Vinnige feite

  • Cook was die eerste mens waarvan ons weet wat beide die Noord- en die Suidpoolsirkel gekruis het. 4
  • Cook was so wyd gerespekteer dat selfs sy vyande hom goed behandel het. In Julie 1772 is sy skepe deur ’n Spaanse vloot gevange geneem. Toe hulle besef Cook is die bevelvoerder, is hulle onmiddelik vrygelaat.
  • Gedurende die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1775-1783) het Benjamin Franklin, die beroemde Amerikaanse leier, Amerikaanse skepe laat weet om Cook in vrede te laat. 8
  • Baie mense reken die gebied rondom Nieu-Seeland en die Groot Koraalrif is van die gevaarlikste waters in die wêreld om in te vaar. 10 Die feit dat Cook-hulle daardie waters oorleef het, met die bitter min inligting wat hulle daaroor gehad het, is amper ’n wonderwerk. 9
  • Cook se uiters gunstige verslag oor Botanybaai in Australië was een van die redes waarom die Britte besluit het om in 1787 ’n strafkolonie daar te stig. 1
  • Cook se kaarte is nog tot in die 1950’s gebruik. Sir David Attenborough, die beroemde Britse bioloog en natuurkundige, het die Groot Koraalrif met ’n kaart wat Cook voorberei is, verspied. 3
  • Daar is baie dorpe, riviere en waterweë na Cook en sy bemanning vernoem. Hulle het só lank by ’n riviermond gekamp nadat hulle op die Groot Koraalrif gestrand het, dat die dorp wat daar vandag is, as Cooktown bekend staan. 4

Die 18de eeu was die eeu van ontdekking en uitvinding, van avonture op onbekende oseane, van ontmoetings met nuwe mense en botsings van kulture.

In vorige eeue het ontdekkingsreisigers die wêreld se ander oseane deurkruis, maar die Stille Oseaan het meestal onbekend gebly. Dit is alles verander deur James Cook, die beroemde Britse seevaarder en ontdekkingsreisiger. Hy het groot dele van wat vandag as Oseanië bekend is, opgemeet en gekarteer, en was die eerste mens wat die Suidpoolsirkel gekruis het.

Kinderjare

James Cook is in 1728 in Yorkshire, Engeland gebore. Sy ouers was James Cook en Grace Pace. 1 Sy pa was ’n Skotse immigrant en plaaswerker. 2 Cook het baie arm grootgeword. 3

Cook het min opvoeding ontvang, en moes op ’n jong ouderdom begin werk. 4 Hy was eers ’n plaaswerker soos sy pa, 5 en het daarna by William Sanderson, ’n winkelier in die kusdorpie Staithes, gewerk. Cook was ’n harde werker en was kort voor lank een van Walker se belowendste leerlingseemanne.

Sanderson het hom in 1746 aan John Walker voorgestel. 4 Walker het ’n vloot vragskepe gehad wat steenkool van Newcastle na Londen vervoer het. 3 Walker het Cook in 1746 as leerlingseeman aangestel. 5 Hy het by die Walker-gesin gewoon en saam met die ander vakleerlinge skool gegaan. Hy het vinnig die kennis wat ’n leerlingseeman moes hê, soos wiskunde en navigasie, opgebou. 2 Cook was ’n harde werker en was kort voor lank een van Walker se belowendste leerlingseemanne. Cook was ’n harde werker en was kort voor lank een van Walker se belowendste leerlingseemanne. 4

Cook se vakleerlingskap is in 1750 voltooi. Hy is vinnig tot kaptein bevorder en Walker het vir hom ’n pos as bevelvoerder van sy eie skip aangebied. Tot almal se verbasing het hy egter die pos van die hand gewys. 4

Britse Koninklike Vloot

In 1755, moontlik op soek na groter opwinding in sy lewe, het Cook by die Britse vloot aangesluit. 2 Die eerste skip waarop hy gevaar het, was die HMS Eagle. Hy is vinnig bevorder en is twee jaar later verskuif na die HMS Pembroke. 4

In hierdie stadium was die Sewejarige Oorlog (1756-1763) aan die gang, 2 en die Pembroke is na Nova Scotia in Noord-Amerika gestuur. 1 Daar het Cook geleer van sterrekunde, hoe om opmetings op kaarte te doen, en hoe om riviere en kuslyne op ’n kaart aan te dui. 3

Cook het ’n waardevolle bydrae tot die Engelse oorlogspoging gelewer deur die Lawrencerivier op te meet. Dit het die Engelse gehelp om Quebec by die Franse oor te neem. 2

