Vinnige feite

  • Margaret Thatcher was teen 2020 ʼn karakter in meer as 50 rolprente en TV-programme. Een van die vernaamste vertolkings van die Ystervrou is in 2011 deur die Oscar-bekroonde aktrise Meryl Streep in The Iron Lady gelewer. Meer onlangs het Gillian Anderson die rol van Thatcher in Netflix se The Crown briljant vertolk. Die komediant Steve Nallon was vir 12 jaar lank die stem van die Margaret Thatcher-pop in die Britse satiriese TV-program Spitting Image. 25
  • Die deur na die woning van die eerste minister, Downingstraat 10, word as die bekendste deur in die wêreld beskou en kan net van die binnekant af oopgemaak word. Dié eiendom in Westminster in Londen was oorspronklik drie huise en is veel groter aan die binnekant (daar is ongeveer 100 vertrekke) as wat dit van buite af lyk. 26
  • Hoewel Thatcher haar kleredrag en haarstyl oor die jare verander het, was ʼn pêrelhalssnoer (of -hangertjie) altyd deel van haar uitrusting. Haar gunstelingstuk was ʼn dubbelry-pêrelhalssnoer wat haar man vir haar gegee het toe hul tweeling gebore is. Vir Thatcher was pêrels luuks, maar nie uitspattig soos diamante nie. 27
  • Sir Laurence Olivier, ʼn akteur wat vier Oscars gewen het, het voor die 1979-verkiesing vir Margaret Thatcher stemlesse gegee om haar stemtoon te verlaag sodat sy in ʼn kalm, gesaghebbende stemtoon kon praat. 28
  • Hoewel Thatcher vir 11 jaar lank die eerste minister was, het sy nie ʼn sjef in haar diens gehad nie. Sy het glo elke aand vir haar en haar man aandete gekook en sy het ook gereeld vir kabinetslede kos gemaak. Sy het in die week boonop slegs vier uur per aand geslaap. 29
  • In 1986 het die leiers van die Statebondslande bymekaar gekom om oor ekonomiese sanksies teen die Suid-Afrikaanse regering se apartheidsbeleid te stem. Agt-en-veertig van die 49 lande het ten gunste van sanksies gestem, maar Margaret Thatcher het hierteen vasgeskop. Koningin Elizabeth was glo woedend hieroor en het Thatcher in die openbaar berispe. 30

Hoewel die wêreldpolitiek vir eeue deur mans oorheers is, het Margaret Thatcher die tradisionele politieke landskap in die 1970’s op sy kop gekeer. Thatcher was nie net die eerste vroulike eerste minister van Brittanje nie, maar het dié posisie vir drie termyne van 1979 tot 1990 beklee. Deur haar vasberadenheid het sy gewys dat vroue gewis mans genoeg is om die magtigste nasies in die wêreld te lei.

David Cameron, die Britse eerste minister vanaf 2010 tot 2016, het die volgende ná haar dood in 2013 gesê: “In ʼn tyd toe dit vir ʼn vrou moeilik was om ʼn parlementslid te word, dit byna ondenkbaar was om die Konserwatiewe Party te lei en dit feitlik onmoontlik was dat ʼn vrou die eerste minister kon word, het Margaret Thatcher al drie gedoen”. 1

Gebore leier

Margaret Hilda Roberts is op 13 Oktober 1925 in Grantham, Lincolnshire, ʼn klein dorpie in die ooste van Brittanje gebore as die dogter van Beatrice Ethel Stephenson en Alfred Roberts, ʼn sakeman en eienaar van ʼn tabak– en kruidenierswinkel. Sy en haar ouer suster, Muriel, het saam met hul ouers bo haar pa se winkel gewoon. 2

Die klein woonstel bo haar pa se winkel op die hoek van die straat het nie lopende water, verhitting of ʼn binnenshuise toilet gehad nie. Die dorpie het nog herstel ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918), baie mense het sonder werk gesit en swaar gekry. Hul vrees vir nóg ʼn oorlog is bewaarheid toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek toe Margaret 14 was en het tot in 1945 geduur toe sy 20 jaar oud was. 3

