Vinnige feite

  • Grace Kelly was in 1954, net voor sy prins Rainier ontmoet het, vir ʼn kort rukkie verloof aan die Russiese modeontwerper Oleg Cassini. Daar word gesê dat Cassini die een is wat Kelly se kenmerkende elegante styl help vorm het. 7
  • Grace se naam het in 1954 vir die eerste keer op die internasionale lys van besgeklede mense verskyn. Haar naam het vir ʼn paar jaar daarna weer op dié lys verskyn. In 1955 is haar figuur gebruik as die model vir mannekyne wat in klerewinkels se vertoonvensters gebruik is. 7
  • Prins Rainier en Grace se enigste seun, prins Albert II, is met die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer Charlene Wittstock getroud. Charlene is in Zimbabwe gebore en het as 12-jarige saam met haar gesin na Suid-Afrika verhuis. Sy het ons land in 2000 by die Olimpiese Spele in Sydney, Australië verteenwoordig. 19
  • Albert het in die sportvoetspore van sy ma se familie se gevolg. Hy het Monaco by die Olimpiese Winterspele in 1988, 1992, 1994, 1998 en 2002 in die bobslee-span verteenwoordig. 7 Bobslee is ʼn sport waar deelnemers met ʼn vaartbelynde slee teen ʼn ysbaan afgly.
  • Monaco, die wêreld se tweede kleinste land, bied sedert 1929 elke jaar een van die Grand Prix-wedrenne aan. Dit is die stadigste en moeilikste renbaan in die Formule 1-kampioenskapsreeks. 20
  • Ten tye van Kell (Grace se broer) se dood drie jaar ná haar in 1985, was hy die voorsitter van die Amerikaanse Olimpiese Komitee. Hy is aan ʼn hartaanval oorlede terwyl hy gedraf het. Sewe uur ná sy dood het sy swaer (sy suster Peggy se man) onder dieselfde omstandighede gesterf. 6
  • Monaco word nie verniet die speelgrond van die rykes genoem nie. Met meer as 12 000 miljoenêrs is dit die land met die meeste miljoenêrs in vergelyking met die grootte van die land. Meer as ʼn derde van die land se inwoners is miljoenêrs. 21
  • Monaco is kleiner as Central Park in New York. Dit is slegs 1,95 km² groot en jy sal in minder as ʼn uur oor die hele breedte van die land kan loop. 21
  • Marilyn Monroe het Grace Kelly byna voorgespring om met prins Rainier te trou. Die Griekse skeepvaartmagnaat Aristotle Onassis het gereken prins Rainier kan Monaco se beeld verbeter as hy met ʼn Amerikaanse filmster sou trou. Volgens Onassis sou dit die klein landjie meer aantreklik as ʼn toeristebestemming maak. Marilyn het nie belang gestel nie, maar was seker dat die prins gou dolverlief op haar sou wees. “Gee my twee dae alleen saam met hom, dan sal hy met my wil trou,” het sy gesê. 22
Foto: iStock

ʼn Vrou hoef nie noodwendig met ʼn prins te trou om ʼn prinses te wees nie. Dit is die manier hoe sy loop, praat en aantrek wat haar koninklik maak. Grace Kelly is nie verniet Grace genoem nie. Sy was die toonbeeld van grasie en elegansie, en daar het baie blou bloed in haar are gevloei lank voor sy met prins Rainier III van Monaco getroud is.

Afkomstig uit ʼn gesin van wêreldklasatlete, het Grace jonk reeds haar eie pad gekies en op háár manier die Olimpiese medalje vir toneelspel met haar Oscar-toekenning gewen. Nog lank voor prinses Diana, wat toevallig ook in ʼn motorongeluk oorlede is, was sy die toonbeeld van “ʼn prinses van die mense”. Tot met haar ontydige dood in 1982 het Grace Kelly die wêreld aan haar voete gehad.

Vandag word sy onthou deur die blomme, handsakke en selfs modes wat na haar vernoem is en haar gees leef voort deur die liefdadigheidsorganisasies wat vandag nog kinders reg oor die wêreld beskerm en akteurs die kans gee om hul drome uit te leef.

