Vinnige feite

Nellmapiusbrug
  • Nellmapius was die eerste persoon wat ’n huis van klei op die delwerye in Pelgrimsrus gebou het – die ander mense het almal in tente gewoon. 3
  • Op een van sy kleims is ’n groot goudklont gevind wat hy Voortrekker genoem het. 2
  • In 1874 is Nellmapius as die Portugese visekonsul op die goudvelde van Oos-Transvaal aangestel. Daar was so ’n verteenwoordiger nodig omdat daar gereelde skakeling tussen die ZAR en die Portugese bevolking in Delagoabaai was. 3
  • Toe sy sake-bedrywighede in Pelgrimsrus nie suksesvol was nie en hy al sy geld verloor het, het hy te voet van daar af na Lydenburg geloop. 2
  • Sy seun Albert Hugo is in 1902 in ’n Britse konsentrasiekamp by Balmoral tussen Pretoria en Middelburg aangehou. 7
  • Ná Nellmapius se dood, is die Irene-landgoed in 1895 deur Johannes Albertus van der Byl gekoop, wat vanaf Bredasdorp daarheen verhuis het. 5
  • Die huidige eienaars van Irene Farm is steeds die Van der Byls, die vyfde geslag van dieselfde familie nadat hulle die plaas ná Nellmapius se dood gekoop het. 4
  • Daar is ’n laerskool met die naam Nellmapius Primary School net buite Pretoria. 8
  • Daar is ook ’n straat met die naam Nellmapius wat deur die woongebied Irene loop – die straat is net meer as 2 km lank.
  • Daar is ’n Nellmapiusbrug oor die R21-snelweg buite Pretoria. 9
  • Helga Kaye het in 1978 ’n boek oor Nellmapius gepubliseer met die titel The Tycoon & The President: The Life And Times of Alois Hugo Nellmapius, 1847-1893. 10
Foto: iStock

Soms gebeur dit dat iemand uit sy geboorteland verhuis en in ’n heeltemal ander deel van die wêreld sy merk gaan maak. Dit is wat Nellmapius gedoen het toe hy Suid-Afrika as sy nuwe vaderland aanvaar het en sy talente en vaardighede as sakeman hier by ons kom gebruik het. Dat hy diep spore getrap het, kan duidelik gesien word in sy naam wat steeds voortleef waar hy gewoon en gewerk het – veral in Pretoria en in Oos-Transvaal (vandag Mpumalanga).

Sy vroeë lewe

Alois Hugo Nellmapius is op 5 Mei 1847 in Boedapest, Hongarye gebore. Van sy jong jare en sy gesin is daar nie veel inligting aan ons bekend nie. 1 Dit is wel bekend dat sy pa ’n ingenieur met ’n klein sake-onderneming in Budapest was en dat sy ma Duitssprekend was. 2

Ons weet ook dat hy vir ’n deel van sy jeug in Wene, Oostenryk was en dat hy opleiding as siviele ingenieur in Nederland gekry het. Hy het daarna in verskillende lande in Europa gewerk. Vroeg in die sewentigerjare het hy in Nederland gewoon. 3

Suid-Afrika word sy nuwe vaderland

In 1873 het Nellmapius per skip na Suid-Afrika gekom. Mense wonder nogal waarom hy besluit het om juis na Suid-Afrika te verhuis, maar dit word aanvaar dat hy nuus gekry het oor die ontdekking van minerale in Suid-Afrika en dat dít die rede was wat hom hierheen gelok het.

Op die seereis het hy ’n kajuit met John X. Merriman gedeel, wat later eerste minister van die Kaapkolonie sou word. Merriman het later gesê dat Nellmapius ’n aangename persoon was wat maklik vriende gemaak het op die skip en dat hy ook tydens die reis geleer het om Engels te praat. Ons moet onthou dat hy van Hongarye gekom het en in daardie jare was Engels nog nie die wêreldtaal wat dit vandag is nie. Mense kon nie toe, soos vandag, amper almal ’n bietjie Engels praat en verstaan nie.

John X. Merriman

Die skip het tot in Kaapstad gevaar en van daar af het Nellmapius eers na die diamantvelde in Kimberley gegaan. [Lees meer hier oor die ontdekking van diamante.] Hy het gou besluit om ook na die goudvelde in die Oos-Transvaal (vandag Mpumalanga) te gaan.

