Vinnige feite

  • Kimberliet, die naam van die rotse waarin diamante deur pype na die aarde gebring word, is afkomstig van die dorp Kimberley in die Noord-Kaap, waar dit die eerste keer geïdentifiseer is. 1
  • 100 ton kimberliet-erts is nodig om ʼn kubieke sentimeter (cm³) diamante te lewer. Van daardie diamante is net 35% sierdiamante wat vir juwele gebruik kan word. 2
  • Diamante is die aarde se hardste natuurlike stof. Die enigste ding wat ʼn diamant kan krap, is ʼn ander diamant! 30
  • Diamante bestaan slegs uit een element: koolstof. Onder die geweldige hitte en druk onder die aarde se oppervlak, bind die koolstofatome op ʼn unieke manier wat tot diamante se mooi en seldsame kristalagtige struktuur lei.
  • Die antieke Romeine en Grieke het geglo dat diamante die gode se trane of klein stukkies sterre was, en die Romeine het ook geglo dat Cupido se pylpunte van diamante gemaak was (dit is dalk die vroegste verbintenis tussen diamante en die liefde). 31
  • Een van die grootste diefstalle van diamante was in 2013 toe ʼn groep rowers diamante ter waarde van meer as R800 miljoen uit ʼn vliegtuig se bagasieruim by die Brusselse lughawe gesteel het. Die rowers is intussen gevang en die meeste van die diamante is teruggekry. 32
  • Die eerste diamant in Suid-Afrika, die Eureka, is amper weggegooi totdat hulle getoets het of dit glas kan sny. Eers daarna is dit na die geoloog gestuur wat bevestig het dat dit ʼn ongeslypte diamant was. 33
  • Die eerste bekende diamant is vroeg in die dertiende eeu in Indië gevind. Die Koh-I-Noor, wat “Berg van lig” beteken, was 790 karaat en mense het geglo dat die eienaar van die diamant oor die hele wêreld sal heers. Oor die eeue het die diamant baie keer tydens bloedige oorloë van eienaar verander. Vandag is dié diamant ook deel van die Britse kroonjuwele wat in die London Tower gehou word. 34
  • Die Pienk Ster-diamant is in 2017 op ʼn veiling deur Sotheby’s-afslaers vir $71,2 miljoen verkoop. Dit is die duurste diamant wat tot nog toe op ʼn veiling verkoop is. Die oorspronklike steen is in 1999 deur De Beers in Suid-Afrika gevind. 35
  • Tydens slypwerk en polering kan ʼn ruwe diamant tot 50% van sy oorspronklike gewig in karaat verloor.
  • In 1960 was die gemiddelde prys vir een karaat sowat $2 700. Die gemiddelde prys per karaat word in 2022 op sowat $13 200 bereken. 36

Die geskiedenis van diamante in Suid-Afrika strek oor meer as 150 jaar. Om te dink dit het alles begin toe ʼn 15-jarige seun ʼn blink klippie op sy pa se plaas langs die Oranjerivier opgetel het! Dié ontdekking het nie net Suid-Afrika se geskiedenis nie, maar ook die ekonomie van ons land vir altyd verander. In 2022 het Suid-Afrika se diamantproduksie 9,6 miljoen karaat beloop en die land is die wêreld se vyfde grootste diamantprodusent in terme van volume. 1

Suid-Afrika se diamantmyne verskaf boonop werk aan duisende mense, maar hoe word diamante gevorm, watter gebruike het dit alles en wat is die geskiedenis van hierdie edelgesteente in Suid-Afrika en die res van die wêreld? 2

Hoe word diamante gevorm?

