Vinnige feite

  • ʼn Leeu se gebrul kan agt kilometer ver gehoor word. 13
  • ʼn Wyfieleeu benodig 5 kg vleis per dag. ʼn Mannetjie het ten minste 7 kg vleis nodig om te oorleef. 13 Hulle kan egter tot 40 kg in een ete verorber! 14
  • Leeumannetjies weeg gemiddeld sowat 190 kg en wyfies sowat 126 kg. Hulle het hierdie gewig en krag nodig om groot diere te kan jag en hul trop te kan beskerm. 14
  • Tussen 85% en 90% van die jagwerk word deur die wyfie gedoen. Die mannetjie se werk is om die trop te beskerm en die gebied te patrolleer. 13
  • ʼn Leeu kan teen 81 km/h hardloop – dit is meer as twee keer so vinnig as die vinnigste mens op aarde. 13
  • Leeumannetjies se maanhare is soos hul kroon. Dit word donkerder soos hulle ouer word, en wyfies dink ʼn mannetjie met swart maanhare is baie aantreklik! 15
  • Joyce Little was die eerste mens wat kon bevestig dat sy in 1938 ʼn wit leeu gesien het. Sy het die leeu by Timbavati naby die Nasionale Krugerwildtuin opgemerk. Voor hierdie voorval het wit leeus net in stories voorgekom. 16
  • Die naam vir ʼn leeu in Swahili, ʼn Afrikataal, is “simba”. 17
  • The Lion King was een van Disney se gewildste films ooit. Disney het sowat $1 miljard se Simba-teddiebere en ander artikels met die fliek se handelsmerk daarop verkoop. 18
  • Suid-Afrika doen ook uitstekende natuurbewaring. Die Krugerwildtuin is groter as die land Israel. 19 Ons land spog ook met ʼn paar uitsonderlike diere: Die olifant is die grootste soogdier op land; die volstruis is die grootste voël; die walvishaai die grootste vis; die kameelperd die langste dier en die jagluiperd die vinnigste. 20
  • Kaktusse, eikebome, seegras en kameelperde en papegaaie is van die minder bekende plante en diere wat moontlik kan uitsterf as daar nie stappe gedoen word om hulle te red nie. 21

Baie van die oulike leeutjies wat ’n mens in parke aantref waar jy aan hulle kan vat en met hulle kan speel, het ongelukkig glad nie ʼn lekker en gelukkige lewe nie. Daar is ʼn groot groep van dié welpies wat grootgemaak word net sodat hulle eendag gejag (geskiet) kan word. Dit is miskien ʼn sport vir sommige jagters, maar “geblikte leeujag”, soos dit genoem word, is bitter onregverdig, want die leeu het geen kans om te oorleef nie.

Hoewel hierdie manier van jag al vir baie jare – onder meer in ʼn paar Afrikalande en die Verenigde State van Amerika (VSA) – toegelaat word, het dit die wrede dood van Cecil, ʼn leeu van Zimbabwe, gekos om die wêreld en Suid-Afrikaners bewus te maak van wat reg onder ons neuse gebeur. Tot “geblikte leeujag” nie amptelik onwettig word nie, kan klein én groot hul stemme gebruik om hierdie praktyk stop te sit, want die grootste tragedie gaan wees wanneer die koning van die oerwoud se brul stil word omdat ons nie iets daaraan gedoen of iets daaroor gesê het nie!

Cecil

Cecil was ʼn leeu wat hoofsaaklik in die Hwange-wildtuin in Matabeleland, Zimbabwe, gewoon het. Hy was ʼn bekende onder toeriste en is jare lank daagliks deur ʼn span navorsers van die Universiteit van Oxford gemonitor as deel van ʼn studie. 1

Walter Palmer, ʼn tandarts van die VSA, het die aand van 1 Julie 2015 met ʼn pyl-en-boog na Cecil geskiet. Hy het Cecil gewond, maar die leeu was nie dood nie. ʼn Span het die leeu se spoor gevolg en hom die volgende oggend, sowat 12 uur later, uiteindelik doodgeskiet. Cecil was 13 jaar oud. Palmer het ʼn permit gehad en is nie van enige misdaad aangekla nie. 1 Hy het glo sowat £35 000 (nagenoeg R600 000) betaal om die geliefde leeu te skiet. 2

Cecil het egter ʼn naam en ʼn gesig (met maanhare!) gegee vir die skerp daling in die getalle van wilde leeus en wêreldwyd die kollig op trofeejag en geblikte jag geplaas. Meer as 1 miljoen mense het ʼn petisie onderteken om “geregtigheid vir Cecil” te kry.

