Vinnige feite

Langenhoven se huis Arbeidsgenot in Oudtshoorn.
  • Kerneels se vrou, Lenie, was 10 jaar ouer as hy.
  • Die briewe wat Kerneels en Lenie aan mekaar geskryf het voordat hulle getroud is, was in Engels. Daar is tussen die briewe ook een van hom aan haar in Duits en een in Latyn. Hierdie briewe het ná Lenie se dood na hul dogter, Engela, gegaan. Haar seun, Guillaume Brümmer, het dit in 1951 in Afrikaans vertaal toe hy nog op skool was. 2
  • Langenhoven se pligsgetrouheid word uitgebeeld in die naam wat hy vir sy huis op Oudtshoorn gegee het: Arbeidsgenot. 
  • Sy en Lenie se grafte is in die tuin van hulle huis. 
  • Langenhoven se stokperdjie was houtwerk. Die buitekamer van sy huis op Oudtshoorn bevat vandag nog die gereedskap wat hy gebruik het. In die sitkamer van Arbeidsgenot is daar ’n houtkissie op die koffietafel wat hy self gemaak het, en waarin die oorspronklike, handgeskrewe manuskrip van Die Rubáiját gebêre word.
  • Langenhoven het dikwels na homself verwys as “Sagmoedige Neelsie”. Dit was ’n gespot, want hy was bekend vir sy vinnige humeur.
  • Die karakter van Herrie die olifant het lesers se verbeelding aangegryp. Daar is vandag nog ’n gedenksteen in Meiringspoort, ’n kloof en belangrike deurgangsroete tussen die Groot-Karoo en die Klein-Karoo, waar Langenhoven Herrie se naam op ’n klip uitgebeitel het. Hierdie steen is vandag ’n nasionale monument. 11
  • Daar is baie voorstede, strate en selfs ‘n skool wat na Langenhoven vernoem is. Die bekendste een is waarskynlik Die Neelsie – die studentesentrum van die Universiteit Stellenbosch.
  • Daar word baie staaltjies oor Langenhoven se skerp sin vir humor en slim taalgebruik vertel. Die een waarna die meeste ouer mense verwys, is die voorval in die Volksraad (die destydse parlement) toe hy hom vir die spul vererg het en gesê het: “Die helfte van hierdie huis is donkies!” Die speaker het hom oor die vingers getik en vir hom gesê om die uitspraak terug te trek. Hy antwoord toe blitsvinnig: “Meneer die Speaker, ek trek terug. Die helfte van hierdie huis is nie donkies nie!” 2
Foto: iStock

Jy het seker al opgelet dat die woorde van Suid-Afrika se volkslied in verskillende tale is: eers Xhosa en Zoeloe, dan Sotho, dan Afrikaans en dan Engels. Die stukkie Afrikaans in die volkslied is eintlik die eerste deel van ’n gedig, “Die Stem van Suid-Afrika”:

Uit die blou van onse hemel,

Uit die diepte van ons see,

Oor ons ewige gebergtes,

Waar die kranse antwoord gee 1

Die Engelse woorde is ’n vertaling van ’n deel van dieselfde gedig. Hierdie gedig is geskryf deur C.J. Langenhoven, ’n prokureur, skrywer, politikus en taalstryder, wat baie hard gewerk het vir Afrikaans en Afrikaners se plek in Suid-Afrika.

Vroeë jare

Cornelis Jacob (Kerneels) Langenhoven is op 13 Augustus 1873 op die plaas Hoeko in die Ladismith-distrik in die Karoo gebore. 2 Hy beskryf homself in een van sy boeke, “U dienswillige dienaar, by sy geboorte as “’n ou dingetjie wat so swak en tengerig was dat hy nooit kon lewe nie en tog geleef het”. 3 Sy ma, Rachel, is vyf dae ná sy geboorte oorlede, en hy het by sy oom en tante grootgeword. Hy het hulle “Pappie” en “Mammie” genoem, en sy eie pa “Anderpa”. 3

Sy aanneemouers was goed vir hom. Hulle plaas was vrugbaar en hulle was albei harde werkers. By hulle het hy geleer om pligsgetrou te wees. Sy aangenome ma kon lees en skryf, iets wat nie almal daardie tyd kon doen nie. Langenhoven was agtien maande oud toe sy hom die alfabet geleer het, en op twee kon hy al lees. Sy aanneemouers was ook baie bewus van taal, en by hulle het die jong Kerneels die waarde van mooi taalgebruik geleer. 2

Sy eerste onderwyseresse by die plaasskool op Hoeko was almal Engels, en Langenhoven moes by hulle wiskunde, godsdiensonderrig, Engels-grammatika en die geskiedenis van Engeland leer – oor al die Engelse konings, die Engelse oorloë en die hoofstede van die Europese lande. Eers met die koms van ’n Nederlandse skoolmeester, Marthinus Bloemkolk, het Langenhoven iemand gekry wat hom behoorlik kon onderrig. Meester Bloemkolk was ’n baie slim man wat vyf tale kon praat. Woensdae was opsteldag. Langenhoven vertel self dat die onderwyser hulle so goed gehelp het dat hy op Woensdae skool toe gegaan het, al was hy siek! 3 Dit was toe al duidelik dat hy baie lief vir skryf was.