Natuurlike diamante (Het jy geweet daar is ook diamante wat mensgemaak is?) het as koolstof tussen 1 en 3,5 miljard jaar gelede in die aardmantel (tussen 150 km en 250 km diep) gevorm. Die temperatuur só diep onder die grond is baie warm – sowat 1 500 °C – en die druk is 60 000 keer hoër as op die aarde se oppervlak. Dit is hierdie druk en hitte wat veroorsaak dat die koolstofatome bind en kristalle vorm in teenstelling met steenkool waar kristalle nie gevorm word nie. 3

Deur miljoene jare is hierdie stene of kristalle deur vulkaniese uitbarstings na die oppervlak van die aarde gebring deur rotse genaamd kimberliet wat in pype (amper soos ʼn skoorsteen) na die aarde se oppervlak opgestoot word. Nie alle kimberliet bevat egter diamante nie. 4

Sintetiese diamante (mensgemaakte diamante) word al sedert die 1950’s in laboratoriums vervaardig. Dit is aanvanklik hoofsaaklik vir tegniese en ingenieursdoeleindes vervaardig.

ʼn “Diamantsaad” word benodig om ʼn sintetiese diamant te maak – dit is ʼn kristal wat die basis vorm om die sintetiese diamant mee te maak. Dit kan van ʼn natuurlike diamant af kom of van ʼn ander sintetiese diamant. Dit neem gewoonlik weke lank om ʼn diamant in ʼn laboratorium te maak. Ná die diamant sy ideale grootte bereik het, word dit geslyp en gepoleer, net soos ʼn natuurlike diamant.

Sintetiese diamante is tot 30% goedkoper as natuurlike diamante, maar dit is nog nie bekend of dit sy waarde sal behou nie omdat so baie daarvan vervaardig word. Die waarde van ʼn diamant hou egter direk verband met die beskikbaarheid daarvan. 5

Hoewel sintetiese diamante ál meer in juwele gebruik word omdat dit goedkoper is 6 (en natuurlik groot ongelukkigheid by diamanthandelaars veroorsaak), 7  word dit hoofsaaklik in elektronika, tandheelkunde en gereedskap gebruik. 8

Waar word diamante gevind?

In die natuur word diamante op primêre en sekondêre afsettings gevind. Primêre afsettings is waar die erts steeds in die kimberlietpyp voorkom. Hierdie erts kan naby die oppervlak wees waar oopgroefmyne gebruik word om die diamante te ontgin. Of dit kan diep onder die grond wees waar diepskagmyne opgerig word om die erts onder die aardoppervlak uit te haal. 9

Sekondêre of alluviale (grond wat deur lopende water weggespoel is) afsettings vind plaas waar kimberlietpype oor jare heen deur wind, reën en water geërodeer en verweer is. Die diamante word deur hierdie proses van erosie van die kimberlieterts geskei en deur strome en riviere meegesleur. Die diamante beland dan op die rivierbedding (die bodem van die rivier) sodra die strome stadiger begin vloei. 5

Baie diamante het op die oseaanbodem van die Weskus in Suid-Afrika en Namibië beland toe dit deur die magtige Oranjerivier na die see gespoel is. Seestrome het dit na die bodem van die oseaan geneem. 10

Mariene diamante (diamante wat uit die see kom) word hoofsaaklik met Namibië verbind. In 1908 was daar vir ʼn kort tydjie ʼn toestroming van mense wat hul fortuin hier wou vind. Die kusgebied waar die diamante aangetref word, staan bekend as die Sperrgebiet, ʼn Duitse naam wat “verbode gebied” beteken.

Die Namibiese regering en die De Beers-groep het in 2002 hul bedrywighede hier begin en sowat 500 000 karaat per jaar gemyn. Volgens Namibië se Kamer van Mynwese kom tot 75% van die land se algehele diamantontginning van die seebodemsowat 1,4 miljoen karaat per jaar. Tot 95% van die materiaal word as edelsteengehalte beskou. 11

Diamante deur die eeue

Daar is nie sekerheid oor presies wanneer diamante die eerste keer ontdek is nie, maar daar word geglo dat dit tussen 2500 en 1000 v.C. in Indië gevind is. Die oudste geskrewe vermeldings van diamante, is in Indië tussen 400 en 300 v.C. In hierdie tekste is dit duidelik dat diamante toe reeds as ʼn waardevolle ruilmiddel beskou is. 12

