Vinnige feite

Redes om te dans:

  • Dans help ‘n persoon om meer spinale bewustheid te hê, minder lomp te wees en ingestel te wees op ander mense met wie hy of sy die spasie deel.
  • Dans en beweging is ‘n manier om uitdrukking te gee aan ‘n emosie of gevoel wat moeilik is om in woorde uit te druk.
  • Dit verbeter selfvertroue en help ‘n persoon om sy of haar eie idees uit te druk, maar ook om meer empatie te hê vir mense van ander kulture en agtergronde. 6
  • Dans is ‘n kreatiewe vorm van kuns en help ‘n individu se kreatiwiteit en verbeelding ontwikkel.
  • Dans is baie goeie oefening en help om spiere soepel en sterk te maak, asook om energievlakke te verhoog. 7
  • Dit kan leervermoë, uithouvermoë en konsentrasie verbeter en produktiwiteit en kreatiewe denke verhoog.
  • Die toewyding en harde werk wat gepaardgaan met sekere dansvorme wat as sport beoefen word, help ‘n persoon om gedissiplineerd en gefokus te wees.
  • Dans sorg vir baie pret en ontspanning tydens sosiale geleenthede. Die rede daarvoor is dat dit spanning kan verminder deurdat dit help om vlakke van kortisol, ‘n streshormoon, te verlaag.
  • Wanneer ‘n mens oefening doen, skei jou liggaam goedvoelhormone (endorfiene) af. Dit help om ‘n mens se gemoed te verbeter en vreugdevol te voel.
  • Dans kan help om sosiale vaardighede te verbeter deurdat vriendskappe en kameraadskap gevorm word tydens die uitvoer van vrolike danspassies. 8
Foto: iStock

Dans is ‘n opeenvolging van bewegings van die voete en lyf op die maat van musiek, deur een mens, ‘n paar of ‘n groep. Daar is verskeie vorme van dans: ‘n informele manier vir sosiale ontspanning en pret, of ‘n formeler vorm wat ‘n spesifieke styl behels. 1

Dit gaan dan meestal gepaard met die tradisies van ‘n kultuur, of dit word ingespan vir kompetisies as deel van ‘n sportsoort. Dans is ook ‘n manier om gevoel uit te druk, ‘n boodskap te kommunikeer en word gewoonlik met musiek en ritme gekombineer. 2

Dansers met kleurvolle kostuums in Mauritius.

Wanneer en waar het dit begin?

Dans is reeds van die vroegste tye deel van die mens se bestaan. Tekeninge wat uit die antieke tye dateer, bevat prentjies van mense wat dans – die bewys dat dans toe al van belang was. Dans is veral in die antieke tye verbind aan godsdienstige rituele of gebruik om ‘n volk se tradisies te vier en uit te beeld. Dit is een van die oudste vorme van kuns en is veral in die antieke tye vir kommunikasie gebruik.

Egipte

Skilderye in grafkelders wys dat dans ‘n belangrike rol in die antieke Egiptenare se openbare feeste, asook in hulle privaat lewens gespeel het. Egiptiese danse was grasieus en dikwels akrobaties van aard. Dit is alleen uitgevoer of deur slegs manlike of slegs vroulike groepe. Sommige dansers het tamboeryne, ratels of kleppers (soos kastanjette) gespeel tydens hul dansuitvoering. 3

Griekeland

In antieke Griekeland het dans op enige liggaamlike aksie gedui. Dit het marse, mimiek, atletiek en selfs gesiguitdrukkings ingesluit. Die Grieke het geglo dat dans gesondheid verbeter en deel moet wees van ‘n goeie opvoeding. ‘n Groot verskeidenheid danse is deur die Grieke uitgevoer, insluitende danse vir godsdienstige of seremoniële geleenthede. Dansuitvoerings het verskillende name gehad, afhangende van die soort drama waarin dit voorgekom het. In Griekse mites het die gode dikwels gedans en dans het selfs sy eie godin gehad met die naam Terpsichore. 3