Langenhoven en sy dogter, Engela.

Van 1888 tot 1890 het hy op Ladismith skoolgegaan, en in Junie 1892 het hy aan die Hoër Seunskool (Riversdale Public School for Boys) gematrikuleer. Terwyl hy daar op skool was, het hy ’n skoolkoerantjie begin en ’n debatsvereniging gestig. Daarna is hy Stellenbosch toe om te gaan studeer. Die universiteit wat ons vandag ken, het toe nog nie bestaan nie, dit was toe nog die Victoria College. Daar het hy vir ’n BA-graad ingeskryf en weer aan die debatsvereniging behoort. 2

Ná sy studies is hy terug Ladismith toe, waar hy by ’n bekende prokureur op die dorp, T.C.W. Johnson, as ingeskrewe klerk begin werk het. Saans ná werk het hy gestudeer sodat hy sy LLB (’n graad in die reg) kon behaal. Hy het ook privaat lesse vir skoolkinders gegee. Een van hierdie kinders was Anna van Velden, wie se pa by dieselfde regsfirma as hy gewerk het. Langenhoven het die gesin geken, want hulle was vriende van sy ouers. Ná Antonij van Velden se dood, het Langenhoven en Antonij se weduwee, Lenie van Velden, verlief geraak. Op 23 Februarie 1897 trou hy en Lenie, en hulle trek kort daarna Oudtshoorn toe. In 1901 word hul dogter, Engela, gebore. 2

C.J. Langenhoven en sy vrou, Lenie, by die troue van hul dogter, Engela, in 1926.

Toe Langenhoven en Lenie, wat hy in sy skryfwerk “Vroutjie” genoem het, getroud is, was hy ’n brandarm klerk in ’n prokureurskantoor. Nadat hy in Junie 1899 die LLB-eksamen by die destydse University of the Cape of Good Hope afgelê het, is hy Kaapstad toe om daar as ’n advokaat te werk. Hy het nie daar genoeg werk gekry om ’n praktyk te begin nie, daarom is hy in 1902 terug Oudtshoorn toe, waar hy as ’n kenner van waterregte sou uitblink. 2

Langenhoven, die taalstryder

Dis vandag moeilik om te glo, maar Kerneels Langenhoven het as ’n student en jong volwassene geglo dat slegs Engels as ’n voertaal in Suid-Afrika gebruik moes word. 2 ’n Mens moet onthou dat hy in Engels skoolgegaan en studeer het, en dat hy groot bewondering gehad het vir Engelse letterkunde.

Hou ook in gedagte dat een van die voorwaardes wat in 1902 by die Vrede van Vereeniging gestel is, was dat Engels die taal van die staatsdiens en die howe sou wees. 2 Die ander taal wat in die land gebruik is, was Nederlands. Niemand het in 1902 eers aan Afrikaans gedink as ’n taal waarin ’n mens sou kon skoolgaan nie.

Teen 1910, toe Suid-Afrika verenig is en ’n Unie geword het, was Engels en Nederlands die nuwe staat se amptelike tale. Hiervoor het generaal J.B.M. Hertzog, op daardie stadium die Vrystaat se minister van onderwys, gesorg. Hy het naamlik reeds in 1908 ’n wet in die Vrystaat ingevoer waarvolgens Engels en Nederlands die voertaal in skole kon wees. 4

Langenhoven het in 1910 ’n toespraak in Bloemfontein gelewer waarin hy baie krities was oor hierdie besluit, en die koerante het sy mening wyd gepubliseer. Afrikaners oor die hele land het hom baie skerp hieroor aangeval. Wat mense egter nie besef het nie, was dat hy gekant was teen die invoer van Hooghollands in die skole, nie teen Afrikaans nie.

Hy het toe al geweet dat Nederlands nie meer in Suid-Afrika gebruik word nie en dat dit ’n “skreiende onreg” sou wees as kinders verplig word om deur middel van Nederlands te leer. 2

D.F. Malan, C.J. Langenhoven, Jan Smuts, Hendrik Johannes Van der Bijl, Petrus Johannes Du Toit en François Stephanus Malan.

