Vinnige feite

  • Die Sella Descentvaart in die noorde van Spanje is 16,5 km lank en vind sedert 1931 jaarliks plaas.
  • Die Liffey Descentvaart word jaarliks in Ierland gehou. Hierdie resies is ’n uitmergelende 28,2 km lank en vind sedert 1959 plaas.
  • Die lengte van ’n kano kan tot vier meter wees en die gewig van die boot wissel tussen 9 kg en 50 kg.
  • Die Kanadese kano word gebou van hout wat baie dun en lig is.
  • Die kajaks wat vir wildewaterresies en “slalom racing” gebruik word, is korter in lengte en word gemaak van veselglas.
  • Kajaks wat lang afstande moet aflê, word gemaak met diep boë.
Foto: iStock

’n Kano is ’n lang, plat vaartuig met skerp punte voor en agter wat op water gebruik en deur een of twee mense met ’n roeispaan aangedryf en gestuur word. 1 Dit is een van die oudste vorms van watervervoer en kan ewe goed in vlak én diep water vaar. Hoewel die kano vandag nie meer noodsaaklik is vir vervoer soos in die beginjare van sy gebruik nie, is die moderne kano veral gewild vir sport en ontspanning. 2

Die eerste kano

Die kano was die eerste ware boot wat deur mense gebou is en dié unieke watertuig se ontwerp is te danke aan die oorspronklike inwoners van Noord-Amerika wat besef het dat ’n uitgeholde boomstam op water kan dryf. 1

Hierdie primitiewe vorm van ’n kano is gemaak uit ’n houtraamwerk, en later met diervel en boombas oorgetrek (versterk). Die grootte het gewissel van drie tot dertig meter in lengte. Die vorm van die kano het verskillende gedaantes aangeneem, afhangende van waarvoor dit gebruik is. Aanvanklik was daar drie soorte kano’s: boombaskano’s, diervelbote en “dugouts” (’n kano gemaak van ‘n uitgeholde boomstam). Kano’s het geen bedekking gehad nie, en was bekend as “oop bote”. 2

Hierdie bote is gebruik vir basiese vervoer, die vervoer van goedere en soms ook om oorlog te voer. 3 Die naam kano is afkomstig van die woord “kenu”, wat “uitgehol” beteken. 4

Die kano’s wat van boombas gemaak is, is deur Europeërs gebruik om Noord-Amerika toe te vaar. In 1682 het die Franse ontdekkingsreisiger René-Robert Cavelier, Sieur de La Salle met só ’n kano op die St. Lawrencerivier vanaf Montreal tot in die mond van die Mississippirivier in die Golf van Mexiko gereis – ongeveer 4 800 km ver! 2

Frans-Kanadese reisigers, wat bekend was daarvoor dat hulle goedere verskaf het in ruil vir dierpelse (genoem ruilhandel), het in daardie tyd krale, komberse, wapens en alkohol in hul kano’s gelaai en vervoer. Hulle het dit dan na die Noord-Amerikaners geneem, in ruil vir bewer-pelse waarmee hulle onder meer hoede kon maak.

Die kajak

Die kano het later nog ’n nuwe vorm aangeneem – die kajak. Die kajak het waarskynlik sy oorsprong in Groenland gehad waar die Eskimos dit gebruik het. Hierdie bote, soortgelyk aan ’n kano, se bokante is met diervel bedek om die ysige Arktiese water uit die boot te hou. Dit kon gewoonlik slegs een persoon op ’n slag vervoer. Die woord kajak beteken “man-boat” in Eskimo-taal. Dit is hoofsaaklik vir jag en visvang gebruik. 3

Die groot verskil tussen ’n kano en ’n kajak is dus dat die kajak se bokant bedek is, terwyl ’n kano oop is. Die kajak het ’n klein opening waarin een persoon kan sit, terwyl die kano gewoonlik twee of meer persone kan akkommodeer. Die roeispane verskil ook daarin dat ’n kano ’n enkelspaan het, terwyl ’n kajak ’n dubbele roeispaan het. 3

Wanneer twee mense in ’n kano vaar, gebruik albei ’n enkelroeispaan, terwyl die een persoon in ’n kajak ’n dubbele roeispaan gebruik.

