Vinnige feite

  • In 1958 het Gé ’n elektriese kontrakteursbesigheid in Pretoria begin en kort daarna ook ’n onderneming wat beligtingstoebehore verkoop het met die naam Lumen Beligtingsentrum. Hy het die ondernemings in 1970 verkoop sodat hy al sy aandag aan sy sangloopbaan kon wy. 1
  • Gé was ’n ywerige amateurfotograaf. 4
  • In Oktober en November 1968 het hy in net twee maande 89 konserte aangebied! 1
  • Vanaf 1958 tot 1989 was hy besturende direkteur van Kruik (Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste). 8
  • Op 8 Januarie 2016 is Gé ingesluit in ’n stel van 10 posseëls waarmee bekende musikante vereer is. 8
  • Gé Korsten se naam is ook verewig in die FAK se liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria.
Foto: iStock

Toe daar in 1927 ’n seuntjie met die naam Gérard Korsten in ’n klein dorpie in Nederland gebore is, het niemand geweet dat hy eendag een van die gewildste kunstenaars in Suid-Afrika sou word nie. Ons land het ’n wonderlike kunstenaar en superster ryker geword toe sy ouers besluit het om hul land te verlaat en in Suid-Afrika te kom woon.

Geboorteland en jeugjare

Gé (Gérard) Korsten is op 6 Desember 1927 in die dorpie Schiedam naby Rotterdam in Nederland gebore. Hy was nege jaar oud toe sy gesin na Suid-Afrika verhuis het. Sy pa wou gehad het dat Gé se broer ’n sangloopbaan moes volg, maar dit was toe die jonger Gé wat meer in sang belanggestel het. 1

Ná skool het Gé vir vyf jaar gestudeer en in 1948 as elektrisiën gekwalifiseer. In sy vrye tyd het hy in ’n groep met die naam Die Minnesangers gesing. Ander lede van die groep was onder andere Mimi Coertse, Jan Schutte, Philip Markgraaf en Douwlina Grobbelaar (sy was die vrou van Fanus Rautenbach). 2

Vroeë loopbaan en sangstudies

Gé was 20 jaar oud toe hy in die SAUK (Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie) se kore en kwartette gesing het. Hy het opleiding gekry by Adelheid Armhold by die South African College of Music in Kaapstad. In hierdie jare het hy as bariton gesing.

In 1955 het Gé na Pretoria verhuis en verder onder Albrecht Lewald gestudeer. Dit is in hierdie tyd dat hy as tenoor begin sing het. In dieselfde jaar word die Pretoria Operagroep gestig met Gé as ’n stigterslid. Vanaf 1958 tot 1962 het hy onder Nellie du Toit gestudeer en in Januarie 1963 het hy buiteland toe vertrek om in Wene, Italië en München te gaan studeer. Nadat hy in Oktober 1963 na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy hoofrolle vertolk in operas vir Kruik (Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste), Truk (Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) en Naruk (Natalse Raad vir Uitvoerende Kunste). 1

Gé word ’n ster in Suid-Afrika

In 1965 het Gé sy eerste album (in daardie dae was dit nog plate) opgeneem – Gé Korsten sing uit die hart. Hy het hierdie plaat opgeneem omdat sy skoonpa – dominee Viktor Burger – hom aangemoedig het om ’n plaat met geestelike liedere op te neem. Al die inkomste uit die plaat is geskenk aan die Abraham Kriel Kinderhuis in Johannesburg. 1

Hierdie plaat was die begin van sy loopbaan as een van die bekendste en mees geliefde sangers in Suid-Afrika. In 1966 het hy nog drie plate opgeneem en ook ’n rolprentkontrak met Kavalier Films gesluit.

Gustav Germishuizen by die granietbord- en borsbeeld in die FAK-liedjietuin by die Voortrekkermonument.

Sy eerste rolprent was Kruger Miljoene waarin hy saam met spelers soos Leon le Roux, Helga van Wyk en Carel Trichardt opgetree het. Sommer met sy tweede rolprent het hy alle vorige bywoningsrekords in die land oortref. Dit was die rolprent Hoor my lied wat in November 1967 uitgereik is en waarin Min Shaw een van die spelers was. Van die plaat van hierdie klankbaan is meer as 130 000 kopieë verkoop, en wat vir Gé sy eerste goue plaat beteken het. Daarna sou nog baie ander goue plate volg. Hierdie rolprent is ook in die Verenigde State van Amerika (VSA) en Europa onder die titel Hear My Song uitgereik. 1

Uiteindelik het hy altesaam 69 albums opgeneem.

