Vinnige feite

  • Daar is vier belangrike fases in die Joodse lewe: geboorte, volwassenheid, die huwelik en die dood.
  • Die sinagoge is ’n gebou (byna soos Christelike kerke) waar Jode gaan om God te aanbid. Die woord sinagoge beteken ‘vergaderplek’ in Grieks.
  • Die Sabbat (van sononder op ’n Vrydag tot sononder op ’n Saterdag) is die Joodse heilige dag (soos Christene Sondag as heilige dag gedenk).
  • ʼn Rabbi is ʼn onderwyser van die Joodse geloof (byna soos ʼn pastoor of predikant). Hulle lei aanbidding in die sinagoge, hou begrafnis- of huweliksplegtighede en gee mense raad oor godsdienstige aangeleenthede.
Foto: iStock

Judaïsme is die godsdiens van die Joodse volk. Dit is die oudste van die vier grootste monoteïstiese godsdienste ter wêreld (’n godsdiens gebaseer op die geloof dat daar net een God is), en dit is meer as 4 000 jaar oud.

Judaïsme het in die Midde-Ooste begin, en vandag woon Joodse mense in lande regoor die wêreld. Byna die helfte van die wêreld se Jode woon in die VSA, en ’n kwart van hulle woon in Israel. Daar is sowat 75 000 Jode in Suid-Afrika. 1

Die meeste Jode (met die uitsondering van enkele groepe) glo dat hul Messias (bevryder of verlosser) nog nie gekom het nie, maar wel eendag sal kom.

Die Joodse heilige boek (soos die Bybel) is die Torah, wat in antieke Hebreeus geskryf is. Daar is byna 15 miljoen volgelinge van die Joodse geloof wêreldwyd.

Die Joodse geloof

Net soos die Christendom en Islam leer Judaïsme dat daar net een God is en dat God die wêreld geskape het. God het die Tien Gebooie en ander wette daargestel, wat mense in hulle lewe moet toepas.

Jode glo dat God hulle gekies het om ’n spesiale verhouding met Hom te hê. Hulle moet hulself aan God toewy en mekaar liefhê, omdat God hulle gekies het om kennis van Hom na die res van die wêreld te bring. Hulle glo dat God in ruil daarvoor beloof het om die Jode (Israel) ’n groot nasie te maak, wat uiteindelik ander nasies in ’n wêreldwye gemeenskap van geregtigheid en vrede sal saamtrek of verenig.

Die Torah

Soos reeds genoem, is die Torah die belangrikste van alle Joodse geskrifte. Die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Bybel (wat Christene die Ou Testament noem) vorm die Torah. Die Torah bevat die basiese wette van die Judaïsme, en dit beskryf die geskiedenis van die Jode, tot en met die dood van Moses.

Die Joodse tradisie sê dat God vir Moses gesê het wat hy in die Torah moet skryf, wat ook die (Vyf) Boeke van Moses genoem word. Godsdienstige Jode glo dat Moses die Tien Gebooie en die Torah van die berg Sinai afgebring het. Die Tien Gebooie is spesiaal omdat dit deur die Joodse mense op die berg Sinai gehoor is.

Die Torah word in drie dele verdeel, wat die Tanakh genoem word. Die drie dele is die Torah, wat die eerste vyf boeke is; die Nevi’im (d.i. die boeke van die profete); en die Ketuvim (wat ‘die skrifte’ beteken), wat ander boeke van die geskiedenis en morele leerstellings is.

Deur die geskiedenis

Daar word geglo dat Judaïsme ongeveer 2 000 voor Christus (v.C.) deur Abraham tot stand gebring is. Volgens die Torah het God vir Abraham gesê om sy huis in Mesopotamië (vandag staan dié land as Irak bekend) te verlaat en sy volk na Kanaän (Palestina) te neem. God het belowe dat as hy gehoorsaam is, hy en sy nageslag ’n groot nasie in hierdie nuwe land sou word. Dit is die eerste verbond of ooreenkoms wat God met die Jode gesluit het. 2

Lank ná die dae van Abraham het die Israeliete weens hongersnood na Egipte getrek. Hier het hulle slawe geword. Ná meer as 400 jaar is die Jode in ongeveer 1 200 v.C. van slawerny – onder leiding van Moses – vrygestel. In opdrag van God het Moses die Israeliete teruggelei na Kanaän. Die Jode glo dat God die Tien Gebooie aan Moses gegee het en beloof het dat Hy na hulle sou omsien as die Israeliete hierdie reëls nakom.

Gedurende die volgende paar eeue het Israel ’n magtige nasie in die Midde-Ooste geword, veral onder sy eerste drie konings – Saul, Dawid en Salomo. Dawid het Jerusalem verower en dit as die hoofstad gevestig. Sy seun, Salomo, het die eerste groot tempel van Jerusalem in die 900’s v.C. gebou.

In die 700’s v.C. het die Assiriese ryk Noord-Israel verower. Vroeg in die 500’s v.C. het die Babiloniërs Suid-Israel verower, die eerste tempel vernietig en sommige van die Jode in slawerny weggestuur. Hierdie gebeurtenis was die begin van die Diaspora (wat ‘verstrooiing’ beteken). Van toe af was die Joodse volk nie meer op een plek saam nie.

Sommige Jode het later na Israel teruggekeer en die tempel herbou, maar die streek het onder die beheer van die een vreemde mag ná die ander gebly, waaronder die Romeinse Ryk. Joodse opstande teen die Romeinse Ryk in die 1ste en 2de eeu was onsuksesvol. Gedurende hierdie tydperk het die Romeine die tweede tempel vernietig.

