Vinnige feite
- Die opstand teen die Britte was amper oor nog voordat dit begin het. Nog voor die Onafhanklikheidsverklaring onderteken is, het ’n geheime komitee ’n sluipmoordkomplot teen George Washington oopgevlek. Die Britte het die komplot uitgedink, maar baie Amerikaanse simpatiseerders het daaraan deelgeneem, onder andere Thomas Hickey, Washington se persoonlike lyfwag (in Engels: body guard). Alhoewel mense soos die goewerneur van New York en die burgemeester van New York ook die komplot ondersteun het, is slegs Hickey vir die komplot tereggestel. Die heel interessantste is dat die geheime komitee wat die komplot oopgevlek het, die voorloper was van die organisasie wat ons vandag as die CIA ken. 10
- ’n Klein aantal vroue het in die Kontinentale Leër geveg. Die bekendste vrou wat in die oorlog geveg het, was Deborah Sampson, wat haar as ’n man vermom het. Sy het haar voorgedoen as Robert Shurtleff en het twee jaar lank geveg, is verskeie kere gewond en is as ’n goeie soldaat beskou. 10
- Paul Revere is veral bekend vir sy Middernagrit om die patriotte in te lig oor die koms van die Britte. Tog was hy ook ’n talentvolle silwersmid wie se stokperdjie tandheelkunde was. By geleentheid is hy gevra om die oorskot van ’n gevalle soldaat te identifiseer. Hy het die man se mond nagegaan om te sien of die ivoortande ’n bepaalde tandarts se werk is. Geskiedkundiges meen dit was die eerste geval van ’n liggaam wat met forensiese tandheelkunde geïdentifiseer is. 10
- Een van die stigterslede van die Konfederasie, John Jay, se broer was dokter James Jay. Dr. Jay het tydens die oorlog ’n onsigbare ink geskep deur ystersulfaat en water te meng. Hierdie ink is gebruik om geheime boodskappe te skryf. As die ink op die papier droog word, is dit onsigbaar, en eers as die papier met ’n chemikalie gespuit word of naby ’n hittebron geplaas word, kan ’n mens die boodskap lees. George Washington en sy bevelvoerders het dit gebruik om boodskappe tussen die reëls van briewe, koerantknipsels of boeke te verdoesel. 10
- Die Kontinentale Kongres het nie geld gehad om mee oorlog te maak nie. Een van die maniere waarop hulle geld in die hande gekry het, was om seerowers, bekend as vrybuiters, te huur om Britse skepe aan te val. Die ooreenkoms was dat die vrybuiters hul buit met die Kontinentale Kongres moes deel. 10
- Frankryk, Spanje en Nederland het die VSA gehelp deur skepe van die Britse Koninklike Vloot aan te val en só die Britte se voorraadlyn aan die troepe in die VSA te ontwrig. 10
- ’n Hele paar plekke in die VSA, onder meer die land se hoofstad en een van die state, is na generaal George Washington vernoem. Ten spyte van al sy roem, was hy nie ’n besonder effektiewe strateeg nie. ’n Hele paar van die eerste veldslae wat hy gelei het, het in ’n nederlaag vir die patriotte geëindig, met die Slag van Bunker Hill een van die ergstes. Met die Slag van Long Island het Brittanje amper die oorlog gewen toe hulle New York beset het. Dit is slegs omdat generaal Howe van Brittanje ook nie ’n goeie strateeg was nie, dat Washington die kans gehad het om te hergroepeer en ’n teenaanval van stapel te stuur. 10
- Die Vryheidstandbeeld (in Engels: Statue of Liberty) in New York was ’n geskenk van die mense van Frankryk aan die VSA, om die nou bande tussen Amerika en Frankryk as kampvegters vir vryheid te gedenk. Die beeldhouwerk, wat deur die Fransman Frederic-Auguste Bartholdi gemaak is, se amptelike naam is “Liberty Enlightening the World” en word wyd erken as ’n simbool van vryheid en demokrasie. Die vrouefiguur hou ’n tablet in haar linkerhand waarop die datum 4 Julie 1776 in Romeinse syfers gegraveer is. Daar is ’n gebreekte ketting en boei aan haar regtervoet, wat ’n simbool is van onderdrukking wat beëindig is. 11
Die Amerikaanse Vryheidsoorlog was die oorlog wat tussen 1775 en 1783 gewoed het toe dertien van Groot-Brittanje se Noord-Amerikaanse kolonies teen Britse heerskappy in opstand gekom het. Ná die oorlog is die soewereine Verenigde State van Amerika gevestig. Die Onafhanklikheidsverklaring (in Engels: Declaration of Independence) wat in 1776 onderteken is en wat vandag nog in Amerika geld, het gedurende hierdie oorlog van krag geword. 1
Verskillende name vir dieselfde oorlog
Wanneer jy navorsing oor hierdie onderwerp doen, kan jy die volgende name as trefwoorde gebruik. Dit verwys alles na dieselfde oorlog:
- Amerikaanse Vryheidsoorlog (in Engels: American War of Independence)
- Amerikaanse Revolusie (in Engels: American Revolution)
- Amerikaanse Revolusionêre Oorlog (in Engels: American Revolutionary War) 1
WENK: Onthou ook as jy nalees oor hierdie gebeure dat die volledige naam vir die staat eintlik die Verenigde State van Amerika is (afgekort: VSA), 2 en dat die naam “Amerika” wat ons dikwels vir hierdie land gebruik, ’n verkorting daarvan is. Die kontinent waarop hierdie land geleë is, is Noord–Amerika. Maak dus seker dat wanneer jy met die woord “Amerika” of “America” op die internet na inligting soek, die artikel oor die land gaan en nie die kontinent nie.