Voor diamante as ʼn ruilmiddel gebruik is, was dié edelgesteente in geheimsinnigheid gehul. Die mense van Indië het geglo dat diamante jou teen vuur, gif, diewe en selfs waterslange sou beskerm. Vir die antieke Romeine was dit belangrik om ʼn diamant na die oorlogsveld te dra omdat dit jou glo sterker sou maak. Die Grieke het weer geglo dat hierdie stene magiese kragte (amper soos towerkragte) het wat siektes kon genees. 13

Diamante is vir die eerste keer van Indië af uitgevoer toe koning Alexander die Grote diamante na sy land, Masedonië, geneem het. Die heel eerste keer wat diamante as juwele gebruik is, is toe die koningin van Hongarye in 1074 opdrag gegee het dat haar kroon met diamante versier moet word. Oor die volgende 1 000 jaar het belangrike mense en koninklikes diamante as ʼn teken van lojaliteit en vertroue begin gebruik. 7

Waar kom die tradisie van ʼn verloofring met ʼn knewel van ʼn diamant in vandaan? In 1477 het keiser Maximiliaan I van Oostenryk vir Maria van Boergondië die eerste diamantverloofring gegee. Dié tradisie leef vandag nog voort waar ʼn man met ʼn diamantring in die hand op sy knieë sak om die vrou van sy drome te vra om te trou. 7

Keiser Maximiliaan I van Oostenryk.

Die aanvraag na diamante in Europa het al hoe groter geword, en Vasco da Gama se ontdekking van ʼn seeweg (of handelsroete) tussen Indië en Europa het die aantal diamante wat van Indië na Europa uitgevoer is, verhoog. 14

Vasco da Gama, 1497

Terwyl Europa diamante moes invoer, was die res van die wêreld ywerig op soek na hul eie diamante. Brasilië was die eerste land buite Indië wat diamante in 1725 ontdek het. Teen 1870 het hierdie Suid-Amerikaanse land reeds 17 miljoen karaat se diamante gemyn. In 1829 word alluviale afsettings in die berge van Siberië in Rusland gevind en in 1851 word diamante in Australië gevind. 9

Die ontdekking van diamante in Suid-Afrika tussen 1866 en 1871 het egter die wêreldwye diamantbedryf vir altyd verander. Die groot aantal diamante wat hier gevind is, het veroorsaak dat daar soveel meer diamante in die wêreld beskikbaar was. Skielik was diamante ook vir gewone mense bereikbaar en nie net bedoel vir ryk of adellike mense nie. De Beers Consolidated Mines, wat in 1888 gestig is, het die handel in diamante wêreldwyd vir die volgende paar dekades beheer. 7

Ontdekking van diamante in Suid-Afrika

Suid-Afrika se ryk diamantgeskiedenis strek oor meer as 150 jaar. Hoewel daar verskeie teorieë bestaan oor wie nou eintlik die eerste diamant in Suid-Afrika ontdek het, is dit die 15-jarige Erasmus Jacobs wat in die meeste gevalle die eer hiervoor kry. Jacobs het glo in 1867 ʼn blink klippie op sy pa se plaas langs die Oranjerivier naby Hopetown opgetel. Toe Erasmus se pa die klippie vir die eienaar van die buurplaas wys, vermoed Schalk van Niekerk dat daar meer in die ontdekking steek as net ʼn mooi “klippie”. Hy stuur die gesteente na ʼn geoloog in Grahamstad wat bevestig dat dit inderdaad ʼn ongeslypte diamant van 21 karaat is. Sir Philip Wodehouse, die goewerneur (amper soos ʼn minister vandag) van die Kaapkolonie, koop later die diamant by die geoloog. Hy het geglo dit gaan “die rots wees waarop Suid-Afrika gebou gaan word”. 15

Skoolkinders by die delwerye.

