Vinnige feite

  • Oppenheimer se briefwisselings met die New York Mineralogie-klub was so gevorderd dat hulle hom genooi het om ’n toespraak te kom hou. Hulle het nie geweet dat hy toe maar net twaalf jaar oud was nie!  3
  • Oppenheimer kon Sanskrit 7 en Latyn lees, en buiten Engels kon hy ook Frans, Grieks en Duits praat. 4
  • In Desember 2022, 55 jaar ná sy dood, is die besluit om sy sekerheidsklaring te herroep, ongeldig verklaar. 2
  • In 1960 het hy saam met Albert Einstein en Bertrand Russell, die beroemde Britse wiskundige, die World Academy of Art and Science gestig. Dit is ’n forum vir wetenskaplikes en kunstenaars om probleme wat die mensdom in die gesig staar, te bespreek. 12
  • Tydens die 2024 Oscar-toekennings het die 2023-rolprent Oppenheimer sewe Oscars gewen, insluitend die prys vir Beste Rolprent, Beste Regisseur en Beste Akteur. 13

J. Robert Oppenheimer is die “vader” van die atoombom – die magtigste mensgemaakte wapen ooit.

Dit is egter nie al waarvoor hy bekend is nie. Hy was geskok deur die skade wat die bomme aangerig het. Sy stryd oor of dit reg of verkeerd was om die bomme op mense te gebruik, verpersoonlik die morele dilemma wat baie wetenskaplikes het.

Grootwordjare

Julius Robert Oppenheimer is op 22 April 1904 in New York City gebore. 1

Sy ouers was Duitse Jode wat na die Verenigde State van Amerika (VSA) geïmmigreer het. Julius Oppenheimer was ’n ryk besigheidsman en Ella Oppenheimer was ’n kunstenaar. 2

Die familie was Joods, maar het nie by Joodse godsdienstige tradisies gehou nie. 1

Oppenheimer het die Ethical Culture Fieldston School bygewoon. Dié skool was deel van ’n progressiewe beweging, wat klem gelê het op gelykheid, die verantwoordelikhede van landsburgers en sekulêre humanisme. 3

Oppenheimer het uit die staanspoor akademies uitgeblink. Teen die tyd dat hy 10 was, het hy alreeds minerale, fisika en chemie gestudeer. 3 Hy was ook goed in die sosiale wetenskappe, en het veral in tale presteer. 1

Oppenheimer is in 1921 gekies om die afskeidsrede namens die matrieks by sy skool te hou. Dit was ’n groot eer.

Oppenheimer het kort ná matriek egter só siek geword dat hy nie onmiddellik universiteit toe kon gaan nie. Om hom te help herstel, het hy ’n deel van 1922 op ’n groot veeplaas in Nieu-Mexiko deurgebring. In hierdie tyd het hy ’n diep liefde vir die suidweste van die Verenigde State van Amerika (VSA) en die woestyn ontwikkel. 3

Universiteitsjare by Harvard en Cambridge

Oppenheimer het in September 1922 by Harvard ingeskryf. Sy hoofvak was chemie, maar hy het gou besef dat sy voorliefde eintlik vir fisika was. 3 Hy het tussendeur ook ander vakke geloop, soos filosofie, letterkunde en Oostelike godsdienste. 4

Oppenheimer was steeds ’n skitterende student en het sy graad met lof voltooi. 5

Oppenheimer is vir sy nagraadse studies na die Universiteit van Cambridge in Engeland. In 1925 het hy daar in die Cavendish-laboratorium met kernnavorsing begin. Tog was hy nie gelukkig daar nie. Die praktiese werk in die laboratorium het hom verveel. Hy het besef dat hy teoretiese werk bo laboratoriumwerk verkies het. 2

Cavendish-laboratorium

Göttingen

Oppenheimer het in 1926 na die Universiteit van Göttingen in Duitsland gegaan. Dit was op uitnodiging van Max Born, die direkteur van die Instituut vir Teoretiese Fisika. 3 Hy het daar bekende fisici soos Niels Bohr, die beroemde Deense wetenskaplike, ontmoet. 2