Skermskoot van die film, Dial M for Murder,1954

ʼn Baie talentvolle gesin

Grace Patricia Kelly is op 12 November 1929 gebore as die derde kind van John Brendan Kelly sr. (ook bekend as Jack Kelly) en Margaret Katherine Majer Kelly in Philadelphia, in die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië. Haar pa was van Ierse afkoms en haar ma het van ʼn Duitse familie gekom. 1

Grace Kelly op Modern Screen-omslag, Desember 1954

Pa Jack was suksesvol in eie reg. Toe Grace gevra is of sy ʼn outobiografie wil skryf, het sy gesê sy sou eerder ʼn biografie oor haar pa wou skryf, omdat sy maar net die naskrif van sy lewe is. Dit sou waarskynlik vir mense vreemd klink: Hoe is dit moontlik dat haar pa belangriker kon wees as een van die bekendste vroue ter wêreld? Binne die Ierse gemeenskap van die stad Philadelphia was Jack egter ʼn legende in die sake-, sport– en politieke wêreld. 2

Charles Walters, Frank Sinatra en Grace Kelly op die stel van High Society, 1956

Hy was boonop ʼn kranige roeier. Tot en met sy uittrede uit dié sport in 1924 het hy ses Amerikaanse nasionale kampioenskappe, 126 kleiner wedrenne en ook twee Olimpiese goue medaljes tydens die Olimpiese Spele in 1920 in België verwerf. In 1924 wen hy ʼn derde goue medalje saam met sy neef Paul Costello. Vandag pryk Jack Kelly se naam in die Olimpiese heldesaal in die VSA steeds as die enigste roeier in die Verenigde State van Amerika (VSA). 2

As sakeman het hy ook uitgeblink. Tydens sy laat tienerjare werk hy as ʼn messelaar (iemand wat met bakstene/klip en sement/klei bou), maar tydens die Eerste Wêreldoorlog word sy loopbaan tydelik onderbreek. Ná die oorlog leen hy $5 000 by twee van sy broers wat hy gebruik om ʼn konstruksiemaatskappy met die slagspreuk “Kelly for Brickwork” te begin. Dié maatskappy het baie goed gedoen en kort voor lank was Jack ʼn miljoenêr met ʼn pragtige huis in een van Philadelphia se rykste voorstede. 2

Die Kelly-gesin het byna almal in sport uitgeblink. Grace se ma Margaret was nie net ʼn model en voorbladmeisie nie (’n vrou wat gereeld op die voorblad van tydskrifte verskyn). 3 Sy was ook ʼn swemmer wat aan kompetisies deelgeneem het en die eerste direkteur (hoof van ʼn afdeling) van vroueatletiek aan die Pennsilvanië-Universiteit in Philadelphia. 4

Prinses Grace poseer vir Carla Lavatelli

Peggy was Grace se ouer suster en haar ouer broer, John jr. Haar sussie Lizanne is vier jaar ná haar gebore. 5 John jr., beter bekend as Kell, is deur sy pa afgerig en het tussen 1948 en 1960 aan vier Olimpiese Spele deelgeneem. Hy’t in 1956 ’n bronsmedalje verower. 6

Grace Kelly en Frank Sinatra op die stel van High Society, 1956

Opleiding

Hoewel sy op skool aan sport deelgeneem het, wou Grace nie soos die res van haar gesin aan kompetisies deelneem nie. Haar kop het verhoog se kant toe gestaan. Ook g’n wonder nie, want sy het twee ooms aan haar pa se kant gehad wat in die vermaaklikheidsbedryf was. Een van haar pa se broers, Walter Kelly, was ’n vaudeville-kunstenaar wat gehore met komiese toneeltjies vermaak het. 7

Haar ander oom, George Kelly, was ʼn dramaturg wat in 1926 met ʼn Pulitzerprys bekroon is. 7 Die Pulitzerprys is ʼn Amerikaanse toekenning – die hoogste eer wat elke jaar toegeken word aan die beste skryfwerk in verskillende kategorieë (joernalistiek, letterkunde, en musiek). 8 George Kelly het dié eerbetoon vir sy drama Craig’s Wife ontvang. 7

Tydens haar hoërskooljare aan die Stevens-skool in Philadelphia het sy gedans en toneelgespeel. Ná hoërskool kon sy, weens haar swak wiskundepunte, nie toelating tot Bennington College kry nie. Sy besluit om haar drome na te jaag en verhuis na New York om drama aan die American Academy of Dramatic Arts te studeer. 5 Haar ouers was glad nie gelukkig met haar loopbaankeuse nie. Haar pa het gereken toneelspel is net ʼn klein entjie bo dié van ʼn straatvrou. 9