Dié diamant is tydens ʼn uitstalling in Parys, Frankryk, die Eureka (in Grieks beteken dit “Ek het dit gevind”), gedoop. Hoewel dié diamant volgens vandag se standaarde nie baie groot was nie, was die ontdekking daarvan ʼn ongelooflik belangrike gebeurtenis, want dit is geslyp van die eerste diamant wat in Suid-Afrika gevind is. Die Eureka was telkens in iemand anders se besit tot die De Beers-maatskappy die diamant gekoop en aan die Kimberley-mynmuseum geskenk het. Dié diamant kan vandag nog hier gesien word. 16

Kimberley – Markplein met ingespande osse en hooi

Drie jaar later ruil Schalk van Niekerk, die einste buurman wat die Eureka-diamant by die geoloog laat toets het, 500 skape, tien osse en ʼn perd (byna al sy besittings) vir ʼn steen wat ʼn plaaslike skaapwagter opgetel het. Hy verkoop hierdie ongeslypte diamant aan ʼn diamantslyper teen ʼn allemintige £11 200. Nadat Louis Hond die steen tot ʼn pragtige diamant geslyp het, verkoop hy op sy beurt die diamant aan William Ward vir £25 000. Dié diamant is later die Ster van Suid-Afrika genoem en was in besit van die Ward-familie tot dit in 1974 teen £225 300 verkoop is. 10

Kimberley word die wêreld se diamantleier

Net meer as ʼn jaar nadat die heel eerste diamant ontdek is, word verskeie ontdekkings in vandag se Noord-Kaap-provinsie gemaak. Drie groot ontdekkings word op plase naby Kimberley gemaak – Dutoitspan, Bultfontein en Ou De Beers. Toe daar diamante op ʼn vierde plek ontdek word, vorm al hierdie uitgrawings naby mekaar uiteindelik Kimberley se myn wat vandag as die Groot Gat bekendstaan. Meer as 95% van die wêreld se diamante is tussen 1870 en 1880 rondom Kimberley gemyn. Daar is meer diamante in dié tien jaar ontgin as in die 2 000 jaar wat diamante in Indië ontgin is! 17

Die Groot Gat in Kimberley is ‘n gewilde toeristeaantreklikheid.

Mense van oor die wêreld heen stroom toe na Kimberley om hul fortuin (rykdom) daar te vind en Kimberley groei in ʼn oogwink tot ʼn groot en bedrywige dorp. Delwers het hul blyplekke so naby as moontlik aan die myne opgerig. Die handelaars en winkeleienaars het winkels opgerig waar ook al ʼn oop stukkie grond tussen die delwers se tente was. Elke afsonderlike mynkamp het bestaan uit die myn, omring deur ʼn sirkel van skuilplekke uit enige soort boumateriaal om dit teen die reën en die son te beskerm. In 1882 word ʼn tremspoor tussen die vier verskillende mynkampe opgerig en Kimberley word die eerste dorp in Suid-Afrika wat elektriese straatligte kry. 12

Kimberley het ná die ontdekking van diamante uit sy nate gebars. Dié foto dateer uit ongeveer 1888.

Van die mense wat na Kimberley gestroom het, is daar veral twee mense wat uitstaan omdat hulle die diamantproduksie sou oorheers. Cecil John Rhodes, later die goewerneur van die Kaapkolonie, het as sewentienjarige in Kimberley opgedaag. Hy het ys aan die myners verkoop en só begin om sy fortuin te bou. Die ander invloedryke persoon wat in 1873 uit Engeland aankom, is Barney Barnato, wat saam met sy broer ʼn maatskappy op die been bring wat met diamante handeldryf. Cecil Rhodes en Barney Barnato begin kleims en aandele in nabygeleë myne koop, maar hul mededinging (kompetisie) met mekaar bring só baie diamante na die mark dat die prys van diamante drasties val. Die enigste oplossing was om saam te smelt. 18

Cecil John Rhodes
Barney Barnato

De Beers en die wêreld se grootste diamant

In 1888 word De Beers Consolidated Mines gestig met Rhodes as voorsitter. Barnato sterf in 1897 toe hy (op pad Engeland toe) oorboord van die SS Scot val. In 1902, net ná die einde van die oorlog, sterf Cecil Rhodes in sy huis in Muizenberg in die Kaap en só kom hul vennootskap tot ʼn einde. 10

