Vinnige feite

  • Vleilande hou water terug tydens vloede en laat die water vry tydens droë periodes.
  • Sowat 23 vleilande in Suid-Afrika word sedert 1975 onder die “Ramsar-konvensie vir vleilande van internasionale belang” beskerm.
  • In 2018 het navorsing deur die Universiteit Stellenbosch getoon dat meer as 65% van Suid-Afrika se vleilande en verwante rivierstelsels beskadig is en 50% na beraming vernietig is.
  • In sekere opvanggebiede in Suid-Afrika het studies getoon dat meer as 50% van vleilande alreeds vernietig is.
Foto: iStock

’n Gebied word as ’n vleiland gesien indien dit moerasagtige grond, waterliewende plante en ’n hoë watertafel het. 1 Dit word gesien as grond wat oorganklik is tussen grond- en watersisteme waar die watertafel gewoonlik naby die bogrond is, of waar die grond periodiek met vlak water bedek is.

Die grond kan onder normale omstandighede steeds die plantegroei wat tot lewe in deurdrenkte grond kan aanpas, ondersteun. 2 ’n Vleiland is dus ’n vlei of ander nat gebied soos ’n pan of seisoenale spruit wat ekologies ’n eie aard het. 3

Vir ’n gebied om as ’n vleiland geklassifiseer te word, moet dit ten minste een van hierdie eienskappe hê:

Moerasagtige grond: Sponsagtige, papperige strook grond waaruit die water nie  vloei nie of wel vloei, maar dan baie stadig wegvloei. 3

Watertafel: Die watertafel verwys na die vlak in die grond waaronder al die grond vol water (moerasagtig) is. Wanneer die watertafel in die gebied hoog is, dan beteken dit dat hierdie vlak naby die oppervlak is. In sulke gevalle sal die water nie in die grond af dreineer nie, maar op die oppervlak bly om ’n vleiland te vorm. 1 Die hoë watervlak lei tot waterversadiging op of naby die oppervlak en dit lei dan tot anaërobiese (suurstoflose) toestande in die boonste 50 cm van die grond. 1

Waterliewende plante: Byvoorbeeld ’n palmiet, ’n waterplant met ’n digte bos vaalgroen blare met skerp rande. 3

Is vleilande altyd nat?

Vleilande is nie noodwendig dwarsdeur die jaar nat nie. Dit kan net gedurende sekere seisoene nat wees, veral wanneer dit baie reën.

Die volgende soorte vleilande kan onderskei word:

  • ’n Tydelike vleiland: So ’n vleiland is nat vir tussen een en vier maande van die jaar.
  • ’n Seisoenale vleiland: Hierdie soort vleiland is nat tydens die reënseisoen. Dit beteken dat dit nat sal wees vir ongeveer vyf tot tien maande van die jaar, afhangende van die tydperk van die reënseisoen.
  • ’n Permanente vleiland: So ’n vleiland is dwarsdeur die jaar nat. 1

Die belangrikheid van vleilande

Vleilande het ’n belangrike rol om te speel in ’n ekosisteem en het vele voordele vir die omgewing waarin dit voorkom.

Vleilande tree op as sponse

Vleilande hou water terug tydens vloede en laat die water vry tydens droë periodes. 4 In ’n droë land soos Suid-Afrika is dit noodsaaklik. Deur watervloei gedurende storms te reguleer, verminder vleilande vloedskade en help met die voorkoming van gronderosie. 2

Vleilande vertraag vloedwater

Water wat in vloed is, vloei so sterk en vinnig dat dit gevaarlik is. Dit kan mense en diere laat verdrink en skade aanrig aan eiendom en die omgewing, soos onder meer deur gronderosie. Vloedwater vloei stadiger wanneer dit ’n vleiland binnevloei omdat die vleiland ’n groot area is wat ’n groot hoeveelheid water kan hou. 1

Vleilande is natuurlike filtrasiesisteme vir die suiwering van water

Wanneer water deur ’n vleiland vloei, word dit filtreer. Gronddeeltjies en sedimente, voedingstowwe, sowel as besoedelstowwe en siekte-veroorsakende organismes wat die water ongesond maak, word deur plante opgevang. 1 Vleilande herlaai grondwaterbronne en verwyder besoedelingstowwe uit die water en help dan om water te suiwer. 2 Vleilande het ook die vermoë om koolstof vas te vang en verhoed dat dit in die atmosfeer ontsnap.

Vleilande gee biodiversiteit

Sekere vleilande, soos riviermondings, dien as belangrike teelareas vir oseaniese vis. Baie vleilande (soos vloedvlaktes) kan, indien dit op ’n volhoubare manier bestuur word, gebruik word as weidingsgebiede. Vleilande is dus ook belangrik omdat dit ’n habitat aan verskillende plant- en dierspesies bied. 1

Vleilande kan voordelig wees vir ekonomiese groei in gemeenskappe

Vleilande kan toeriste lok en só lei tot werkskepping en bewusmaking van die omgewing. Die iSimangaliso-vleilandpark, aan die noordkus van KwaZulu-Natal, is die grootste beskermde vleilandpark in Suider-Afrika en is op 1 Desember 1999 tot Wêrelderfenisterrein verklaar.  Dit skep werk aan baie mense en die informele besighede kan ook ’n bestaan maak wanneer toeriste hulle ondersteun.

