Vinnige feite

  • Anton Rupert het as kind groot bewondering vir die boereheld Gideon Scheepers gehad wat in die Anglo-Boereoorlog op 23-jarige ouderdom deur die Britse magte gevang en tereggestel is. Scheepers was ʼn baasverkenner wat ʼn suksesvolle inval in die Kaapkolonie gelei het voor hy gevang is. 1
  • Rupert se twee broers het later saam met hom by die Rembrandt-groep gewerk. Hoewel hulle ook nes hul pa regte studeer het, het nie een van hulle as prokureurs gepraktiseer nie. 1
  • Hul pa was baie lief vir tale en digkuns en kon nege tale lees. Hy het op 70 begin om Frans te leer en kon spoedig klassieke werke in die taal lees. 1
  • Rupert was al as jong seun baie in politiek geïnteresseerd. Die eerste keer wat hy na ʼn radio geluister het, was toe hy na die uitslae van die 1929-verkiesing geluister het. Hy was toe 12 jaar oud en ʼn groot bewonderaar van generaal Hertzog. Anton en sy maat het daarna sommer self probeer om ʼn radio te bou, en dit het veroorsaak dat hul hele straat se krag afgegaan het! 1
  • Hy het op skool tennis en rugby gespeel, en latere jare wou ʼn Amerikaanse joernalis by hom weet watter fisieke oefeninge hy doen, toe antwoord hy: I do mental gymnastics and jump to conclusions!”  1
  • Anton Rupert was baie lief vir die natuur en dierelewe. Rupert was baie lief vir die Karoo en omgewing en het gesê dat dit “ʼn absolute voorreg was” om daar groot te word.
  • Hy was een van die eerste lede van die Voortrekkerbeweging.
  • Die digter Dirk Opperman het Rupert beskryf as iemand wat die handel, wetenskap en kuns kon versoen. 1
  • Rupert was een van die stigterslede van die World Wide Fund for Nature en was instrumenteel in die skep van die bekende vredesparke. Dis is oorgrensparke waar diere bewaar word en is in samewerking met lande soos Mosambiek en Zimbabwe geskep. 2
  • Rupert het telkens gesê dat die idee sterker as die mens is. Dit beteken dat ʼn idee baie kragtig is. Anton Rupert het apartheid gekritiseer en gesê dat die bevordering van swart ekonomiese ontwikkeling ʼn stabieler samelewing sal bou. 2
  • Hy het in 1981 gehelp om die Sake-ontwikkelingskorporasie te stig waar mense geld kon leen om klein ondernemings te begin. Daardeur is meer as ʼn halfmiljoen poste geskep. 2
  • Sy vrou, Huberte Rupert, was baie lief vir kuns, en sy en haar man het ʼn groot kunsversameling opgehou. Die Rupert-museum bevat ʼn indrukwekkende versameling wat skilderye en beeldhouwerke bevat. Daar is werke van Irma Stern, Maggie Laubser, Anton van Wouw, Cecil Higgs en Jean Welz. 6
  • Anton Rupert was baie ontsteld oor die atoombomme wat Amerika tydens die Tweede Wêreldoorlog op Hirosjima en Nagasaki laat val het. Hy het gesê dat hy daar besef het dat die mensdom soos skerpioene in ʼn botteltjie geword het met die mag om mekaar volkome te vernietig. Hy het gesê dat daar nie weer groot oorloë kon wees nie, want lande sal mekaar heeltemal uitwis en dat mense eenvoudig sal moet leer om saam te leef. 1
  • Hy was ʼn baie private mens en het nie graag media-onderhoude toegestaan nie.
  • Hy is een keer gevra of hy al ʼn loterykaartjie gekoop het en toe antwoord hy: “Nee, ek het al genoeg groot risiko’s in my lewe geneem.” 1
  • Hy het in sy tagtigerjare aan ruggraatverkromming gelei en het ook oogprobleme gehad wat dit later vir hom moeilik gemaak het om te lees. Daar word beweer dat sy oogprobleme dalk die gevolg van ʼn sonsverduistering was. Sy jongste broer, Koos, het soortgelyke probleme gehad, en hulle het 60 jaar tevore saam na ʼn sonsverduistering deur film gekyk. Die film het moontlik nie hul oë genoeg beskerm nie. 1
  • Rupert was kanselier van die Universiteit van Pretoria en is ook as die Tukkie van die eeu aangewys. 1
  • Rupert is in 2004 ingestem as 28ste op die lys van die top-100-Suid-Afrikaners. 4
Foto: iStock

Een van die bekendste (en rykste!) sakemanne wat Suid-Afrika nog opgelewer het, is dr. Anton Rupert (1916-2006). Sy verhaal is werklik merkwaardig, want eens op ʼn tyd was hy ʼn doodgewone seun van die Karoo, maar vandag ken mense oraloor sy naam en weet van sy besonderse nalatenskap.

