Vinnige feite

  • ’n Dokumentêre rolprent En tog die deuntjie draal – Die Koos du Plessis-verhaal is in 2021 uitgereik.
  • Sy bekende liedjie “Sprokie vir ’n stadskind” het ontstaan in die tyd toe hy en ’n vriend in ’n woonstel in Johannesburg se middestad gewoon het.
  • Hy het dikwels by die koerantkantore kitaar gespeel en gesing nadat die koerant na die drukkers gestuur is.
  • Du Plessis se liedjie “Gebed” is baie gewild, maar hy het dit nooit self opgeneem nie. Jannie du Toit, Lucas Maree en Nick Taylor het dit ingesluit op die huldeblyk-album Koos se plaat. Die album is ’n jaar ná sy dood uitgereik.
  • Hy het die lied “Somerkersfees” geskryf, maar ook nooit self opgeneem nie. Die liedjie is vandag steeds gewild.
  • Du Plessis was bekend daarvoor dat hy baie privaat was en die kollig vermy het. Hy wou nie onderhoude doen nie en het gesê hy was net ’n “doodgewone ou”.
  • Verskeie kunstenaars het al albums vrygestel waarin hulle hulde aan hom bring, soos Johannes Kerkorrel, Theuns Jordaan, Mathys Roets, Jannie du Toit en Piet Smit.
  • Hy het in 1980 die lirieke vir die kenwysie van die TV-program Jopie Adam, geskryf en gesing.
  • Hy het dikwels Vrydagaande aan “liedjiesaande” saam met medekunstenaars en musiekliefhebbers by Jannie du Toit se huis deelgeneem.
  • Die liedjie “Kinders van die Wind” is in 2013 as die “Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye” aangewys. Meer as 60 000 mense het aan die stemming deelgeneem. 4
  • Du Plessis het groot bewondering vir die digwerk van N.P. van Wyk Louw gehad. 5
  • Du Plessis is in 2021 postuum deur die FAK vereer. Sy vrou, Mornay du Plessis, het die eerbewys vir uitnemende kultuurprestasie en sy bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek ontvang.

Daar is sekere Afrikaanse liedjies wat amper volksbesit is en wat Ma, Pa en die hele gesin ken. Dink hier aan liedjies soos “Kinders van die wind” en “Somerkersfees”. Die man wat hierdie lirieke geskryf het, was Koos du Plessis (1945-1984).

Koos du Plessis staan ook as Koos Doep bekend en was ’n sanger, liedjieskrywer en digter wat ’n groot bydrae tot die Afrikaanse musiektoneel gelewer het. Daar word van hom gesê dat hy ’n “fenomenale impak” op die ontwikkeling van Afrikaanse musiek gehad het en hy is selfs met internasionale sterre, soos Bob Dylan, Leonard Cohen en Jacques Brel, vergelyk. 1

Daar word ook gesê dat hy meer as enigiemand anders gedoen het om ’n revolusie in Afrikaanse musiek teweeg te bring. 2

Lewe en loopbaan

Koos Doep is op 10 Mei 1945 as Jacobus Johannes du Plessis op Rustenburg gebore. Sy pa se naam was ook Jacobus Johannes du Plessis en hy was ’n boer. Sy ma se naam was Hester Johanna Buitendag. Du Plessis was een van vier kinders, hy het ’n ouer suster, Hester, ’n ouer broer, Boet, en ’n jonger broer Henning gehad.

Sy ouers het ná teenspoed hul plaas verloor en die gesin moes noodgedwonge stad toe verhuis. Hulle het na Springs aan die Oos-Rand getrek waar du Plessis by die Laerskool Pam Brink en Hoër Seunskool Hugenote skoolgegaan het.

Hy het ná skool ’n onderwysdiploma aan die Normaal Kollege Pretoria voltooi en daarna ’n BA-graad met spesialisering in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria behaal.

Vroeë foto van Normaal Kollege, Pretoria

Koos het sy loopbaan as joernalis by die destydse koerant, Die Vaderland, afgeskop. Hy het tussen 1966 en sy dood in 1984 by vier koerante van die destydse Afrikaanse Pers en toe Perskor gewerk, naamlik Die Vaderland, Oggendblad, Die Transvaler en Die Nataller.

Laataand in die nagkantoor as Koos sy kitaar uitgehaal het

Hy het in 1964 vir Mornay du Plessis ontmoet en hulle is in 1969 getroud. Mornay het later vertel dat dit sy humorsin en stoute streek was, wat haar as jong student na hom toe aangetrek het. Hy het graag poetse gebak en grappies gemaak. 3

Koos en Mornay het in Amanzimtoti gaan woon, waar hy verskeie poste by Die Nataller beklee het. Mornay was ’n onderwyseres en het daar skoolgehou. Hulle het later besluit om na Johannesburg terug te keer en hy het weer by Die Vaderland gaan werk.

Mornay du Plessis

Die paartjie het drie dogters, Irma, Karla en Karien, gehad en Du Plessis het vir sy vrou en dogters liedjies geskryf. Sy tweede album, As almal ver is, bevat liedjies, soos “Miskien Karien”, “Karla” en “Irma”.

Hy het ook deeltyds ’n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi.

Koos het later by die Oggendblad in Pretoria gaan werk en hy en sy gesin het in Wierdapark in Centurion, Pretoria, gaan bly. In 1983 het hy by Die Transvaler begin werk. 1

Musiek

Koos was van kleins af lief vir musiek en wou in standerd 8 (graad 10) sanglesse neem, maar ’n sangjuffrou het glo gesê hy het nie die nodige vaardighede nie!