Dit was ’n opwindende era vir fisika in Europa. Europese fisici was besig om baanbrekerswerk te doen in kwantumteorie en die verstaan van die bou of struktuur van die atoom. 3 Bohr het hiervoor ’n Nobel-prys vir Fisika gewen. 6

Oppenheimer het sy doktorsgraad in 1927 ontvang, 2 toe hy maar 23 jaar oud was. 5 Hy was besig om die Born-Oppenheimer-benaderingsmetode te ontwikkel. Dit het ’n belangrike bydrae tot kwantumteorie gelewer. 2

As student aan die Universiteit van Göttingen

Professor

Oppenheimer het hierna na die VSA teruggekeer. Hy het ’n professorskap aan die Universiteit van California se Berkeley-kampus en die California Institute of Technology, beter bekend as Caltech, aanvaar. 3

Hy het navorsing gedoen in teoretiese sterrekunde, kernfisika, en veel meer. 2 Hy het ook bereken hoeveel materiaal nodig sou wees om ’n kernbom te bou, en hoe doeltreffend só ʼn bom sou wees. 3

Oppenheimer het in die 1930’s verskeie belangrike wetenskaplike ontdekkings gemaak. Hy het onder meer swartgate, 30 jaar voor dit algemeen bekend sou word, voorspel. 4

By Berkeley het hy vriende gemaak met Ernest Lawrence, ook ’n Nobel-pryswenner en ontdekker van die siklotron, ’n toestel vir atoomsplitsing. Lawrence het later sy seun na Robert vernoem. 3

In sy jare in Kalifornië het Oppenheimer ’n reputasie as goeie navorser én goeie dosent opgebou. 1

Politieke sienings

Oppenheimer was in sy vroeë jare apolities. Die Groot Depressie wat die VSA van 1930 af geruk het, het hom egter laat besef dat gewone mense se lewens deur ekonomie en politieke gebeure beïnvloed kon word.

Hy was skerp teen die fascisme van die Nazi’s gekant, en was woedend oor hul behandeling van die Jode in Duitsland. 4

In hierdie tyd het hy ’n verhouding met Jean Tatlock aangeknoop. Sy was ’n nagraadse student by Berkeley toe hy ’n jong fisikaprofessor was. Tatlock het hom aan radikale kommunistiese idees voorgestel.

Sy broer, Frank, en later sy vrou, Kitty, was ook deel lede van die Kommunistiese Party van die VSA (KPVSA). Hy het dus ongetwyfeld met kommuniste omgegaan. Daar is egter nie oortuigende bewyse dat hy ooit self lid van die KPVSA was nie. 2

Manhattan-projek

Oppenheimer is vandag beroemd omdat hy die direkteur van die laboratorium van die Manhattan-projek was. Die Manhattan-projek was ’n program van die Amerikaanse weermag om te sien of kernkrag vir militêre doeleindes gebruik kon word.

Die wetenskaplikes se missie was om ’n atoombom te bou voor die Nazi’s dit kon doen. 2 Die Manhattan-projek het dan ook afgeskop toe die nuus dat die Nazi’s besig was om ’n atoombom te bou, die VSA bereik het. 1

Oppenheimer is deur die direkteur van die Manhattan-projek, brigadier Leslie R. Groves, as direkteur van die laboratorium aangestel.

Dit was ’n onverwagse keuse. Dit was alombekend dat Oppenheimer in kommunistiese kringe beweeg het. Die Amerikaanse regering was skerp teen kommunisme gekant. Hy het boonop geen ervaring van leierskap gehad nie, en was nie ’n Nobel-pryswenner nie. Groves het egter gevoel dat Oppenheimer ’n briljante wetenskaplike was, 3 en ook die nodige ambisie gehad het. 2

Oppenheimer was op die ou end ’n skitterende keuse. Hy wás ’n ongelooflike wetenskaplike, maar ook ’n uitstaande administrateur. 1 Hy het ’n puik groep wetenskaplikes byeengebring, en dit reggekry om hulle doeltreffend te organiseer, besiel en aan te spoor om hul beste te lewer. Die atmosfeer wat hy gedurende die projek geskep het, was entoesiasties en uitdagend. 5