Die intelligente Margaret het uitstekend op skool presteer. Sy woon die Huntingtower Road Primêre Skool by en ontvang ʼn beurs vir haar hoërskoolloopbaan by die Grantham Meisieskool, waar sy ook die hoofmeisie was. 4

Margaret as 13-jarige

Sy het só goed gevaar dat sy toelating kry om vir ʼn graad in chemie aan Oxford se Somerville-kollege (1943 tot 1947) te studeer. Een van haar dosente was Dorothy Hodgkin wat in 1964 die Nobelprys vir Chemie ontvang het. Margaret se wetenskaplike opleiding sou ʼn groot invloed op haar lewensuitkyk hê. 5

Pa Alfred het kleintyd die saadjie van ʼn potensiële politieke loopbaan by Margaret geplant en hulle kon vir ure oor sake van die dag gesels. Hy was baie aktief in die politiek van Grantham, waar hy eers ʼn raadslid en later burgemeester was. Hy was ook die president van die Kamer van Handel en die Rotariërs. Margaret het vroeg reeds in die ideaal begin glo van ʼn konserwatiewe regering wat sy neus uit die sakewêreld hou. 6

Tydens haar studie word Margaret die eerste vrouepresident van die konserwatiewe studentevereniging, die Oxford University Conservative Association. Sy ontmoet in dié tyd verskeie vername politici en stel haarself aan die leierskap van die Konserwatiewe Party voor ná die party se nederlaag teen die Arbeidersparty in die algemene verkiesing in 1945. 7

Ná haar graduering in 1947 begin sy as navorsingschemikus by BX Plastics in Essex werk. Van haar studentevriende moedig haar aan om by die politiek betrokke te raak en stel voor dat sy haarself as parlementêre kandidaat vir Dartford beskikbaar stel. Sy verhuis na Londen ten einde ʼn voet in die politieke deur te kry en haar verkiesingsveldtog van stapel te stuur.

Hier begin sy as wetenskaplike by die groot voedselmaatskappy J. Lyons & Co. werk. Haar werk behels, onder meer, die gehaltetoetsing van koekvulsels en roomys, en sy doen ook navorsing oor die chemiese proses wat in die vervaardiging van seep gebruik word. 8

Margaret Thatcher en Nancy Reagan met hul mans in die agtergrond

Van die regte tot politiek

In 1950 neem sy vir die eerste keer aan die parlementêre verkiesing deel as die Konserwatiewe Party se kandidaat vir Dartford. Hoewel Thatcher van die begin af geweet het dat dit byna onmoontlik sou wees om dié setel by die Arbeidersparty af te rokkel, verhoog die plaaslike konserwatiewe stempersentasie met 50%.

Ondanks haar nederlaag, ontvang sy groot respek by haar konserwatiewe eweknieë, veral weens haar toesprake. Thatcher was onverskrokke en probeer die volgende jaar weer om ʼn parlementêre setel te verower. Weer is haar poging onsuksesvol. Twee maande ná die verkiesing trou sy met die sakeman Denis Thatcher en roep haar wetenskaplike loopbaan vaarwel. 9

Denis en Margaret Thatcher in 1984

“Ek het nie daarvan gehou om so baie tyd in die laboratorium deur te bring nie,” het sy in ʼn televisieonderhoud in 1987 gesê. “Ek wou eerder meer direkte kontak met mense hê.”

Margaret Thatcher op besoek aan Salford

In 1952 skuif Thatcher die politiek vir eers opsy om regte te studeer, en die volgende jaar verwelkom die egpaar ʼn tweeling, Carol en Mark. Sy studeer verder in die regte, lê die toelatingseksamen af en spesialiseer as advokaat (barrister) in belastingreg. Die politiek bly egter wink en in 1959 word sy op 34-jarige ouderdom die jongste vrou in daardie stadium om ʼn setel in die Laerhuis (House of Commons) in die konserwatiewe Finchley-distrik te verower. 10

Sy het nie gras onder haar voete laat groei nie en blitsvinnig haar eerste wetsontwerp ingedien oor die reg van die media om plaaslike regeringsvergaderings te dek. Sy het in haar eerste toespraak hieroor nie op persvryheid gefokus nie, maar op die behoefte om verkwistende staatsuitgawes hok te slaan. Dít word uiteindelik ʼn tema wat soos ʼn goue draad deur haar hele politieke loopbaan strek.