In 1914 het ’n paar goed gebeur wat ’n groot invloed op Langenhoven se lewe gehad het: Hy is verkies as lid van die Kaapse Provinsiale Raad; die Eerste Wêreldoorlog het uitgebreek; en Jopie Fourie, ’n rebel wat teen Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog gerebelleer het, is gefussileer. 5 (Lees die artikel oor Jopie Fourie hier.) Oor die laaste gebeurtenis was hy baie ontevrede, en hy het daarna ’n lid geword van die Nasionale Party omdat hierdie party hom vir die belange van Afrikaners beywer het. 2 Kerneels Langenhoven het hom begin beywer vir Afrikaans en vir gelyke behandeling van Afrikaners in die land.

Uit die oogpunt van Afrikaans was die belangrikste gebeurtenis van 1914 egter dat Langenhoven die Kaapse en Transvaalse Provinsiale Rade oortuig het om dit te oorweeg om Afrikaans as medium van onderrig in laerskole in te voer. Die rade het van sy voorstel gehou, maar was bekommerd daaroor dat daar nie werklik reëls of boeke vir hierdie jong taal bestaan het nie. Afrikaans het net nie dieselfde statuur as Nederlands gehad nie.

In Julie 1914 oortuig Langenhoven die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (vandag die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) dat daar spelreëls vir Afrikaans opgestel moet word sodat skrywers handboeke en leesboeke in Afrikaans vir skole kon skryf. Die gevolg van hierdie besluit was die heel eerste Afrikaanse woordelys en spelreëls (in kort die AWS genoem) wat in 1917 verskyn het.

Hierdie belangrike bron word vandag nog gereeld deur die Taalkommissie bygewerk en bevat steeds die reëls vir geskrewe Afrikaans. 6

As gevolg van Langenhoven se harde werk, het Afrikaans in 1925 naas Engels die amptelike taal van Suid-Afrika geword. 7 Sonder Langenhoven se ywer sou ons almal vandag nog in Nederlands skoolgegaan het!

Herrie se klip by Meiringspoort is ‘n nasionale monument.

Langenhoven, die skrywer

Een van die maniere waarop ’n mens ’n taal se lewenskrag meet, is deur die tekste wat in die taal gepubliseer word. Langenhoven het juis waardering vir Engels gehad oor dié taal se groot literêre skat. Hy het doelbewus begin om tekste in Afrikaans te skryf sodat Afrikaans deur Afrikaanssprekendes gelees sal word. Sy groot talent was om mense met sy skryfwerk te vermaak, en hulle op so ’n manier lief te maak vir lees en vir die taal. 8

Die meeste van sy skryfwerk is later in ’n spesiale reeks van 16 volumes gepubliseer, en dié Langenhoven-reeks is vandag vir baie boekliefhebbers ’n waardevolle versamelaarstuk.

Die lys hier onder is nie ’n volledige lys van sy skryfwerk nie, maar is hoogtepunte in sy skryfloopbaan:

  • Sy boekie Loeloeraai (1923) het oorspronklik as ’n vervolgverhaal in die Kaapse koerant Die Burger verskyn, maar dit was so gewild dat dit later in boekvorm uitgegee is. Dié boekie word beskou as die eerste wetenskapsfiksieboek in Afrikaans. As ’n mens in gedagte hou dat Afrikaans toe nog nie eens ’n amptelike taal was nie, is dit ’n merkwaardige prestasie. 9
  • Hy het ook die eerste speurroman in Afrikaans, Donker Spore (1926), geskryf. 8
  • Sy romans (volledige storieboeke) was landwye treffers. Die bekendstes is waarskynlik Sonde met die bure (1921), Doppers en Filistyne (1921) en Herrie op die óu tremspóor (1925). In Sonde met die bure het hy die karakter van Herrie, ’n afgetrede sirkusolifant, geskep. Herrie se eienaar was Neelsie, ’n man van Oudtshoorn wat moeilikheid met sy bure, sy vrou en sy dogter het, en dan die olifant voor ’n tremtrok inspan sodat hy en sy gesin bietjie uit Oudtshoorn kan wegkom.
  • Sy bekendste kinderboeke was Brolloks en Bittergal (1922) en Die Krismiskinders (1927).
  • Hy het ook twee spookstories geskryf, Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte (1930).
  • Daarbenewens het hy ’n hele paar toneelstukke geskryf, onder meer Die laaste van die takhare (1925), ’n baie gewilde komedie waarin ’n Afrikaanse en Engelse boer met mekaar stry oor waterregte terwyl hulle glad nie mekaar se taal verstaan nie.
  • Hy het natuurlik ook ’n hele paar geskiedkundige en politieke tekste geskryf, en selfs ’n gids oor skryfwerk, Hoe om te skrywe (1931).
  • Hy het Omar Khayyám se bekende werk, Die Rubáiját, uit Engels in Afrikaans vertaal.
  • Sy bekendste stuk skryfwerk is waarskynlik “Die Stem van Suid-Afrika”, ’n gedig wat later net so die volkslied van Suid-Afrika sou word, en waarvan ’n deel vandag nog in ons nuwe volkslied is.
“Tremlied” (Uit Herrie op die óu tremspóor).
Ons weg deur die wêreld, tweede druk.
Ons weg deur die wêreld, ‘n boek wat hy aan sy ma opgedra het.