In Pelgrimsrus het hy as terminusbestuurder van die Transvaal Goldfields Extension Transport Company gewerk. Hierdie werk het waarskynlik daartoe gelei dat hy planne begin maak het om ’n soortgelyke roete tussen Pelgrimsrus en Delagoabaai/Lourenço Marques (vandag Maputo) te begin. 3

Hy het baie vertroue in sy nuwe vaderland gehad en het geglo dat hy goed hier sou kon leef. Nadat hy in Suid-Afrika aangekom het, het hy nooit weer Europa toe gegaan nie, nie eens net vir ’n besoek nie. Terwyl hy op die goudvelde gewerk het, het hy ’n brief aan president Burgers geskryf en daarin gesê dat hy trots is om Suid-Afrika nou sy tuiste te noem. 3

Diamantmark op delwerye

Vervoerkontrakteur en padbouer

In 1875 het hy ’n vervoerdiens tussen die destydse Delagoabaai en Pelgrimsrus in die binneland van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) begin. Hy het vir hierdie roete pakdiere en ook mense as draers gebruik. 4

In hierdie tyd was hy ook betrokke by die uitlê en ontwikkeling van die Nellmapiuspad (vandag bekend as die Jock of the Bushveld Road). Hierdie pad loop vanaf die destydse Oos-Transvaal na Lourenço Marques, met ander woorde vanaf Lydenburg tot Maputo. Vir hierdie werk het hy vier plase in Oos-Transvaal as betaling ontvang. Hy het ook plase langs die Hennopsrivier naby Pretoria gekoop. 1

Sakeman van Pretoria

In 1881 het hy op die plaas Hatherley gewoon, wat so 19 km oos van Pretoria was. 1

Nadat hy in Pretoria kom bly het, het hy en president Kruger groot vriende geword en hy was welkom om die president se huis enige tyd van die dag of nag te besoek. 3

Omdat Nellmapius ’n ingenieur was, het hy besef dat dit vir die land nodig was om industrieë te hê. Van sy planne was om produkte soos suiker, meel, alkohol, sigare, asyn en stysel te vervaardig. Hy wou ook leer vervaardig en sement begin maak.

In 1881 het hy ’n konsessie van president Kruger en die uitvoerende raad gekry om plofstof en ammunisie te vervaardig. Hy het hierdie konsessie aan ’n Londen-Amsterdamse maatskappy verkoop en hy is as die besturende direkteur daarvan aangestel. Met hierdie maatskappy se finansies het dit egter nie altyd goed gegaan nie.

Paul Kruger

Aan die begin van die 1880’s het hy ’n konsessie gekry om alkohol te vervaardig. Hierdie konsessie het hy aan Sammy Marks verkoop. Marks was ook ’n baie bekende sakeman wat in daardie jare in Pretoria gewoon het. Nellmapius het jenewer gemaak wat Mapius genoem is.

Hy het ook ’n konsessie gekry om staal te produseer. Hy was verder betrokke by die bou van koetse, hy het sement van kalkklip laat maak en het ook diamante by Koffiefontein gedelf. 3

In Desember 1881 het hy met die regering ’n ooreenkoms aangegaan om ’n kruitfabriek op te rig. In 1882 het hy met die regering nog ’n ooreenkoms aangegaan, om fabrieke en smeltoonde te bou waar ystererts gesmelt kon word en waar verskillende soorte yster vervaardig kon word.

Nellmapius trou en woeker steeds voort

Ook in 1882, is hy met Johanna Corlydia Hoffmann getroud. Haar ouers was Duits en haar pa was ’n sakeman van Durban.

Sy sakeplanne het nog nie opgedroog nie. In 1883 het hy selfs sy hand aan mynbou geslaan toe hy mineraleregte by Lydenburg (vandag Mashishing) gekoop het. In dieselfde jaar het hy direkteur van De Eerste Fabrieken geword, waar daar onder meer ʼn glasblasery en ’n kuipery was. Hierdie fabriek was ongeveer 18 km oos van Pretoria en is deur president Kruger geopen. Die president het met die opening gesê dat die naam van toe af Volkshoop sou wees. 1

Nellmapius het teen ongeveer 1890 ’n gedeelte van die plaas Doornkloof by Daniël en Stephanus Erasmus gekoop. 5 Hy wou die plaas ’n nuwe naam gee en het besluit om dit na sy dogtertjie Irene Violet Nellmapius te vernoem, wat in 1887 gebore is. 1 Die woonbuurt wat uit die plaas ontwikkel is, word vandag nog Irene genoem.