Rome

Hoewel die Romeine dit nie as betaamlik beskou het om in die openbaar te dans nie, het hulle dans wel as deel van godsdienstige rituele aanvaar. Hulle het dit ook geniet om na dans as ‘n vorm van vermaak op ‘n verhoog te kyk. ‘n Ingewikkelde vorm van teater, met die naam pantomime – waarby akteurs, sangers, musikante en dansers betrokke was – is ook graag deur die Grieke uitgevoer. Namate die Romeinse Ryk uitgebrei het, het reisigers ‘n verskeidenheid nuwe dansstyle saamgebring wat deel van die pantomime geword het. 3

Noord-Amerika

Die inheemse volke van Noord-Amerika het dans gebruik as ‘n manier om met hul gode, mekaar en die natuur te kommunikeer. Hierdie danse is meestal uitgevoer met trombegeleiding, waarvan die ritme volgens die dansers in ritme bly met Moeder Aarde se hartklop. Hierdie danse is ook dikwels in ‘n kring gedoen.

Ierland

Ierland het ‘n eeue oue danstradisie wat dateer uit 500 toe die Kelte uit Europa daarheen gereis het. Toe die Normandiërs in die 12de eeu ook in Ierland aangekom het, het hulle nog danse bygevoeg. Uit hierdie bronne het die Iere ‘n kenmerkende versameling volksdanse ontwikkel. Hierdie danse word vandag nog as groot vermaak beskou en word reg oor die wêreld uitgevoer. 3

Dans as deel van godsdiens

Dans word van die vroegste tye in verskeie gelowe as ‘n uitdrukking van aanbidding gebruik. Een van die bekendste vorme van dans in die Bybel is gedoen deur Dawid wat met volle oorgawe voor die Here gedans het toe die Israeliete die Ark van God na die Dawidstad geneem het. Hierdie soort aanbidding het meestal met sang en musiekinstrumente gepaard gegaan. 4

‘n Inheemse Brasiliaanse groep besig met ‘n ritueel.

Verskillende vorme van dans

Elke mens het al een of ander vorm van dans uitgevoer. Klein babas wat musiek hoor, beweeg hulle lyfies en selfs bejaarde mense hou ritme met hul voete op die maat van musiek. Dans, in watter vorm ookal, word wyd en syd geniet as ontspanning by partytjies en ander sosiale geleenthede, op die verhoog om gehore mee te vermaak, of in ‘n spesifieke kultuur om tradisionele rituele uit te voer. Dans word in twee hoofgroepe opgedeel: konsertdansvorme en kulturele dansvorme. 5

Konsertdansvorme

  • Hierdie dansvorm word opgevoer om ‘n gehoor te vermaak.
  • Dit is meestal professionele dansers wat in vertonings dans.
  • Voorbeelde: Klassieke ballet, kontemporêre danse, musiekblyspele, ens.

Kulturele dansvorme

  • Die dansvorme is verteenwoordigend van alle gemeenskappe.
  • Dit reflekteer die lewens van die dansers.
  • Die dansvorme het belangrike geestelike en kulturele funksies.
  • ‘n Gevoel van eenheid word deur hierdie dansvorm geskep.
  • Voorbeelde: Tradisionele danse soos Indiese danse, Inheemse danse soos Afrika-danse (dit is danse wat gevind word waar hulle ontwikkel het), ontspanningsdanse/sosiale danse soos langarm of sokkie. 5

Dansgenres en -style

Verskillende dansvorme staan bekend as dansgenres. ‘n Genre is ‘n kategorie. Voorbeelde van dansgenres: ballet, klopdanse (“tap”), Afrika-danse, kontemporêre dans, Indiese dans, ens.

Dansstyle verwys na die manier waarop ‘n dans gedoen word. Voorbeelde van dansstyle: klassieke ballet, romantiese ballet, tango, cha-cha, flamenco, ens.

Voorbeelde van dansgenres

Ierse dans

Hierdie dans word gedoen op Ierse musiek wat op klavier, trekklavier of bodhrantrom gespeel word. Die Ierse dansstyl behels baie vinnige voetwerk, wat sprongetjies en hoë skoppe insluit. In ‘n Ierse dans beweeg die bolyf nie terwyl die danser spring en skop nie. Die rede hiervoor is dat die boonste deel van die lyf nie die aandag moet aftrek van die ingewikkelde voetwerk wat die danser uitvoer nie. Die Ierse dansuitvoerings “Riverdance”en “Lord of the Dance” deur Michael Flatley het in die 1990’s groot gewildheid verwerf en ‘n wêreldwye aanhang en bewondering geniet. 3

Ballet

Ballet druk die volle omvang van menslike emosie deur fisieke bewegings en gebare uit. Die ballerina en balletdanser se tegniek vereis sekere vaardighede wat met baie jare se opleiding aangeleer word, wat grasieuse lyne en ingewikkelde draaie wat vernuftig uitgevoer moet word, insluit.

