Vinnige feite

  • Abraham Lincoln was die langste president ooit (1,93 meter lank). 17 Dit is waarskynlik danksy sy lengte dat hy ’n kranige stoeier was. As ’n jong man het hy net een uit driehonderd stoeigevegte verloor. 18
  • ’n Paar uur voor sy dood het Lincoln ’n dokument onderteken wat tot die stigting van die Amerikaanse Geheimediens (in Engels bekend as die Secret Service) gelei het. Selfs al was die Geheimediens vroeër gestig, sou dit Lincoln nie gered het nie. Hoekom nie? Die oorspronklike doel van dié beamptes was om die vervalsing van geld te voorkom. Eers in 1901, toe nog twee ander presidente vermoor is, is die Geheimediens amptelik aangestel om die president te beskerm. 18 Dié twee presidente was James A. Garfield in 1881 en William McKinley in 1901. 19
  • John Wilkes Booth se broer Edwin het Abraham se oudste seun Robert ’n paar weke voor die sluipmoord gered toe hy voor ’n aankomende trein geval het. 18
  • Op die dag van die einste Edwin Booth se begrafnis op 9 Junie 1893 het die Fords-teater, waar Lincoln geskiet is, inmekaargestort. Altesaam 22 mense is tydens die voorval oorlede. 18
  • Lincoln het dikwels belangrike dokumente versteek onder die hoë hoede wat hy gedra het. 3
  • Lincoln het in 1858 teenoor Stephen Douglas vir ’n amp (posisie) in die senaat gestaan. Douglas was ’n kort rukkie in ’n verhouding met Mary Lincoln. Dit was voor Mary en Abraham mekaar ontmoet het. 20
  • Mary kon vlot Frans praat – ’n vaardigheid wat nuttig te pas gekom het toe sy ná Abraham se dood deur Europa gereis het. 20
  • Ná die dood van haar seuns het Mary waarskynlik aan erge depressie gely. Een manier om oor haar hartseer te kom, was om op spandabelrige (uitspattige of duur) inkopietogte te gaan. 20 Tydens Abraham se presidensie was dit ’n groot bron van kritiek. 21
  • In 1870, ná haar man se dood, het die Amerikaanse kongres ’n jaarlikse pensioen van $3 000 aan Mary toegestaan. 20
  • Meer soldate het tydens die Amerikaanse burgeroorlog gesterf as die aantal Amerikaners wat in die Eerste Wêreldoorlog, Tweede Wêreldoorlog, die Koreaanse en Viëtnamese oorlog altesaam omgekom het. Sowat 2% van die VSA se bevolking is dood – dit sou vandag sowat 6 miljoen Amerikaners wees. Baie is doodgeskiet, maar talle het ook weens siektes soos masels, pampoentjies en waterpokkies in die oorlogtyd gesterf. Een miljoen soldate van die Unie het ook malaria opgedoen. 22
  • Twee jaar voor die sluipmoord, is daar ook op Lincoln geskiet. Hy het een aand in Augustus 1863 alleen van die Withuis te perd na Soldier’s Home, sy gesin se somerhuis, gery. ʼn Soldaat by die hek het ʼn skoot gehoor en oomblikke later het die perd aangehardloop gekom. Lincoln het bly vasklou aan sy perd. Hy het gesê ʼn skoot is op hom gevuur en die perd het só vinnig weggehardloop dat hy sy hoed verloor het. Twee soldate het later die hoed gaan haal en gesien die skoot is reg deur die hoed. Die president het die wagte gevra om niks oor die voorval te sê nie omdat hy nie vir Mary wou ontstel nie. 22
  • Lincoln is een van die gesigte op Mount Rushmore. Die Mount Rushmore-monument bestaan uit vier beelde van die gesigte van presidente George Washington, Thomas Jefferson, Theodore Roosevelt en Abraham Lincoln wat in die Harneyberg in die Black Hills uitgekerf is. Die Harneyberg is in ʼn reservaat in die deelstaat Suid-Dakota. 23
  • ’n Groot deel van Suid-Afrika se bevolking se voorsate was slawe wat van reg oor die wêreld na Suid-Afrika gebring is. Tussen 1652 en 1808 is 63 000 slawe na Suid-Afrika gebring. Dit sluit nie die slawe se kinders in wat in Suid-Afrika gebore is nie. 24
Foto: iStock

Abraham Lincoln, die sestiende president van die Verenigde State van Amerika (VSA), word beskou as een van die beste presidente wat dié magtige land al ooit gehad het. Hoewel hy arm grootgeword en geen formele opleiding gehad nie, is sy lewensverhaal ’n sprekende voorbeeld dat aanhouer gewis wen.