Arbeidsgenot, die woning van C.J. Langenhoven.

Nalatenskap

Langenhoven se nalatenskap is nie sonder kontroversie nie. Hy het nadat hy by die Nasionale Party aangesluit het, deel geword van dié party se werk om Afrikaners se regte in Suid-Afrika gevestig te kry, meestal ten koste van ander inwoners van die land. Maar sy bydrae om Afrikaans as ’n taal van aansien te vestig, kan niemand vandag misken nie. Dat hy dit gedoen het in ’n tyd toe Afrikaners eintlik geen aansien gehad het nie, maak sy prestasies soveel meer merkwaardig.

Kerneels Langenhoven is oorlede toe hy maar 58 jaar oud was. Hy het vermoedelik tydens ’n treinreis longontsteking gekry en daarna nie behoorlik gerus nie. Sy gesondheid het binne ’n week vinnig agteruit gegaan, en hy is op 15 Julie 1932 in sy huis oorlede. Sy dokter het gemeen hy is aan ’n hartaanval dood. 10

Die nuus van sy dood het die land onkant gevang. Die Burger se banieropskrif die volgende oggend was “Suid-Afrika verloor Langenhoven”. 10 Die koerante van die tyd en tydskrifte soos Die Huisgenoot het berig oor sy enorme bydrae tot die taal, en oor hoe geskok die hele Afrikaanse gemeenskap oor sy dood was.

’n Mens kan waarskynlik beweer dat daar in die bykans 100 jaar sedert sy dood niemand was wat so ’n groot rol op soveel terreine – in die onderwys, in die akademie, in die joernalistiek, in die politiek, in die kunste – gespeel het om Afrikaans te bevorder en uit te bou soos hy nie. Elkeen wat vandag in Afrikaans kan skoolgaan en selfs ’n naslaangids soos hierdie in Afrikaans kan lees, het daardie voorreg aan C.J. Langenhoven te danke.

Woordbank

aansien Wat mense as waardig ag.
daarbenewens Buiten dit wat reeds genoem is.
gefussileer Voor ’n vuurpeloton tereggestel.
komedie Snaakse toneelstuk.
kontroversie Sterk uiteenlopende menings en gevoelens.
lewenskrag Vermoë om te bestaan en te voortbestaan.
literêre skat Waardevolle versameling skryfwerk wat oor die jare ontstaan het.
medium van onderrig Die taal waarin kinders in skole leer en onderrig word.
nalatenskap Dit wat ná iemand se dood agterbly.
onkant gevang Op ’n slegte manier verras.
oor die vingers getik Raas; berispe.
pligsgetrou Die eienskap om plig voor plesier te stel.
skreiende onreg ’n Onreg wat so erg is dat dit skree. Die woord “skreiend” is ’n ou afleiding van die woord “skree”.
statuur Reputasie, belangrikheid en waarde.
tremtrok ’n Vervoermiddel wat nie meer in Suid-Afrika gebruik word nie; ’n kruising tussen ’n trein en ’n bus.
vermaak Op ’n lekker, ontspanne manier besig hou.
vermoedelik Soos wat mense vermoed.
versamelaarstuk Iets wat versamelaars graag wil besit en dus baie waarde het.
voertaal Taal wat algemeen gebruik word om mee te kommunikeer.
volumes Boeke in ’n reeks.
vrugbaar Met goeie grond en water sodat dit goeie oeste lewer.
waterregte Regte van grondeienaars, veral boere, om water uit riviere en ander natuurlike waterbronne te gebruik.

Lees dié om meer te leer

Kyk hierdie om meer te wete te kom

Jy kan by hierdie skakel ’n virtuele toer deur Arbeidsgenot se huis en tuin onderneem.

Luister na ’n opname van “Die Stem”, die vorige Suid-Afrikaanse volkslied

Die geskiedenis van “Die Stem”

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Mei 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024