Oppenheimer en Groves tydens die Manhattan-projek

Ligging

Oppenheimer en Groves het Los Alamos in Nieu-Mexiko as ligging gekies, en dit Site Y genoem. 3 Oppenheimer het die plek voorgestel omdat hy die tyd wat hy ná skool daar spandeer het, so baie geniet het. 5

Die projek het in 1942 ʼn aanvang geneem. Aanvanklik was daar maar ’n paar honderd mense. Teen die einde van die projek was daar 6 000. Baie van hulle was wetenskaplikes wat uit fascistiese lande gevlug het.

Die projek het begin met $6 000 befondsing. Teen 1945 was dit $2 miljard! 2

Waarneming

Terwyl Oppenheimer vir die Manhattan-projek gewerk het, het die Amerikaanse regering deurentyd op hom gespioeneer.

Sy briewe en telefoonoproepe is gelees en afgeluister. In Junie 1943 is hy agtervolg toe hy ’n nag met Tatlock spandeer het. Sy was toe nie meer ’n kommunis nie, maar hy was met iemand anders getroud.

Hy is drie keer deur die Amerikaanse regering ondervra. By een geleentheid het hy ’n lys van mense wat óf kommuniste was óf kommunisme goedgesind was, aan die regering gegee. Hy het ook aan ’n regeringsagent erken dat die Russe by hom probeer uitvind het wat die Manhattan-projek was. 4

Eerste suksesvolle kerntoets

Die wêreld se eerste suksesvolle kernontploffing het op 16 Julie 1945 in die Jornada del Muerto-woestyn in Nieu-Mexiko plaasgevind. Oppenheimer het die ontploffing die kodenaam Trinity gegee. 2 Die wetenskaplikes het die bom Gadget genoem. 5

Oppenheimer het later oor die ontploffing gesê: “Ons het geweet die wêreld gaan nie weer dieselfde wees nie. ’n Paar mense het gelag en ’n paar het gehuil, maar die meeste was stil.” 4

Die ontploffing het Oppenheimer laat dink aan ’n versie uit die Bhagavad Gita, die beroemde Hindoe heilige boek. Die boek is oorspronklik in Sanskrit geskryf en kan op baie maniere vertaal word. Oppenheimer se Engelse vertaling lui soos volg: “If the radiance of a thousand suns were to burst at once into the sky, that would be like the splendor of the mighty one.” 7 Later het hy uit die Bhagavad Gita bygevoeg: “Vishnu is trying to persuade the prince that he should do his duty, and to impress him, takes on his multi-armed form and says ’Now I am become Death, the destroyer of worlds.’ I suppose we all thought that, one way or another.” 5

Oppenheimer en Albert Einstein

Oppenheimer se morele dilemma

Oppenheimer was aanvanklik gelukkig met die bom. Die aand van die suksesvolle toets is hy deur die ander wetenskaplikes toegejuig. Sy enigste spyt, het hy later gesê, was dat die bom te laat voltooi is om teen Duitsland, wat op 7 Mei 1945 oorgegee het, gebruik te word. 5

Hy was tevrede met die gebruik van die bom op Hirosjima op 6 April 1945. Nadat die bom op 9 Augustus 1945 op Nagasaki gewerp is, het sy gevoelens begin verander.

Hy het gedink Nagasaki was onnodig. Die massiewe vernietiging wat die bomme gesaai het, het hom geskok. 1 Ten minste 100 000 mense is in die twee ontploffings dood, en nog tienduisende beseer. 5 Oppenheimer het besef dat hy só besig was met die wetenskap en die idee van iets nuuts te ontwikkel, dat hy en die ander wetenskaplikes nie aan die menslike tol wat die bom sou eis, gedink het nie. 1

In ’n vergadering op 25 Oktober 1945 met Harry S. Truman, die Amerikaanse president, het hy verklaar dat hy (Oppenheimer) “bloed op sy hande het”. Truman het nie saamgestem nie en geweier om weer vir Oppenheimer te sien. 8