As gevolg van Cook se talent, vlyt en ywer is hy in 1763 aangestel om die kus van Newfoundland op te meet. 4 Tussen 1763 en 1766 het hy kaarte geteken waarop hawens, sandbanke en klippe aangedui is. 6 Hierdie kaarte word beskou as van die akkuraatste kaarte wat in die 18de eeu geteken is. 1

Terwyl hy in Newfoundland was, was daar ’n sonsverduistering. 5 Cook se waarnemings en notas (aantekeninge) daaroor het die aandag van die Royal Society in Engeland op hom gevestig. 7

Cook se eerste seereis

In 1768 het die Royal Society en die vloot ’n gesamentlike ekspedisie beplan:

  • Die Royal Society wou die verbygang van die planeet Venus voor die son gebruik om te probeer bepaal hoe ver die aarde van die son af was.
  • Die vloot wou nuwe lande ontdek en handelsmoontlikhede ondersoek. Hierdie deel van die ekspedisie was ’n geheim en Cook en sy bemanning het eers later daarvan uitgevind. 3

Cook se vaardigheid in navigasie en sy belangstelling in sterrekunde het hom die perfekte kandidaat gemaak om die ekspedisie te lei. 2

Met Cook as kaptein van die HMS Endeavour het die ekspedisie in Augustus 1768 weggespring. 2 Buiten matrose en soldate het die bemanning wetenskaplikes ingesluit wat deur Joseph Banks, ’n beroemde natuurkundige, gelei is. 3

Hulle het via Rio de Janeiro na Tahiti (deel van vandag se Franse Polinesië) gereis, waar hulle die verbygang van Venus opgeteken het. 2 Cook het die kus opgemeet, 3 terwyl Banks en sy wetenskaplikes duisende plantspesies versamel het. 7

In Junie 1769 het Cook geheime bevele van die vloot oopgemaak. Hy moes die kus van Nieu-Seeland, waarvan Europeërs nog net dele geken het, verspied, 5 asook die ooskus van Australië. 3 Voorts het hy opdrag gekry om die Terra Australis Incognita op te spoor.

Nog ’n kontinent?

Sommige mense in Europa het geglo daar is ’n kontinent – die Terra Australis Incognita – rondom die suidpool, wat só groot was dat dit die landmassa van die Noordelike Halfrond sou uitbalanseer – met ander woorde, daar is beweer dat die land in die Suidelike Halfrond net so groot soos die land in die Noordelike Halfrond was. 3 Cook was self skepties hieroor. 4

Cook moes egter sy opdrag uitvoer, en hulle het dus wes geseil en die Stille Oseaan oorgesteek.

Cook het Nieu-Seeland se kus met sy beroemde akkuraatheid opgemeet, 4 en bewys dat dit nié deel van ’n groot suidelike kontinent was nie. 5

In 1770 het hy in Botanybaai, net suid van waar Sydney in Australië vandag is, aan wal gegaan. 5 Hy het die land vir Brittanje in besit geneem, en dit Nieu-Suid-Wallis genoem. Vir die volgende vier maande het hy die ooskus van Australië opgemeet. 4

’n Ramp tref

Toe hulle Australië verlaat, is hulle deur ’n ramp getref. Die Endeavour het op die Groot Koraalrif (in Engels: Great Barrier Reef), wat noordoos van Australië geleë is, gestrand. 6

Die Endeavour het so byna-byna gesink. Die bemanning het vir amper vir 20 uur lank geswoeg om die skip te red. Hulle het alles op die skip wat swaar was, soos kanonne, oorboord gegooi, en ’n ou seil gebruik om die gat in die romp toe te stop. 8 Op die ou end het hulle dit net-net tot by die mond van ’n rivier, vandag bekend as die Endeavourrivier, gemaak. 6 Daar moes hulle vir amper twee maande oorstaan om herstelwerk aan die skip te doen. 8

Van Australië af het hulle noordwes geseil, by Jakarta (vandag se Indonesië) aangedoen, daarna die Indiese Oseaan oorkruis, en via die Kaap de Goede Hoop Engeland in Julie 1771 bereik. 2

Op die laaste skof van die reis het ’n derde van sy bemanning aan malaria en disenterie gesterf. Cook was self op ’n stadium dodelik siek, maar het gelukkig herstel. 6

Cook se tweede seereis

Ná die sukses van sy eerste ekspedisie is Cook in 1772 tot kaptein bevorder. 1 Dit was ongewoon vir iemand wat nie ’n adellike was nie, 7 maar hy was nou beroemd en gewild en hoogs gerespekteerd. 9