Lincoln het op die pad na sy presidentskap verskeie struikelblokke en groot hartseer oorkom om in 1861 as die VSA se eerste Republikeinse president die leisels oor te neem.

Lincoln, wat in 1865 in ’n sluipmoord dood is, sal onthou word as die persoon wat sy nasie tydens ’n bloedige burgeroorlog bymekaar gehou en uiteindelik ook die afskaffing van slawerny bewerkstellig het. [Lees hier oor wêreldbekende sluipmoordaanvalle.] Nie net ’n lang man wat amper 2 m hoog in sy sokkies gestaan het nie, maar ’n historiese reus.

Kinderjare

Abraham Lincoln se pa, Thomas, is in die staat Virginia gebore. Thomas se pa (Abraham se oupa en naamgenoot), Abraham Lincoln, is tydens ’n aanval deur Indiane doodgemaak, wat die jong Thomas vaderloos gelaat het. In 1802 verhuis hy na Kentucky en koop sy eerste plaas ’n jaar later. 1

Dit is hier waar hy vir Nancy Hanks, ’n kleremaakster van die kontrei (omgewing), ontmoet. Op 12 Junie 1806 trou Nancy en Thomas, en hulle het drie kinders: Sarah (10 Februarie 1807), Abraham (12 Februarie 1809) en Thomas (1812) wat net ’n paar dae geleef het. 1

In 1816 verhuis die Lincoln-gesin na Indiana. Twee jaar later beleef die gesin ’n terugslag toe Nancy sterf. 1 In 1819 trou Thomas met ’n weduwee (vrou wie se man dood is), genaamd Sarah Bush Johnston. Sy het drie kinders van haar eie gehad. Thomas besluit om met sy nuwe vrou en vyf kinders weer te verhuis – dié keer na die staat Illinois. 2

Thomas en sy eerste vrou, Nancy, kon nie lees of skryf nie. Vir Thomas was dit belangriker dat sy kinders hom op die plaas moes help as om skool toe te gaan. Abraham en sy sussie het uiteindelik net een jaar se skoolopleiding gehad waartydens hy darem leer lees het. Vir die res van sy kinderjare het Abraham homself probeer leer deur geleende boeke te lees. 3

Sy stiefma het egter dadelik opgemerk dat Abraham baie intelligent is en graag meer wou leer. Nadat sy vir hom drie boeke as geskenk gegee het, was daar ’n besonderse band tussen Sarah en haar stiefseun – tot met sy dood. 2

As ’n jong volwassene het Lincoln verskeie werke gedoen voordat hy uiteindelik op ’n loopbaan in die regte besluit het. Hy het, onder meer, op ʼn boot en in ʼn winkel gewerk; hy was ʼn soldaat, ʼn landmeter en posmeester. 4

Lincoln die prokureur

Lincoln se idee om ’n prokureur te word, het waarskynlik posgevat toe hy as ’n winkelier ʼn vaatjie met goedere daarin by ’n reisiger gekoop het. Lincoln het nie gedink dit is baie werd nie en 50c vir die vaatjie betaal. Lincoln het die vaatjie in ʼn stoor gebêre en daarvan vergeet, totdat hy weer eendag daarop afgekom het terwyl hy besig was om die stoor skoon te maak. Niks binne die vaatjie was enigiets werd nie, maar onder al die gemors was ʼn paar regsboeke. Soos gewoonlik kon hy nie die boeke weerstaan nie en aan die einde van daardie somer het hy dit van voor tot agter gelees. Sy besluit was geneem: Hy gaan ’n prokureur word, al beteken dit dat hy homself moes leer. 5

So gesê, so gedaan. Abraham Lincoln het nooit enige regskool bygewoon of ’n regsgraad verwerf nie. Hy het homself geleer deur soveel moontlik regsboeke oor vorige hofsake en wette te lees. Op 25-jarige ouderdom kry hy ’n lisensie om as prokureur op te tree (te praktiseer). Aan die begin het hy eenvoudige sake hanteer en baie papierwerk gedoen, maar in 1837 begin hy saam met John Stuart werk, wat hom in die fynere kunsies van die regstelsel touwys maak. Abraham was ’n uitstekende skrywer en spreker en dit het hom een van die beste prokureurs in die land gemaak. Mense het van reg oor die land gekom om hom as hul regsverteenwoordiger aan te stel. 6