Ballerinas dans met balletskoene asook puntskoene (“pointes”) vir meer gevorderde dansers. Talle balletwerke is op stories in die literatuur (geskrewe verbeeldingryke en skeppende werke) gebaseer. Dit word verhalende ballet genoem, byvoorbeeld Petipa se Swanemeer (“Swan Lake”). Ander balletuitvoerings is weer meer abstrak en mag dalk ‘n idee of emosie kommunikeer eerder as om ‘n storie te vertel.

Franse woorde word in alle wêrelddele gebruik vir die verskeie passies en posisies van klassieke ballet. Hoewel klassieke ballet ‘n streng voorgeskrewe dansstyl is, het verskillende dansstyle in verskeie lande ontwikkel, met ander invloede en style wat ballet se styl verryk en verbreed. Ballet het oor die jare heen al miljoene mense vermaak met bekende balletopvoerings wat onder meer die verhaal van Aspoestertjie insluit. Balletopvoerings is ook bekend vir pragtige kostuums en indrukwekkende dekor.

Afrika-danse

Afrika-danse word dikwels op ‘n ritueel of tradisie gebaseer. Sommige is danse van oorlog, ander van liefde of vir seremonies soos byvoorbeeld ‘n inlywingseremonie. In baie gevalle is dit godsdienstig van aard en word gebruik as ‘n manier om met die gode of voorvaders te kommunikeer.

Hierdie soort dans gebruik natuurlike bewegings van die liggaam, gewoonlik naby aan die grond of vloer. Dit is ook telkens ‘n nabootsing en dramatisering van gebeure in die natuur (soos voëls en diere) of elemente soos vuur, water, aarde en lug. Afrika-danse het oor die algemeen ‘n tema vir die spesifieke geleentheid waarvoor dit gebruik word. 5

Kontemporêre dans (of moderne dans)

Kontemporêr beteken eietyds, hedendaags, wat tot dieselfde tyd behoort. Die term kontemporêr hou verband met kuns, musiek, literatuur en sluit werke oor dekades heen in. Werke wat deur kontemporêre kunstenaars geskep word, weerspieël die tye waartydens hulle geleef het. Dit is ‘n uitdrukking van die wêreld waarin die kunstenaars leef of geleef het.

In ‘n tyd waarin ‘n dansvorm soos ballet se onderwerp hoofsaaklik gedraai het om onrealistiese stories en feëverhale, met presiese herhalings by elke opvoering, was daar ‘n behoefte vir dansers om hul gevoel en idees op ‘n nuwe manier uit te druk. Hierdie dansers het nuwe bewegings gebruik om emosie en werklike kwessies met hul danse uit te voer en het die bestaande dansvorme te beperkend ervaar. Hierdie soort dans word gewoonlik kaalvoet of met ‘n sagte buigsame skoen uitgevoer.

Liggaamsgewig word gebruik om bewegings te beklemtoon en hoewel daar opleiding vereis word, is daar minder vaste posisies of passies wat gevolg moet word. Die dansers se beweging word deur hul gevoel en emosie bepaal en vertoon meestal skerp en hoekige vorme in plaas van sagte, ronde en grasieuse bewegings. 3

Baldanse (Ball Room)

Baldanse, wat die wals insluit, is baie gewild oor kultuurgrense heen. Baldanse word gesien as ‘n gesofistikeerde soort dansvorm en kan maklik gekombineer word met formele funksies en geleenthede soos troues en presidensiële inhuldigings. Elke dans het ‘n gedetaileerde stel passies en daar is streng reëls oor die regte grepe, houding, styl en kleredrag. ‘n Kenmerk van baldans is die baldanslyne. Dit is die boë of reguit vorme wat die dansers met hul lywe maak. ‘n Baldans word uitgevoer deur ‘n paartjie, man en vrou, of seun en meisie. Soms kan groepe pare ook in baldanse kompeteer. Die eerste baldanskampioenskappe is in 1909 in Parys gehou en is sedertien ‘n mededingende dansaktiwiteit. Dit is ontwikkel tot ‘n volwaardige danssport en is selfs deel van die Olimpiese Spele. Rolstoelbaldanse word in die Paralimpiese Spele ingesluit.