Hy het ʼn onderneming met slegs 10 pond begin, en dit het toe tot ʼn massiewe groep van maatskappye uitgebrei met takke reg oor die wêreld. Die Rembrandt-groep is wêreldbekend met handelsmerke soos Cartier, Dunhill en Montblanc. 1

Die Ruperts verskyn op die saketydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 rykste mense. Dis miljardêrs met bates van meer as 1 000 miljoen Amerikaanse dollar. Naas die Ruperts is daar net een ander familie uit Suid-Afrika wat op hierdie lys verskyn, en dit is die Oppenheimers. 1

Rupert is egter nie net bekend omdat hy ʼn goeie entrepreneur was nie, maar ook as iemand wat baie vir die kunswêreld en kultuur- en natuurbewaring gedoen het. 1

Grootwordjare

Anton Rupert is op 4 Oktober 1916 te midde van die Eerste Wêreldoorlog op die dorp Graaff-Reinet gebore. 1

Sy pa se naam was John Peter Rupert, ʼn prokureur, en sy ma was Hester Rupert. Sy ouers het ʼn groot invloed op hom gehad en het baie lewenslesse met hom gedeel. Hy was die oudste van drie seuns, en sy broers was heelwat jonger as hy. Jan (John Peter) en Koos (Jacobus Albertus) is onderskeidelik in 1922 en 1929 gebore. 1

Hy is op sesjarige ouderdom skool toe en het die eerste twee standerds, sub A en B, in een jaar voltooi. Hy was linkshandig, maar terwyl baie ander kinders van sy era gedwing is om regshandig te skryf, het sy onderwysers hom darem nie gedwing nie. Hy was van kleins af baie lief vir lees en was baie nuuskierig oor die wêreld. 1

Anton is na sy oupa aan vaderskant, Anthony Edward, genoem, maar is as kind en tiener “Boetie” genoem. Hy is eers op universiteit Anton genoem. 1

Hy het aan Hoërskool Volkskool op Graaff-Reinet gematrikuleer en het die beste van al die ander matrieks gevaar. Hy het drie onderskeidings behaal: in Engels, wiskunde en natuur-en-skeikunde. 1

NG Kerk in Graaff-Reinet

Hy wou graag medies studeer, maar ongelukkig het die Groot Depressie aangebreek, en sy pa kon nie sy mediese studies bekostig nie. Die Groot Depressie was ʼn baie moeilike tyd in die wêreldgeskiedenis: Aandelemarkte het geval, banke het toegemaak, en baie mense het al hul geld en werk verloor. Armoede en hongersnood was aan die orde van die dag, en dit het ook na die res van die wêreld oorgespoel. 1

Daar was destyds net twee universiteite in ons land waar ʼn mens vir ʼn dokter kon leer. Dit was die Universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand, en albei sou te duur vir sy pa gewees het om te betaal. Sy pa se jaarlikse inkomste het in daardie tyd van 3 000 pond tot 120 pond per jaar gedaal. Almal het swaargekry, en Anton het besluit om chemie te studeer.

Hy was as eerstejaarstudent een van slegs twee studente wat gekeur was om verder medies te studeer, maar dit was steeds net te duur. Hy het in 1936 sy B.Sc.-graad behaal en begin werk terwyl hy vir sy meestersgraad geleer het. Hy het op 20 by ʼn tegniese kollege begin klasgee en is later as ʼn dosent by die departement chemie aan die Universiteit van Pretoria aangestel. Hy het teen 1939 sy meestersgraad in toegepaste chemie behaal. Hy het daarna regs- en handelsvakke aan die Universiteit van Suid-Afrika studeer, terwyl hy terselfdertyd ook met ʼn doktorsgraad in spektroskopie aan die Universiteit van Pretoria begin het.