Lincoln se eerste liefde

In die tyd wat Lincoln op bote gewerk het wat na New Orleans onderweg was, moes hy een keer ʼn paar dae lank op die dorpie New Salem vertoef. In hierdie tyd ontmoet hy vir James Rutledge, een van die medestigters van die dorp. Hy gaan tuis in James se herberg (ʼn kleinerige hotel). 7

Lincoln het só baie van die dorp gehou, dat hy later vir ses jaar in New Salem gaan woon het. Hy was in dié tyd onder meer die posmeester van die dorp. Hy was ook ’n lid van die plaaslike debatsvereniging en ontmoet vir Ann, die dogter van James Rutledge. 7

Ann was die bestuurder van haar pa se herberg. Hoewel sy in daardie stadium aan John McNamar verloof was, het sy ’n vriendskap met Lincoln aangeknoop. In 1832 het McNamar saam met sy ouers New York toe gegaan. Hulle sou trou sodra hy weer in New Salem was. Hy het egter nooit teruggekeer nie. 7

Hierna het die vriendskap tussen Ann en Abraham in ’n verhouding ontwikkel, maar Abraham wou eers nog eiendom bekom en Ann wou verder leer. 8 Ongelukkig sterf Ann op 22-jarige ouderdom aan ingewandskoors. Lincoln was platgeslaan oor haar afsterwe. Hy het vir maande lank in die bos met ’n geweer rondgedwaal. Sy vriende was bekommerd dat hy sy eie lewe sou neem. Ná Ann se dood het hy vir die eerste keer tekens van depressie getoon. Jare later sou dit nou en dan weer kop uitsteek. 7

Huwelik en kinders

Ná Ann se dood verhuis Lincoln na Springfield, Illinois. Dit is hier waar sy en Mary Todd se paaie kruis. Mary Todd was die dogter van Elize Parker en Robert Smith Todd wat deel was van die adellike families van Lexington in Kentucky.

Op 21-jarige ouderdom gaan bly sy by haar suster Elisabeth Todd Edwards en dié se man, Ninian Edwards in Springfield. Ondanks ’n stormagtige verhouding, waartydens Abraham een keer hul verlowing verbreek het, trou die paartjie drie jaar later. 9

Abraham het talle mense aan die dood afgestaan. Hy het reeds sy ma, sy sussie (Sarah is op 20 dood toe sy geboorte geskenk het) en sy eerste liefde verloor. Hy en Mary het vier seuns gehad, maar slegs hul oudste seun Robert het volwassenheid bereik. 10

Robert is in 1843 gebore en het uiteindelik ’n regsgraad verwerf. Hy het ook, soos sy pa, ʼn politikus geword. Die egpaar se tweede seun, Edward (bynaam Eddie), is in 1846 gebore, maar is op vierjarige ouderdom aan tuberkulose dood. Skaars ’n jaar ná Eddie se dood, is William (Willie) gebore. Hy sterf as ’n elfjarige seuntjie aan ingewandskoors toe die gesin reeds in die Withuis gewoon het. [Lees meer oor die Withuis.] Thomas (Tad) is in 1853 gebore en hoewel hy ses jaar langer as sy pa geleef het, sterf hy op agtienjarige ouderdom, ook aan tuberkulose. 10

Politieke loopbaan

Lincoln het lank daaroor gedroom om ʼn politikus te word. Dit was egter nie maklik om uiteindelik as president verkies te word nie. Hy moes talle mislukkings oorkom, maar dit het hom nie verhinder om weer en weer te probeer nie.

In 1832 het die 23-jarige Abraham vir die eerste keer vir Illinois se huis van verteenwoordigers gestaan. 11 Die huis van verteenwoordigers van Illinois is die mense wat oor wette besluit wat spesifiek in Illinois toegepas word. Hulle is in beheer van sake soos die staat se gesondheid en veiligheid. 12 Hy word nie verkies nie, maar word twee jaar later as die voorsitter van die Whig-party verkies. 11 Dit was ’n party wat uit ryk en geleerde mense bestaan het. 13 In 1834 word hy as verteenwoordiger van die Whig-party vir Illinois se huis van verteenwoordigers gekies. In 1846 word hy vir een termyn as verteenwoordiger van die Whig-party tot die kongres verkies. 11 Die kongres bestaan uit die huis van verteenwoordigers en die senaat. Hierdie groep mense verteenwoordig hul state by die federale regering in Washington. Die aantal verteenwoordigers word bepaal deur die aantal mense wat in ʼn staat woon. 12