Gé het nie net in operas opgetree en solo gesing nie, maar hy het ook saam met onder andere Nellie du Toit, Leonore Veenemans en in later jare saam met Rina Hugo opgetree en albums opgeneem.

In 1977 besluit hy om van die verhoog afskeid te neem en hy en sy vrou, Elna, het in Wilderness gaan aftree. Op daardie stadium het hy steeds vol sale getrek met sy optredes. Sy gewildheid het tot aan die einde van sy loopbaan nooit afgeneem nie. 1

Jacques Muller, beeldhouer, by ‘n borsbeeld van die geliefde sanger.

Vermaak voor die kamera

Soos vroeër genoem, was Gé Korsten nie net ’n sanger nie – hy het ook in rolprente en in die baie gewilde Egoli TV-reeks (Suid-Afrika se eerste sepie) gespeel. In Egoli het hy gedurende die 1990’s in nie minder nie as 780 episodes die rol van Walt Vorster vertolk.

Die rolprente waarin hy gespeel het, was Kruger Miljoene (1967), Hoor my lied (1967), Lied in my hart (1970), A New Life (1971), Lokval in Venesië ( 1972) en Netnou hoor die kinders! (1977). 3

Hy het ook die TV-program Gé sing aangebied wat só gewild was dat dit in 1977, 1978, 1979, 1983 én in 1984 opgeneem is. In 1984 het hy 15 Europese stede besoek om ’n nuwe reeks op te neem. Hy het tydens hierdie besoek 30 liedjies in 15 lande opgeneem! 1

Toekennings

Hy het altesaam ses Sarie-toekennings ontvang:

  • Drie as beste manlike sanger in 1966, 1968 en 1969.
  • Drie vir beste Afrikaanse langspeelplaat vir Sing Seeman Sing (1969), Liefling (1972) en Lieflike Droom (1974).

In 1969 het hy ook die Europese Midem-toekenning in Frankryk ontvang vir plateverkope. 1

Van sy ander pryse en toekennings sluit die volgende in:

  • Nederburg-prys vir Opera (1967).
  • Afrikaanse Treffer van die Jaar vir Ek kyk graag so diep in jou oë (1978).
  • Video van die Jaar vir Lied van die lewe (1992).
  • Afrikaanse Treffer van die Jaar saam met Rina Hugo vir hulle duet Ek mis jou elke dag ’n bietjie meer (1993).
  • Hy het uiteindelik 24 goue- en ses platinum-toekennings gedurende sy loopbaan ontvang.
  • In 1988 het hy die Orde van Meriete (goue klas) van die staatspresident ontvang. 1
  • Op 24 September 1999 het die tydskrif Keur die sanger ná ’n landwye meningsopname as Suid-Afrika se Ster van die Eeu aangewys. Dit was net vyf dae voor sy dood op 29 September. 1

Gé die operasanger

Hy het hoofrolle in meer as 35 operas, operettes en musiekblyspele vertolk. 1

’n Paar van die operas waarin Gé opgetree het, is Lucia di Lammermoor, La Bohème, Madame Butterfly, Faust, La Traviata, Die Towerfluit en The Merry Widow. 2

In 1962 het Gé ’n groot deurbraak gehad toe hy die rol van Hoffmann teenoor Mimi Coertse gespeel het in Jacques Offenbach se opera Tales of Hoffmann. 4

Hy het hard gewerk om musiekspele in Suid-Afrika te ontwikkel en hy het baie gedoen om opera onder die publiek gewild te maak. 1

Van die musiekblyspele waarin hy opgetree het, is onder andere The Student Prince, Desert Song, Oklahoma, Show Boat, Evita en South Pacific. 2

Gé Kortsen as Canio, sy debuutrol, in die Pretoria Operagroep se opvoering van “I Pagliacci” in 1957.

