Vinnige feite

  • Buiten Cleveland was alle presidente tussen 1860 en 1913 uit die Republikeinse Party. Hy was die enigste Demokraat tussen James Buchanan (1857-1861) en Woodrow Wilson (1913-1921). 3
  • Cleveland was verlangs familie van die persoon na wie die stad Cleveland in Ohio vernoem is. 7
  • Hy was baie ongesond. Hy het meer as 125kg geweeg, en was ná William Howard Taft die tweede swaarste president ooit. Hy het ook baie gedrink en sigare gerook. 7
  • Cleveland het ʼn uitstekende geheue gehad. Hy het al sy argumente in hofsake uit die vuis gelewer. Tot op daardie stadium was hy die enigste president wat sy inhuldigingstoespraak uit die kop gemaak het. 1
  • Cleveland het die wet bekragtig wat die Amerikaanse openbare vakansiedag, Labor Day, die eerste Maandag in September, ingestel het. 10
Foto: iStock

Sedert die Verenigde State van Amerika (VSA) in 1789 vir George Washington as die eerste president gekies het, het die VSA al 46 presidente gehad. Maar daar was nog net 45 individue wat president was. Hoe so?

Die rede vir dié deurmekaar optelsom is Grover Cleveland. Hy is die enigste president wat twee keer verkies is, maar met ’n breek tussenin toe iemand anders die president was.

Hy was die 22ste president, tussen 1885 en 1889, en ook die 24ste president, tussen 1893 en 1897.

Grootwordjare

Stephen Grover Cleveland is op 18 Maart 1837 in Caldwell, New Jersey, gebore. Hy was die vyfde van nege kinders van Ann Neal en Richard Falley Cleveland, ’n dominee.

As kind het hulle baie getrek, omdat sy pa gereeld van gemeente na gemeente verskuif het. 1

Cleveland het in ’n streng maar beskeie huis grootgeword. Hul ouers was diep godsdienstig en beginselvas en het dié waardes aan hul kinders oorgedra.

Cleveland het skool baie geniet. Hy het ook gehou van buitelugaktiwiteite soos visvang. 2

Toe Cleveland 16 was, het sy pa gesterf. Hy moes toe sy planne om te studeer, opsy sit sodat hy kon werk om sy familie te ondersteun.

Cleveland het ná hy volwassenheid bereik het, begin om die naam Grover eerder as Stephen te gebruik. Dit was moontlik omdat hy die bynaam “Big Steve” wou afskud, ’n bynaam wat hy gekry het omdat hy oorgewig was. 1

Vroeë werksjare

Cleveland het saam met sy ouer broer by die New York Institute vir Special Education, 1 ’n skool vir blinde mense, skoolgehou. 3

Hy het ook as klerk by ʼn prokureursfirma in Buffalo gewerk en deeltyds regte studeer. 1

In 1859, toe hy 20 jaar oud was, het hy die kennis wat hy by die firma opgehou het, gebruik om die balieeksamen deur te kom. 4

Cleveland het drie jaar later sy eie regsfirma begin. 3 Hy het ook ’n aktiewe lid van die Demokratiese Party geword. 4

Cleveland was ’n uiters harde werker. Hy het egter nie ’n sterk visie gehad nie. In beide politiek en regte het hy meestal die stroom gevolg. 1

Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) het hy ’n Poolse immigrant ’n groot bedrag geld betaal om in sy plek te veg. 3 Dit was sodat hy na sy siek ma kom omsien. Dit was ’n algemene, wettige gebruik in daardie tyd. 5

Politieke loopbaan

Cleveland het in 1863 die adjunkstaatsaanklaer in Erie County, New York geword. 5 Tussen 1870 en 1873 is hy as balju aangestel. 1 In hierdie poste het hy ʼn reputasie as kampvegter teen korrupsie opgebou. 4

Hierna het hy teruggekeer na sy regsfirma. 3 Dit was eers agt jaar later, toe hy 44 jaar oud was, dat sy politieke loopbaan in alle erns begin het. 6

As gevolg van sy reputasie vir eerlikheid en doeltreffendheid is hy in 1881 deur die Demokratiese Party van Buffalo as burgemeester benoem. Hy het die verkiesing maklik gewen. 5

Cleveland het homself as ’n hervormer beskou. 4 As burgemeester het hy korrupsie en knoeiery in Buffalo, en veral in die regering, oopgevlek. 7 Hy het ook bekend geword vir sy gebruik van sy veto-stem om wette wat tot verkwisting van belastinggeld kon lei, te keer. 5

Cleveland se reputasie het sodanig gegroei dat hy in 1882 gevra is om as die Demokratiese kandidaat vir die goewerneur van die staat New York te staan. 3 Dit ten spyte van die feit dat hy nie die steun van ander prominente lede van sy eie party gehad het nie.