Hy het as student sy eie liedjies geskryf en geleer hoe om kitaar te speel. Platemaatskappye het egter deur die jare sy musiek afgeskiet en wou sy liedjies verander, maar Du Plessis het geweier.

Een van sy vriende het op ’n dag ’n kassetopname van sy liedjies na ’n sanger en hoof van ’n platemaatskappy geneem. (In daardie tyd was daar nie iets soos digitale musiek nie en musiek was nog op plate en kassette beskikbaar.) 2

Die bestuurder van die platemaatskappy Incline House se naam was Nick Taylor en hy was dadelik mal oor Du Plessis se musiek. Du Plessis se musiekloopbaan het ’n hupstoot gekry met die geleentheid om drie liedjies op die TV-program Perspektief te sing. Hy het ook in die program Musiek & Liriek opgetree en ’n paar konserte by Die Laager by die Markteater in Johannesburg gehou.

Die bekende regisseur Katinka Heyns het sy liedjie “Kinders van die wind” ontdek en besluit om dit as temaliedjie vir haar TV-reeks Phoenix en Kie te gebruik. Die sangeres Laurika Rauch het die liedjies in die TV-reeks gesing, onder meer “Kinders van die wind”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Die somer is verby” en “Skielik is jy vry”. Rauch het “Kinders van die wind” as ’n solussewe uitgereik en dit het gou gewild geword. Dit was so in aanvraag dat dit binne die eerste week van bekendstelling twee keer herdruk is. Rauch en Du Plessis het goue plate vir verkope van meer as 25 000 kopieë ontvang. Dit het 13 weke lank op die treffersparade gebly.

Van links: Laurika Rauch, Katinka Heyns, Koos du Plessis, Chris Barnard, Nick Taylor en Fran Marks van Stanayn Records tydens die oorhandiging van die goue plaat vir Skadu’s teen die muur, Koos se eerste langspeelplaat, in 1979

Du Plessis het in 1980 sy eerste album as sanger opgeneem. Die naam van die album was Skadu’s teen die muur en dis vir verskeie toekennings benoem, soos vir die Afrikaanse Langspeler van die Jaar. Sy liedjie “Kinders van die wind” is ook vir Liedjie van die Jaar benoem en het uiteindelik die toekenning as beste Liedjie van die Jaar by die Springbokradio-Sarie-toekennings gewen.

Sy tweede album, As almal ver is, het twee jaar later verskyn. Sy derde album, Herbergier, het in 1981 gevolg en is vir Afrikaanse Langspeler van die Jaar tydens die Springbokradio-Sarie-toekennings benoem. Daar het ook in 1981 twee bundels van Koos se lirieke verskyn. Du Plessis het op 9 Augustus 1983 ’n oorkonde van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) ontvang vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans. In 1985 het ’n versameling van sy gedigte Om jou verlaas te groet, saamgestel deur Fanie Olivier, verskyn. Daar het ook tien jaar later ’n tweede versameling gedigte met die titel Skink nog ’n uur in my glas – nagelate verse gevolg.

Koos du Plessis het op 15 Januarie 1984 verongeluk. Hy was op pad na sy vriend en musiekregisseur, Nick Taylor, wat besig was om sy vierde album, Die vierde horison, op te neem. Hy het in sy Volkswagen Kewer na Taylor gery, maar was in ’n motorongeluk in Knoppieslaagte, naby Centurion. Hy het 38-jarige ouderdom gesterf. Die album is in 1995 onvoltooid uitgereik. 1

Woordbank

album ’n Versameling liedjies.
bundels ’n Versameling van verhale of gedigte, in die geval lirieke (woorde van liedjies).
dokumentêre rolprent   ’n Rolprent wat gaan oor mense/onderwerpe en feitelik aangebied word.
feitelik Werklike storie word vertaal. Dit bestaan dus uit feite.
fenomenale Merkwaardig/buitengewoon goed.
goue plate Goue plate is uitgereik op grond van verkope van albums. Die getal van verkope het deur die jare gewissel, maar in daardie stadium het Du Plessis meer as 25 000 albums verkoop.
honneursgraad Dis ’n akademiese graad wat ’n mens ná ’n baccalaureus-graad kan doen.
huldeblyk ’n Eerbetoon.
hupstoot gekry Ekstra krag, aanmoedig, aanspoor.
joernalis Iemand wat artikels skryf.
kassetopname Musiek wat op ’n kasset geplaas is en waarna mense kan luister. Kassette was klein, plat plastiekkissies met ’n magnetiese band waarop klank opgeneem is.
kollig Wanneer iemand baie aandag kry as hy of sy bekend is, soos sangers of akteurs.
lirieke ʼn Liedjie se woorde.
noodgedwonge Gedwing word om iets te doen.
oorkonde ’n Eerbewys.
regisseur Iemand wat akteurs afrig.
revolusie ’n Omwenteling.
solussewe ’n Grammofoonplaat met 4 minute speeltyd aan elke kant.
temaliedjie ’n Lied wat gespeel word as ’n fliek/program begin (en eindig).
treffersparade ’n Lys van die gewildste liedjies (meeste verkoop) op ’n spesifieke tydstip.

Lees die volgende artikels om meer oor Koos du Plessis te leer

Kyk na hierdie video’s oor Koos Doep

Luister na sy bekende “Kinders van die wind”

Luister na Du Plessis se “Gebed”

Kom saam na ʼn liedjieaand by Margaretastraat 28 met Koos Doep en ander

Koos Doep

Foto: iStock
Gepubliseer op: 15 September 2023 | Bygewerk op 4 Desember 2023