Lewe in aanhouding

ʼn Geblikte leeu (canned lion in Engels) leef sy of haar hele lewe in aanhouding waar hulle deur mense gevoer word en nie vry in die natuur kan leef nie. Die welpies (babaleeus), wat gewoonlik op ʼn leeuplaas gebore word, word drie weke ná hul geboorte van hul ma weggeneem en aan plekke verkoop waar toeriste aan hulle kan vat en met hulle kan speel. Die leeuwyfie moet dan so gou moontlik weer geboorte skenk sodat die volgende groep welpies verkoop kan word! 3

Wanneer die welpies ouer is, word hulle verkoop om mense op staptogte in die natuur te begelei. Met só ’n staptog loop die leeu voor en die toeriste volg die mannetjie of wyfie. Vir die laaste deel van ʼn geblikte leeu se lewe, wanneer hy nie meer mooi of oulik genoeg is om besoekers te lok nie, word hy of sy verkoop om as prooi tydens geblikte jag te dien. 3

Onregverdige jag

Wanneer diere doodgemaak word, soos wanneer skape of beeste geslag word, word hul vleis as kos gebruik. ’n Mens sou dus kon sê daar is ʼn rede waarom hulle doodgemaak word. Tydens trofeejag word diere nie vir hul vleis gejag nie, maar as ʼn sport sodat die jagter later met ʼn vel, horings of opgestopte dele van die dier kan spog, met ander woorde ’n trofee. Trofeejag verskil van biltongjag. In laasgenoemde geval word die dier se vleis verwerk in biltong, droëwors en ander vleissnitte – iets waarvoor Suid-Afrikaners baie bekend en lief voor is. 4

Geblikte jag is op sy beurt ʼn vorm van trofeejag, maar dit is baie onregverdig, omdat die dier nie ʼn kans het om te ontsnap of weg te kom van die jagter nie (soos wanneer ʼn bok byvoorbeeld in die veld gejag word nie). Diere wat tydens geblikte jag doodgemaak word, word dikwels in gevangeskap gebore en is óf baie gewoond aan mense óf baie mak. Hulle sal mense dus nie – soos wilde diere in die natuur – as ʼn bedreiging sien en vlug nie. Boonop vind die jag plaas in ʼn omheinde area – groter as ʼn hok in die dieretuin, maar klein genoeg dat die diere maklik opgespoor, in ’n hoek gedryf en geskiet kan word. Jagters betaal baie geld om diere só te kan “jag”. 5 In wrede gevalle word die dier verdoof en dan met kos nader aan die jagter gelok sodat die jagter hom makliker kan skiet. 4

Bere, leeus, luiperds en meer

Hoewel geblikte jag in Suid-Afrika wêreldwyd bekend is, word dit ook in sekere Afrikalande en sommige state in die VSA toegelaat. In Suid-Afrika is dit meestal leeus wat op hierdie manier gejag word, maar luiperds en jagluiperds loop ook onder die jagters deur. Dikwels word diere spesiaal geteel om sekere vreemde of mooi eienskappe te hê. Jagters wat wit leeus of mannetjies met massiewe maanhare wil jag, moet dikwels meer opdok (betaal) om daardie dier te jag. 6

In die VSA is daar tans sowat 1 000 jagplase in meer as 24 state, waarvan 500 van dié jagplase in die staat Texas geleë is. Hierdie “plase” gee jagters die kans om diere dood te maak – met gewere, pistole of ʼn pyl-en-boog. Diere wat op hierdie manier in die VSA doodgemaak mag word, is onder meer bokke, bere, bisons (die Amerikaanse buffel) en Amerikaanse elande. In die VSA kan ʼn verskeidenheid voëls ook gejag word, soos eende, duiwe, kwartels en fisante. Hulle word in hokke aangehou en word eers vrygelaat net voor daar op hulle geskiet word. Jagters in die VSA kan ook kies om op diere soos kameelperde, volstruise, wildebeeste en sebras jag te maak. 6

Geblikte leeujag in Suid-Afrika

In Suid-Afrika, waar geblikte jag tans nog wettig is, is daar tussen 200 en 300 plekke waar leeus in gevangeskap gebore word om te verseker dat daar genoeg leeus is om aan hierdie bedryf se behoeftes (of die aanvraag daarna) te voorsien. Die meeste van hierdie plekke is in die Vrystaat, Noordwes en Limpopo geleë. 7 Ongeveer 800 leeus wat in aanhouding grootgeword het, word jaarliks deur trofeejagters doodgemaak. Dit beteken dat daar elke dag ten minste twee leeus in Suid-Afrika tydens ’n geblikte jagtog sterf. 8

Geblikte jag word meestal deur ryk toeriste van oorsese lande ondersteun. Dit is mense met geld wat bereid is om tot €45 000 (bykans R1 miljoen) te betaal om byvoorbeeld ʼn leeumannetjie met besonder groot en donker maanhare te kan skiet. 7