Donald Sinden, Grace Kelly, Clark Gable, Denis O’Dea, Ava Gardner en Eric Pohlmann op die stel van Mogambo

Dit het Grace egter nie gekeer om haar droom te volg nie. Onder die aanmoediging van haar oom George begin sy haar studies aan die Academy. Om vir haar opleiding te betaal, het sy deeltyds modelwerk gedoen. Sy verskyn onder meer in advertensies vir sigarette en ook op die voorblaaie van die Amerikaanse tydskrifte Cosmopolitan en Redbook. 9

In 1949 slaan sy haar eerste rol los. Haar vertolking van die dogter in die Broadway-verhoogdrama The Father word gekritiseer as gevolg van haar hoë stem wat nie ver kon projekteer nie. Hierna doen sy spraakoefeninge om in ʼn laer toonhoogte en timbre te praat. 7

Grace Kelly en James Stewart in die film Rear Window, 1954

Prinses van die silwerskerm

The Father besluit Grace om die verhoog eerder vir die kassie (televisie) te verruil. Sy doen baie ondervinding voor die kameras op waar sy klein rolle in meer as dertig televisiedramas vertolk. 10

Op 22 vertolk Grace die rol van Mrs. Louise Ann Fuller in die 1951-fliek Fourteen Hours. Hoewel sy net vir twee minute te sien was, was dit genoeg vir talle regisseurs om van dié jong aktrise kennis te neem. 11

In 1952 vertolk sy die rol van die bekende akteur Gary Cooper se vrou in die fliek High Noon. Hierdie Wilde Weste-fliek word vir vier Oscars benoem. 7 Die Oscars, ook bekend as die Academy Awards, is toekennings wat jaarliks deur die Amerikaanse rolprentakademie (die Academy of Motion Pictures Arts and Sciences) aan die beste mense in die filmbedryf gegee word. 12 Grace slaan daardie jaar ook ’n sewejaarkontrak met die MGM-rolprentmaatskappy los. Hiervolgens sou sy $750 per week verdien. Aan die einde van haar loopbaan het sy nege rolprente saam met MGM gemaak. 7

In 1953 word Grace vir die eerste keer vir ʼn Oscar benoem vir die fliek Mogambo wat in Kenia in Afrika verfilm is. Sy ontvang ʼn Golden Globe-toekenning vir haar toneelspel. Die Hollywood-legendes Clark Gable en Ava Gardner het saam met haar in hierdie fliek verskyn. 9

Grace Kelly en Gary Cooper in die film, High Noon

Die jaar 1954 was ʼn belangrike jaar vir Grace Kelly. Sy ontvang ʼn Oscar-toekenning as beste aktrise vir haar vertolking van die vrou van ʼn alkoholis in The Country Girl, en word onder die publiek bekend vir haar rolle in drie Alfred Hitchcock-rillers. Sy kry die rol in Dial M for Murder toe Ingrid Bergman nie meer in die fliek kon verskyn nie. Die rillers Rear Window (1954) en To Catch a Thief (1955) was ook ʼn wegholsukses vir Hitchcock en laat Grace se Hollywoodster al helderder skyn. 7

Skermskoot van die film High Noon

High Society en The Swan, waarin sy toevallig die rol van ʼn prinses vertolk, is die laaste twee rolprente waarin Kelly verskyn het voordat sy Hollywood vaarwel toeroep. 11

Die begin van ʼn sprokie

Op 6 Mei 1955 begin ʼn liefdesverhaal wat die wêreld aangryp toe prins Rainier III van die vorstedom Monaco Grace Kelly by sy paleis ontmoet. Dit was ’n kort kuiertjie, want Grace moes daardie aand ʼn funksie (geleentheid) by die Cannes-rolprentfees in Frankryk bywoon. 13

Prinses Grace van Monaco en Prins Rainier III van Monaco

Grace het na die VSA teruggekeer en sy en prins Rainier het begin om briewe vir mekaar te skryf. In Desember van daardie jaar besoek prins Rainier die Kelly-gesin in Amerika om toestemming te kry om met Grace te trou. 13

Ná ’n kort verlowing van vier maande trou die 26-jarige Grace op 19 April 1956 met haar 33-jarige prins in die Monaco-katedraal. Die seremonie is deur 600 gaste (insluitend koninklikes, staatshoofde en rolprentsterre) bygewoon, terwyl 30 miljoen mense oor die hele wêreld dit op TV dopgehou het – boonop in ʼn tyd waar daar nog nie ʼn televisiestel in elke huis was nie! Ongeveer 1 500 joernaliste het op Monaco toegesak. Dit is meer joernaliste as wat tydens die Tweede Wêreldoorlog oor die gebeure verslag gedoen het!

