Vinnige feite

  • Technikons se ontstaan verwys terug na 1967. Daar was toe ’n tekort aan vaardige personeel en kolleges is geskep – iets tussen ’n tegniese kollege en ’n universiteit. Hierdie kolleges sou later technikons word. 4
  • Die VOO-kolleges is in 2002 gestig en dit het 152 voormalige tegniese kolleges in 50 VOO-kolleges verenig. Die kurrikulum van die kolleges is ook verander om die nuwe demokratiese samelewing te verteenwoordig. 5
  • Nie alle kolleges val onder die regering se beheer nie. Daar is ook privaat kolleges. 6
  • Hoewel die voertaal by tegniese kolleges in Suid-Afrika gewoonlik Engels is, bestaan daar wel ’n Afrikaanse tegniese kollege. Sol-Tech is ’n privaat instelling vir beroepsopleiding wat op Christelike waardes gegrond is klasse in Afrikaans aanbied. Opleiding in die volgende beroepe word aangebied: elektrisiën, masjienmonteur, dieselwerktuigkundige, passer-en-draaier, sweiser en gereedskapmaker. 7
  • Die College of Cape Town vir VOO is die oudste kollege vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding in Suid-Afrika. Vier tegniese kolleges, Athlone, Cape Kollege, Sivuyile en WP Technical het op 1 Februarie 2002 saamgesmelt om dié kollege te vorm, maar die kollege se geskiedenis dateer terug na die begin van die 20ste eeu.
  • Tegniese skole bied tegniese vakke aan vir kinders wat hulle graag in ’n tegniese rigting wil bekwaam. Omdat Suid-Afrika ’n tekort aan vaardighede het, wil die regering graag meer tegniese skole bou sodat kinders meer vaardighede kan leer. 8
  • Hoewel ambagte steeds as ’n manlike domein gesien word omdat dit harde, fisieke werk is, is daar wel talle vroue wat ambagte leer. Die React Training College fokus daarop om vir vroue ambagte te leer. Hulle bied onder meer ’n loodgieterskursus aan. 9

Weet jy al wat jy eendag ná skool wil word? Wel, jy het dalk nou net planne om groot te word, maar dalk dink jy al aan ’n spesifieke werk, soos ’n brandweerman, ’n veearts of ’n onderwyser.

Elke beroep vereis sekere vaardighede en ’n mens moet eers leer hoe om daardie werk te doen. Dit gaan dalk vir jou nodig wees om ná skool aan ’n universiteit, technikon of kollege te gaan studeer.

’n Tegniese kollege is ’n instelling wat mense tegniese vaardighede aanleer om ’n spesifieke werk te kan doen. In Suid-Afrika is tegniese kolleges vandag deel van ’n VOO-kollege (Verdere Onderwys en Opleiding). In Engels staan dit bekend as TVET Colleges (Technical and Vocational Education and Training). 1

Die kolleges se doel is om naskoolse opleiding te verskaf, hoewel studente vroeër jare ook byvoorbeeld hul matriekopleiding daar kon voltooi het.

Vandag is hierdie kolleges egter op beroepsgerigte onderrig gefokus, terwyl daar wel ander kolleges bestaan waar studente graad 12 kan voltooi. TBOO-kolleges aanvaar wel studente wat graad 9, 10, 11 of 12 by ’n skool voltooi het. Tegniese kolleges word selfs bygewoon deur mense wat reeds ’n graad aan ’n universiteit verwerf het, maar meer praktiese blootstelling aan die vakgebied soek. Die kollege vereis van studente om ervaringsonderrig (soos vakleerlingskappe of internskappe) te voltooi as deel van die kursus. Praktiese ervaring is dus nodig.

Nie alle kolleges bied dieselfde kursusse aan nie en daarom is dit nodig om navorsing oor verskillende kolleges te doen voordat jy besluit. Kursusse in onder meer entrepreneurskap, landbou, haarkappery, gasvryheidsbestuur word aangebied of jy kan ’n ambag te leer, soos om ’n elektrisiën te word. 2 [Lees hier oor entrepreneurskap.]

TBOO-kolleges se studente kan ook aansoek doen vir keuring by ’n universiteit vir tegnologie as hulle hul verder wil bekwaam. Hierdie kolleges is staatskolleges en kry dus geld by die staat om die kursusgeld bekostigbaar vir studente te hou. 2

Tegniese kolleges het sedert hul ontstaan in Suid-Afrika baie verskillende baadjies gedra en daarom is dit belangrik om te kyk waar alles begin het.

Die geskiedenis van tegniese kolleges

Soos jy seker al weet, het die ontdekking van goud en diamante in Suid-Afrika groot veranderinge teweeggebring. Diamante is in 1867 in Kimberley en goud in 1884  aan die Witwatersrand ontdek. Sommer gou-gou het hierdie gebiede uitgebrei en groter geword en mense het daarheen gestroom.