Sy gesin

Gé is in 1952 met Elna Burger getroud. Hulle het vyf kinders gehad – twee seuns, Viktor en Gérard, en drie dogters, Elsa, Linda en Gerda. 1

Die enigste van die kinders wat ook van musiek ’n loopbaan gemaak het, is Gérard, wat ’n internasionaal bekende violis en dirigent is. Hy het op 8 jaar oud reeds geleer viool en klavier speel. Met die gesin se vakansies in Ballito, het hulle altyd saamgesing met hul pa voor die klavier en die kinders wat ook elkeen ’n musiekinstrument bespeel het. 5

Linda werk in die rolprentbedryf en was medevervaardiger van die rolprent Liefling (2010), wat sy as huldeblyk aan haar pa gedoen het. 5 Sy was ook medevervaardiger van die rolprente Pretville (2012) en French Toast (2015).

Gérard vertel dat hy as kind juis nie soos sy pa wou wees nie omdat sy pa se musiekloopbaan hom vir lang tye van sy gesin af weggeneem het. En toe gebeur presies dieselfde met hom ook!

Volgens Gérard het hul kinders van kleins af geweet dat hul pa spesiaal is en ook aan die volk behoort.

“Hy was ’n wonderlike pa, maar hy het aan die volk behoort, en dit was nooit regtig maklik nie. Selfs wanneer hy werklik afgemat was, sou hy ’n enkele aanhanger soos die enigste laat voel.” 5

Gé Kortsen op sy troudag met Elna Burger, dogter van die leraar van NG gemeente Johannesburg-Noord, ds. Attie Burger.

Suid-Afrika treur oor ’n goue seun

Op 29 September 1999 is Suid-Afrika vroeg die oggend geskok met die nuus dat die geliefde sanger oorlede is, Hy het sy eie lewe geneem. 6

Dit was in die tyd waarin die Aardklop Kunstefees aan die gang was.

Die rede waarom die suksesvolle en gewilde sanger só ’n besluit geneem het, was nooit regtig bekend nie. Uiteindelik is aanvaar dat depressie die oorsaak was.

Volgens sy seun, Gérard, het sy pa altyd gesê as hy ’n ongeneeslike siekte moes kry, sou hy ’n einde aan sy lewe maak. Gérard dink dat die depressie dalk vir sy pa net te moeilik geword het om te hanteer. 5

Gé se vrou, Elna, is in 2012 oorlede toe sy 81 jaar oud was. Sy het die laaste jare van haar lewe in ’n aftreeoord in George gewoon. Haar en Gé se nalatenskap leef voort in vyf kinders, 13 kleinkinders en twee agterkleinkinders. 7

Woordbank

aanhanger Iemand wat ’n belangrike of bekende persoon bewonder.
bariton Mansstem wat net laer as ’n tenoorstem en net hoër as ’n basstem is.
deurbraak Om iets belangriks in jou werk of loopbaan te doen.
dirigent Die persoon wat voor ’n orkes of koor staan en dit lei.
elektrisiën Iemand wat met elektrisiteit en elektriese verbindings werk.
goue plaat Erkenning aan ’n sanger of sangeres vir die verkoop van ’n groot aantal plate.
huldeblyk Om aan iemand eer te betoon wanneer hy/sy iets goed en belangrik gedoen het.
klankbaan Die musiek wat in ’n rolprent gehoor word.
kwartette Groep van vier sangers.
langspeelplaat Plaat wat meer musiek op gehad het as kortspeelplate waarop net twee of soms vier liedjies opgeneem is.
plate Plat, ronde, gewoonlik swart vinielskyf met fyn groefies daarop en ’n gaatjie in die middel waarop musiek en klank gestoor is. Langspeelplaat, grammofoonplaat.
platinum-toekennings Erkenning aan ’n sanger of sangeres vir die verkoop van ’n groot aantal plate.
solo Om alleen te sing.
tenoor Mansstem wat tussen bariton- en basstem lê.
vol sale getrek Wanneer al die kaartjies vir ’n vertoning uitverkoop is.
vrye tyd Wanneer mens nie werk nie en ontspan.

Lees dié om meer oor Gé te leer

Kyk en luister dié om meer te wete te kom

Gé Korsten gesels oor sy sangloopbaan

“Seeman”

“Liefling”

“Lied van die lewe”

“Algoabaai”

“Nessun Dorma”

“Die Heidelied” – uit die trefferrolprent Hoor my lied, saam met Min Shaw

“Jerusalem” – saam met Rina Hugo

“Ek mis jou elke dag ’n bietjie meer” – saam met Rina Hugo

Rina Hugo gesels oor Gé en hulle sing “Liefde wat vir altyd bly”

“Song of love” – saam met Leonore Veenemans

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Februarie 2024 | Bygewerk op 21 Februarie 2024