Vinnige feite

  • Die Nama bly hoofsaaklik in hierdie drie dorpies: Kuboes, Lekkersing and Eksteenfontein. 7
  • Argeoloë het gedeeltes van fossiele hier gevind wat tot 17 miljoen jaar oud is. 7 [Lees hier oor fossiele.]
  • Die Richtersveld kan opgedeel word in vier verskillende soorte landskappe: Die vloedvlaktes langs die Oranjerivier, die ander vlaktes, die heuwels en die berge met hulle ruwe rotse. 7
  • Die Richtersveld is die tuiste van die enigste oorblywende lede van die Nama-stam of Khoikhoi wat steeds hulle tradisionele semi-nomadiese leefwyse beoefen (dit beteken dat hulle van plek na plek trek). 3
Foto: iStock

Die Richtersveld is eintlik amper ʼn woestyn in die noordwestelike deel van Suid-Afrika. Wanneer mens aan ’n woestyn dink, dink mens gewoonlik aan ’n plek waar daar nie baie lewe is nie, maar dit is nie waar ten opsigte van die Richtersveld nie.  Kom ons kyk wat hierdie deel van ons land besonders maak.

Die oorsprong van die naam

Daar was in 1830 ʼn sendeling van die Rynse Sendinggenootskap wat die gebied besoek het. Sy naam was dr. E Richter. ʼn Klompie jare daarna is daar ʼn sendingstasie by Kuboes gestig. Om die besoek van Richter te onthou, is die gebied na hom vernoem en het dit as Richtersveld bekend begin staan. 1

Waar is die Richtersveld?

Die Richtersveld is ʼn 8 000 m2-gebied in die noordwestelike deel van Suid-Afrika, en die gebied se grense is soos volg: 2

  • In die weste: die Atlantiese Oseaan vanaf Alexanderbaai tot by Port Nolloth
  • In die noorde: die Oranjerivier
  • In die ooste: die Kalahari en die Oranjerivier
  • In die suide: die pad tussen Port Nolloth en Steinkopf 1

Wêrelderfenisgebied

Die Richtersveld is ʼn Wêrelderfenisgebied. Wêrelderfenisgebiede word deur UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation of die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) geïdentifiseer. Die doel van sulke erfenisgebiede is om “ons erflating uit die verlede, dit waarmee ons vandag saamleef en dit wat ons aan toekomstige geslagte nalaat,” te bewaar en op te pas. 1

Die Richtersveld het natuurlike asook kulturele kriteria wat dit eiesoortig maak en laat kwalifiseer het om ’n Wêrelderfenisgebied te word.

Die natuurlike kenmerke van die gebied is indrukwekkend. Ten spyte van die lae reënval bevat dit meer as 5 000 plantspesies waarvan ongeveer 40% inheems is aan die streek. [Lees hier oor inheemse en uitheemse plante.]

Die kulturele betekenis van die Nama veeboere en hulle ou leefstyl wat steeds volgehou word, het ook vir UNESCO beïndruk. 3

Dorpe in die Richtersveld

Omdat daar nie soveel mense in die gebied bly nie, is daar ook nie vreeslik baie dorpe hier nie. Sommige van hierdie plekke is sommer baie klein dorpies en party het ook baie eienaardige name! 1

  • Sanddrift
  • Eksteenfontein
  • Alexander Bay
  • Kuboes
  • Lekkersing
  • Port Nolloth 4
  • Grootderm
  •  Muisvlakte
  • Sendelingsdrif 5

Eksteenfontein

Klimaat

Die gemiddelde reënval in die gebied is maar net 220 mm per jaar! Dit is omtrent soveel reën soos wat partykeer maklik in net ʼn paar dae in ander dele van die land val. Selfs wanneer dit die dag baie reën, kom die riviere en strome wat in die rigting van die Atlantiese Oseaan vloei, nooit by die see uit nie. Die water verdwyn alles in die sand. Daar is net een rivier wat al een of twee keer in die geskiedenis die see bereik het, en dit is die Holgatrivier. Daar is dus geen standhoudende riviere nie, of anders gestel, riviere wat altyd water in het nie.

Dit is baie warm hier vir die grootste deel van die jaar. Dit kan in die somer soms tot meer as 50 grade Celsius in die dag word. Dit word so warm dat rotse soms oopbars van die hitte. Die oudste rotse in die gebied is meer as 2 000 miljoen jaar oud. 2 Omdat dit so warm in die Richtersveld is, is die maande van Mei tot September die beste tyd om daarheen te gaan vir vakansie – in die ander maande van die jaar is dit net te warm.

Die mense van die Richtersveld

Die Richtersveld is die laaste gebied waar daar nog lede van die Nama wat op hulle tradisionele manier leef, voorkom. Hulle is ʼn Khoi-Khoi-stam. Dit beteken dat klein familiegroepe met hulle vee agter weiding vir die vee aan trek. Sommige van hulle woon ook steeds in dieselfde soort matjieshuise soos hulle voorgeslagte reeds die afgelope 2 000 jaar gedoen het. Hierdie huise word gebou deur ʼn raamwerk van latte te buig en inmekaar te vleg om ʼn soort ronde huis te vorm. Bo-oor die raamwerk word matte wat van gras of biesies gevleg is, vasgemaak. Wanneer die inwoners trek, bly die raamwerk agter en neem hulle slegs die gevlegte matjies saam. 1

Plante wat hier voorkom

Vetplante

Navorsers dink dat daar meer as 4 800 verskillende vetplante hier groei. Van hierdie vetplante is daar ongeveer 40% wat net hier groei en op geen ander plek nie.