Op 4 Augustus 1914 is werk by die Kimberley-myn ná 43 jaar gestaak. Die myn het onekonomies geword om te bedryf aangesien dit ‘n diepte van 1 083 m bereik het sonder om nuwe diamante op te lewer. 19 Meer as drie ton diamante is in dié myn se leeftyd uitgehaal. Die Groot Gat is die grootste mensgemaakte gat op aarde – 240 m diep met ’n omtrek van sowat 1,6 km – en is vandag ʼn gewilde toeristeaantreklikheid. 20

Net ná die Anglo-Boereoorlog word diamante naby Pretoria ontdek. Die Premier-myn ontstaan ná die ontdekking van die Cullinan-diamantpyp in 1902 en lewer oor die jare van die bekendste diamante in die geskiedenis op. Die Cullinan-diamant is die grootste en waarskynlik bekendste diamant in die wêreld. Hierdie knewel van 3 106,75 karaat word in 1905 ontdek en is vernoem na sir Thomas Cullinan, die stigter van die Premier-myn. Nege van die diamante wat van die oorspronklike groot diamant geslyp en gepoleer is, vorm deel van die kroonjuwele van die Britse koninklike familie. 21

Mans met gereedskap in ‘n veld besig met diamantdelwery

Hierdie skielike ontdekking van baie diamante in Suid-Afrika het die mensdom se siening oor diamante verander. Eensklaps was diamante nie meer so skaars as wat dit voorheen was nie. Dit was bereikbaar vir gewone mense in ʼn samelewing waar mense toenemend ryker begin word het. 9

Teen 1890 het Suid-Afrikaanse diamantmyne sowat 1 miljoen karaat per jaar opgelewer en teen die einde van die 19de eeu was Suid-Afrika die bron van ongeveer 90% van die wêreld se diamante.

Vyftig jaar ná diamante vir die eerste keer in Suid-Afrika ontdek is, is sowat 50 miljoen karaat diamante ontgin. Teen die einde van die 20ste eeu het dié syfer op meer as 100 miljoen karaat gestaan. Hoewel Suid-Afrika steeds ʼn ryk bron van diamante is, is die meerderheid van diamante vermoedelik reeds ontgin. De Beers het intussen ook sy bedrywighede na Botswana geskuif en meeste van sy Suid-Afrikaanse myne verkoop. Daar was die afgelope paar dekades nie enige beduidende nuwe diamantontdekkings in Suid-Afrika nie. 22

Daar word gegrawe en gegrou in Kimberley.

Ná die eerste 1 miljoen karaat wat in 1872 wêreldwyd ontgin is, het diamantontginning ʼn hoogtepunt in 2006 bereik met 176,7 miljoen karaat. Jaarlikse wêreldwye ontginning het intussen met 20% tot 30% afgeneem. Byna alle groot diamantmyne, wat minstens 5 miljoen karaat diamante die afgelope paar dekades opgelewer het, is nou verby hul hoogtepuntvlakke. 23

Lande met die grootste diamantreserwes

In 2021 is daar beraam dat Rusland se natuurlike diamanthulpbronne op ongeveer 1,1 miljard karaat staan. Rusland se diamantreserwes is dus verreweg die grootste ter wêreld. Ná Rusland volg Botswana se diamantreserwes op ongeveer 300 miljoen karaat. Die Demokratiese Republiek van die Kongo is derde met 150 miljoen karaat, Suid-Afrika is in die vierde plek met 120 miljoen karaat en Australië vyfde met 11 miljoen karaat. 24

Alrosa en De Beers is die twee maatskappye wat verantwoordelik is vir ongeveer die helfte van die wêreld se diamantontginning. Alrosa het teen 2020 sowat 27,5% van die wêreld se diamantontginning verteenwoordig en Anglo American (De Beers) sowat 23%. Daarna volg Rio Tinto (13,5%), Petra Diamonds (5%) en Mountain Province Diamonds (2,9%). 25

Hoe word diamante se waarde bepaal?

