Vinnige feite

  • Johanna is “Hansie” genoem deur haar familie en vriende. 1
  • Toe Johanna in 1915 die VNP (Verenigde Nasionale Party) help stig het, kon vroue in Suid-Afrika nog nie in verkiesings stem nie. 3
  • Johanna en ander vroue het gehelp om inligting oor die slegte omstandighede waaronder vroue en kinders in die Irene-konsentrasiekamp geleef het, in ’n sigaretdosie uit te smokkel en ’n joernalis het toe in ’n koerant daaroor geskryf. 6
  • Johanna het genesing deur natuurlike medisyne en ook kanker bestudeer. 4
  • Johanna en haar ma se ‘onsigbare’ briewe wat met suurlemoensap geskryf is, het vir Paul Kruger, wat toe in Nederland was, vertel wat in Pretoria aangaan. 7

’n Mens besef nie altyd dat baie vroue gedurende die Anglo-Boereoorlog net so dapper soos hul mans was en dat hulle ook ’n merkwaardige bydrae tot die oorlog gelewer het nie.

Johanna Brandt was in die tyd van die Anglo-Boereoorlog ’n jong vrou van tussen 22 en 25 jaar oud. Sy was so lief vir haar land dat sy besluit het om ’n werk te doen wat meeste van die tyd deur mans gedoen word, naamlik spioenasie. Sy was glad nie bang vir hierdie gevaarlike werk nie en ook nie bang dat die Britse soldate haar sou vang nie.

Kinderjare en familie

Johanna is op 18 November 1876 in Heidelberg in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) oftewel Transvaal (vandag bekend as Gauteng) gebore.

Haar pa was Nicolaas Jacobus van Warmelo (1835–1892) wat in die 1860’S van Nederland na die ZAR gekom het. Hy was die eerste predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk op Heidelberg. 1

N.J. van Warmelo

Haar ma, Maria Magdalena Elizabeth Maré, was haar pa se tweede vrou. 2

Mev. Maria van Warmelo

Johanna was die jongste van vyf kinders. Sy het een suster, Deliana (Line) en drie broers, Dietlof, Fritz en Willem, gehad. 3

Van Warmelo kinders, ongeveer 1904

Haar ouers was albei musikaal en lief vir musiek. Haar pa het klavier gespeel en het gehou van klassieke musiek en haar ma was ’n orrelis. Johanna het hul liefde vir musiek geërf en het dikwels in haar dagboek geskryf dat sy sing of klassieke musiek op die klavier speel.

‘n Niggie van Johanna

Johanna se pa, ds. van Warmelo, was ’n lojale ondersteuner van die Boere (die naam wat toe vir die Afrikaanse bevolking gebruik is). In 1877 het Brittanje die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek) geannekseer en saam met die Boere het hy geweier om dit te aanvaar. Johanna was in hierdie tyd nog net vier jaar oud en te klein om te verstaan wat gebeur. Haar pa se patriotisme het haar egter geïnspireer en sy het self ’n groot patriot geword toe sy ouer geword het. 2

Johanna van Warmelo, 12 jaar oud

Johanna se pa is op 21 April 1892 in Heidelberg oorlede. Johanna was toe 15 jaar oud en sy was baie hartseer oor haar pa se dood. ’n Paar jaar ná sy dood – in 1895 – het Johanna en haar ma na Pretoria getrek. 1

In hierdie stadium het haar broers Dietlof en Willem in Nederland gestudeer en Fritz was op skool in Kaapstad. Line het saam met haar man, Henry Cloete, in Sunnyside, Pretoria gebly. Henry was ’n regsgeleerde en het aan ’n vooraanstaande Afrikaanse familie behoort. 2

Mev. Van Warmelo

Opleiding

In Heidelberg het Johanna by ’n mnr. Ayliff skoolgegaan. Dit het in hierdie tyd nogal gebeur dat kinders privaat onderrig by iemand gekry het. Nadat sy en haar ma Pretoria toe getrek het, het sy by die Doornfontein College in Johannesburg skoolgegaan.

Al haar opleiding was in Engels en al was hul huistaal Afrikaans, het sy altyd in Engels geskryf. Omdat sy geen opleiding in Nederlands ontvang het nie, het sy ook nie in Nederlands geskryf nie. 2

Die huis in Pretoria

Die Pretoria van destyds waar Johanna en haar ma gebly het, was heeltemal anders as die Jakarandastad van vandag. Hulle het op ’n plaas met die naam Harmonie gebly en daardie plaas sou vandag omtrent in die middel van die stad gewees het! Dit was naby Sunnyside en was twee kilometer van die middestad af. Hierdie middestad was toe die deel rondom Kerkplein. 2

Hierdie huis sou later die hoofkwartier van die Boerespioene wees.