Verskeie jagplase wat geblikte jag aanbied, het boonop ʼn beleid dat jy nie enigiets hoef te betaal tensy jy ʼn dier doodmaak nie. Dit is dus vir dié plase belangrik dat dit so maklik as moontlik vir die jagter moet wees om ʼn dier dood te maak. 6

Tussen 2008 en 2018 het Suid-Afrika gemiddeld 1 000 leeujagtrofees (soos die vel of opgestopte dele van die dier) uitgevoer, hoofsaaklik van leeus wat in gevangeskap grootgeword het. Lande waarna die meeste trofees uitgevoer is, was die VSA, Spanje, Rusland, Kanada en China. 7

Buiten velle en opgestopte liggaamsdele, is dit op die oomblik nog toelaatbaar om leeukarkasse na Asië uit te voer waar dit gebruik word om tradisionele medisyne te maak. Suid-Afrika beperk die uitvoer van leeukarkasse tans tot 800 per jaar.

Dit plaas egter druk op lewendige en bedreigde leeus, omdat dit kan lei tot ʼn groter aanvraag na leeuprodukte. Dit kan ook ʼn negatiewe impak op wilde leeussoos wat gesien kan word in al hoe meer wilde leeus wat vir hul liggaamsdele gestroop word. 7

Hoewel daar nog nie ʼn wet aanvaar is om hierdie gebruike stop te sit nie, het die regering opgehou om lisensies uit te reik vir die teel, aanhou, jag of interaksie (met hulle speel of aan hulle vat) met leeus. Benewens die kritiek van oor die wêreld heen het navorsers ook bevind dat leeus in aanhouding ander mense en diere baie siek kan maak. 9

Mites oor geblikte leeujag

Daar is baie mites en verkeerde inligting oor leeus, leeubewaring en die rol van vrywilligers. Vrywilligers vind gereeld uit dat hulle eintlik vir ʼn teler werk, en nie vir ʼn bewaringsorganisasie nie.

Mite 1: Om met welpies te speel, is goed vir natuurbewaring

Hier is net ʼn paar redes waarom dit nie goed is vir ’n welpie om twee of drie weke ná geboorte van sy of haar ma weggevat te word nie:

  • die wyfie se melk is voedsaam en die welpie het dit nodig om ordentlik te groei;
  • welpies het die aandag van hul ma nodig;
  • welpies leer nooit hoe om te jag om in die natuur om te oorleef nie;
  • welpies raak angstig wanneer mense aan hulle vat; en
  • hulle het nie enige vryheid nie. 10

Mite 2: Staptogte met leeus is goed vir natuurbewaring

Jong leeus word gewoonlik vir hierdie uitstappies gebruik. Dit is heeltemal onnatuurlik vir ʼn leeu om saam met mense te loop en maak hom of haar uiters gespanne. Hulle raak gewoond aan mense en besef nie die bedreiging (gevaar) nie. ʼn Leeu wat gedwing word om aan hierdie uitstappies deel te neem, kry ook nie kans om enige oorlewingsvaardighede aan te leer nie. 10

Mite 3: Geblikte leeujag is ʼn sport

Een van die voorvereistes van ʼn sport is dat dit regverdig moet wees, dat al die deelnemers ʼn gelyke kans het om te wen. ʼn Mak leeu in ʼn omheinde kamp wat deur ʼn jagter met ʼn kragtige en dodelike wapen gejaag word, is beslis nie regverdig nie. 10

Mite 4: Leeus kan nie uitsterf nie

Soos enige ander dier, kan leeus uitsterf indien hul getalle nie beheer word nie. 9 In Suid-Afrika is daar na raming net 2 300 leeus in die natuur oor en ongeveer 15 000 in Afrika. Wetenskaplikes voorspel dat daar teen 2050 nie meer ʼn enkele wilde leeu sal oor wees indien dringende stappe nie nou gedoen word nie. 11

Mite 5: Leeus wat in aanhouding geleef het, kan maklik terugkeer na die natuur

Nadat ʼn dier sy lewe lank gevoer is en nooit geleer het hoe om self kos te soek of daarvoor te jag nie, is die kanse bitter skraal dat hy in die natuur sal kan oorleef as hy vrygelaat sou word. Want wie gaan hom leer jag? Waar is genoeg plek of kos om duisende leeus te voer?