Die mynbedryf het baie werkers nodig gehad en so ook die spoorweë. Daar moes treinspore aangelê word om al die vragte te hanteer. Sodoende het daar ’n behoefte aan tegniese opleiding ontstaan en die mynbedryf en spoorwegstelsel het begin om klasse vir hul werkers aan te bied. 3

Die eerste klasse in beroepsvakke vir spoorwegwerkers het in 1884 in Durban begin. Dit word as die eerste formele klasse in tegniese vakke in Suid-Afrika gesien. Die spoorweg het hul klasse uitgebrei en daar is ook klasse in Soutrivier (1890), Uitenhage (1895) en Oos-Londen (1902) aangebied. Die mynbedryf het weer klasse in Kimberley, Johannesburg, Pretoria, Potchefstroom, die Oos-Rand en die Wes-Rand gegee. Ook in Kaapstad, het die Kamer van Skeepshandel in 1905 begin om klasse in handelsvakke aan te bied. 3

So het die klasse gegroei en naderhand was dit nodig vir provinsies om onderrig te reguleer. Transvaal het byvoorbeeld ’n kommissie vir tegniese onderwys aangestel en in 1905 het Natal en die Oranjerivier-kolonie dieselfde gedoen. In 1906 het die Pretoria Polytechnic, en in 1907 die Durban Tegniese Instituut, tegniese klasse heeltyds begin aanbied. Daar was ook ’n SA Kollege in Kaapstad wat met deeltydse tegniese klasse begin het. In 1923 is die Hoger Onderwys Wet, 1923 (Wet 30 van 1923) ingestel om tegniese kolleges te begin beheer.

Ná hierdie wet ingestel is, het tegniese kolleges uitgebrei en met rasse skrede gegroei.

Veranderinge aan wetgewing (Wet 43 van 1925) het ongeveer 42 instellings vir beroepsonderwys onder die beheer van die destydse Unieregering geplaas. Suid-Afrika was in daardie tyd nog ’n unie en nie ’n republiek nie.

Ingevolge hierdie wet, is onderriginstellings in Durban, Kaapstad, Oos-Londen, Pietermaritzburg, Port Elizabeth, Pretoria en die Witwatersrand (Johannesburg) as tegniese kolleges verklaar.

Verdere wetgewing het vakleerlinge in 1931 verplig om klasse aan tegniese kolleges by te woon. Die Tweede Wêreldoorlog het tot ’n groter aanvraag na tegniese kolleges gelei, want toe kon baie goedere nie meer ingevoer geword nie en baie daarvan moes self hier gemaak geword het.

So is nog meer instellings as kolleges verklaar en nuwe voortsettingsklasse (later tegniese institute genoem) is op talle plekke gestig. Kleiner kolleges is ook onder die beheer van groter kolleges geplaas, soos die Witwatersrandse Tegniese Kollege wat ’n hoofkollege in Johannesburg gehad het en talle kleiner takke. Dié kollege het al in 1954 meer as 20 takke met meer as 20 000 studente gehad. 3

Tot en met 1955 is die tegniese kolleges deur outonome rade beheer en baie kolleges het nie net naskoolse onderwys aangebied nie, maar ook hoërskoolklasse vir studente.

As gevolg van geld- en bestuursprobleme het die destydse regering in 1954 besluit om tegniese kolleges as volle staatsinstellings oor te neem. Daar is besluit om alle beroepsonderwys op sekondêre vlak onder provinsiale beheer te plaas.

Tegniese kolleges en tegniese institute was baie dieselfde en al wat werklik verskil het, is hoe hul raad saamgestel is en hoe onafhanklik hierdie raad gewerk het. Albei het klasse vir vakleerlinge aangebied, deeltydse klasse vir sekondêre onderwys, naskoolse beroepsonderwys (handel en tegnies); taalkursusse vir immigrante; en stokperdjiekursusse.

Daar is ook in 1973 begin met handelskursusse by tegniese kolleges en tegniese institute om mense meer oor besigheid en administrasie te leer. Soos reeds genoem, het die verskil tussen ’n tegniese kollege en ‘n tegniese instituut eintlik maar by hul raad gelê. 3

Die Wet op Tegniese Onderwys 1981 (Wet 104 van 1981) het weer veranderinge teweeggebring en op 1 Mei 1982 is die tegniese institute almal tot tegniese kolleges verklaar. Daar is ook voorts in 1982 ’n vereniging van tegniese kolleges gestig. 3

Nadat die Grondwet in 1983 aangepas is, is daar besluit dat die verskillende departemente van onderwys vir die verskillende bevolkingsgroepe verantwoordelik sou wees vir die voorsiening van naskoolse beroepsonderwys vir studente, elk volgens sy/haar eie bevolkingsgroep.

Mense van ander rasse kon toe ook kolleges bywoon en nuwe tegniese kolleges het ontstaan om in hul behoeftes te voorsien. Daar was dus tegniese kolleges vir wit mense en tegniese kolleges vir swart, bruin en Indiërmense.