Hy is aangestel as bevelvoerder van ’n nuwe ekspedisie van twee skepe, die HMS Resolution en die HMS Adventure. Cook was kaptein van die Resolution. 9 Hulle moes weer eens poog op die Terra Australis Incognita te vind. 2 Hierdie ekspedisie het Engeland in 1722, presies ’n jaar ná die terugkeer van sy eerste reis, verlaat. 4

Hulle het na Kaapstad gereis, gestop om voorrade op te laai, 1 en toe suid gevaar. Hulle het dit tot om en by 120 km van Antarktika af gemaak. Daar was egter te veel ys, en hulle is genoodsaak om weer noord te draai. 2

The Resolution and HMS Adventure

Baanbrekerswerk

Daarna het hulle wes na Nieu-Seeland gevaar en daar oorwinter. Toe het Cook weer suid gevaar, 2 en in Januarie 1773 die eerste opgetekende seevaarder geword wat die Suidpoolsirkel gekruis het. 5 Hy was dus nou die persoon wat al die verste suid was: ’n rekord wat vir 49 jaar sou staan! 3

Cook het die aardbol suid omvaar – verder as al ooit vantevore. 3 Hy het finaal bewys dat daar nie ’n Terra Australis Incognita was nie, en dat die landmassa wat wel daar was, nie bewoonbaar sou wees nie. 2

Cook het hierna rondgeseil en die eerste Europeër geword om verskeie eilande in die Stille Oseaan te ontdek. Hy het ook ander eilande en landmassas wat tot op daardie stadium verkeerd op Europese kaarte aangedui is, korrek opgemeet. 3 Dit sluit in (met teenswoordige name) Tonga, Paaseiland (of Rapa Nui), Marquesas-eilande, 5 Vanuatu, Nieu-Caledonië, Chile, Norfolk-eiland, Patagonië en Tierra del Fuego. 6

Die ekspedisie het in Julie 1775 teruggekeer Brittanje toe. Cook is verkies as genoot van die Royal Society, en hy het die Society se hoogste eer vir geografiese ontdekking ontvang. 2

Cook se derde seereis

Nog ’n onopgeloste raaisel in die 1770’s was of daar ’n noordwestelike deurvaart was. Dit was ’n mitiese waterweg wat mens sou toelaat om van Europa na Asië te seil aan die noordekant van noord-Amerika verby. 2 Dit sou natuurlik nuwe handelsroetes vir Brittanje oopmaak. 3

Cook se ekspedisie van twee skepe, die Resolution en die HMS Discovery, het in Julie 1776 vertrek. Hy het rondom Afrika geseil, die Indiese Oseaan gekruis, tussen die noordelike en suidelike eilande van Nieu-Seeland deur geseil (dié seestraat is vandag bekend as die Straat van Cook), en van daar af koers gekies Noord-Amerika toe. 2

Op pad deur die Stille Oseaan het hulle die eerste opgetekende Europeërs geword wat by die Sandwich-eilande (vandag se Hawaii) aangedoen het. 3 Hulle het goed met die inheemse mense oor die weg gekom. 4 Sommige van hulle het geglo Cook is ’n tipe god. 5

Hulle het teen die Amerikaanse weskus opgeseil, verby waar die Amerikaanse staat Oregon vandag is, toe verby teenswoordige British Columbia en Alaska, en toe koers gekies na die Beringstraat toe. Die Beringstraat skei die kontinente van Asië en Noord-Amerika op die plek waar die gaping die smalste is.

Die ys in die Beringsee het dit vir Cook onmoontlik gemaak om die noordwestelike deurvaart te vind. Cook het in werklikheid ontdek dat die noordwestelike deurvaart nie bestaan het nie. 2 Dit was nou die tweede keer dat hy ontdek het dat iets nié bestaan het nie!

Hy besluit om suid te vaar en die winter in Hawaii te spandeer. 3

Dood

Ná hulle in Kealakekuabaai in Hawaii oorwinter het, het hulle in Februarie 1779 die terugtog aangedurf. Twee dae nadat hy die eiland verlaat het, het die Resolution se voormas egter gebreek. Cook is gedwing om terug te draai. 6

Terwyl die skip herstel is, is een van sy bote (klein bootjies wat gebruik is om van die skip af land toe te vaar) gesteel. Cook het die Hawaiiese hoofman gyselaar gehou in ’n poging om die Hawaiiers te oortuig om die boot terug te gee. Dit was ’n taktiek wat al voorheen gewerk het. Hierdie keer het daar egter geweld uitgebreek. In die daaropvolgende worsteling is Cook en ’n paar ander mense (Britte en Hawaiërs) op 14 Februarie 1779 gedood. 3

