Vinnige feite

  • Jan van Riebeeck en sy vrou wat op 6 April 1652 in Tafelbaai aangekom het, was aktiewe lede van die Gereformeerde Kerk in Nederland en het direk daartoe bygedra dat die Christelike geloof in die Kaap versprei het.
  • ’n Nederlandse Bybelvertaling, bekend as die Statebybel, wat in 1637 voltooi is, is die eerste Bybel wat saam met die volksplanters na Suid-Afrika toe gekom het.
  • Om in besonderhede te verduidelik wat die Gereformeerde Kerk glo, het die sinode van Dordrecht Drie Formuliere van Enigheid aanvaar. Dit bestaan uit die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
  • Die eerste sendeling in Suid-Afrika, Georg Schmidt, was van die Morawiese Broederkerk en het in 1737 na die Kaap gekom. Hy het egter heelwat teenstand ervaar en het weer in 1744 teruggekeer na Europa.
  • Ds. Michiel Christiaan Vos en dr. J.T. Van der Kemp het die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap in April 1799 gestig en ’n groot bydrae gemaak daartoe om sendingwerk in Suid-Afrika te bevorder.
Foto: iStock

In Suid-Afrika is ongeveer 86% van die bevolking Christene wat aanhangers van die Christelike geloof is. 1

Dit was egter nie altyd so nie.

Die Christelike geloof het Suid-Afrika bereik deur die Europeërs wat Suid-Afrika ontdek en sedert die 1600’s bewoon het. 2 Vandag word Suid-Afrika die reënboognasie genoem, vanweë die groot verskeidenheid van mense, kulture en ook godsdienste, wat in hierdie land aangetref word.

Godsdiensvryheid is deel van Suid-Afrika se Grondwet, wat beteken dat almal die reg het om enige godsdiens van sy of haar keuse te beoefen. Die godsdienste wat vandag die meeste in Suid-Afrika aangetref word, is Christenskap, Islam, Hindoeïsme, Judaïsme en tradisionele Afrika-gelowe. 3

Die eerste gelowe in Suid-Afrika

Die tradisionele geloof en praktyke van die Khoisan is die eerste godsdiens wat in Suid-Afrika aangetref is. Die Khoisan is ’n inheemse stam of etniese groep, later kultureel onderverdeel in die San of Boesman en die Khoi of Khoi-Khoi, vroeër ook bekend as Hottentotte. Hulle het die suidelike deel van Afrika van Noord- en Wes-Afrika ingeneem en het vir baie jare die land bewoon en bewerk voordat ander gelowe Suid-Afrika bereik het. 3

Die geloof van die San

Die San het geglo in die bestaan van ’n opperwese met skeppende mag. Hy is beskou as die onderhouer van alles en as die beskermer van wild en jag. Die San het ná ’n suksesvolle jagtog of goeie reënval danse uitgevoer wat ook as gebede tot die opperwese gesien is. Die name wat hulle vir die opperwese gebruik het, is Huwe, Hishe, Xu, Erob en ander.

Die San het ook geglo in ’n bose wese en geeste. ’n Lewe ná die dood vorm deel van die San se geloof deurdat hulle geglo het dat die mens ná sy dood in twee vorme voortbestaan: die gees van die persoon vertoef in die nabyheid van die graf, terwyl die siel na die hemel vertrek. Daar is egter geen bewys opgeteken dat die San by godsdienstige gebruike geeste van voorvaders betrek het nie, soos dit soms wel die gebruik by ander tradisionele Afrika-gelowe die geval is. 4

Mense wat volgens die San uitgewys is vir hul “bonatuurlike vermoëns” om boosheid uit te dryf, asook om spesiale medisyne van plantaardige en dierlike herkoms voor te berei, is toordokters genoem. Hierdie handelinge het gepaard gegaan met rituele en “genesingsdanse”. Die San-toordokters het ook dolosse gebruik in die vorm van ronde stukke leer, stukkies hout en been. Die gebruik van kruie as medisyne was ’n algemene gebruik by alle Sangroepe. 4