Die film Rear Window, 1954

Haar trourok is onder meer van 125 jaar oue Belgiese kant gemaak en word steeds as een van die mooiste trourokke ooit beskou. 10 Die rok hang vandag in die Philadelphia-kunsmuseum. 13

Grace Kelly arriveer by die 28ste jaarlikse Oscar-toekennings, 1956

Maar daar is ook iets baie besonders aan haar trouskoene… David Evins, ‘n toonaangewende Amerikaanse skoenmaker, het die trouskoene gemaak om Grace se trourok te komplementeer. Dit was Grace se versoek dat ‘n koperpennie in die regterskoen ingebou (weggesteek) word vir goeie geluk! 14

Prinses van Monaco

Prins Rainier, die heerser van die tweede kleinste land in die wêreld, was baie angstig om kinders te kry en mens kan dit heeltemal verstaan as jy die rede daaragter sien… Hoewel sy familie, die Grimaldi’s, Monaco reeds sedert 1297 beheer het, was daar ʼn ooreenkoms met die aangrensende Frankryk dat, indien daar nie ʼn troonopvolger was nie, Monaco deel van Frankryk sou word. 15

In 1957 word die paartjie se eersteling Caroline gebore en verseker dat Monaco onafhanklik van Frankryk sou bly. In 1958 word hul enigste seun Albert gebore. Hy het met sy pa se afsterwe in 2005 die heerser van Monaco geword. Grace en prins Rainier se laatlammetjie Stéphanie is in 1965 gebore. Stéphanie het later ʼn model, sangeres en modeontwerper geword. 7

As prinses moes Grace haar loopbaan as aktrise vaarwel roep en het op haar kinders en liefdadigheidswerk gefokus. In 1958 word sy as die president van Monaco se Rooi Kruis aangestel. 16

Sy het ook ʼn paar van haar eie liefdadigheidsorganisasies gestig:

  • Die Amade-stigting is in 1963 deur prinses Grace gestig nadat sy getref is deur die swaarkry van Viëtnamese kinders tydens hul land se oorlog teen die VSA. Oor die jare het hierdie organisasie hom vir die regte van kinders oor die wêreld heen beywer. Prinses Caroline het dié organisasie ná haar ma se dood oorgeneem. Vandag bestaan Amade (Wêreldvereniging van Kinders se Vriende) uit duisende werkers en vrywilligers (mense wat sonder betaling werk) wat op vier vastelande kinders teen, onder meer, mishandeling en hongersnood beskerm. 17
  • Nog een van Grace se liefdadigheidsorganisasies wat ʼn groot impak op ander se lewe het, is die Prinses Grace-stigting in Monaco wat ook ʼn tak in die VSA het. Hierdie organisasie fokus op die bevordering van die kunste. Stephen Hillenburg is een van die bekendste ontvangers van ʼn beurs deur dié stigting. Hy was die skepper van die gewilde tekenprent Spongebob Squarepants. 15

Ontydige dood

Op 13 September 1982 tref tragedie toe prinses Grace en haar jongste dogter Stéphanie in ʼn motorongeluk betrokke is. Grace was op pad om prinses Stéphanie na ʼn treinstasie te neem waar sy ʼn trein na Parys, waar sy skoolgegaan het, sou haal. Ongeveer drie kilometer buite die dorpie La Turbie het Grace ʼn skerp draai gemis. Die motor het die pad verlaat en teen ʼn krans afgerol. Grace en Stéphanie is na ʼn hospitaal geneem en die 17-jarige Stéphanie is die volgende dag ontslaan. Grace herwin egter nooit haar bewussyn nie en op 14 September besluit die gesin dat die masjiene wat haar aan die lewe hou, afgeskakel moet word. Op 52-jarige ouderdom sterf Grace Kelly in die Prinses Grace-hospitaal, ʼn hospitaal wat sy in 1977 geopen het. 18

Graf van Prinses Grace van Monaco

Vir ʼn ruk lank was daar sprake dat Stéphanie die motor bestuur het, maar later is dit bevestig dat Grace wel die motor bestuur het. Hoewel dit nooit bewys is nie, het dokters vermoed dat prinses Grace ʼn beroerte gehad het en dít die rede is waarom sy beheer oor die motor verloor het. 17

Op 18 September 1982 word prinses Grace se begrafnis deur ʼn rits presidente, koninklikes en bekende mense bygewoon. Sowat 100 miljoen mense oor die wêreld volg die verrigtinge op televisie. Haar finale rusplek is in dieselfde katedraal waar sy en haar prins se lewe saam begin het.

