Vinnige feite

  • Gauteng is Suid-Afrika se kleinste provinsie, maar ook die rykste, met meer fabrieke, besighede en winkels as enige ander provinsie in die land.
  • Baie inwoners in Gauteng praat Sesotho. “Gauteng” beteken in dié taal “Plek van Goud”.
  • Suid-Afrika se geldeenheid word “rand” genoem. Dit is afgelei van Witwatersrand – die gebied waar die meeste goudmyne is.
  • Groot hoeveelhede motors veroorsaak verkeersknope tussen Johannesburg en Pretoria. Die Gautrein, wat teen 160 kilometer per uur ry, help om hierdie probleem op te los en ook om besoedeling te bekamp.
  • Johannesburg is een van die grootste stede in Afrika. Soweto is ʼn bekende woonbuurt buite Johannesburg.
  • Soweto se Vilakazistraat is die enigste straat in die wêreld waar twee Nobelvredespryswenners, Nelson Mandela en aartsbiskop Desmond Tutu, gewoon het.
  • Die staatspresident en ministers se kantore is in die Uniegebou in Pretoria. Dié spesiale gebou is meer as 100 jaar oud.
  • Pretoria word ook die Jakarandastad genoem omdat daar so baie jakarandabome langs die strate geplant is. Die bome kom uit Suid-Amerika en dra trosse pers blomme in die lente.
  • Gold Reef City is een van die gewildste besienswaardighede en is rondom ʼn ou myn gebou. Besoekers kan sien hoe goud in die ou dae gemyn is en in strate stap wat presies lyk soos wat dit 100 jaar gelede gelyk het.
  • In Gauteng word goud uit myne diep onder die grond gehaal. Dit word gesmelt en gebruik om juweliersware, munte en goudstawe te maak. Die mynwerkers doen gevaarlike werk tot so diep as 1 kilometer onder die grond.
  • Die Suikerbosrant-natuurreservaat is naby Heidelberg. Hier kan ʼn mens gaan kyk hoe die omgewing gelyk het toe Johannesburg nog ʼn plaas was. Toringkop in die reservaat is die hoogste punt in Gauteng.
  • Gauteng is bekend vir sy somerdonderstorms en kry elke jaar 7,5 weerligstrale per vierkante kilometer. Dis die meeste ter wêreld.
  • Noord van Pretoria is die yslike Tswaing-krater wat 220 000 jaar gelede gevorm is toe ʼn meteoriet die aarde getref het. Die krater is 1,4 kilometer breed en 200 meter diep.
  • Kosmos is pragtige pienk, pers en wit blomme wat in die somer blom en die veld in ʼn bont tapyt verander. Al reken sommige mense kosmos is onkruid, koop toeriste graag poskaarte en skilderye van dié blomme om huis toe te neem.
  • Die meeste Suid-Afrikaners leef van mielies waarvan ʼn groot deel in Gauteng verbou word. Dit word ook gebruik om tradisionele bier te maak en die blare en stam word vir veevoer gebruik.
  • By die Sterkfonteingrotte naby Krugersdorp is fossiele gevind van mense en diere wat meer as ʼn miljoen jaar gelede daar gewoon het. Een van die kopbene wat gevind is, was vermoedelik ʼn vroulike oermens sʼn. Die ontdekker het haar “mevrou Ples” genoem. Deesdae meen baie wetenskaplikes dat “mevrou Ples” eintlik ʼn man was.
Foto: iStock

Hoofstad: Johannesburg

Bevolking: 15 810 388 miljoen 1

Algemene huistale: Zoeloe, Afrikaans, Engels

Agtergrond en geskiedenis

Geografies is Gauteng nie ʼn eiesoortige streek nie, dit is eintlik deel van die Hoëveld. Maar dit kan tog as die hartland van Suid-Afrika beskou word. Die nasionale politieke mag is in die Uniegebou in Pretoria gesetel, en die finansiële en industriële mag in Johannesburg en ʼn groep dorpe naby Johannesburg. 2

Die verhaal van die provinsie wat vandag Gauteng genoem word, het ongeveer in die middel van die 19de eeu begin. Die vroeë trekboere het die Vaalrivier oorgesteek en al hoe verder noord getrek. Hulle het aangekom in ‘n land waarin daar baie waterstrome was. Die plato was in die somer ʼn welige grasveld, ideale weiding vir hulle beeste. Hierdie trekkers het nooit kon droom dat die Witwatersrand eendag die rykste goudveld in die wêreld sou wees en dat die naam op die lippe van almal regoor die wêreld sou wees nie.