Daar is debat onder historici oor wat met sy lyk gebeur het. Sommige historici sê die Hawaiërs het vir hom ’n seremoniële begrafnis gegee, 4 soos wat hulle vir hul eie hoofmanne gegee het. Hulle het naamlik sy hande in sout gepreserveer, en toe die res van sy liggaam gebraai voor hulle sy bene skoongemaak het. 8 Ander historici reken dat niemand weet wat met sy liggaam gebeur het nie. 4

Persoonlike lewe

Cook het in 1762 met Elizabeth Batts getrou. Hulle het ses kinders gehad, 4 waarvan drie in hul kleinkinderjare gesterf het. 7 Elizabeth het op die ou end haar man en al haar kinders oorleef. 4

Nalatenskap

Cook was bekend vir innovasies om te probeer om sy bemanning gesond te hou. 5 In die 18de eeu was skeurbuik op skepe ’n massiewe probleem. Elke keer as die skip êrens aan wal gegaan het, het Cook daarop aangedring dat hulle vars vrugte in die hande kry. Hy het besef dat veral kool skeurbuik weggehou het. 8 Hy het dus vir sy bemanning suurkool 10 en daaglikse dosisse lemmetjiesap gegee. Dit het sterftes onder sy bemanning drasties verminder. 7

In sy eie tyd al was Cook bekend vir sy presiese en akkurate opmetings. Hy was die eerste mens wat Nieu-Seeland se kuslyn, die oostelike kus van Australië en heelparty kleiner eilande in die Stille Oseaan opgemeet het. Hy was ook die eerste Europeër wat by die Hawaise eilande aangedoen het.

Hy word vandag steeds beskou as die mens wat die mees akkurate kaarte van eilande in die Stille Oseaan gemaak het. Hy het gehelp om mense se idee van die Stille Oseaan te verander: van iets onbekends en eindeloos na iets wat opgeteken en aantreklik was vir ontdekkers. 1

Hy het die Europa van sy tyd se kennis van die wêreld se aardrykskunde dramaties vergroot en baie oop kolle op die wêreldkaart ingekleur. Die kennis wat hy opgebou het, het verdere ontdekkingstogte en uitvindings aangemoedig. 2 Dit het die Britse Ryk se invloed uitgebrei. 4

In die twintigste eeue het NASA hul ruimtetuie na sy skepe vernoem, 4 insluitende die pendeltuie Discovery en Endeavour, die skip waarmee hy die aarde omvaar het. Toe die Discovery sy laaste ruimtevlug in 2011 gemaak het, het die bemanning ’n spesiale medalje ontvang wat deur die Royal Society in Cook se eer gemaak is. 8