Oppenheimer was teen enige verdere ontwikkeling van kernwapens gekant. 2

Hy het in November 1945 uit sy pos bedank en na Caltech teruggekeer. 3

Lewe ná die bom

Oppenheimer het ’n paar jaar by Caltech aangebly, maar hy wou nie meer doseer nie. 2 Hy het dus in 1947 die direkteur van die Institute for Advanced Study in Princeton, NJ geword. Daar het hy weer ’n groep begaafde wetenskaplikes byeengebring om saam het hom te werk. 3 Hy het hierdie pos tot in 1966 beklee. 1

Hy het ook die voorsitter van die General Advisory Committee van die VSA se Atomic Energy Commission (AEC) geword. 2 Dié agentskap se doel was om die ontwikkeling van kernenergie en kerntegnologie vir burgerlike doeleindes aan te moedig en te beheer. 9

Waterstofbom en verhoor

In 1949 het die Sowjetunie hul eerste suksesvolle kerntoets gedoen. Dit was vir die Amerikaners ’n skok. Hulle het gedink dat die Sowjetunie dit op die vroegste in 1952 sou regkry. Truman is onder druk geplaas om toestemming te gee vir die ontwikkeling van die waterstofbom, 2 ’n bom wat ’n duisend keer magtiger as die atoombom was. 4

Oppenheimer was skerp hierteen gekant, en het dit in die openbaar gesê. Dit het mense geskok. 2

In 1954 het die AEC ’n geheime verhoor vir Oppenheimer gehou. Tydens die verhoor is geen bewyse gelewer dat hy geheime inligting uitgelek het of nie lojaal aan die VSA was nie. Sy kontak met kommuniste het egter teen hom getel. Hy is dus skuldig bevind aan swakhede in sy karakter. 4

Die AEC het hom van alle geheime kernnavorsing geskors. Sy sekerheidsklaring, wat hom toegang tot geheime inligting gegee het, is herroep.

Dit was vir Oppenheimer ’n professionele vernedering. 2 Dit het hom egter ook persoonlik geraak, en sy geesdrif en lewenslustigheid gedemp. 4

Latere jare

Oppenheimer het vir die res van die 1950’s en 1960’s gedoseer, geskryf en fisika gedoen. Hy het verskeie akademiese instansies besoek en die wêreld rond getoer. 10 Hy het graag gepraat oor die morele kwessies rondom kernwapens. 1

Sy reputasie is in die vroeë 1960’s deur John F. Kennedy, die Amerikaanse president, herstel. Kennedy het hom in 1962 na die Nobel-prys-ete by die Withuis genooi. 4 In 1963 het Kennedy aangekondig dat Oppenheimer die Enrico Fermi-prys sou kry. 2 Dit was ’n prys wat deur die AEC geskep is, en oorhandig word aan ’n persoon wat uitsonderlike prestasies op die gebied van energiesake lewer. 11

John F. Kennedy

Ná Kennedy se dood in November 1963 is die prys deur sy opvolger, Lyndon Baines Johnson, aan Oppenheimer oorhandig. 3

Oppenheimer het vir die res van sy lewe internasionale beheer van kernenergie ondersteun. 2

Persoonlike lewe

Oppenheimer is deur sy vriende en kollegas “Oppie” genoem. Hy was ’n komplekse, intelligente man. Hy was ook soms hooghartig, wisselvallig en onprakties. Hy was uitkenbaar aan die plat staanrandhoed wat hy altyd gedra het. 4

Oppenheimer het deur sy lewe oomblikke van depressie ervaar. Hy het eenmaal vir sy broer gesê: “Dit is soms waar dat ek fisika meer as vriende nodig het.”

Robbert en sy vrou, Kitty

Hy het ’n stormagtige verhouding met Jean Tatlock gehad. Hy het haar gevra om te trou, maar sy het geweier. In 1940 het hy met Katherine (Kitty) Puening getrou. Sy was ’n bioloog en plantkundige. Hulle het twee kinders gehad: Peter, gebore in 1941, en Katherine (Toni), gebore in 1944.