Die naam Witwatersrand is naderhand tot die Rand verkort. Hierdie provinsie het soveel bygedra tot die ekonomie van die land dat toe die desimale geldstelsel in 1959 ingevoer is, die naam rand as die naam vir die hoof geldeenheid aanvaar is.

Bus voor Opera House, 1930’s
Pretoria, Esselenstraat, Trevenna, Sunnyside
Pretoria, hoek van Kerkstraat en Rebeccastraat, 1930’s

Johannesburg

Johannesburg is die finansiële en industriële hoofstad van Suid-Afrika. Die stad is baie belangrik vir die ekonomie van Suid-Afrika en ook van Afrika. Die stad het ontstaan na die ontdekking in 1886 van die wêreld se rykste goudrif in die gebied noord van die Vaalrivier. Die burgers van president Kruger se Transvaalse republiek het die plek Witwatersrand genoem. Daarom beteken die twee algemeenste name vir die stad in die omgangstaal – Gauteng (Sotho) en Egoli (Zoeloe) – ‘die plek van goud’. 3

Die goudmyne en fabrieke het ʼn groot aantal trekarbeiders van oor die hele Suid-Afrika gelok. Een gevolg hiervan was die ontstaan van groot nedersettings langs dorpe en stede waar hoofsaaklik swart werkers gewoon het. Hierdie woongebiede het  oorspronklik as ‘lokasies’ bekendgestaan.  Sommige van hierdie townships, veral Sharpeville en Soweto, het ʼn prominente rol in die stryd teen apartheid gespeel.

Die delwers se blikkiesdorpe en plakkerskampe van 1886 is vervang deur meer permanente strukture toe mense begin besef dat die ontginning van goud in hierdie gebied vir lank gaan aanhou. Elke keer wanneer daar nuwe ontwikkeling in Johannesburg was, het die geboue nog hoër geword.

Die wolkekrabbers, omring deur boomryke voorstede en informele woonbuurte, is ʼn heel ander wêreld as die kaal savannevlaktes wat die eerste Boeresetlaars hier gevind het. Toe dit maar net ses jaar oud was, was Johannesburg reeds die grootste dorp in Suid-Afrika, maar daar is min oorblyfsels van daardie vroeë jare. Geen stad op aarde het vinniger gegroei nie. Dit is die enigste metropool in die wêreld wat binne een eeu heeltemal herbou is.

Noordoos van sentraal Johannesburg lê die voorstede Midrand, Sandton, Modderfontein, Kempton Park, Alexandra, Edenvale en Bedfordview. Suid van sentraal Johannesburg is die dorpe Germiston, Alberton, Meyerton, Vereeniging en Vanderbijlpark.

Pretoria

Pretoria is die uitvoerende hoofstad van Suid-Afrika en die hoofkwartier van die meeste nasionale staatsdepartemente, ook van dié van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Dit was die hoofstad van die Transvaalse republiek van 1860 tot 1900 en van die provinsie Transvaal van 1910 tot 1994. Dit is ʼn stad van monumente en gedenktekens wat die geskiedenis van Transvaal en Suid-Afrika vertel.

Pretoria het baie van die atmosfeer van ʼn groot plattelandse dorp behou. Die pas van die lewe is stadiger as in Johannesburg en besoekers van Johannesburg word dikwels getref deur hierdie verskil. Pretoria het ’n meer tropiese klimaat. Tot in die 1960’s het munisipale regulasies geboue van meer as sewe verdiepings verbied.

Elke jaar in Oktober en November blom sowat 60 000 jakarandabome langs die strate en in parke om die stad met ʼn pers kombers toe te maak. Die eerste twee bome is in 1888 van Rio de Janeiro ingevoer deur J.D. Celliers wat dit by sy huis Myrtle Grove in Sunnyside geplant het. Later het die tuinboukundige James Clark ʼn pakkie gemengde saad uit Australië bestel waarin daar jakarandasaad van Brasilië was. In 1906 het Clark ʼn klompie boompies aan die munisipaliteit geskenk wat gereël het dat dit in Bosmanstraat geplant word.