Irene is in 1910 met Hendrik Jacobus Smit getroud, wat ’n aandelemakelaar van Johannesburg was. Nadat haar man afgetree het, het hulle op die plaas Moorddrift naby Potgietersrus gaan woon. Hulle het hier gewoon totdat Irene op 30 Januarie 1961 in ’n motorongeluk betrokke was en oorlede is. 6

Die spogplaas Irene

Toe hy die plaas gekoop het, is die plaas hoofsaaklik vir veeboerdery gebruik. Die plek waar die Irene Country Club en die hoofkantoor van die Volle Evangelie Kerk van God vandag is, was toe deel van die plaas. 2

Nellmapius se plaas Irene is as ’n modelplaas beskou. Omdat hy lief was vir die wildlewe, het hy buiten plaasdiere ook verskillende soorte wildsbokke hier aangehou. 1Hy het ook 70 frieskoeie ingevoer om sy kudde mee te begin. 4

Die huis op die plaas is deur die argitek De Zwaan ontwerp. Daar is ook groot en netjiese stalle asook ’n melkstal gebou.

Nellmapius het kenners gebruik om sy plaas te ontwikkel. Die veearts wie se dienste hy op die plaas gebruik het, was dr. Arnold Theiler. Hy was ’n bekende veearts wat beroemd geword het vir sy navorsing oor die veesiekte runderpes, asook sy werk om die Onderstepoort Navorsingsinstituut en Opleidingskollege tot stand te bring.

Kaart van die Irene-plaas

Sy eerste tuinboukundige was Richard Wills Adlam, wat in 1889 die kurator van die botaniese tuin in Pietermaritzburg was. Ná Adlam vertrek het, was die Duitser J. Fuchs die tuinboukundige asook die plaasbestuurder. 3

Daar was ’n groot klomp mense wat op die plaas gewerk het. Onder hulle was twee skrynwerkers, ’n hoefsmid, verwer, winkelier, slagter, koetsier en iemand wat botter gemaak het. 2

In 1892 het ’n joernalis van die Londense koerant The Times die plaas besoek. Flora Shaw het vertel hoe alles wat op die plaas groei haar beïndruk het. Sy het vertel van grondbone, hawer, groente soos wortels en aartappels, mielies, koring, vrugte soos kwepers, pere, appels, pruime, waatlemoene, druiwe en pere, asook groot stukke grond waarop rose, viooltjies en ander blomme geplant is. 2

Gedurende 1893 het Nellmapius in sy eie daaglikse koerant – The Press – advertensies geplaas oor al die vrugte en groente wat die plaas te koop het. Hy het ook tuisgemaakte botter, vars room, spek, ham en wors geadverteer. 2

Vandag word daar steeds melkkoeie en talle ander plaasdiere op die plaas aangehou en hierdie plaasatmosfeer maak dit ’n gewilde kuierplek vir mense van Pretoria. 5

Onsuksesvolle pogings

Nellmapius het vir ongeveer 20 jaar in Transvaal (vandag Mpumalanga en Gauteng) gewoon en in daardie tyd het hy sommer ’n hele paar projekte aangepak. Hy het nie met alles sukses gehad nie, maar het aanhou probeer. Sy besigheid op die goudvelde het bankrot gespeel en hy het daarna ’n tender gekry om 30 000 bale gras vir die Britse soldate se perde en vee in Lydenburg te kry. Hieruit het hy genoeg geld gemaak om weer aan die gang te kom.