Hy het die verkiesing met ’n wegholoorwinning gewen. 5

As goewerneur het hy onnodige regeringsbesteding geveto. Dit het hom gewild onder die kiesers gemaak, maar steeds ongewild onder baie lede van sy eie party. 3

Die 1884-verkiesing

Cleveland se reputasie het so gegroei dat hy die verkiesing om die Demokratiese Party se presidentskandidaat te wees, gewen het.

Sy opponent in die presidentsverkiesing, James G. Blaine, het ’n reputasie gehad dat hy korrup en oneerlik was. Dit was só erg dat sommige lede van sy eie party nie vir hom wou stem nie. 3

Cleveland was ook tydens die verkiesingsveldtog in ’n skandaal betrokke. Hy is daarvan beskuldig dat hy ’n buite-egtelike kind gehad het. Hy het erken dat hy en die vrou ’n verhouding gehad het, maar was nie seker of dit sy kind was nie. 5 Dit was meer waarskynlik die kind van een van sy besigheidsvennote. Hy het egter verantwoordelikheid vir die kind aanvaar.

Cleveland het die 1884-verkiesing net-net gewen. Hy is op 4 Maart 1885 as president beëdig. 4

Cleveland saam met sy gesin

Eerste termyn: 1885-1889

Cleveland het as president ʼn progressiewe beleid gevolg. Hy het byvoorbeeld regeringsamptenare volgens verdienste aangestel, eerder as om net mense binne sy eie party aan te stel.

Gebeure en beleide tydens sy eerste termyn het die volgende ingesluit:

  • Inperking van regeringsbesteding
  • Min inmenging in buitelandse sake 3
  • Die Vryheidstandbeeld (Statue of Liberty) is deur Frankryk aan die VSA opgedra. 8
  • Die Apache-hoofman, Geronimo, het oorgegee en dit het die Apache-oorloë tussen die VSA en die Apache, ’n inheemse groep van Noord-Amerika, tot ’n einde gebring. 1
  • Die Presidential Succession Act van 1886 het die lyn van opvolging, indien beide die president en visepresident sou sterf of bedank, vasgestel.
Grover Cleveland, Theodore Roosevelt en D.R. Francis

Cleveland het tariewe teengestaan en probeer verlaag. Dit was waarskynlik hierdie kwessie wat hom sy herverkiesing gekos het. Hy het egter daaroor gesê: “Hoekom wil jy herverkies word as jy nie vir iets kan opstaan nie?” 6

Tussen sy termyne

Cleveland het die 1888-verkiesing teen Benjamin Harrison verloor. Hy het meer stemme as Harrison gekry, maar minder stemme in die kieskollege, wat in die VSA besluit wie die president word. 6

Cleveland het dus teruggekeer na sy werk as prokureur.

Hy het weer vir president gestaan in 1892. Dit was ’n baie kalmer verkiesing as die een van 1888. Harrison se vrou was op haar sterfbed en hy het nie ’n verkiesingsveldtog gehad nie. Cleveland het uit respek vir Harrison ook nie ‘n verkiesingsveldtog geloods nie.

Cleveland het die verkiesing gewen omdat die kiesers intussen ook tariewe verwerp het. Die leiers van sy eie party het hom ook hierdie keer ondersteun. 3

Presidensie: tweede termyn, 1893-1897

Cleveland se tweede termyn is afgeskop gedurende die grootste finansiële krisis in die VSA se geskiedenis tot op daardie stadium: die sogenaamde paniek van 1893, beter bekend as The Panic.

Dit was ’n ekonomiese depressie. Treinmaatskappye het eerste gevou, en toe banke, en toe het die aandelebeurs ook in duie gestort. Werkloosheid het amper 20% bereik, met een uit elke vyf mense in die VSA wat nie werk gehad nie. Daar was ook wydverspreide stakings in die steenkool- en vervoer-industrieë.

Cleveland het nie geglo dis die regering se werk om mense te help nie. Dit was nie net teen die grondwet nie, 4 maar hy het ook geglo dat swaarkry mense se karakter bou. 1

Hy het ook geglo die president se werk was om die Amerikaanse Kongres te monitor, eerder as om sy eie beleid af te dwing. Hy het sy president se reg om te veto 584 in sy twee termyne gebruik. Dit was dubbeld soveel as die 21 presidente wat voor hom gekom het! 3 Die enigste president wat dit meer gebruik het, was Franklin Delano Roosevelt, wat vir vier termyne president was. Cleveland se gebruik van die veto het vir hom die bynaam “voogpresident” (in Engels: guardian president) laat kry. 1

Gedurende Harrison se termyn het die VSA die Hawaiiese monargie van koningin Lili’uokalani omvergewerp. Toe Cleveland as president hoor hoe die VSA in Hawaii te werk gegaan het, het hy geweier om Hawaii te annekseer. 5