Die bedreiging van vleilande

Vleilande is een van die mees bedreigde habitats ter wêreld. In sekere opvanggebiede in Suid-Afrika het studies getoon dat meer as 50% van vleilande alreeds vernietig is. Dit is hoofsaaklik as gevolg van die dreinering van vleilande vir die aanplanting van gewasse en weiding, swak bestuurde brande wat lei tot erosie, die aanplanting van uitheemse bome in vleilande, mynbouaktiwiteite, besoedeling en stedelike ontwikkeling. 4

Hierdie aktiwiteite verander die vloei van water en die watergehalte, wat ’n vleiland óf beskadig óf vernietig. Voortdurende vernietiging van vleilande sal lei tot minder suiwer water, minder betroubare watervoorrade, toenemende ernstige vloede, laer landbouproduktiwiteit en meer bedreigde spesies. 2

Interessante feite

Wat is hidrofiete?

Hidrofiete is plantspesies wat die vermoë ontwikkel om in anaërobiese grondtoestande te groei en te bestaan. Hulle pas aan deur lugruimtes in hul wortels en stamme wat diffusie van suurstof van blootgestelde dele van die plant na die wortels toelaat. Hulle het ook onvoorsiene wortels (wortels wat uit ongewone plekke groei), vlak wortelstelsels, groot interne porieë en saadverspreidingsmeganismes deur water. ’n Waterlelie is ’n voorbeeld van ’n hidrofiet. Hidrofiliese spesies verskil in die mate wat hulle afhanklik is van, of beperk is tot vleilande.

Sekere spesies word slegs gevind in vleilandomgewings en word dus verpligte hidrofiete genoem, terwyl ander voorkom in sowel vleiland- as nie-vleilandgrond, en staan bekend as fakultatiewe hidrofiete. 2

Vleilanddag

Ter wille daarvan om die belangrikheid van vleilande te beklemtoon en mense van oraloor bewus te maak van die rol van vleilande in biodiversiteit, spesifiek binne vleiland-ekostelsels, word Wêreldvleilanddag elke jaar op 2 Februarie gevier. 5

Vleilande in Suid-Afrika bedreig

In 2018 het navorsing deur die Universiteit Stellenbosch getoon dat meer as 65% van Suid-Afrika se vleilande en verwante rivierstelsels beskadig is en 50% na beraming vernietig is. As stappe nie dadelik geneem word om palmiet-vleilande wat deur erosie bedreig word, te herstel nie, kan hierdie vleilande teen 2065 opgedroog of verlore wees. 6

Die Ramsar-konvensie

Sowat 23 vleilande in Suid-Afrika word sedert 1975 onder die “Ramsar-konvensie vir vleilande van internasionale belang” beskerm. Die Ramsar-konvensie is in 1971 in Ramsar, ʼn dorp in Iran, onderteken. Die doelstelling van die verdrag is om vleilandverliese te verminder, die verantwoordelike gebruik van vleilande aan te moedig, beskermde vleilande se beskerming te verhoog en om belangstellendes op te lei en aan te moedig om die verantwoordelikhede volgens die verslag na te kom.

Altesaam 169 lande het reeds hul steun aan dié bewaringsaksie gegee. Daar is tans meer as 2 200 vleilande wêreldwyd wat onder dié konvensie val. In Suid-Afrika val meer as 20 gebiede onder die beskerming van die konvensie.

Hierdie gebiede sluit onder meer in: Baberspan, Blesbokspruit, die Bot-Kleinmondgetyrivier, De Hoopvlei, De Mond, Drakensbergpark, Kosibaai, Langebaan, Ndumo-wildtuin, Nylsvlei-natuurtuin, Oranjeriviermonding, Seekoeivlei-natuurtuin, Sibhayi-meer, St. Lucia-sisteem, Seeskilpadstrande, Verlorenvallei-natuurtuin, Verlorenvlei, Valsbaaivleilandpark en die Wildernismere. 5

Woordbank

biodiversiteit Die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante en mikroörganismes) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. 3
habitat Vindplek van ’n bepaalde organisme (dier of plant); woonplek; woongebied; verblyfplek. 3
periodiek Van tyd tot tyd; reëlmatig. 3
informele Alledaags en nie vir ’n besondere geleentheid nie.
anaërobiese Sonder suurstof.
opvanggebiede Gebied van waar reënwater in ’n rivier of dam inloop.
sedimente Afsaksel.
organismes Enige lewende wese.
gewasse Bepaalde soort plant, veral in die landbou, soos mielies en koring.

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is vleilande?

Die vleiland-ekosisteem

Die geheime lewens van vleilande

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Januarie 2022 | Bygewerk op 9 September 2024