Ander populêre danse wat deel van baldanse vorm:

Quickstep, foxtrot, swing, polka, die Charleston en rock-and-roll.

Latyns-Amerikaanse danse

Hierdie dansvorm is vir danspare, ‘n man en vrou wat soms in ‘n baldans-greep dans of soms slegs met die een hand hande vashou terwyl hulle die passies uitvoer. Dit sluit in: tango, salsa, cha-cha, rumba en samba. 5

“Gumboot”-danse (Isicathulo)

Hoewel bronne oor die oorsprong van hierdie dans verskil, blyk dit dat die dansstyl van die “amaBhaca” onstaan het, migrante van die suidelike KwaZulu-Natal. Dit was aanvanklik ‘n vorm van ontspanning, maar het later ‘n uitdrukking van groepsidentiteit geword vir ‘n span en sy leier. Baie van die migrante het na Johannesburg verhuis om in die myne te werk en hierdie soort dans het vir hul ‘n gevoel van samehorigheid en belang gegee.

Hierdie soort dans met rubberstewels (“gumboots”) gebruik ingewikkelde ritme, stampende voete, saamslaan van hakke en energieke danse in lynformasies. Soms is daar ‘n roep en antwoord wat gepaardgaan met die ritmiese geslaan op stewels. ‘n Fluitjie word ook soms gebruik wat saam met bevele die span lei om te weet watter bewegings volgende uitgevoer moet word. 5

Musiekblyspele 

‘n Musiekblyspel is ‘n rolprent- of teaterproduksie waarin dialoog afgewissel word met sang, groepsang en danse. Hierdie opvoering het meestal ‘n sentimentele of komiese karakter en vertel ‘n storie vir die gehoor.

Verskillende vorme van dans kan in ‘n musiekblyspel gesien word. Jazz is veral ‘n gewilde danssoort vir so ‘n opvoering en word soms met ballet hiermee gekombineer. Klopdanse (“tap dance”) is ook ‘n dansvorm wat soms in ‘n musiekblyspel gesien kan word. 3

Voorbeelde van bekende musiekblyspele: Cats, West Side Story, Singing in the Rain, High School Musical en The Greatest Showman.

Moderne sosiale danse

In die 1970’s is ‘n splinternuwe musiektradisie, hip-hop, in die strate New York in die VSA gebore. Dit het spoedig tot ‘n eie dansstyl ontwikkel wat skouspelagtige atletiese bewegings insluit. Hierdie danssoort, ook soms bekend as briekdans, het groot aanhang gekry en van die straathoeke tot op die verhoog en silwerdoek getuimel.

In dieselfde tyd het ‘n nuwe styl dansmusiek, genaamd disko, in die VSA ontwikkel. Die nuwe klank met kragtige ritmes het mense aangemoedig om te dans. Dit het sodoende tot die internasionale verspreiding van dansklubs gelei. Verskeie sosiale en straatdanse het in die 1970’s tot stand gekom waarop vandag se moderne dansvorm, wat deur baie popmusiekkunstenaars uitgevoer word, gebaseer is. 3

Woordbank

Griekse mites ‘n Ou, oorgelewerde verhaal wat in die antieke tyd vertel is om natuurlike of historiese gebeure te verklaar.
tamboeryn ‘n Handtrom met klokkies om die rand.
kastanjette Slaginstrument bestaande uit twee enerse skulpvormige klappers van harde hout of ivoor wat in die hand gehou en met die vingers teen mekaar geslaan word. 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die gewilde Jerusalema-dansuitdaging

‘n Voorbeeld van die tradisionele Ierse dans

Klassieke ballet is roerend en aanskoulik

Só word die Rieldans gedoen

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Augustus 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024