Johanna ontmoet haar trouman in Nederland

In 1897 het Johanna en haar ma deur Europa getoer. In Nederland het sy die man ontmoet met wie sy later sou trou – Louis Ernst Brandt. Hy was ’n goeie vriend van haar broer Dietlof wat toe in Nederland gestudeer het. Louis het later ’n predikant in die Nederduits Hervormde kerk in Nederland geword. 2

Johanna en Louis Brandt, 1902

Johanna, die skrywer

Johanna het reg deur haar lewe boeke geskryf. Sy het soms gewone storieboeke geskryf, maar die meeste van haar boeke was oor onderwerpe soos die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe.

Hier is die titels van ’n paar van haar boeke: Het Concentratiekamp van Irene (1904), The Fasting Book (1912) en The Petticoat Commando or Boer Women in Secret Service (1913). Johanna was 82 jaar oud toe hierdie boek in 1958 in Afrikaans uitgegee is. Sy het self die vertaling na Afrikaans gedoen. Ander boeke wat sy geskryf het, is: The Millennium (1918), The Grape Cure (1928) en Elinda (1938) en nog meer. 2

’n Oorlogsdagboek

Johanna se dagboek oor die Anglo-Boereoorlog is ’n waardevolle dokument omdat dit baie mooi vertel wat alles in die oorlog gebeur het.

Die dagboek strek vanaf 30 September 1899 totdat sy op 23 Junie die laaste keer daarin geskryf het – die jaar word nie genoem nie, maar dit was waarskynlik in 1902.

In die eerste inskrywing vertel sy hoe hulle haar broer Fritz op die stasie groet toe hy oorlog toe vertrek het. Dink ’n bietjie hoe moeilik dit vir jou sou wees om jou boetie te groet voordat hy moet gaan oorlog maak.

Op 5 Junie 1900 vertel sy hoe duisende Britse soldate daardie dag na Pretoria gekom het. Sy en haar ma moes van die huis af vlug toe die Britse soldate die Boereforte aanval en dat hul plaas Harmonie reg in die pad van die bomme en kanonne was. Later daardie aand het hulle teruggekeer na hul huis. Die volgende dag het sy met haar fiets stad toe gery om te kyk hoe die Britse soldate in die stad inmarsjeer. Teen 15:00 daardie dag is die Union Jack (die Britse vlag) bo die raadsaal op Kerkplein gehys terwyl ’n orkes “God save the Queen” (die Britse volkslied) gespeel het.

Johanna het heeltyd die kleure van die vierkleur (die Boere se vlag) iewers aan haar gedra wanneer sy op haar fiets gery het – selfs tussen die oormag Britse soldate deur! Op 9 Junie het ’n Britse offisier haar en haar ma kom vra of drie offisiere vir ’n paar weke in hul huis kon bly. Hulle het geweier en dit duidelik gemaak dat hulle vurige republikeine is en niks met die soldate te doen wil hê nie.

Haar laaste inskrywing lui: “The end of my war-diary: – I am too tired now.” 3

Bladsy van Johanna se dagboek

Johanna en haar ma fop die Britte

Johanna was 22 jaar oud toe Pretoria in Mei 1900 deur Britse soldate ingeneem is.

Nadat Pretoria deur die Britte beset is, was die lewe van die mense van Pretoria deur allerhande reëls en regulasies van die Britte beheer. Een van hierdie reëls was dat alle briewe wat gepos of ontvang is, gesensor moes word.

Om te keer dat hul briewe aan hul familie en vriende deur die Britse sensors gelees word, het Johanna en haar ma begin om briewe op verskillende maniere deur te smokkel deur briewe in speelpoppe se hol koppe, in portretrame of onder die voering van sigarethouers weg te steek en dit dan op hierdie manier – weggesteek en saam met die voorwerp – by die ontvanger uitkom.

Mev. Maria van Warmelo

Johanna se ma het ook agtergekom dat mens suurlemoensap as ink kan gebruik. Jy kan die brief slegs lees wanneer jy die papier warm maak, soos om met ’n strykyster daaroor te stryk.