Oppenheimer en sy eerste liefde, Jean, het egter ’n buite-egtelike verhouding gehad. Sy het in 1944 selfdood gepleeg, ’n gebeurtenis wat Oppenheimer diep getref het.

Ná haar man bekend geword het, het Kitty met alkoholisme gesukkel. Sy het in 1972 gesterf. 2

Dood

Oppenheimer het baie gedrink en was ’n lewenslange kettingroker. 4

Hy het op 18 Februarie 1967 in Princeton, New Jersey, aan keelkanker gesterf. 2 Hy was 62 jaar oud. 1

Oppenheimer-huis

Nalatenskap

Die bom het ’n diep en langdurende uitwerking op die Tweede Wêreldoorlog, die Koue Oorlog, die kernwedloop, en die verloop van die twintigste eeuse geskiedenis gehad. Daardie uitwerking word vandag nog gevoel.

Die dilemma wat Oppenheimer gehad het oor die bom kan opgesom word in die volgende woorde uit een van sy toesprake: “Ons het ’n ding gemaak, die verskriklikste wapen, wat die aard van die wêreld plotseling en diepliggend verander het … ’n ding wat volgens die standaarde van die wêreld waarin ons grootgeword het, ’n bose ding is. En deur dit te doen … het ons weer die vraag gevra: is wetenskap goed vir die mens?” 4

Oppenheimer in rolprente en televisie

Oppenheimer se storie was al die onderwerp van menige boeke, rolprente en toneelstukke:

  • 1964: In the Matter of J. Robert Oppenheimer, ’n toneelstuk geskryf deur Heinar Kipphardt.
  • 1980: Oppenheimer, ’n televisiereeks met Sam Waterston in die hoofrol.
  • 1981: The Day After Trinity, ’n dokumentêre reeks.
  • 1989: Fat Man and Little Boy, ’n rolprent.
  • 1989: Day One, ’n TV-minireeks.
  • 2023: Oppenheimer, ’n rolprent met Cillian Murphy in die hoofrol.