Die eerste poskoets is in 1864 ingestel en die spoorlyn vanaf Elandsfontein (vandag Germiston) het die dorp op 1 Januarie 1893 bereik. Pretoria het die Anglo-Boereoorlog sonder skade oorleef en is op 5 Junie 1900 deur die Britte beset.

Pretoria-stasie, 1893

Die eerste dorpsraad is in 1902 verkies en stadstatus is op 14 Oktober 1931 toegeken. Die eerste voorstad, Arcadia, is reeds in die 1860’s ontwikkel. Die tweede, Sunnyside, het ʼn paar jaar later gevolg. Pretoria was die eerste dorp noord van die Vaalrivier wat elektrisiteit begin gebruik het – op 8 September 1892. Munisipale vervoer is in 1904 ingestel toe die stadsraad ʼn maatskappy met  perdetrems uitgekoop het. Die perdetrems is in 1910 deur elektriese trems vervang en die laaste trem het in Augustus 1939 vanaf Kerkplein vertrek. Trembusse is in 1972 deur dieselbusse vervang. 4

Verskillende streke van Gauteng

Die Wesrand

Dorpe aan die Wesrand sluit in Carletonville, Westonaria, Soweto, Randfontein, Krugersdorp en Roodepoort.

Carletonville bedien verskeie van die land se rykste goudmyne. Die meeste van die myne is na die Tweede Wêreldoorlog eers ontwikkel en toe ‘n nuwe dorp nodig geword het om die werknemers te huisves, is dit deur die Weste Witwatersrand Area-goudmynmaatskappy op die plaas Twyfelvlakte uitgelê en op 28 Januarie 1948 geproklameer. Die dorpsgebied is vernoem na Guy Carleton Jones, 35 jaar lank direkteur van Consolidated Gold Fields en ontwikkelaar van die omgewing se myne.

Westonaria se naam is ‘n samestelling van sy ligging aan die Wesrand en Western Areas, die goudmynmaatskappy wat die meeste grond in die gebied besit het.

Soweto, die grootste township in die land, is sedert die vroeë 1950’s kragtens die stelsel van apartheid uitsluitlik vir swart bewoning ontwikkel. Die naam is ‘n akroniem vir South Western Townships en sluit 26 dorpsgebiede in, soos Orlando, Dobsonville, Dube en nog meer.

Randfontein is in 1890 aangelê op die plaas met dieselfde naam, as woondorp vir die werkers van die myne van die Rondfontein Estates goudmynmaatskappy. Roodepoort was ook die plaas waarop die dorp uitgelê is se naam. Die plaas is so genoem na aanleiding van die rooi grond van die pas deur die plaas.

Krugersdorp het ook sy ontstaan aan goud te danke. In 1887 het die regering die plaas Paardekraal gekoop vir ‘n dorp wat as administratiewe sentrum vir die gouddelwerye van die omgewing moes dien. Die plaas se eienaar, M.P.W. Pretorius, het aangedring dat die dorp Krugersdorp ter ere van president Paul Kruger genoem word.

Krugersdorp het internasionale bekendheid verwerf vir een van die wêreld se belangrikste argeologiese terreine wat by die Sterkfonteingrotte, 10 kilometer noordwes van die dorp, ontdek is. Die grotte is in 1896 ontdek toe die prospekteerder Guigimo Martinaglia, wat na goud en kalk op soek was, die grotte ontdek het. Die groot hoeveelhede vlermuisghwano (vlermuismis) is oor die volgende paar jaar verwyder en in die proses is heelwat skade aan die stalaktiete en ander druipsteenformasies aangerig.

In 1936 het dr. Robert Broom van die Transvaalse Museum en sy kollegas van die Universiteit van die Witwatersrand met uitgrawings by die grotte begin. Oor die volgende drie jaar het hulle baie mensagtige fossiele gevind, onder meer skedels, bo- en onderkake, tande en ledemaatbeendere.