Lincoln se huis in Illonois

In 1856 word hy genomineer as adjunkpresident van die nuutgestigte Republikeinse party, maar verloor teen William L. Dayton, ʼn voormalige senator van New Jersey. 11

Lincoln het sy oog op die senaat gehad. Dit was die volgende trappie na presidentskap. Die senaat bestaan uit twee senators van elke staat. Die senaat het ʼn groter sê in die bestuur van landsake, aangesien hulle die mag het om wette goed te keur of teen te staan. Hulle kan ook byvoorbeeld die president ondersoek indien daar enige rede bestaan om te dink dat die president nie reg opgetree het nie. 12

In 1858 word Lincoln aangewys as die Republikeinse kandidaat vir die senaat. Hy sou teen die Demokraat Stephen A. Douglas te staan kom. Hy en Douglas neem aan sewe formele debatte deel en uiteindelik is Lincoln die gewildste keuse, maar Douglas wen die senatorskap. 11

Oor die volgende twee jaar reis Lincoln oor die land heen en lewer toesprake. Op 8 Mei 1860 word hy genomineer as die Republikeinse kandidaat as president van die VSA. Op 6 November 1860 word hy verkies as die eerste Republikeinse president en op 4 Maart 1861 lê hy die ampseed af as die sestiende president van die VSA. Hy was 51 jaar oud. 11

Burgeroorlog

Gedurende Lincoln se presidentskap was sy fokus op slawerny en die burgeroorlog. Daar was baie politieke en kulturele verskille tussen die noordelike en die suidelike state wat tot die burgeroorlog gelei het, maar die grootste oorsaak was slawerny.

Mense in die suide het op slawe staatgemaak vir arbeid op hul plase. Mense in die noorde het weer geglo slawerny is verkeerd en van die bose. 14

Die rede vir die verskillende menings oor slawerny was as gevolg van die verskil in die ekonomiese ontwikkeling van die noordelike en suidelike state van Amerika. Teen die middel van die 19de eeu het die ekonomie van die noordelike state van boerdery na nywerheid beweeg. Baie van die inwoners van die noordelike state het na die stede verhuis. 14 Daarenteen het mense in die suidelike state nog op boerderybedrywighede staatgemaak en daarvoor het hulle slawe nodig gehad om op die plase te werk.

Mense in die noorde het dus die bevryding van slawe ondersteun, maar ryk boere in die suide was bang dat hulle hul inkomste sou verloor. 14

Daar was nog altyd ʼn vraag oor hoeveel mag die federale regering op individuele state moet hê. Die suidelike state was bekommerd dat die federale regering hul regte en mag sou wegneem. Lincoln was ʼn lid van die Republikeinse Party wat die emansipasie (bevryding) van slawe ondersteun het. Toe hy president word, was die suidelike state oortuig dat Lincoln teen slawerny was – en dus teen die suidelike state. 14

Ná Lincoln as president aangewys is, wou inwoners van die suidelike state nie meer deel wees van die VSA nie. Elf state het uiteindelik weggebreek van die VSA en ’n nuwe land, naamlik die Gekonfedereerde State van Amerika, gevorm. 14

Lincoln het gemeen dat hulle nie die reg het om die VSA te verlaat nie en stuur soldate om die Gekonfedereerde State te dwing om weer by die VSA aan te sluit. Die suidelike state het geweier en die burgeroorlog begin. 14

Die Amerikaanse Burgeroorlog het amptelik op 12 April 1861 in Suid-Carolina begin toe soldate van die Konfederasie die Amerikaanse fort aangeval het. Volgens Lincoln was sy belangrikste taak tydens die oorlog om die land bymekaar te hou. Vir ’n lang ruk het die suidelike state die oorlog gewen. Dit is eers tydens die geveg in Gettysburg in Pennsilvanië in Julie 1963 dat die Unie (die noordelike state) die oorhand begin kry het. 3

Deur toesprake soos die een wat hy tydens die Slag van Gettysburg gelewer het, het Lincoln die soldate van die noordelike state aangemoedig om aan te hou met veg sodat die mense wat hul lewens tydens daardie slag verloor het, nie verniet gesterf het nie. Dié toespraak is vandag steeds baie bekend en gewild, veral die woorde: “… sodat hierdie dooies nie verniet sal sterf nie – dat daar in hierdie land, onder God, ʼn nuwe vryheid gebore sal word, en dat die regering van die mense, deur die mense, vir die mense, nie van die aarde gevee sal word nie”. 3

Bevryding van slawe

Die belangrikste doelwit aan die begin van die oorlog was dat die noordelike state (die Unie) wou verhoed dat die suidelike state afstig. Hierdie doelwit verander toe president Lincoln op 1 Januarie 1963 vir die eerste keer afkondig dat “alle persone wat as slawe in die rebelse gebiede aangehou is, van nou af vry is”.

