellige persoonlikhede te pas, terwyl die somber karakters in donker en effekleure geklee sal wees.
Foto: iStock

Die woord kostuum verwys na ʼn spesifieke styl van of soort drag wat gedra word vir spesifieke geleenthede en in spesifieke periodes. Saam met elke era is daar modes, en wanneer ʼn rol vertolk word van ʼn vorige tydvak, sal daar moeite en navorsing gedoen moet word om vas te stel wat hierdie era se style was om die kostuums van die opvoering so akkuraat moontlik te kan kry. Die drag wat die akteurs op die verhoog of die stel van ʼn film dra, word dus as kostuums gesien.

Wie maak die kostuums?

Die kostuumontwerpers moet die teks noukeurig bestudeer, sodat hulle kennis dra van die era waarin die verhaal afspeel om die kostuums so akkuraat moontlik te kry. Dit is belangrik vir die kostuumontwerper om ook ʼn gesprek met die regisseur te hê en vas te stel waar die storielyn die kostuums van die karakters beïnvloed. Dit is ook belangrik om die periode waarin die verhaal afspeel, goed na te vors en te sien hoe mense in daardie spesifieke era aangetrek het, op daardie spesifieke plek. 1

Die kostuumontwerper moet ook saam met die akteurs werk en bereid wees om aanpassings te maak. Byvoorbeeld, as die kostuumontwerper beplan het dat die een karakter ʼn rooi rok moet dra, maar die akteur wat die regisseur gekies het om die rol te vertolk het rooi hare en sproete, gaan die rooi rok nie haar gelaat komplimenteer nie. 2

Wanneer die kostuum vir elke karakter ontwerp word, moet die volgende beginsels as die fondasie vir die ontwerp van die kostuums dien:

  • Karakter: Dit is belangrik dat die kostuumontwerper elke karakter goed verstaan en die teks goed bestudeer om te weet hoe elkeen graag hom-/haarself wou uitdruk, sodat hul persoonlikhede die beste na vore sal gebring word.
  • Styl: Die kostuumontwerper moet die periode waarin die verhaal afspeel goed navors en presies weet hoe mense in daardie tyd aangetrek het. Indien dit ʼn fantasiespel is, is kreatiwiteit belangrik, en is dit nodig om so oorspronklik as moontlik te wees. (Dink maar aan die musiekblyspel Cats en die karakters se interessante kostuums waar almal katte is, maar steeds verskillende persoonlikhede uitbeeld.)
  • Ruimte: Dit is belangrik om te weet hoe groot die ruimte gaan wees waarin die karakters moet beweeg, sodat die kostuums nie byvoorbeeld haak indien die spasie knap is nie. 3
  • Kleur: Die meer vrolike karakters sal iets meer kleurvol dra om by hul gesellige persoonlikhede te pas, terwyl die somber karakters in donker en effekleure geklee sal wees. Hoe meer die karakters is, hoe meer detail en aandag aan kwaliteit moet aan die kostuums geskenk word. Wanneer die ouditorium groot is en die gehoor die karakters van ʼn ver afstand gaan sien, moet die kostuums effe vergroot word, veral bykomstighede soos juwele wat ʼn belangrike rol in die uitbeelding van die karakters speel. 4

Karakter en kostuum

Wanneer ʼn karakter ʼn teks vertolk, is dit belangrik dat die kostuum nie die akteur terughou om vrylik te kan beweeg nie. Dit is ook belangrik om die grimering as deel van die kostuum te sien – om die karakter se geloofwaardigheid te versterk. Kostuums is nie die grootste deel van ʼn karakter nie, maar dit is ʼn meganisme wat kan help met die volwaardige vertolking van die karakter. 5

 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Augustus 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024