Wat ook interessant is om te weet, is dat 70 spesies van hierdie plante deur die inheemse bevolking as veldkos geëet word. Veertig soorte van hierdie plante word vir medisyne gebruik. Meer as 50 ander plante word gebruik vir dinge soos die maak van seep, en sommiges word gebruik om toue mee te vleg. 1

Halfmensbome

ʼn Halfmensboom is ʼn baie interessante boom wat net in die Richtersveld groei en kan tot 5 meter hoog word. 1 Dit lyk soos ʼn reusevetplant met ʼn klompie takke of arms met blare bo-aan. Hierdie blare aan die bokant neem energie van die son en ook water op. Daarom is die “kop” van die boom altyd na die noordekant gedraai om soveel as moontlik van die son se strale op hom te laat skyn.

Dit is moeilik om hierdie boom met woorde te beskryf, kyk liewer in hierdie video hoe hierdie besonderse boom lyk:

Halfmensbome is baie skaars. In die video kan mens hoor waarom. Die ideale toestande waarin hierdie bome ontkiem, kom net ongeveer een keer elke 50 jaar voor. Daarom is hulle nie volop nie en daarom sien mens ook nie sommer klein halfmensbome nie.

Kokerbome

Kokerbome kan ook boomaalwyne genoem word. Hulle kan baie oud word, sommer tot 400 jaar oud! Die boom het sy naam gekry omdat jagters van die San– en Khoi-Khoi-volke die takke van die bome uitgehol het en dit dan gebruik het as kokers of houers om hulle pyle in te bêre. 1

Ander plante

Die Richtersveld-aalwyn of Pearson se aalwyn is vernoem na dr. H.W. Pearson wat in 1910 die eerste keer die plant gesien en aangeteken het.

  • Vygies: Vetplante wat veelkleurig blom na die reën.
  • Botterboom: ’n Regop vetplant met takke wat ongeveer een meter hoog kan word.
  • Ghaap: Hierdie plant word al vir eeue lank deur die Khoi-Khoi en San as ʼn eetlusdemper gebruik. Farmaseutiese maatskappye maak dieetpille van die plant.

Kyk hier na kokerbome, botterbome en sommer ook na van die ander diere en plante wat in die Richtersveld voorkom:

Diere wat hier voorkom

Roofdiere

Mens kry rooikatte, verskillende soorte jakkalse en soms ook luiperds hier.

 

Soogdiere

Meerkatte, verskillende muishondspesies, blouape en Kaapse bobbejane woon hier.

Ander diere

Verskillende soorte muise en ook verskillende soorte vlermuise, rotte, Kaapse vlakhase, grondeekhorings, dassies, molle en ystervarke kom hier voor. 6

Voëls

Op die plek waar die Oranjerivier uitmond, is daar moerasse, eilande en moddervlaktes waar baie verskillende voëls voorkom. ʼn Paar voorbeelde van hierdie groot klomp voëls is kolganse, flaminke, skoorsteenveërs, trekduikers en rooibandstrandkiewiete. 1

Daar is ook ʼn klompie roofvoëls wat hier voorkom, onder meer die witkruisarend, visarend, Kaapse ooruil en jakkalsvoël. Ander voëls wat mens ook hier kry, is die bokmakierie, verskillende soorte swaels, kelkiewyn, hoephoep, diederikkie, piet-my-vrou, bleshoender en ʼn paar soorte tiptolle. Die meeste van hierdie laaste klompie voëls kom voor in die Richtersveld-oorgrensbewaringsgebied. 6

Insekte

Insekte het ʼn belangrike rol in die gebied. Hulle bestuif baie van die plante, en hulle is ook kos vir van die groter spesies. Insekte wat hier leef, is spesiaal aangepas om in die woestyn te kan oorleef. Hulle lywe het ʼn wasagtige bedekking wat hulle help om water te behou. Daar is van die termiete wat hier leef wat tot 20 meter in die sand inboor om by die diep water onder die grond uit te kom.

Die Richtersveld het die wêreld se grootste verskeidenheid vismotte wat op een plek aangetref word. 1

Reptiele, amfibieë en visse

Verskillende soorte akkedisse, waterlikkewane en geitjies leef hier.

Die wêreld se kleinste skilpadjie kry mens ook hier. Dit is die Namakwa-padloper wat maar net 100 mm groot is wanneer hy volwasse is.

Daar is min slange, en die slange wat wel hier leef, onder meer verskillende woestynadders en die swart spoegkobra, is nogal taamlik giftig.

Omdat dit so droog is, grawe die paddas wat hier leef hulle onder die grond in, en hulle kom eintlik net uit wanneer dit goed gereën het. 1

Die Richtersveld Nasionale Park

Hierdie park word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) bestuur. Die hoofingang is by Sendelingsdrif. Een van die bekende besienswaardighede hier is die Hand van God. Dit lyk soos ʼn reusehandafdruk teen ʼn baie groot rots. Van die kampterreine in die park het interessante name soos Richtersberg, Tatasberg, Kokerboomkloof, Gannakouriep en Hakkiesdoring. 1

Woordbank

fossiele Oorblyfsels van plante en diere wat in die gesteentes van die aarde bewaar gebly het.
inheems Iets wat in ’n land of gebied tuishoort en van nature daarin voorkom.
farmaseutiese Dit wat met die maak van geneesmiddels te doen het. 8

Lees en kyk hier om nog meer te leer oor die Richtersveld

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Richtersveld

In hierdie twee video’s kan jy sien hoe dit in die Richtersveld lyk.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 November 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024