Hy was gekant teen spesiale belangegroepe, en subsidies om sekere groepe, maar nie ander nie, te help. 1 Hy het byvoorbeeld geweier om hulp in die vorm van saad aan boere in Texas te stuur. Hy het geglo dit sal maak dat mense te veel op die regering steun. 6

Die Pullman-staking was ’n treinstaking en boikot, waartydens onluste spoorvervoer in die MiddeWeste van VSA tot stilstand gebring het. Cleveland het die weermag ingestuur om die onluste te onderdruk. Hy het hieroor gesê: “As dit die VSA se hele weermag en vloot neem om ’n poskaart in Chicago af te laai, sal daardie poskaart afgelaai word.” 2

Cleveland het teen 1896 weer die ondersteuning van sy party verloor, en dus ook die nominasie as kandidaat vir die volgende presidentsverkiesing. Hy het besluit om uit die politiek te treë. 3

Persoonlike lewe

Cleveland was nie aan die leefstyl van die Withuis gewoond nie, en was vir die eerste paar jaar nie op sy gemak daar nie. 6

Hy was nie getroud toe hy in 1885 beëdig is nie. In 1886 het hy met Frances Clara Folsom getrou. Sy was 21 jaar oud en tot vandag toe die jongste presidentsvrou ooit. Daar was ʼn 27 jaar-ouderdomsverskil tussen hulle en hy is baie daaroor gespot. 1

Cleveland was nie die eerste president wat getrou het eers nadat hy president geword het nie, maar wel die eerste een om in die Withuis te trou. 3

Hulle het vyf kinders gehad: Ruth, Esther (die eerste en sover enigste baba wat in die Withuis gebore is), Marion, Richard en Francis. 1

Frances was ’n gewilde presidentsvrou. Sy was ’n elegant en ongekunsteld. 9 Hulle was ’n liefdevolle paartjie wat diep respek vir mekaar gehad het. Cleveland het oor haar gesê: “Ek het in haar iets baie beters as die presidensie.” 2

Grover en sy seun Richard

Aftrede en dood

Cleveland en sy familie het ná sy aftrede in Princeton, New Jersey, gaan woon.

Cleveland het by politieke sake betrokke gebly, en advies aan ander presidente verskaf. 1

Van 1901 tot met sy dood was hy ’n trustee en dosent by die Universiteit van Princeton. 4

In 1904 was daar weer pogings om hom te oortuig om vir president te staan, maar hy het geweier. 3

Sy gesondheid het ná 1907 agteruitgegaan, 3 en hy het op 24 Junie 1908, in die ouderdom van 71 jaar, in New Jersey gesterf. Sy vrou was aan sy sy. 1 Sy laaste woorde was moontlik: “Ek het so hard probeer om die regte ding te doen.” 3

Nalatenskap

Daar is uiteenlopende opinies oor Cleveland se presidensie.

Sommige mense voel hy was ’n verbeeldinglose, planlose president. Hy was teen vooruitgang gekant en wou nie wetgewing gebruik om sosiale veranderings te maak nie. 3 Omdat hy so rondborstig was, het hy baie vyande gemaak, selfs in sy eie party. Dit het hom egter nie van stryk gebring nie. 2

Aan die ander kant was hy hardwerkend en gefokus. 3 Mense het hom alom as eerlik, regverdig en beginselvas gesien. 2