Dié afkondiging het as die “emansipasie-proklamasie” bekendgestaan. 15

Met hierdie stap het Lincoln die militêre mag van die Unie versterk omdat hy gehoop het dat slawe en swart persone aan die kant van die Unie sal begin veg. 15

Die proklamasie was egter slegs van toepassing op die state wat van die Unie weggebreek het. Slawerny kon dus voortgaan in state wat nie deel van die Gekonfedereerde State was nie. Dit was ook nie van toepassing op dele van die Konfederasie wat reeds weer onder die Unie se beheer gekom het nie. Die vryheid wat die proklamasie belowe het, was dus afhanklik daarvan dat die Unie die oorlog moes wen. 15

Hoewel die proklamasie nie slawerny beëindig het nie, het dit die karakter van die oorlog verander. Ná 1 Januarie 1863 het elke deel wat die federale soldate oorgeneem het, die gebied van vryheid vergroot. Mense wat vrygelaat is, kon nou help om ander vry te laat. Die proklamasie het boonop ook swart mense in die weermag en vloot toegelaat, en teen die einde van die oorlog het ongeveer 200 000 swart soldate aan die kant van die Unie en vir vryheid geveg. 15

As ʼn mylpaal op die pad na die algehele beëindiging van slawerny, word die emansipasie-proklamasie vandag nog beskou as een van die beste dokumente vir menslike vryheid. 15

Laaste jare

Die 13de wysiging aan die Amerikaanse Grondwet word op 18 Desember 1865 deur die federale regering van die VSA goedgekeur. Hierdie aanpassing het slawerny onwettig gemaak en onmiddellik meer as 100 000 slawe van Kentucky tot Delaware bevry. 16

Lincoln sou uiteindelik nie die gevolge van sy jarelange stryd teen slawerny sien nie. Hy is in 1864 vir die tweede keer tot president verkies – kort voor die einde van die oorlog. Op 9 April 1865 eindig ’n bloedige burgeroorlog waartydens 750 000 soldate binne vier jaar gesterf het. Die vreugde oor die einde van die oorlog was egter van korte duur. Skaars vyf dae later is die Amerikaanse nasie weer in rou toe Lincoln op 14 April 1865 in Washington geskiet word. 3

Abraham en Mary het die aand ’n teateruitvoering bygewoon. Die deure na die losie waar hulle gesit het, was nie goed bewaak nie en tydens ʼn gedeelte van die opvoering waartydens die gehoor gelag het, het die destydse bekende akteur John Wilkes Booth die president in sy agterkop geskiet. Hy het gehoop dat die Konfederasie weer die oorhand sal kry indien Lincoln sterf.

Booth, wat van die toneel gevlug het, word eers twee weke later gevang. Met sy inhegtenisneming word hy doodgeskiet. 3

Die president, gewond en bewusteloos, word na ’n losieshuis oorkant die straat van die teater geneem. Hy sterf vroeg die volgende oggend op 15 April 1865 in die ouderdom van 56 jaar. 3

Lincoln se presidensie is tragies kortgeknip, maar sy bydrae tot die VSA het verseker dat hy as een van die mees invloedryke presidente ooit onthou sal word.