Die eerste demokratiese verkiesing het ’n einde aan rassesegregasie gemaak en dus ook ’n einde aan kolleges wat net vir sekere rasse bedoel was.

Alle kolleges moes toe onder een sambreel saamgevoeg geword het en die nuwe Departement van Onderwys het allerlei nuwe beleide en raamwerke ingestel. Mettertyd is die kolleges FET-kolleges, oftewel VOO-kolleges genoem (kolleges vir verdere onderwys en opleiding) genoem. Die nuwe naam was ook ’n manier om die negatiewe beeld van die ou bedeling af te skud. 4

Daar is deur die jare verskeie pogings aangewend om tegniese kolleges te verander en te verbeter met komitees wat hulle ondersoek het en wetgewing wat verander het.

Vandag lyk hierdie sektor baie anders as in vorige jare en studente verteenwoordig die demografie in die land.

Daar is vandag 50 geregistreerde en geakkrediteerde openbare VOO-kolleges in Suid-Afrika. Dit is die Boland VOO-kollege; Buffalo City VOO-kollege; Capricorn VOO-kollege; Central Johannesburg VOO-kollege; Coastal VOO-kollege; College of Cape Town vir VOO; Eastcape Midlands VOO-kollege; Ehlanzeni VOO-kollege; Ekurhuleni East VOO-kollege; Ekurhuleni West VOO-kollege; Elangeni VOO-kollege; Esayidi VOO-kollege; Valsbaai VOO-kollege; Flavius Mareka VOO-kollege; Gert Sibande VOO-kollege; Goldfields VOO-kollege; Ikhala VOO-kollege; Ingwe VOO-kollege; King Hintsa VOO-kollege; King Sabata Dalindyebo VOO-kollege; Lephalale VOO-kollege; Letaba VOO-kollege; Lovedale VOO-kollege; Majuba VOO-kollege; Maluti VOO-kollege; Mnambithi VOO-kollege; Mopani South VOO-kollege; Motheo VOO-kollege; Mthashana VOO-kollege; Nkangala VOO-kollege Northern Cape Rural VOO-kollege; Noord-Kaap Stedelike VOO-kollege; Northlink VOO-Kollege; Orbit VOO-kollege; Port Elizabeth VOO-kollege; Sedibeng VOO-kollege; Sekhukhune VOO-kollege; Suid-Kaap VOO-kollege; South West Gauteng VOO-kollege; Taletso VOO-kollege; Thekwini VOO-kollege; Tshwane-Noord VOO-kollege; Umfolozi VOO-kollege; Umgungundlovu VOO-kollege; Vhembe VOO-kollege, Vuselela VOO-kollege; Waterberg VOO-kollege; Weskus VOO-kollege; en die Western-kollege vir VOO. 5

Woordbank

ambag Werk wat handvaardigheid vereis; meganiese werk.
bedeling Reëling of stelsel.
bekwaam Bedrewe, knap.
beroepsgerigte Wat betrekking op ’n loopbaan het.
bestel ’n Reëling of bestuur.
demografie Die statistiese studie van bevolkings.
domein Gebied of werkkring.
entrepreneurskap Dit is die oprigting van ’n eie sakeonderneming.
gasvryheidsbestuur Die dienstebedryf waarin daar voortdurend intieme kontak is tussen werknemers in hotelle/restaurante/gastehuise, ens.
gereedskapmaker Dit is iemand wat spesifieke gereedskapstukke (matryse en setmate) uit roumateriaal kan vervaardig. Draaibanke, slypmasjiene en boormasjiene word gebruik.
institute Instelling.
internskap Dit is wanneer iemand onder toesig moet werk; ’n geleentheid vir interne opleiding.
kurrikulum Die vakke wat  ’n skool of kollege, ens. Aannbied of alles wat in ’n bepaalde vak bestudeer moet word.
matrys Die hol vorm waarin letter, stempels of munte gegiet word.
met rasse skrede Baie vinnig.
masjienmonteur Dit is iemand wat meganiese masjinerie en toerusting wat elektries aangedryf of beheer word, herstel en installeer.
outonome Selfbestuur, selfregering, selfstandig.
passer-en-draaier Dit is iemand wat verantwoordelik is vir die bestudering van bloudrukke, planne en tekeninge om dele van masjiene te kan konstrueer, monteer, vervaardig en inpas.
raamwerk Dit is iets
rassesegregasie Dit was die maatskaplike of politieke bestel in Suid-Afrika waarvolgens rasse geskei is.
sektor Die afdeling van ’n gebied.
setmaat Die maat om ’n hoeveelheid mee te bepaal.
vakleerlingskappe Dit is wanneer iemand in ’n vak opgelei word, maar terselfdertyd praktiese vakkennis en vaardigheid opdoen.
vaardighede Die vermoë om iets goeds te doen. 10

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Hoekom is ’n tegniese kolleges ’n goeie idee?

’n Verskeidenheid van kursusse kolleges

Wat bied Sol-Tech?

Gepubliseer op: 27 Februarie 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024