Woordbank

aandelebeurs Instelling waar aandele deur makelaars of agente gekoop of verkoop word; aandelemark.
adjunkstaatsaanklaer ʼn Junior regsgeleerde wat vir die staat werk en in ʼn hof probeer bewys dat iemand iets onwettigs gedoen het.
afgeskop Begin.
Amerikaanse Kongres Die Amerikaanse parlement.
annekseer Om besit van ʼn gebied te neem.
balieeksamen Wanneer iemand die balie-eksamen deurkom, word hy toegelaat om as advokaat te praktiseer.
balju Iemand wat moet sorg dat die hof se vonnisse uitgevoer word.
beginselvas Iemand wat altyd by sy/haar beginsels hou.
bekragtig Dit wettig maak; jou goedkeuring daaraan gee/heg.
beleid Plan/program vir die bestuur van ʼn groep/onderneming/party/land.
benoem Voorstel of nomineer.
besigheidsvennote Een van twee of meer eienaars van ’n besigheid/onderneming.
beskeie Nederig, nie opdringerig nie.
boikot Georganiseerde weiering om sekere artikels te koop; uitsluiting.
Demokratiese Party Die oudste politieke party in die Verenigde State en onder die oudste politieke partye ter wêreld.
depressie Tydperk van ekonomiese insinking, onder meer gekenmerk deur swak verkope, lae pryse, geringe inisiatief, werkloosheid en geldskaarste.
die stroom gevolg Doen wat die meerderheid doen.
doeltreffendheid Effektief, doelmatig, geslaagd.
elegant Om mooi en met goeie smaak aan te trek.
federale Wat bestaan uit ʼn groep state wat hul eie sake bestuur, maar beheer word deur ʼn nasionale regering, wat die federale regering genoem word.
gevou Misluk, in duie stort.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit.
hervormer Iemand wat oop is vir verandering en verbetering.
individue Mense, persone, enkelinge.
in duie gestort Misluk, of tot ’n einde kom.
industrieë Besighede of fabrieke waar voorwerpe vervaardig word.
inhuldigingstoespraak Toespraak wat jy maak wanneer jy ’n nuwe amp aanvaar, gewoonlik as leier in ’n regering.
inperking Om iets te verminder of beperk.
kampvegter Iemand wat die voortou neem in/stry vir ʼn saak waarvoor hy hom of sy haar beywer.
karakter ’n Persoonlikheid/wese.
kieskollege Die mense wat besluit wie die leier van ’n land is.
klerk Iemand wat in ’n kantoor werk, soos ’n beampte of assistent.
knoeiery Bedrog; konkelry.
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan.
MiddeWeste Deel van die VSA wat state in die sentrale noordooste insluit, naamlik Illinois, Indiana, Iowa, Kansas, Michigan, Minnesota, Missouri, Nebraska, Noord-Dakota, Ohio, Suid-Dakota en Wisconsin.
monargie Staat of regeringsvorm met ‘n monarg (soos ‘n koning of keiser) aan die hoof.
monitor Om ʼn aktiwiteit/situasie dop te hou om te sien hoe dit verander/ontwikkel, of om seker te maak dit verloop regverdig.
omvergewerp Om iets te laat misluk.
ongekunsteld Natuurlik en sonder spoggerigheid.
onluste Opstande, gewoonlik teen die regering.
oopgevlek Om iets openbaar te maak.
opvolging Die volgorde waarin mense die leier van ’n land opvolg.
progressiewe Op vooruitgang en nuwe idees gerig.
prominente Vooraanstaande of belangrik.
regeringsamptenare Mense wat vir die regering werk.
regeringsbesteding Die manier hoe die regering belastinggeld spandeer.
regsfirma ’n Besigheid wat betrokke is by die beoefening van die reg. Ook ʼn prokureursfirma genoem.
reguleer In orde bring; reëlmatig maak; reël; bepaal; vasstel.
reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is, hetsy goed of sleg.
rondborstig As iemand openhartig en eerlik is en niks terughou nie.
skandaal Wanneer ’n openbare figuur of bekende persoon hom-/haarself swak gedra en mense skok.
spesiale belangegroepe Groepe wat wil hê die regering moet iets net vir hulle doen, maar nie vir ander groepe nie.
spoorweë Die netwerk van spore met die treine, organisasie en personeel wat nodig is vir die werking daarvan.
staat In die Verenigde State is ’n staat ’n samestellende politieke eenheid, waarvan daar 50 is. Elke staat hou regeringsjurisdiksie oor ’n aparte en gedefinieerde geografiese gebied waar dit sy soewereiniteit met die federale regering deel.
stakings Die weiering van werkers om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.
subsidies Geld wat deur ʼn regering/organisasie aan iemand of ʼn instansie betaal word om pryse/gelde te verlaag om dit moontlik te maak om iets goedkopers te produseer/koop/ens.
tariewe Goedere met bedrag wat vir die invoer of uitvoer daarvan betaal moet word.
ten spyte van Ongeag.
termyn Die tydperk wat iemand diens doen.
uit die kop Sonder om die geskrewe inligting voor jou te hê.
uit die vuis Om sonder voorbereiding te praat.
van stryk gebring Deurmekaar gemaak, verwar.
verantwoordelikheid Die verpligting om iets te doen.
verdienste Volgens die gehalte van jou werk.
verkiesingsveldtog Georganiseerde aksieplan om mense te oortuig om vir jou te stem.
verkwisting Om te mors.
veto-stem Die wetlike reg om ’n voorstel/wet te keer/verwerp.
visie ’n Ideaal waarna gestreef word.
vloot Die afdeling van die gewapende magte van ’n land/staat wat militêre operasies op see uitvoer.
vooruitgang Tyd van groei en verbetering.
wegholoorwinning Om iemand baie ver te wen.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Grover Cleveland

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Grover Cleveland

Wie was Grover Cleveland?

Wat is die werk van die president van die Verenigde State?

Die vyf streke van die VSA

Wat is beskermende tarief en hoe werk dit?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 April 2024 | Bygewerk op 9 April 2024