Besoek aan Postech

In 1961 word Thatcher die parlementêre ondersekretaris in die ministerie van pensioene en nasionale versekering. Sy klim stadig maar seker die politieke leer en word in 1970 die minister van onderwys en wetenskap toe die Konserwatiewe Party die Arbeidersparty in die verkiesing oorrompel.

Terwyl sy minister van onderwys was, het sy ʼn gratis melkprogram vir kinders tussen 7 en 11 jaar in skole beëindig in ʼn poging om staatsuitgawes te besnoei. Dit is met groot kritiek deur die Britse media en haar politieke teenstanders begroet, en sy het vir ʼn tyd lank as “Thatcher, the milk snatcher” (Thatcher, die melkdief) bekendgestaan. 11

Sy laat haar nie hierdeur ontsenu nie en in 1975, toe die Konserwatiewe Party weer die opposisiestoele moet inneem ná die verkiesing, verslaan sy die voormalige premier Edward Heath om die leierskap van die party.

Thatcher was meteens een van die magtigste vroue in die wêreld. Sy het die ekonomiese teorieë van John Maynard Keynes verwerp, wat tekortbesteding (deficit spending) gedurende periodes van hoë werkloosheid voorgestaan het.

Margaret Thatcher saam met Rajiv Ganhi

Sy wou niks hiervan weet nie en het die Arbeidersparty in haar eerste toespraak as leier van die Konserwatiewe Party behoorlik oor die kole gehaal: “ʼn Man se reg om te werk soos hy wil, om te spandeer wat hy verdien, om eiendom te besit, om die staat as dienaar te hê en nie as meester nie – dít is die Britse erfenis.” 12

Kort hierna het sy die destydse Sowjetunie (vandag staan dit as Rusland bekend) getakel en gesê dié kommunistiese staat is net gefokus op wêreldoorheersing. In reaksie hierop het ʼn militêre koerant in die Sowjetunie haar die “Ystervrou” gedoop, ʼn bynaam wat sy dadelik deel van haar politieke mondering gemaak het. 13

Bob Dole, Margaret Thatcher en Geoffrey Howe

In 1979 vind meer as 2 000 stakings deur vakbonde plaas in wat as die “Winter van ontevredenheid” bekendgestaan het. Dit gee die Konserwatiewe Party ʼn broodnodige hupstoot om die verkiesing te wen en Thatcher word op 4 Mei dié jaar nie net die eerste vroulike eerste minister van Brittanje nie, maar die eerste vrou om ʼn groot Westerse moondheid of land in moderne tye te lei. 14

Noue ontkoming

Margaret Thatcher het op 12 Oktober 1984 ʼn noue ontkoming gehad toe ʼn bom in die Grand Hotel in Brighton, Sussex ontplof het waar sy en verskeie vooraanstaande lede van die Konserwatiewe Party vir dié party se konferensie gebly het.

Die bom, wat om 02:54 die oggend afgegaan het, was die mees verwoestende terreuraanval wat nog ooit op Britse politici uitgevoer is. Hoewel geen ministers gesterf het nie, is vyf mense dood en 34 beseer. Thatcher, wie se kamer vyf verdiepings hoër was, was nog wakker tydens die ontploffing. Die badkamer, waarin sy net twee minute tevore was, is verwoes.

Patrick Magee, ʼn lid van die Ierse Republikeinse Leër, het voor die konferensie in dié hotel tuisgegaan en die bom onder die bad in sy kamer geplant. Die kamer is deur sir Donald Maclean en sy vrou gebruik toe die bom afgegaan het. Magee is aan die terreurdaad skuldig bevind en agt lewenslange vonnisse opgelê. Hy is in 1999 as deel van die bepalings van die Goeie Vrydag-ooreenkoms vrygelaat. 15

Margaret Thatcher en George H.W. Bush

Noemenswaardige gebeure en bydrae

Margaret Thatcher het oor die jare verskeie groot ekonomiese veranderings geïmplementeer, onder meer privatisering, vakbondhervorming, verhoogde rentekoerse en veranderinge in belasting.