Woordbank

aard Iets se algemene eienskappe.
administrateur Die persoon wat ’n projek moet beheer en bestuur.
afskeidsrede In Amerikaanse hoërskole word een student gekies as valedictorian en daardie persoon lewer tydens die laaste dag van skool ’n toespraak of afskeidsrede.
alkoholisme Om aan sterk drank verslaaf te wees.
ambisie ’n Sterk begeerte om te presteer, om eer/geld/ens. te kry, of om jou ideale te bereik.
apolities Iemand wat glad nie in politiek belang stel nie.
atoom Die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat chemies kan reageer; ’n bron van baie groot energie.
atoombom ’n Bom van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus. Ook ’n kernbom genoem.
atoomsplitsing Wanneer die kern van ’n atoom verdeel word, ’n proses wat geweldige baie energie vrystel.
baanbrekerswerk Die eerste werk wat in ’n nuwe rigting gedoen word en wat gewoonlik met baie moeite gepaardgaan.
benaderingsmetode ’n Manier hoe mens ’n moeilike wiskundige uitdrukking kan makliker maak of vereenvoudig.
besiel Inspireer, motiveer, aanspoor.
bioloog ’n Wetenskaplike wat fokus op lewende organismes, insluitend plante en diere.
brigadier ’n Persoon in die weermag met ’n hoë rang.
burgerlike Niemilitêr.
chemie Die wetenskap wat hom besig hou met die ondersoek na die samestelling van stowwe uit hul elemente, na die wette van verbinding, die verwantskap en die eienskappe van stowwe en elemente, chemie.
direkteur Hoof.
dosent Persoon wat les gee aan ʼn inrigting vir tersiêre onderwys, soos ’n universiteit.
energiesake Beleid wat te doen het met krag wat gebruik word om hitte op te wek en masjiene in werking te hou.
era ’n Tydperk in die geskiedenis.
fascisme Dis die antiparlementêre, regse staatstelsel waarby die wetgewende en uitvoerende mag van ’n diktator berus.
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
fisici Kenners van fisika, natuurkundige, natuurwetenskaplike.
fisika Wetenskap wat handel oor die verskillende vorms van lewelose materie en oor dié van hulle verskynsels waarby geen verandering van hul chemiese samestelling betrokke is nie; natuurkunde.
forum Byeenkomplek/byeenkoms om sake van gemeenskaplike belang te bespreek.
gedemp Dof, glansloos.
geïmmigreer Van ’n ander land kom om jou permanent in ’n land te vestig.
goedgesind Om vriendelik, simpatiek en welwillend teenoor iemand/iets te staan.
Groot Depressie ’n Tydperk van ernstige insinking in die handel wêreldwyd waartydens min sake gedoen kon word en baie mense werkloos was.
herroep Terugtrek.
hooghartig Trots, hoogmoedig, verwaand.
karakter Aard, geaardheid, persoonlikheid en gedrag wat een mens van ’n ander onderskei.
kernbom ’n Bom van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus. Ook ’n atoombom genoem.
kernfisika Wetenskap van kernkrag, die krag/energie wat vrygestel word wanneer ʼn atoom gesplyt word.
kernnavorsing Navorsing oor kernkrag, die krag/energie wat vrygestel word wanneer ʼn atoom gesplyt word.
kommunistiese ’n Regeringstelsel waar die regering alles in die land besit en beheer.
kwantumteorie Idees oor kwantumenergie, die kleinste moontlike eenheid van energie.
laboratorium Vertrek/gebou wat spesiaal ingerig is vir wetenskaplike navorsing/eksperimente.
letterkunde Kuns in geskrewe vorm, wat poësie, prosa en drama insluit.
ligging Die plek waar iets geleë is.
met lof Met onderskeiding.
missie Jou belangrikste opdrag.
morele dilemma Moeilikheid, probleem oor of iets reg of verkeerd is.
Nazi’s Duitse nasionaal-sosialis, veral ʼn volgeling van Hitler voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog.
ongeldig Om te maak dat iets nie meer van krag is nie.
Oostelike godsdienste Godsdienste soos Hindoeïsme of Boeddhisme.
plotseling Skielik, onverwags.
professorskap Openbare dosent van die hoogste rang aan ʼn universiteit of ander tersiêre inrigting; hoogleraar.
progressiewe Trapsgewys toenemend; opklimmend, op vooruitgang gerig; vooruitstrewend.
radikale Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
regeringsagent ’n Persoon wat vir die regering werk, soms in ’n geheime rol.
reputasie Dit waarvoor iemand bekend is, hetsy goed of sleg.
Sanskrit Die ou, heilige taal van die Hindoes.
sekerheidsklaring Status wat aan ’n persoon gegee word wat vir hulle toegang tot geheime regeringsinligting gee.
sekulêre humanisme Iemand wat menslike waardigheid, vryheid en die waarde van die persoonlikheid vooropstel, en godsdiens as minder belangrik ag.
siklotron ’n Toestel waarmee mens atoomsplitsing doen.
sosiale wetenskappe Vakke soos antropologie, argeologie, ekonomie, geskiedenis, geografie, linguistiek en sielkunde.
swartgate Ook genoem ’n gravitasiekolk of gravitasiegat. ’n Gebied in die ruimte wat alles wat naby daaraan is, intrek.
teoretiese Wanneer mens iets op ’n idee baseer, eerder as praktiese ervaring.
tol Meestal “tol geëis”. As iets ’n langtermyn nadelige uitwerking het.
tradisies Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
uit die staanspoor Van die begin af, dadelik.
verpersoonlik Die rol speel van iets/iemand.
voorliefde Om baie van iets te hou.
waterstofbom ’n Reuse-atoombom of kernbom.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor J. Robert Oppenheimer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor J. Robert Oppenheimer

Oppenheimer en die atoombom

Hoe werk die atoombom wat hulle by die Manhattan-projek gebou het?

Die Manhattan-projek en die atoombom

Die verskrikking van die eerste atoombom op Hirosjima (kortrolprent)

Gepubliseer op: 12 April 2024 | Bygewerk op 18 April 2024