Hulle het dit nie toe besef nie, maar hierdie slim truuks van hulle het hulle later baie gehelp toe hulle spioenasiewerk vir die Boeremagte begin doen het.

Johanna het in die Irene-konsentrasiekamp gaan help en die mense daar verpleeg. Sy en haar ma het baie gedoen om die slegte toestande waaronder die vroue en kinders daar geleef het, bekend te maak, ook buite Suid-Afrika. 1

Spioenasiewerk in alle erns

Op ’n dag het ’n man met die naam Willie Botha by Johanna en haar ma kom kuier. Hy was ’n lid van die Boere se geheimediens, te wete die Geheime Kommissie. Dit was hul eerste kontak met ’n spioen van die Boere.

Harmonie het die plek geword waar die Boere se spioene en ook Boere-offisiere mekaar ontmoet het. Dit moes natuurlik in die geheim gebeur sodat die Britse soldate dit nie agterkom nie.

Hulle het die Boere op allerhande maniere gehelp. Johanna het eenkeer met haar fiets gery om ’n houer met dinamiet te gaan haal wat na die Boere toe moes gaan.

Op 8 September 1901 is Willie Botha en al die lede van die Geheime Kommissie deur die Britse soldate gevang nadat hulle verraai is deur ’n Afrikaner wat saam met die Britte gewerk het. 1

Ds. N.J. van Warmelo se begrafnis, Heidelberg

Die Kappiekommando

Hierdie gebeurtenis het Johanna die idee gegee dat hulle self verder die werk van die geheimediens kon doen. Hulle sou net vroue as spioene gebruik. So is die Kappiekommando gebore – so genoem omdat die werk deur vroue gedoen is en meeste vroue in daardie dae kappies gedra het.

Die eerste vergadering van die nuwe organisasie het op 15 Oktober 1901 plaasgevind. Hierna het hulle nie weer amptelike vergaderings gehou nie omdat dit te gevaarlik was.

Van toe af is Harmonie gereeld deur spioene en ook deur Boere-offisiere besoek. Alles moes stilletjies en skelm gedoen word, veral omdat daar soveel Britse soldate reg rondom hul huis gebly het. Hul huis is twee keer deur Britse soldate deurgesoek, maar die twee vroue was baie versigtig en het gesorg dat daar nooit iets in die huis was wat sou wys dat hulle bobaasspioene is nie!

In ’n boek deur Kaptein Naudé, ’n offisier wat dikwels in die geheim by Harmonie oorgebly het, het hy hoë lof gehad vir die dapper werk wat Johanna en haar ma in die oorlog gedoen het. Die naam van die boek is In Doodsgevaar en het in 1904 verskyn. 1

Van Warmelo, Cloete en Brandt familie

Van Pretoria na Nederland

Die spanning van die paar jaar se spioenasiewerk was nie goed vir Johanna se gesondheid nie en sy is voor die einde van die oorlog na Nederland. Hier het sy in Julie 1902 verloof geraak aan Louis Brandt. Hulle het gedurende die oorlog gereeld vir mekaar briewe geskryf. 1

Toe sy in Nederland aankom, is sy as ’n heldin beskou. Mense het graag funksies bygewoon waar sy stories oor die oorlog vertel het.

In Augustus 1902 het sy met Louis Brandt getrou. Koningin Wilhelmina van Nederland het haar gelukgewens en ook president Paul Kruger wat toe in Frankryk gewoon het, het vir haar gelukwense gestuur. In sy boodskap het hy haar ook bedank vir die werk wat sy in die oorlog gedoen het. ’n Paar Boeregeneraals wat toe op besoek in Europa was – Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet – het ook vir haar gelukwense gestuur.

Omdat sy soveel spanning gehad het terwyl sy spioenasiewerk gedoen het, het Johanna ná haar troue aan ernstige depressie en posttraumatiese stres gely. Dit het 15 maande geneem voordat sy die depressie kon afskud. Daarna kon sy weer begin werk en ook verder aan haar dagboek skryf. 2

Christiaan de Wet

Johanna keer terug na Suid-Afrika

In 1904 het Louis en Johanna teruggekom en in Pietersburg gaan bly. Die dorp se naam is vandag Polokwane. Louis was toe ’n predikant by die Hervormde kerk in Soutpansberg en Waterberg (die dorpe was in Noord-Transvaal wat vandag die Noordelike Provinsie is. Hy en Johanna het in Pietersburg gaan bly wat vandag Polokwane genoem word. Hulle het gou betrokke geraak by die opheffing van die Boeregemeenskappe wat baie skade gely het as gevolg van die oorlog. In 1908 het hulle na Johannesburg getrek.