Wanneer ʼn mak leeu twee of drie jaar oud is, moet hy gevoer word en ruimte hê om vrylik te kan rondhardloop. Daar is ongelukkig nie genoeg reservate waar hierdie leeus beskerm kan word nie. 10

Mite 6: Ek kan niks doen om geblikte leeujag te stop nie

Geblikte leeujag is ʼn groot probleem, maar elke mens het ʼn stem en deur te sê wat jy van geblikte jag dink, kan jy ʼn verskil maak. 10

Die verskil tussen trofeejag en geblikte jag

Die Cook Report, ʼn Britse dokumentêre reeks, het in 1997 ʼn program uitgesaai met besonderhede oor leeus in Suid-Afrika wat in aanhouding geteel word. Dié program het vir die eerste keer die term “geblikte leeujag” gebruik om te verwys na groot katte wat in aanhouding grootgemaak word, hul vrees vir mense verloor het, in kampe op privaat jagplase aangehou word waar hulle nie kan ontsnap nie, en dan gejag word. 7

Leeutelers en aktiviste vir dierebeskerming stem saam dat “geblikte jag” die jag van diere is wat bedwelm of verdoof is, diere wat baie mak is, of diere wat met kos na die gebied gelok word waar hy geskiet gaan word.

Organisasies stem ook ooreen dat daar bepaalde riglyne moet wees, soos die grootte van die kamp (waar 1 000 hektaar die kleinste gebied is om ʼn leeu te mag jag) en dat daar ook ʼn vasgestelde periode moet wees waar die leeu in die jaggebied aan sy eie lot oorgelaat word. Organisasies stem egter nie saam oor dié tydperk nie: tans word dit per provinsie in Suid-Afrika bepaal en strek van vier dae in Noordwes tot 90 dae in die Vrystaat. 12

Woordbank

aanvraag Vraag; versoek (veral om te koop).
aktiviste Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering teweeg te bring.
bedryf Saak; onderneming.
bewaring Beskerming; behoud.
dokumentêre ʼn Rolprent of TV-/radioprogram wat uitvoerige besonderhede/inligting oor ʼn bepaalde onderwerp verskaf.
ekosisteem Al die diere en plante in ʼn bepaalde gebied en hul verhouding met mekaar en hul omgewing.
geregtigheid Hoedanigheid wat ʼn mens in staat stel om reg aan ʼn ander te laat geskied; billikheid; regverdigheid.
gevangeskap Toestand van gevange of ʼn gevangene te wees.
gewere Draagbare vuurwapen wat met albei hande vasgehou word terwyl dit van die skouer afgevuur word.
handelsmerk ʼn Spesiale teken wat ʼn vervaardiger vir/op sy/haar produkte gebruik om dit van ander te onderskei.
karkasse Die liggaam van ʼn dooie dier.
kritiek Beoordeling van die waarde/gedrag van iets/iemand, veral deur te sê wat jy dink minder goed is.
kollig Om in die nuus te wees; iets/iemand wat aandag trek of die middelpunt van belangstelling is.
lisensies Verlof (en die bewys daarvan in ʼn dokument) om iets te doen, byvoorbeeld ʼn motor te bestuur, handel te dryf, te jag/delf/ens.
minister ʼn Politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering.
mites ʼn Storie wat baie mense glo, maar nie waar is nie.
natuur Alles in die wêreld wat nie deur die mens gemaak is of deur die mens beheer word nie, soos plante en diere, berge, die see, ens.
natuurbewaring Alles wat in werking gestel word om die natuur in sy ongerepte toestand te hou.
permit Amptelike dokument wat iets toelaat; verlofbrief; pas; vergunning.
pistole ʼn Klein vuurwapen wat jy met een hand kan gebruik.
praktyk ʼn Manier van optree; ʼn bepaalde tipe gedrag.
prooi ʼn Dier/voël wat deur ʼn wilde dier gevang en geëet word; slagoffer.
regering Die groep mense in beheer van ʼn land.
gestroop Wild jag sonder verlof van die eienaar.
geteel Diere bymekaarbring om kleintjies te kry.
toeriste Iemand wat vir plesier reis of ʼn plek besoek.
trofeejag Jag van wilde diere vir plesier, en sodat die jagter agterna kan spog met ’n trofee in die vorm van foto’s van ʼn suksesvolle jagtog en die velle/horings van en/of die opgestopte diere self.
verdoof Die handeling van gevoelloos maak met behulp van medikasie.
wet ʼn Reël of die stelsel van reëls wat mense in ʼn bepaalde land/gebied moet gehoorsaam. 22

Lees hier meer oor leeus en die natuur

Kyk hierdie om meer te leer oor die koning van die oerwoud

Blood Lions is ’n Showmax-dokumentêr wat oor geblikte leeujag in Suid-Afrika handel. Hier is die lokprent:

ʼn Dokumentêre program oor Cecil die leeu:

Tien interessante feite oor leeus:

Watter groot kat se grom klink die gevaarlikste?

Hierdie leeumannetjie speel bietjie rof met sy kroos (welpies):

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 November 2022 | Bygewerk op 19 Januarie 2024