In die laat 1800’s het ’n beweging genaamd Sionisme in Europa begin. Dit is gelei deur mense wat ’n nasie vir die Jode in die Palestina-streek wou skep. Die beweging het in die vroeë 1900’s sterker geword toe Jode, wat uit die moeilike toestande in Europa wou ontsnap, na Palestina begin trek het.

Hierdie Joodse immigrasie het sterk toegeneem toe Adolf Hitler in die vroeë dertigerjare in Duitsland aan bewind gekom het. Hitler en sy Nazi-party het die Jode as bedreiging beskou en hulle eers sleg behandel en later doodgemaak. Hierdie slagting staan as die Holocaust (die Jodeslagting) bekend. Die Holocaust eindig met die nederlaag van Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog in 1945. Drie jaar later is die moderne land Israel as ’n tuisland vir die Jode gestig.

Belangrikste vakansiedae

Die belangrikste Joodse vakansiedae val in twee kategorieë: pelgrimsfeeste en vername oordenkingsdae of geleenthede (High Holidays). Die belangrikste oordenkingsgeleenthede is Yom Kippur en Rosh Hashana. Rosh Hashana is die Joodse Nuwejaar, en dit is ’n vreugdevolle viering. Dit is die herdenking van die skepping van die wêreld. Rosh Hashana strek oor ’n tydperk van tien dae – genaamd die Dae van Ontsag – en dit eindig op Yom Kippur. Yom Kippur is die heiligste dag in Judaïsme. Op hierdie dag word Jode vir hul sondes teen God vergewe, en hulle vra om vergifnis van mense wat hulle onreg aangedoen het.

Die pelgrimsfeeste sluit in die Pasga, Shavuot en Sukkoth. Die Pasga vier die vryheid van Jode van slawerny in antieke Egipte. Shavuot herdenk God wat die Torah aan die Joodse volk gegee het. Sukkoth is op sy beurt ’n herfsfees wat die Israeliete se tyd in die woestyn gedenk. Baie Jode bou ʼn sukkot (hut of skuiling) en eet hulle maaltye daarin.

Twee ander feeste – Purim en Hanukkah – word as minder belangrike geleenthede beskou, omdat dit nie in die Torah genoem word nie. Dit is egter gewild omdat dit baie feestelik is. Purim vier ’n tyd toe die Jode in Persië (vandag staan dit bekend as Iran) ’n komplot vrygespring het om hulle leed aan te doen. Hanukkah vier die militêre oorwinning van die Jode oor buitelandse heersers.

Die dag wat seuns 13 jaar en meisies 12 jaar oud word, is ook ’n groot gebeurtenis. Die seuns se fees word die barmitswa genoem, en die meisies s’n die batmitswa. 3

Belangrikste simbole

  • Die Jode gebruik die Ster van Dawid as simbool. (Ons tref dié ster ook op Israel se landsvlag aan.)
  • Ortodokse Joodse mans bedek altyd hul koppe met ’n tipe mussie of ronde hoedjie, wat in Hebreeus ’n kippah of in Jiddisj ’n yarmulke genoem word. Liberale of hervormde Jode beskou egter die bedekking van die kop as opsioneel. Die meeste Jode sal hul hoofde bedek wanneer hulle bid, die sinagoge bywoon of tydens ’n godsdienstige geleentheid of fees.
  • Die sjofar (die ramshoringtrompet) word tydens godsdienstige plegtighede geblaas.
  • Die menora is ’n kandelaar met sewe kershouers (arms) en kan in Joodse sinagoges en huise aangetref word. Dit is ook een van die oudste simbole in die Joodse geloof. Dit simboliseer die brandende bos wat Moses op die berg Sinai gesien het. Daar is twee soorte menora – een wat sewe kershouers het en een met nege kershouers. Die een met nege arms word tydens die Joodse fees, Hanukkah, gebruik.
  • Mezuzah is ook ’n simbool van die Joodse volk en kan teen die deurrame van Joodse huise gesien word. Dit bestaan uit ’n klein omhulsel met ’n klein boekrol daarin. Dié klein boekrol het geskrifte uit die Torah en word die Shema.

Groeperings binne Judaïsme

Daar kan tussen verskeie groeperings in die Joodse geloof onderskei word. Die vernaamste drie is Ortodokse Judaïsme, Hervormde Judaïsme en Konserwatiewe Judaïsme. 4

  • Ortodokse Judaïsme: Ortodokse Jode – wat aan hul tradisionele swart-en-wit-drag geëien kan word – is bekend vir hul streng nakoming van die tradisionele Joodse wetgewing en rituele. Die meeste glo byvoorbeeld dat ’n mens glad nie op die Shabbat (Sabbat) moet werk, bestuur of met geld werk nie.
  • Hervormde Judaïsme: Dit word as ’n liberale kategorie van dié godsdiensgroep – wat etiese tradisies belangriker as die nakoming van die Joodse wette ag – beskou. Dié groepering bevorder progressiewe idees en aanpassing. Die meeste van die Jode wat in die Verenigde State woon, volg die Joodse tradisies.
  • Konserwatiewe Judaïsme: Baie mense beskou hierdie vorm van Judaïsme êrens tussen Ortodokse en Hervormde Judaïsme. Konserwatiewe Jode eerbiedig gewoonlik die tradisies van Judaïsme, terwyl hulle ook ten gunste van modernisering is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is Judaïsme?

Judaïsme in kort

Wat is Judaïsme, en wat glo Joodse mense? 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Augustus 2021 | Bygewerk op 5 Desember 2023