Prins Rainier sterf op 6 April 2005 in die ouderdom van 81. Hy word langs prinses Grace begrawe – prins en prinses vir altyd en ewig saam. 10

Saam het die egpaar die klein landjie van ʼn vakansiebestemming in ʼn internasionale finansiële, kulturele en sakesentrum omskep. Prinses Grace het allerhande besoekers in haar huis verwelkom: van staatshoofde en Hollywood-bekendes, tot internasionale afgevaardigdes, reisende sakelui, vakansiegangers, sportsterre en vermaaklikheidskunstenaars. 10

Grace Kelly-gedenkteken, Maynooth

Woordbank

advertensies Bekendmaking oor die radio/televisie/ens. van iets wat te koop aangebied word.
afgevaardigdes Iemand wat deur ʼn groep gestuur is om hulle êrens te verteenwoordig.
akteurs Iemand wat toneel speel.
aktrise Vrou wat toneel speel (vandag word die woord akteur vir manlike én vroulike toneelspelers gebruik).
biografie ʼn Beskrywing van iemand se lewe in boekvorm.
dramaturg Skrywer van toneelstukke; iemand wat dramas skryf.
Eerste Wêreldoorlog Die eerste oorlog waarby lande van die hele wêreld betrokke was; 1914 tot 1918.
laatlam(metjie) Kind wat lank ná die ander kinders in ʼn gesin gebore is/word, meestal wanneer die ma nie meer so jonk is nie.
liefdadigheid Welsynswerk wat liefdadigheid behels en/of wat geldelik deur liefdadigheid ondersteun word.
magnaat Iemand wat deur sy rykdom baie invloed het.
mannekyne Winkelvensterpop/vertoonpop.
model Iemand wat vir ʼn kunstenaar/fotograaf poseer of klere vertoon.
naskrif ʼn Kort boodskap (wat jy vergeet het) wat jy heel onderaan ʼn brief skryf nadat jy jou naam geteken het; ekstra besonderhede/inligting wat aan die einde van ʼn storie/verslag bygevoeg word.
outobiografie Lewensverhaal van iemand wat deur hom- of haarself op skrif gestel word.
projekteer Hard en duidelik praat/sing sodat almal in ʼn groot vertrek/saal jou duidelik kan hoor.
regisseurs Iemand wat toneelspelers afrig.
rillers Boek/rolprent/toneelstuk wat ’n mens van spanning/vrees/ens. laat ril.
rol Die karakter wat iemand in ‘n toneelstuk/rolprent/rolspel vertolk en die woorde wat hy/sy (moet) sê.
swaer Broer van jou man/vrou; man van jou suster.
tekenprent ʼn Reeks tekeninge waardeur ʼn storie op aanskoulike wyse vertel word, aanvanklik veral vir kinders.
timbre Kleur van die toon/klank eie aan ’n stem of instrument; klankkleur.
troonopvolger Die persoon wat ʼn regerende vors se plek sal inneem; kroonprins; kroonprinses.
vaudeville Lugtige musikale toneelstuk met vrolike, komiese liedjies, dikwels satiries.
vorstedom Gebied/ryk van ʼn vors. 23

Lees hierdie om meer oor Monaco, Grace en rolprente te leer

Dis beslis die moeite werd om na hierdie video’s te kyk

Die Ierse sangeres Enya bring hulde aan Grace Kelly:

Die Grimaldi-egpaar se amptelike trouvideo:

MGM het ʼn dokumentêre reeks oor Grace en prins Rainier se troue gemaak:

(deel 1)

(deel 2)

In 1955 het Grace die Oscar as die beste aktrise ontvang:

ʼn Dokumentêre program oor Grace Kelly se lewe:

Prinses Diana het prinses Grace se begrafnis bygewoon:

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Oktober 2022 | Bygewerk op 19 Januarie 2024