Woordbank

adellike (In sommige lande) die groep mense (edelmanne en edelvroue) wat tot die hoogste sosiale stand behoort.
ampseed Eed van trou wat by die aanvaarding van ʼn amp afgelê word.
bevryding Iemand vry maak van iets wat hom/haar (liggaamlik of geestelik) bind/vashou.
burgeroorlog Oorlog tussen partye van een volk.
debatsvereniging Kultuurvereniging wat baie tyd aan debatte bestee.
depressie Ernstige terneergedruktheid wat jou laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
emansipasie Vrymaking van, onder meer, ʼn slaaf.
federale Wat betrekking het op die sentrale regering van ʼn land soos die VSA, eerder as op die regering van een van sy state.
fort ʼn Sterk gebou of groep geboue wat deur soldate of ʼn weermag gebruik word om ʼn belangrike plek te beskerm.
Gekonfedereerde Lid van ʼn konfederasie; verbondene; Die Gekonfedereerdes, die suidelike state in die Amerikaanse burgeroorlog (1861 tot 1865).
hofsake ʼn Saak wat in ʼn geregshof dien.
huis van verteenwoordigers Die huis van verteenwoordigers is ’n parlementêre stelsel (mense wat oor die wette van ’n spesifieke staat besluit).
Indiane Lid van enigeen van die oorspronklike inwoners van Noord- en Suid-Amerika, met uitsondering van die In(n)uïte; Amerikaanse Indiaan
Opmerking: Die gebruik van hierdie woord kan in sommige omstandighede aanstoot gee en deur sommige as neerhalend/rassisties aangevoel/beskou word.
ingewandskoors Akute, aansteeklike, bakteriese siekte gekenmerk deur hewige ingewandsteurnisse, uitslag oor die maagstreek en liggaamlike uitputting; maagkoors.
Konfederasie In die tyd van die Amerikaanse Burgeroorlog: die suidelike state van die VSA wat teen die noordelike state (die Unie) te staan gekom en verloor het.
kongres Wetgewende vergadering van die Verenigde State van Amerika, bestaande uit die senaat en huis van verteenwoordigers.
landmeter Persoon wie se werk dit is om land en grond te meet en dit byvoorbeeld op ’n kaart voor te stel/te teken.
losie Afgeslote ruimte van beperkte omvang in ʼn sportstadion/teater/ens., waar meestal genooide toeskouers sit.
losieshuis ʼn Privaat huis waar jy teen betaling kan slaap en eet.
mylpaal ’n Belangrike gebeurtenis.
nywerheid Die werk en prosesse wat betrokke is by die verwerking van grondstowwe, veral op groot skaal, soos in ʼn fabriek.
politiek Idees en aktiwiteite wat verband hou met die verkryging en gebruik van mag, meestal in ʼn land of stad.
politikus Persoon wat hom/haar op (die) politiek toespits, van die politiek ’n beroep maak.
posmeester Amptenaar aan die hoof van ʼn poskantoor.
proklamasie Amptelike bekendmaking/afkondiging van wette/regulasies/ens.
prokureur Regspraktisyn wat ná ʼn afgelegde eksamen gemagtig is om namens ʼn ander op te tree in saketransaksies en hofsake in die landdroshof en ander laer howe.
rebelse Iemand wat hom/haar verset of veg teen mense met gesag.
regsverteenwoordiger Gewoonlik ʼn prokureur of advokaat, wat iemand anders in ʼn hofsaak of regsgeskil verteenwoordig.
senaat In lande soos die VSA, Australië en Frankryk, is die senaat die kleiner en belangrikste deel van die twee dele van die regering met die mag om wette te maak; wetgewende liggaam wat deel vorm van ’n parlement, soms die Tweede Kamer genoem.
slawe Iemand wat die eiendom van ʼn ander persoon is en sonder enige vergoeding vir hom/haar moet werk.
slawerny Handel in slawe; gebruik van slawearbeid.
sluipmoord ʼn (Skielike/onverwagse) moord op ʼn belangrike persoon (dikwels in die openbaar).
staat ʼn Deel van ʼn land wat self bepaalde wette kan maak en saam met ander, soortgelyke gebiede deur ʼn sentrale regering bestuur word.
struikelblok Dit wat in jou pad staan wat dit moeilik maak/jou verhinder om iets te doen of te bereik; hindernis.
tuberkulose Besmetlike bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van tuberkels/knoppies/knobbeltjies in verskillende weefsels, veral in die longe, wat vermoeidheid/koors/nagsweet/anemie/ens. veroorsaak.
vaatjie Ronde, effens gewelfde houer van hout, waarin veral wyn, brandewyn en whisky bewaar en verouder word.
wette ʼn Reël of die stelsel van reëls wat mense in ʼn bepaalde land/gebied moet gehoorsaam.
Withuis Die amptelike woning en hoofkantoor van die president van die Verenigde State van Amerika. 25

Leer hierdie om meer oor Lincoln te leer

Kyk hierdie video’s om meer uit te vind oor Lincoln en sy wêreld

Redes vir die Amerikaanse Burgeroorlog

Die houthut waar Lincoln waarskynlik gebore is:

Waarom was Lincoln se Gettysburg-toespraak so belangrik?

’n Dramatiese voorstelling van Lincoln se sluipmoord:

Hoe die gesigte van die presidente op Mount Rushmore uitgekerf is:

Foto’s van Abraham Lincoln:

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 November 2022 | Bygewerk op 4 Desember 2023