Kanovaart as sport

Kanovaart was vir baie jare ’n noodsaaklike manier van vervoer. Soos ander vorms van vervoer ontdek en ontwikkel is, en veral met die uitvinding van groter bote, is kanovaart vir ontspanningsdoeleindes ingespan en het mettertyd tot ’n gewilde sportsoort gegroei.

Vandag geniet baie mense dit om op riviere en damme met ’n kano te vaar en sommige mense kombineer kanovaart met visvang en kampeer. Kanovaart het ook ontwikkel in ’n gewilde sportsoort waarin gevaarlike rivierstrome op mededingende vlak gevaar word. 2

Een van die bekendste bootwedvaarte is die jaarlikse stryd tussen die Oxford- en Cambridge-universiteit. Dit is ’n instelling wat sedert 1856 plaasvind en is slegs gedurende die twee wêreldoorloë nie gehou nie. Cambridge het die wedvaart al 85 keer gewen en Oxford 80 keer.

Só het dié sportsoort begin

’n Onderlinge, spontane wedywering tussen individue wat met kano’s gaan jag en visvang het, is waarskynlik hoe kanovaart in ’n georganiseerde sportsoort ontaard het. In die tweede helfte van die 19de eeu het die eerste plaaslike en nasionale kanovaartkompetisies in Brittanje en Noord-Amerika posgevat – sekere van hierdie kompetisies bestaan vandag steeds.

Gedurende die 1860’s het John MacGregor, ’n Skotse advokaat, sportman, reisiger en filantroop, ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van kanovaart as ’n sport. Hy het kano’s ontwerp wat met seile kon vaar tesame met die roeispane. Hy het in so ’n seilboot gevaar vanaf Europa na die Midde-Ooste en boeke daaroor geskryf.

Daarna, gedurende die 1870’s, het Robert Baden-Powell, stigter van die Boy Scouts, ’n reeks kano’s met seile ontwerp. Sy en MacGregor se kano’s het toe ’n ander rigting van ontwikkeling ingeslaan en nie meer deel van die tradisionele kano’s met roeispane gevorm nie.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is ’n soort kano met ’n dek en seile deur die International Canoe Federation (ICF) erken en in 1970 is die kano met seile in sy eie klas gedeel vir resies. Die kano met seile het toe sy seile gespan in ’n nuwe hoedanigheid: die seiljag wat vir seilvaart gebruik word.

Kanovaart het sy eerste verskyning by die Olimpiese Spele in 1936 gemaak as ’n sport vir mans. In 1948 het vroue ook by die Olimpiese Spele aan dié sport deelgeneem.

Die sport vandag

By die Olimpiese Spele is daar afdelings vir die kajak en die Kanadese kano, waarin pare of individue kan deelneem. Die afstande is 1 000 m en 500 m.

Daar is ook ander internasionale kompetisies vir kanovaart waarin groter afstande van tot 3 km afgelê word, in bewegende water soos rivierstrome. Daar is ook ’n afdeling wat “slalom racing” genoem word waartydens die kanovaart in winderige toestande en/of stroomversnellings deur ’n reeks bakens moet vaar. Die gemiddelde spoed vir hierdie soort resies is ongeveer twee meter per sekonde.

Snelrenne (“sprints”) word ook gehou op gladde water (soos byvoorbeeld ’n dam) met ’n diepte van ten minste drie meter. Wedrenne wat oor afstande tot en met 1 000 m strek, vind gewoonlik in bane plaas, terwyl renne wat oor langer afstande is, in bane eindig. 5

Woordbank

kajak Kano met ‘n klein sitopening vir een persoon, oorspronklik deur die In(n)uïete van robbevelle gemaak.
roeispaan Lang houtspaan met ‘n ronde handvatsel en plat punt, waarmee bote geroei word.
seilvaart Aktiwiteit/sport van te vaar in ‘n boot met seile.
stroomversnellings Die vinniger/sneller stroming van ‘n rivier deurdat die rivierbed vinniger laer word.
wedywering
Probeer/strewe om ‘n ander te oortref; kompeteer.

Lees hierdie om meer te leer

Kyk hierdie video’s oor meer te leer

Die Oxford- en Cambridge-universiteit sê mekaar die stryd aan

Om ‘n kano te bou, is voorwaar ‘n kuns

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Januarie 2022 | Bygewerk op 19 Oktober 2023