Die ontdekking wat voorbladnuus in die hele wêreld was, is op 18 April 1947 gemaak –  hulle het ʼn byna volmaakte skedel gevind. Hierdie skedel is toe Australopithecus africanus (‘suidelike aap van Afrika’) genoem. Dit was ʼn vroeë spesie mensagtige wese wat ongeveer 2 miljoen jaar gelede op die aarde geloop het. Die skedel is Mev. Ples gedoop. Dit is ʼn verkorting van die wetenskaplike naam Plesianthropus transvaalensis wat aan die ontdekking gegee is. Dit is as die ‘vermiste skakel’ tussen die mens en ape beskou. ‘n  Jonger vonds (1999) was ‘Klein Voetjie’, die gefossileerde voetbene van ʼn menslike wese wat ongeveer 4,2 miljoen jaar gelede geleef het.

Die grotte is ʼn groot toeriste-aantreklikheid. Die ses groot kamers wat deur gange verbind word, asook ʼn ondergrondse ‘meer’, is in 1958 aan die Universiteit van die Witwatersrand geskenk. Die argeologiese museum by die grotte is na dr. Broom vernoem en in 1966 oopgestel. In 1999 is ʼn gebied van 47 000 ha om die grotte tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Afgesien van die Sterkfonteingrotte is daar nog sowat tien ander plekke in die gebied waar uitgrawings gedoen word, byvoorbeeld Kromdraai, Swartkrans, Bolt se Plaas, Coopers B, Minnaars, Plover’s Lake, Gladysvale, Wondergrot, Haasgat en Gondolin. 5

Die Oosrand

Dorpe wat aan die Oosrand lê, is Boksburg, Benoni, Brakpan, Springs, Daveyton en Nigel. Die meeste van hierdie dorpe is as myndorpe gestig.

Boksburg se verhaal begin byvoorbeeld in 1886, toe die prospekteerder J.J.D. Kilian ‘n goudrif op die plaas Leeuwpoort ontdek het. ‘n Maand later het ‘n ander prospekteerder, Adolf Vogel, goud op ‘n nabygeleë stuk grond gevind. Die twee gebiede is op 21 Maart 1987 tot openbare delwery verklaar. Dit is die amptelike geboortedag van Boksburg, vernoem na die stadsekretaris van die Transvaalse republiek, Eduard Bok.

Benoni se naam is Bybels (Ben-Oni, wat “swaarkryseun” beteken) en is in 1881 deur die landmeter-generaal Johann Rissik gegee. Hierdie stuk grond het ‘n buitengewoon onreëlmatige vorm gehad en was moeilik om op te meet – vandaar die naam. In September 1887 is goud ontdek en in Mei 1888 is Benoni tot ‘n gouddraende plaas verklaar. Die dorp is ontwerp deur sir George Farrar, voorsitter van die mynsindikaat wat die grond besit het.

Brakpan is in 1886 op die plaas Weltevreden gestig en na ‘n pan brakkerige water vernoem wat steeds op die buitewyke van die dorp bestaan. Die ontwikkeling van die nuwe dorp het in 1888 hupstoot gekry toe aansienlike steenkoolneerslae gevind is. Brakpan se eerste twee goudmynskagte is in 1905 gesink.

In 1883 het James Brooks die plaas The Springs opgemeet en so genoem danksy die baie fonteine op dié stuk grond. Nigel is eers in 1909 gestig en Daveyton eers in 1956.

Die Spade Reën Sending met sy hoofkwartier by Jatniël naby Benoni is die enigste internasionale godsdiensorganisasie wat in Suid-Afrika ontstaan het.

Vrouelidmate van die groep dra blou Kwakerrokke, wat aan hulle die naam Blourokke besorg het. Hierdie rokke word regdeur die wêreld deur lede gedra en word by Jatniël (wat ‘God gee’ beteken) in Benoni gemaak.

Slagveld by Vlakfontein na die geveg (Anglo-Boereoorlog)
Stadsaal, Heidelberg, Gauteng

Woordbank

desimale geldstelsel Suid-Afrika het aanvanklik die geldstelsel van ponde, sjielings en pennies gebruik. In 1959 is daar oorgeskakel na die rand-en-sentstelsel wat ons vandag ken.
wêrelderfenisgebied Dit is ’n plek wat internasionaal groot waarde het en wat vir die huidige mense op aarde en ook vir hulle nageslag bewaar behoort te word.
delwers Mense wat na minerale soos goud of diamante soek.
blikkiesdorpe Spotnaam vir ‘n arm woonbuurt waar baie huisies van blik en sinkplate gemaak is.

Kyk hier

By hierdie skakel kan jy kyk hoe dit binne die Sterkfonteingrotte lyk

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024