Dit het ʼn groot impak op die ekonomie gehad en hoewel inflasie skerp gedaal het (van bykans 26% in die 1970’s tot 9,7% in 1990), 17 het werkloosheid skerp toegeneem. Die werkloosheidskoers het van 5,3% in 1979 tot 12% in 1984 gestyg, voordat dit teen 1990 weer tot 7,5% gedaal het. 16

Sy wou ook die mag van vakbonde verminder. Sy het deur haar hele termyn hierin geslaag, veral tydens die grootskaalse mynwerkerstaking in 1984. In die 1970’s was die dae wat deur vakbondstakings verlore gegaan het, op ʼn geskiedkundige hoogtepunt van 29 miljoen werksdae. Uiteindelik is stakings en verlore werksdae danksy haar aansienlik verminder tot slegs 2 miljoen werksdae teen 1990.

Sy het wetgewing ingestel wat vakbonde verplig het om eers ’n stemming onder hul lede te hou voordat ’n staking uitgeroep word. Simpatiestakings is ook onwettig verklaar. Vakbonde is voorts verantwoordelik gehou vir enige skade wat tydens ’n staking veroorsaak is. 17

President Bush oorhandig die Presidensiële Medalje van Vryheid aan die voormalige Britse premier Margaret Thatcher in die Wit Huis

Privatisering sou haar belangrikste en blywendste ekonomiese nalatenskap word. Thatcher het die woord privatisering gewild gemaak, en sy het toesig gehou oor die verkoop van talle groot staatsbeheerde ondernemings, insluitend British Aerospace, Cable & Wireless, British Telecom, Britoil, British Gas, Jaguar, British Airways, British Petroleum, British Steel, Rolls Royce en elektrisiteit- en watermaatskappye. 18

Tydens haar eerste termyn is 2,5 miljoen staatshuise aan langtermynhuurders verkoop ingevolge haar “Reg om te koop”-beleid. 19

Teen die tyd dat Margaret Thatcher in 1990 uit haar amp getree het, was meer as 40 Britse staatsondernemings, wat 600 000 werkers in diens gehad het, geprivatiseer. Meer as £60 miljard se staatsbates is verkoop. 20

Regerings in meer as 100 lande het Thatcher se voorbeeld gevolg en duisende ondernemings in staatsbesit het na die private sektor geskuif. Lugrederye, spoorweë, posdienste, elektrisiteitsvoorsieningsmaatskappye en baie ander soorte besighede – ter waarde van meer as $3,3 biljoen (trillion) – is oor die afgelope drie dekades wêreldwyd geprivatiseer. 21

Terwyl haar felste kritici haar as die grootste boelie op die speelgrond beskou het, meen baie dat haar bydrae tot die politiek vandag nog weerklank vind.

Thatcher saam met koningin Elizabeth II

Twee van haar vernaamste internasionale politieke bydraes was tydens die Falkland-oorlog en die Koue Oorlog:

Falkland-oorlog – Een van die belangrikste gebeurtenisse tydens Thatcher se eerste termyn was die Falkland-oorlog. Op 2 April 1982 het Argentinië die Falkland-eilande, Britse grondgebied sowat 13 000 km van Brittanje af, binnegeval. Thatcher het blitsvinnig Britse troepe gestuur om die gebied te verdedig. Binne dae het 127 oorlogskepe, duikbote en ander skepe wat troepe, vliegtuie en toerusting vervoer het, na die Suid-Atlantiese Oseaan vertrek. Teen 14 Junie 1982 was die eilande weer onder Britse beheer. Historici meen Thatcher se verkiesing vir ʼn tweede termyn is aan die Falkland-oorwinning te danke. 22