  • Karaat: ʼn Diamant van 1 karaat is 0,2 g. Die aantal karaat dui die gewig van die diamant aan.
  • Snit: Die kwaliteit van die snit word deur die vorm en simmetrie (balans) van die geslypte diamant bepaal.
  • Kleur: Die waarde van ʼn diamant word voorts bepaal deur hoe naby dit aan kleurloos is, of, in die geval van ʼn gekleurde diamant, hoe intens (helder) die kleur is. Diamante kom in ʼn verskeidenheid van kleure voor: staalgrys, wit, blou, geel, oranje, rooi, groen, pienk tot pers, bruin en swart. Gekleurde diamante het onsuiwerhede of strukturele defekte wat die kleur veroorsaak.
  • Helderheid: Die waarde van ʼn diamant word ook bepaal deur hoe suiwer dit is (sonder enige merke of vlekke). 26

Grootste diamante ter wêreld

  1. Die Sergio (3 167 karaat) is die grootste karbonado (swart diamant) en die grootste ongeslypte diamant ooit. Dit is in 1895 in Brasilië gevind. Soos ander karbonado’s is dit glo van meteoriese oorsprong. Dit is in klein stukkies opgesny en in industriële bore gebruik.
  2. Die Cullinan (3 106 karaat, ongeslyp) is op 26 Januarie 1905 in Gauteng gevind. Die diamant was byna vlekkeloos en is na sir Thomas Cullinan, die stigter van die Premiermyn, vernoem. Louis Botha, premier van Transvaal (vandag bekend as Gauteng), het sy regering oorreed om die diamant vir ongeveer $1 miljoen te koop en het dit aan Engeland se koning Edward VII geskenk as teken van lojaliteit. Die diamant is in nege groot stene, 96 kleiner stene en sowat 19,5 karaat- ongepoleerde stukke gesny. Die grootste steen hiervan (die Cullinan I) was 530 karaat. Die Cullinan II is 317,4 karaat en die Cullinan III is 94,45 karaat groot. Dit is tot vandag die grootste ongeslypte sierdiamant wat ooit gevind is.
  3. Die Sewelô-diamant (1 758 karaat) is die derde grootste ruwe diamant wat tot nog toe gevind is. Dit is in April 2019 deur die Lucara Diamond Corp in sy Karowe-diamantmyn in Botswana uitgehaal.
  4. Lucara Diamond Corp het in Junie 2021 nóg ʼn knewel van 1 174,76 karaat by dié myn in Botswana uitgehaal.
  5. Die Lesedi La Rona (1 109 karaat) is in November 2015 ook by die Karowe-diamantmyn gevind. Dit is die tweede grootste ongeslypte sierdiamant wat ooit gevind is.
  6. ʼn Diamant van 1 098 karaat is in 2015 in Botswana gevind deur die diamantmaatskappy Debswana. Dit is die derde grootste ongeslypte sierdiamant wat al gevind is.
  7. Lucara Diamond Corp het in November 2020 ʼn diamant van 998 karaat by die Karowe-diamantmyn in Botswana gevind.
  8. Die Excelsior (971 karaat) was die grootste diamant toe dit in Junie 1893 gevind was. Die diamant is in die De Beers-myn by Jagersfontein in die Vrystaat gevind. Dit is ʼn blouwit steen en is opgesny in 21 diamante wat altesaam 364 karaat geweeg het.
  9. Die Ster van Sierra Leone (969 karaat) is in Februarie 1972 by die Dimincomyn in Sierra Leone gevind. Dit is die vierde grootste ongeslypte sierdiamant wat ooit gevind is.
  10. Die Lesotho Legende (910 karaat) is in 2018 by die Letšengmyn in Lesotho gevind. Dit is die vyfde grootste ongeslypte sierdiamant wat ooit gevind is.