Rupert as sakeman

Hoewel Anton chemie studeer het, het hy van jongs af ʼn kop vir besigheid gehad. Hy het latere jare vertel dat hy reeds op 16-jarige ouderdom sy eerste saketransaksie beklink het.

Rupert se eerste onderneming was ʼn droogskoonmaakonderneming wat hy saam met twee vriende begin het. Die gevoel in daardie jare was dat te min Afrikaanssprekendes in die sakebedryf was –  want dit is deur Engelssprekendes beheer – en hulle was gretig om hierdie bedryf te betree. Sy eerste onderneming het goed gedoen, maar was ook nie ʼn wegholsukses nie. Dit het hom wel baie lesse vir die toekoms geleer. 1

Rupert se nuwe idee vir ʼn onderneming het ontstaan toe hy besef het dat nie eens die swaarkryjare mense kon keer om tabak en alkohol te koop nie. Hy het terwyl hy as dosent gewerk het, begin om los tabak en snuif in sy motorhuis in Pretoria te maak en te verpak. Tabak is die gedroogde bruin blare van die tabakplant wat tipies in sigarette gebruik word. Rupert het sy eerste tabakonderneming Voorbrand genoem, maar het die naam later na Rembrandt verander. 2

Hy het sy onderneming verder in 1953 uitgebrei deur Rothmans vir 750 000 pond te koop. Hy het net 50 000 pond gehad en moes lenings aangaan om die res te kan betaal. Van daar af het sy maatskappy behoorlik vlamgevat en baie vinnig gegroei. Dit het so groot geword dat dit in verskillende sektore verdeel is, soos Remgro – ʼn beleggingsmaatskappy met belange in finansies, mynbou en nywerhede – en Richemont (in Switserland), wat luukse handelsmerke insluit. 3

Hulle besit ondernemings soos Cartier, Alfred Dunhill, Sulka, Seeger, Piaget, Baume & Mercier, Vacheron Constantin en Montblanc. 4

Persoonlike lewe

Rupert was op universiteit in die Afrikaans-Nasionale studentebond en het daar sy toekomstige vrou ontmoet nadat sy vriende hom van haar vertel het. Haar naam was Huberte Goote, en sy het vir ʼn B.A.-graad en ʼn diploma in biblioteekwese studeer. Hulle is in 1941 getroud. Hy het later jare gesê dat Huberte sy getrouste en lojaalste ondersteuner en ook sy grootste kritikus was. 1

Hoewel Rupert en sy vrou baie geld gehad het, het hulle vir 55 jaar in dieselfde huis op Stellenbosch gebly. 2 Hulle het drie kinders gehad: Antonij, Johann en Hanneli. Hul seun Antonij is in 2001 in ʼn motorongeluk oorlede. Hul tweede oudste seun, Johann, is nou aan die hoof van die Ruperts se sakebelange. Hul dogter, Hanneli Rupert, was ʼn mezzosopraan en besit vandag onder meer die La Motte-wynlandgoed. 5

Johann Rupert
La Motte-wynlandgoed

Anton is op 89-jarige ouderdom op 18 Januarie 2006 in sy slaap oorlede. Nelson Mandela het Rupert beskryf as ʼn vriend wat ʼn vol lewe gelei het, waarin hy sy land, die wêreld en die mensdom gedien het. “Hy het vrygewig gegee vir die ontwikkeling van ander en die samelewing as ʼn geheel. Hy was bekend vir sy benadering om ander te help om hulself te help.” 2

Woordbank

entrepreneur Iemand wat planne maak om nuwe ondernemings te begin 7
kanselier ʼn Bekende persoon wat nie ʼn vaste werk by ʼn universiteit het nie, maar wat die universiteit op sekere formele geleenthede verteenwoordig 1
meestersgraad Dit is die graad wat ʼn mens ná ʼn baccalaureus- of honneursgraad doen 7
nalatenskap Dit wat jy ná jou dood agterlaat 7
onderneming Sake-onderneming of besigheid 7
politiek Bedrywighede waardeur mag in die openbare lewe verkry word 7
pond Die geldeenheid van Brittanje wat ook eens op ʼn tyd in Suid-Afrika gebruik is 7
spektroskopie Bestudering van die toestel wat lig ontleed 8

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Anton Rupert

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Anton Rupert

Huberte Rupert gesels met Sandra Prinsloo oor hul lewe

Die Rupert-museum

Die vredesparke

Foto: iStock
Gepubliseer op: 31 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024