Die geloof van die Khoi

Die verering van mitologiese helde was die middelpunt van die Khoi se godsdienstige lewe. Die drie belangrikste mitologiese wesens is Tsui-Goab, Heitsie Eibib en Gaunab. Aan elkeen van hierdie wesens is ’n mitologiese verhaal verbonde. Soos by die San, het die Khoi ook in ’n lewe ná die dood geglo. Die Khoi het ook toordokters aangestel en hul taak was om, onder meer, mense te genees wat as gevolg van “bose toordery” siek geword het. 5

Hulle het ook geglo dat daar ’n hoër mag is wat oor hulle heers en ook die natuurelemente beheer. In sommige gevalle is spesifieke rituele gebruik om dié mag te aanbid. Offers is ook gebring. Die son en maan is ook as gode gesien, of as elemente wat ’n hoër gesag dra. 6

Afrika-gelowe

Vele nuwe geloofspraktyke het saam met die Afrika-kultuurgroep Suid-Afrika bereik. Die meeste gelowe het in ’n hoër mag geglo wat seën of ongeluk kan bring. Hulle het ook voorvadergeeste aangehang en geglo dat die geeste van afgestorwe voorvaders met hulle kan kommunikeer en ’n invloed op hul lewe kan uitoefen. Dit was meestal die politieke leiers wat die verantwoordelikheid as geestelike leiers moes opneem. Dié gelowe het ook van toordokters – wat opleiding moes ontvang om mense te “genees” – gebruikgemaak. 6

Die koms van Christenskap

Die geskiedenis van Christenskap in Suidelike Afrika het begin met die aankoms van die Portugees Bartholomeu Diaz. In 1488 het Diaz ’n kalksteenpilaar en Christelike kruis by die Kaap de Goede Hoop opgerig. In 1652 het die Verenigde Oos-Indiese kompanjie (V.O.C.) ’n voorraadstasie in die Kaap opgerig. Die eerste sendelinge het in daardie tyd Suid-Afrika besoek en dit is aangeteken dat die Khoi-slawe hul kerkdienste bygewoon het. 7

Meer Europeërs het die suide van Afrika betree deurdat die Kompanjie van sy vorige werknemers toegelaat het om te begin boer. Die Kompanjie het amptelik erkende godsdienswerkers aangestel en in 1665 is die 26-jarige ds. Joan na die Kaap gestuur, waar hy as eerste permanente predikant in diens geneem is. Hy het die eerste Kaapse gemeente georganiseer en ook die eerste kerkraad (’n ouderling en ’n diaken) bevestig.

In 1678 is die fondamente van die eerste kerkgebou in Kaapstad gelê, maar die gebou self is eers in 1703 voltooi. Teen daardie tyd was daar reeds twee gemeentes buite Kaapstad: Stellenbosch (1686) en Drakenstein (1691) 8. Die Hollands-Afrikaanse Kerke in die nuwe Kaapkolonie was in daardie tyd die Christene se enigste plek van aanbidding. 7

Tydens die bewind van die V.O.C. aan die Kaap, was die kerk steeds onder die beheer van die staat. Aanvanklik was die Gereformeerde Kerk die enigste denominasie aan die Kaap, maar in 1780 het die V.O.C. aan die Kaapse Lutherane verlof gegee om hul eie gemeente te stig.

Ná die eerste oorname van die Britse bewind in 1795, het verskeie Engelse kerke ook na die Kaap gekom, onder meer die Anglikaanse Kerk. 8

Woordbank

etniese Wat met die mense van ‘n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. 9
denominasie geloofsgroep, godsdienstige groep. 9
mitologiese Al die oorgelewerde mites van ‘n volk. 9

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2022 | Bygewerk op 26 Maart 2024