Gebruike van diamante

Die woord diamant is afgelei van die Griekse woord adámas wat “onbreekbaar” beteken – presies wat diamante is. Diamante, wat inderwaarheid gekristalliseerde koolstofatome is, is die hardste stof op die planeet. 27 Benewens die hardheid, is diamante ook goeie geleiers van hitte en doeltreffende elektriese isolators 28 – alles eienskappe wat diamante geskik maak vir verskillende gebruike.

Hier is ʼn paar:

  • Juweliersware: Net sowat 20% van alle diamante is geskik vir juwele, maar dit is waarskynlik die gebruik waarvan die meerderheid mense weet omdat dit so sinoniem met liefde is. Diamante word ook gebruik om ander diamante mee te sny.
  • Mynboubedryf: Klein diamantpartikels (deeltjies) word in saaglemme en boorpunte gebruik om te sny, te boor en te poleer.
  • Motorbedryf: Diamantsae en -bore word gebruik om ʼn motor se enjinkomponente (onderdele) te maak.
  • Mediese bedryf: Baie tandheelkundige instrumente het diamantpunte wat tandartse help om gaatjies in tande te boor.
  • Gravering: Diamantpunte word gebruik om op harde rots soos graniet en kwarts te graveer.
  • Klanktoerusting: Diamante word in luidsprekers gebruik om die klank te verbeter. Dit word ook gebruik as naalde vir platespelers. 29

Woordbank

aardkors Buitenste steenomhulsel van die aarde.
aardmantel Die laag in die aarde wat direk onder die aardkors lê. Die mantel begin op ’n diepte van enkele tientalle kilometers en is ongeveer 2 900 km dik.
adellike Iemand wat tot die adelstand behoort.
afsettings Vorming van nuwe aardlae.
alluviale Met betrekking tot grond wat deur lopende water weggespoel is/word.
karbonado Soort diamant wat uit kristallyne, swart korrels bestaan en van Bahia in Brasilië afkomstig is. Ook bekend as ʼn swart diamant.
defekte Gebrek; onvolkomenheid; beskadiging.
delwers Persoon wat na minerale, soos goud en diamante, grawe; goud- of diamantgrawer.
edelgesteente Kosbare steen.
geërodeer Langsaam wegvreet; erosie veroorsaak.
erts Metaalhoudende delfstof.
fortuin Aansienlike geldelike vermoë; groot som geld.
geoloog Iemand wat die geologie ken/beoefen; aardkundige.
invoer Uit ’n ander land/gebied bring of laat kom.
kimberliet Gesteente met ’n blou kleur wat in vertikale pype van onbegrensde diepte voorkom en die diamante op plekke soos Kimberley bevat.
knewel Iets/iemand wat baie groot is; ’n baie grote (van sy soort).
koolstof Chemiese element (C) wat voorkom as, onder meer, diamant, grafiet en steenkool.
magiese Wat na bewering bonatuurlike krag besit; wat glo met/deur toorkrag werk.
ontdekking Die vind van iets wat nog altyd daar was, maar waarvan niemand voorheen geweet het nie.
ontgin Begin eksploiteer/bewerk/ontwikkel; begin om produktief te maak.
gepoleer Blink maak deur te vryf/skuur/slyp; glad en glansend maak; laat blink.
diamantproduksie Wat vervaardig/voortgebring word; hoeveelheid geproduseer.
ruilmiddel Middel/geld/goedere wat gebruik word om ’n ruiling aan te gaan of handel te dryf.
sinteties Verkry deur vereniging van verskillende bestanddele/elemente; chemies vervaardig; nie natuurlik nie.
toeristeaantreklikheid Plek of ligging wat toeriste graag besoek.
vennootskap Ooreenkoms waarby twee of meer persone/instansies hulle verbind om tot hul onderlinge voordeel saam handel te dryf of op ’n ander wyse saam op te tree. 37

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Kyk hoe sterk is ʼn diamantboor

Om diamante te slyp, is ʼn kuns

Kimberley se Groot Gat 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024