Woordbank

aardrykskunde Die studie van die oppervlakte van die aarde.
adellike Mense wat tot die hoogste sosiale stand behoort.
akkuraatste Presies; korrek; noukeurig; sonder enige foute.
Amerikaanse Vryheidsoorlog Stryd tussen 13 Amerikaanse kolonies om hul onafhanklikheid van Brittanje te kry.
bemanning Offisiere en matrose van ’n skip.
bevelvoerder Iemand wat beheer of gesag oor ander het.
bioloog ’n Wetenskaplike wat fokus op lewende organismes, insluitend plante en diere.
debat Bespreking op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisseling of ’n rede, bv. in ’n parlement.
disenterie ’n Ontsteking van die ingewande.
ekspedisie Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek.
genoot Lid van ’n literêre, wetenskaplike, of professionele genootskap.
geografiese Wat verwys na geografie wat kyk na die ruimtelike verband tussen mense, plekke en die aarde.
gepreserveer Bewaar.
gerespekteerd Om iemand met agting te bejeën en eerbiedig.
gestrand Wanneer jou skip deur die see op land uitgestoot word.
geswoeg Swaar werk, sukkel.
gyselaar Iemand wat deur die vyand gevange gehou word en later vrygelaat word op sekere voorwaardes.
historici Iemand wat navorsing oor die geskiedenis doen en daaroor skryf.
HMS His/Her Majesty’s ship.
hoofman Leier.
immigrant Iemand wat in ’n land inkom en permanent in die land woon.
Indiese Oseaan Dit is die oseaan oos van Afrika, suid van Asië, wes van Australië en noord van Antarktika.
inheemse Wat oorspronklik in ’n gebied voorkom.
in kaart gebring Karteer;  iets vir die eerste keer op ’n kaart aan te teken.
innovasies Nuwighede.
kandidaat Mees geskikte om aanspraak te maak op iets.
kontinent Groot landmassa omring deur see; vasteland.
kanonne Swaar vuurwapens met ’n loop van groot kaliber, op wiele gesleep of gemonteer.
leerlingseeman Iemand wat in seevaartkunde onderrig word en terselfdertyd praktiese en vakkennis en -vaardigheid opdoen.
malaria Koors veroorsaak deur die byt van ‘n Anopheles-muskiet; moeraskoors.
matrose Persoon wat op ʼn skip werk; seeman; veral iemand van die laagste rang.
mitiese Iets denkbeeldig of fabelagtig.
natuurkundige Iemand wat graag die natuur bestudeer om te probeer kyk hoe dit werk.
navigasie Die kuns (studie) om ’n voertuig of vaartuig van een punt na die ander te stuur (beweeg).
Newfoundland Vandag bekend as Newfoundland and Labrador. ’n Kanadese provinsie op die ooskus van Noord-Amerika.
Noordelike Halfrond Die helfte van die aarde wat noord van die ewenaar lê.
omvaar Om rondom iets te vaar.
oorboord gegooi Wanneer jy iets oor die kant van die skip gooi.
oorwinter Om die winter êrens te spandeer.
opgetekende Dit waarvan ons bewus is.
opmetings Om te bepaal hoe iets werklik lyk, met ander woorde hoe lank, breed en diep iets is.
Oseanië Naam vir die eilande in die Stille Oseaan.
pendeltuie Ruimteskepe wat van die aarde af gelanseer word, ruimte toe gaan en weer na die aarde kan terugkeer.
romp Die liggaam van ’n skip.
Royal Society ’n Britse wetenskaplike akademie, wat hulself beywer vir die vooruitgang van wetenskap.
seestraat ’n Nou deurgang van die see tussen twee lande; waterweg.
seremoniële ’n Formele openbare of godsdienstige manier om iets te doen.
Sewejarige Oorlog Oorlog tussen 1756 en 1763 wat meeste Europese magte ingetrek het. Op die oseane was die stryd tussen Engeland en Frankryk vir dele van Noord-Amerika en Indië.
skepties Geneig om te twyfel.
skeurbuik Siekte gekenmerk deur aandoening van die tandvleis en derms, veral onder matrose, as gevolg van ’n gebrek aan vars voedsel; gebrek aan vitamien C.
sonsverduistering Algehele/gedeeltelike verduistering van die son wanneer die maan tussen die son en die aarde verbybeweeg.
sterrekunde Wetenskaplike studie van die buitenste ruimte; astronomie.
Stille Oseaan Die Stille Oseaan is die grootste van die aarde se oseane. Dit bedek meer van die aarde se oppervlak as al die droë land saam!
strafkolonie Wanneer ’n kolonie gestig word sodat misdadigers daarheen gestuur kan word.
Suidelike Halfrond Die helfte van die aarde wat suid van die ewenaar lê.
Suidpoolsirkel Denkbeeldige lyn rondom die aarde, parallel met die ewenaar, maar meer suid. Op die breedtegraad 66⁰ 32′
teenswoordige Die hedendaagse, met ander woorde hoe iets vandag is.
toe te stop Om iets goed toe of dig te maak.
vakleerlingskap Iemand wat geleer word hoe om die bepaalde werk te doen deur ʼn vakman wat self die vak beoefen.
van die hand gewys Om iets te weier.
verspied Verken, ondersoek instel.
vloot Versameling van ’n aantal skepe wat saam vaar, bymekaarhoort.
vlyt Hardwerkendheid.
voormas Die voorste mas op die skip. ’n Mas is ’n lang houtpaal op ʼn skip waaraan die seile opgehys word.
waarnemings Om na iets te kyk/ te observeer.
worsteling ’n Geveg.
ywer Om met geesdrif te werk en kragtig te strewe na iets.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor James Cook

Kyk en leer meer oor James Cook

Die wêreld se mees bekende ontdekkingsreisiger (biografie)

Die ongelooflike storie van die wêreld se grootste navigator en kartograaf (dokumentêr)

David Attenborough gebruik een van James Cook se seekaarte

David Attenborough oor James Cook

Die HMS Endeavour: Kaptein James Cook se eerste reis

Lewe op die HMS Endeavour met James Cook

Hoe het seevaarders gedurende die era van ontdekking genavigeer?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Februarie 2024 | Bygewerk op 3 April 2024