Koue Oorlog – Thatcher het ʼn belangrike rol in beëindiging van die Koue Oorlog gespeel. Die Koue Oorlog het net ná die Tweede Wêreldoorlog begin toe die VSA, Brittanje en die Sowjetunie se alliansie begin ontrafel het. Die Sowjetunie (USSR) se Rooi Weermag wou beheer oor Oos-Europa behou om dit teen enige hernieude bedreiging deur Duitsland te beskerm en wou kommunisme wêreldwyd versprei. Thatcher het ’n hegte vriend van die destydse Amerikaanse president Ronald Reagan geword en ʼn goeie verhouding met Michail Gorbatsjof, die laaste president van die USSR, opgebou. Dit was tydens haar leierskap dat die Koue Oorlog effektief tot ʼn einde gekom het. 23

Skrywer en spreker

Ná sy in 1990 as leier van die Konserwatiewe Party bedank, het Thatcher ʼn kragtige politieke figuur gebly en steeds belangrike bydraes tot die Britse politiek gemaak.

Sy het twee topverkoper-outobiografieë geskryf, The Downing Street Years (1993) en The Path to Power (1995), en vir meer as ʼn dekade as spreker reg oor die wêreld getree. ʼn Boek van besinning oor die internasionale politiek, Statecraft, verskyn in 2002 uit haar pen.

Thatcher het in Maart 2002 ná ʼn paar ligte beroertes uit die openbare oog getree. Denis Thatcher, haar eggenoot en grootste politieke ondersteuner vir meer as vyftig jaar, is in Junie 2003 oorlede.

Ná Denis se dood het haar eie gesondheid verswak, wat progressiewe geheueverlies veroorsaak het. Margaret Thatcher is op 8 April 2013 op 87-jarige ouderdom in Londen oorlede en is nege dae later tydens ʼn seremoniële begrafnis in die St. Paul’s-katedraal vereer. 24

Woordbank

alliansie Vereniging/verbond tussen mense/volke; bondgenootskap. 31
dosente ’n Persoon wat les (onderrig) gee by ʼn inrigting vir tersiêre onderwys (soos ʼn universiteit of kollege). 29
eerste minister Hoof van ʼn verkose regering of van ʼn kabinet in sekere regerings. 29
Goeie Vrydag-ooreenkoms Dit word ook die Belfast-ooreenkoms genoem en is op 10 April 1998 (Goeie Vrydag) in Belfast deur die Britse en Ierse regerings onderteken ten einde vrede in Noord-Ierland te bewerkstellig ná jare van konflik. 32
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend. 29
outobiografie Iemand wat self die storie van sy/haar lewe skryf. 29
politieke Beginsels waarvolgens ʼn staat regeer word; kuns/wetenskap van regering en die bestuur van ʼn staat, en die praktiese toepassing daarvan; staatkunde. 29
privatisering ʼn Staatsinstelling verkoop om deur lede van die privaat sektor bedryf te word. 29
progressiewe Trapsgewys toenemend; opklimmend, op vooruitgang gerig; vooruitstrewend. 29
statebond Vereniging van state tot ʼn bond van so ʼn aard dat elke staat grotendeels selfstandig bly; federasie; gemenebes. 29
tekortbesteding Wanneer ʼn regering meer geld uitgee as wat hy in ʼn begrotingsjaar insamel. Die regering moet dan geld leen, wat skuld vermeerder en die bedrag verhoog wat die regering moet terugbetaal. 33
vakbond ʼn Organisasie of groep werkers wat saamstaan om oor hul salaris, werkure, voordele en werksomstandighede te onderhandel. 34
verkiesing Geleentheid waarby stemgeregtigde kiesers (deur middel van ʼn geheime stembus) hul verteenwoordigers vir ʼn parlement/stadsraad/munisipaliteit kies. 29

Lees hierdie artikels om nog meer oor Margaret Thatcher te wete te kom

Kyk hierdie video’s oor Margaret Thatcher se lang politieke loopbaan

Van Margaret Thatcher se onvergeetlike opmerkings

Margaret Thatcher: Die opgang van die Ystervrou

Gillian Anderson oor die vertolking van die rol van Margaret Thatcher in die vierde seisoen van die Netflix-reeks The Crown

ʼn Greep uit The Iron Lady, die 2011-rolprent waarin Meryl Streep (wat ʼn Oscar hiervoor gewen het) die rol van dié merkwaardige vrou vertolk

Gepubliseer op: 1 Junie 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024