Al het hy soveel besighede begin, kon hy nooit goed met geld werk nie en het vir baie mense geld geskuld, onder andere vir Sammy Marks. Nellmapius het die meeste van die tyd al sy geld gebruik vir nuwe idees en om nuwe projekte mee te begin. 3

Met een van sy ondernemings, die kruitfabriek, is hy beskuldig dat hy geld verduister het en is in hegtenis geneem. President Kruger het ingegryp en hom laat vryspreek. Hy is daarna weer in hegtenis geneem en toe wel deur die hof vrygespreek. 1

Almal se vriend

Nellmapius was baie gasvry en toe hy nog op die goudvelde in Oos-Transvaal was, was almal welkom om na sy huis te gaan. Almal daar het hom ook geken. 3

Later, toe hy op Irene in Pretoria gewoon het, het hy net so dikwels mense onthaal. Daar was ook bekende en belangrike mense wat gereeld gaste by sy huis was. Een van hierdie bekende mense was president Paul Kruger. Hy was wyd bekend vir die swierige onthale wat hy aangebied het. 5

Nellmapius se lewe eindig

In Julie 1893 het hy ernstig siek geword van ’n veluitslag op sy kop. Hy het ook ’n ernstige verkoue gekry wat net al hoe erger geword het. Hy is deur dokters van Pretoria en Johannesburg behandel, maar is op 28 Julie oorlede toe hy net 46 jaar oud was. 2

Daar was ongeveer 100 koetse in die begrafnisstoet en tussen 1 500 en 2 000 mense het die begrafnis bygewoon, onder hulle President Kruger en ander belangrike politici. Sy vrou is op 22 Oktober 1938 oorlede en is in dieselfde graf as haar man begrawe. 3

Met sy dood het hy 14 plase besit. Een daarvan was die plaas Pretoriuskop, wat vandag deel van die Nasionale Krugerwildtuin is.

Geskiedenisskrywers stem saam dat hy ’n groot invloed op die landboubedryf gehad het en ook op die algemene vooruitgang in die ZAR. 1

Naby Pretoriuskop

Woordbank

aandelemakelaar Persoon wat aandele koop en verkoop om daarmee wins te maak.
bankrot gespeel Hy was nie in staat om sy geldelike verpligtings na te kom of sy skuld te betaal nie.
diamantvelde Die plek waar mense na diamante soek.
delwerye Oop diamant- of goudmyne.
glasblasery Glasfabriek.
goudvelde Waar goudmyne en mense na goud soek.
hoefsmid Persoon wat vir perde nuwe hoefysters aansit om hulle hoewe te beskerm.
koetsier Persoon wat ’n koets bestuur.
industrieë Besighede of fabrieke waar voorwerpe vervaardig word.
kajuit Slaapvertrek op ʼn skip.
kalkklip Rots wat bestaan uit ’n mengsel van verskillende minerale.
kleims Afgepende stuk grond van ‘n bepaalde grootte waarin na minerale of edelgesteentes gedelf word.
konsessie Toestemming of lisensie om ’n besigheid te begin of iets te vervaardig.
konsul Verteenwoordiger van een land of volk in ‘n ander land.
kruitfabriek Fabriek waar plofstof (kruit/buskruit) – wat mense vroeër jare gebruik het om hul gewere mee te laai – vervaardig word. Dit was voordat daar gewone patrone was soos ons dit vandag ken. 11
kudde ’n Trop beeste of skape wat ’n boer bymekaarmaak om daarmee te boer.
kuipery Plek waar vate gemaak word.
kurator Bestuurder/toesighouer van versameling geskiedkundige voorwerpe / kunswerke, ens.
melkstal Die plek waar koeie gemelk word.
modelplaas Plaas wat goed ontwikkel is en ’n voorbeeld is vir ander plaaseienaars.
pakdiere Diere wat gebruik word om vrag van een plek na ’n ander te neem deur dit op hulle rûe te vervoer.
runderpes Pes (aansteeklike siekte) onder vee.
siviele ingenieur Persoon wat onder andere paaie, tonnels, damme, geboue en lughawens     ontwerp en bou.
skrynwerkers Persoon wat met hout werk en onder andere meubels maak.
smeltoonde Oonde in ’n smedery/fabriek wat ingerig is om glas/metale in te smelt.
stalle Geboue waarin plaasdiere gehou word.
swierige Baie deftige funksie.
sy hand aan mynbou geslaan Hy het met mynbou begin.
tender Skriftelike aansoek doen om ’n werk te onderneem teen ’n voorgestelde bedrag.
terminusbestuurder Die bestuurder van ’n plek (terminus) waar ’n treinroete of busroete eindig en van waar treine en busse weer vertrek.
veearts Dokter wat opgelei is om siek diere te behandel.
woeker Om met energie te werk en nuwe dinge te probeer.

Lees hier meer

Kyk hier

So lyk die Irene-plaas vandag

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 November 2023 | Bygewerk op 16 April 2024