Johanna was baie aktief in die gemeenskap. In Pietersburg (Polokwane) het sy ’n spinskool gestig. Sy was ook ’n stigterslid van die NHSV (Nederduits Hervormde Sustersvereniging), die SAVF (Suid-Afrikaanse Vrouefederasie) en die VNP (Verenigde Nasionale Party) (1915). 4

Drome en visioene

Johanna se ma, Maria is op 7 Desember 1917 in Pretoria oorlede. By haar sterfbed het Johanna ’n aantal profetiese visioene gehad.

’n Engel het glo aan Johanna verskyn en in vyf visioene (byna soos drome) ’n klomp ontstellende toekomstige gebeure aan haar openbaar (bekendgemaak). Die verskrikking van hierdie voorspellings het Johanna in een enkele nag heeltemal grys laat word. Sy was ook so verbysterd dat sy vir dae lank nie eens met haar man daaroor kon praat nie.

Toe sy weer kon praat, het sy dadelik begin om haar visioene neer te skryf. In Maart 1918 het Johanna die boodskap wat sy in haar visioene ontvang het, in Engels, Sesoeto, Zoeloe en Xhosa laat druk en onder die swart bevolking versprei as waarskuwing om nie in die geweld van haar visioene betrokke te raak nie.

Haar visioene is in 1918 gepubliseer as Die Millennium, een voorspelling. Verdere voorspellings is in 1920 as Die smeltkroes en in 1936 as The Paraclete, or Coming World Mother gepubliseer.

Dié boeke bevat almal voorspellings wat waarsku oor ’n donker toekoms vir Suid-Afrika. Johanna – soos ander sieners – voorspel ook “Die nag van die lang messe” wat neerkom op ’n nagaanval op Johannesburg. 5

Johanna se laaste jare

Johanna en haar man het sewe kinders gehad. Louis is op 23 Junie 1939 dood in ’n ongeluk by die huis. 2

Johanna het ná die dood van haar man, nog ongeveer 25 jaar geleef. Sy was gelukkig dat sy gesond gebly het toe sy al baie oud was. Sy het vir die laaste deel van haar lewe in Kaapstad gewoon en is op 21 Januarie 1964 in die ouderdom van 87 oorlede. 2

Woordbank

geannekseer Wanneer een land ’n ander land of gebied by homself inlyf, dit wil sê die land vat.
fop Kul, flous, vir die gek hou.
geïnspireer Om iemand selfvertroue te gee, hom aan te moedig om iets te doen.
konsentrasiekampe In die Anglo-Boereoorlog het die Britte kampe gebou waarin hulle die Boerevroue en kinders (onder baie slegte omstandighede) laat bly het.
marsjeer Wanneer soldate almal gelyk (in gelid) loop, sê mens hulle marsjeer.
musikaal Iemand wat musiekinstrumente kan speel of goed kan sing.
openbaar Bekendmaak, vertel; iets vertroulik meedeel.
opheffing Iemand help om die omstandighede waarin hulle leef, beter te maak.
patriot ’n Persoon wat baie lief is vir sy of haar land.
posttraumatiese stres Die spanning wat mens voel nadat iets gebeur het wat jou uitermate (baie) ontstel het.
profeties Betreffende die toekoms, voorspellend.
republikeine Iemand wat ’n demokratiese regering wil hê, waar die mense self die leiers kies.
gesensor Iemand wie se werk dit is om ander mense se briewe te lees om seker te maak daar staan niks daarin wat gevaarlik vir die land is nie – dit gebeur veral wanneer daar oorlog is.
Boerespioene ’n Persoon wat in ’n oorlog inligting oor die vyand vir sy land moet insamel.
truuk ’n Kullery, slim plan om iemand uit te vang.
vooraanstaande Belangrike en vername mense wat gewoonlik ook baie geld het.
veldslag ’n Geveg tussen vyandelike magte in die veld – in elke oorlog is daar dus baie veldslae. 8
verbysterd Uit die veld geslaan, verstom/stomgeslaan, verward, oorweldig, oorbluf.
profetiese visioene ’n Droomgesig, droombeeld, toekomsblik.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie kort video oor Johanna Brandt

Johanna Brandt – siener, skrywer en baasspioen

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 September 2022 | Bygewerk op 3 November 2023