Agtergrond
Die staat was ons vandag as die VSA ken, was nie van die begin af een land nie. Britse setlaars het hulle vanaf 1607 in die ooste van die kontinent Noord-Amerika gevestig. Hierdie groepe het ook nie ’n land gemaak nie, hulle het in nedersettings gewoon. Gedurende die 17de en vroeë 18de eeu het Brittanje hierdie nedersettings in kolonies georganiseer. Teen die tyd dat die Amerikaanse Vryheidsoorlog uitgebreek het, was daar dertien kolonies wat gestrek het vanaf die huidige staat Maine in die noorde tot by die Altamaha-rivier in die huidige Georgia. Die kolonies het altesaam 2,5 miljoen inwoners gehad. 3
Net soos wat hier in Suid-Afrika gebeur het, het die koloniste hul eie lewe begin lei wat min te doen gehad het met wat in Brittanje gebeur. Hulle wou na hul eie belange omsien, en hulle het al hoe meer ontevrede geraak met Brittanje wat van ver af oor hulle heers. Van die 1760’s het spanning tussen koloniste in die VSA en die Britse owerhede opgebou. 4
Van 1756-1763 was Brittanje in oorloë teen Frankryk en Indië gewikkel. Dit het Brittanje se mag vergroot, maar dit is duur om oorlog te maak. Pogings deur die Britse regering om inkomste in te samel deur die kolonies te belas (veral deur die Seëlwet van 1765, die Townshend-wette van 1767 en die Teewet van 1773) het hewige protes onder baie koloniste ontlok. Die koloniste was gegrief oor hul gebrek aan verteenwoordiging in die Parlement en dieselfde regte as ander Britse onderdane geëis. 4
Aanloop tot die Amerikaanse Vryheidsoorlog
Die Boston-slagting en die Boston-teeparty
In 1770 het die ontevredenheid tot geweld gelei toe Britse soldate op ’n skare koloniste in Boston, Massachusetts, losgebrand en vyf mans doodgeskiet het. Hierdie insident is vandag bekend as die Boston-slagting (in Engels: Boston Massacre).
In Desember 1773 het ’n groep Boston-inwoners hulself vermom, aan boord van Britse skepe in die hawe gegaan en 342 kiste tee in die water gegooi. Dié insident het die naam Boston-teeparty (in Engels: Boston Tea Party) gekry. Die Britse Parlement het ’n reeks maatreëls aangeneem wat bekend gestaan het as die Dwangwette (in Engels: Coercive Acts) wat ten doel gehad het om die inwoners van die staat Massachusetts weer onder die beheer van die Britse Kroon te kry. 4
Die Eerste Kontinentale Kongres
In plaas daarvan om vrede te bewerkstellig, het dit tot groter verset gelei. ’n Groep koloniale afgevaardigdes (wat George Washington en Patrick Henry van Virginië, John en Samuel Adams van Massachusetts, en John Jay van New York ingesluit het) het in September 1774 in Philadelphia vergader om hul griewe teen Brittanje te bespreek. Hierdie Eerste Kontinentale Kongres het nog nie onafhanklikheid van Brittanje geëis nie, maar hulle het hul verset teen belasting sonder verteenwoordiging en die instandhouding van die Britse leër in die kolonies sonder hul toestemming verklaar. By dié kongres het hulle ook ’n verklaring uitgereik dat hulle die regte erken wat elke burger toekom, insluitend die reg op lewe, vryheid, die besit van eiendom, byeenkoms en verhoor deur ʼn jurie. 4
Slag van Lexington en Concord
In die nag van 18 April 1775 het honderde Britse troepe van Boston na die nabygeleë dorp Concord, Massachusetts, opgeruk om op wapens beslag te lê. Die Amerikaanse silwersmid Paul Revere en ander ruiters het in die nag alarm gemaak, en koloniale burgermaglede het begin mobiliseer om die Britse soldate te onderskep. Op 19 April het plaaslike burgermaglede met Britse soldate in die Slag van Lexington en Slag van Concord in Massachusetts slaags geraak. Daardie metaforiese “skoot wat reg oor die wêreld gehoor is” was wat die begin van die Amerikaanse Vryheidsoorlog. 4
Washington kry ’n leër byeen
Dit was duidelik dat Brittanje bereid was om die koloniste met geweld te onderdruk. In Junie 1775 het die Kontinentale Kongres ’n besluit geneem om ’n Kontinentale Leër te skep sodat die kolonies en die koloniste teen Britse aggressie beskerm kon word. George Washington is as bevelvoerder aangestel. 5
Washington is Boston toe waar sy eerste taak was om die groep gewapende koloniste wat daar saamgekom het, in ’n leër te omskep. Dit was nie maklik nie: Hy moes soldate werf, hy moes hulle oplei, hulle moes gewere en uniforms kry, en hulle moes op ’n manier betaal word – dit alles sonder dat daar in werklikheid ’n staat was wat al hierdie reëlings kon tref en alles kon betaal. Washington het nietemin besef dat ’n leër wat teen die Britte kan oorlog maak, sy enkele belangrikste doelwit was. 5
Die Onafhanklikheidsverklaring
Toe die Amerikaanse Vryheidsoorlog in April 1775 uitgebreek het, het die meeste koloniste nie onafhanklikheid gesoek nie. Die meeste van hulle wou net ’n groter mate van selfregering binne die Britse Ryk hê. Maar mettertyd het al hoe meer koloniste vryheid van Britse heerskappy voorgestaan. 6
In Januarie 1776 het Thomas Paine ’n pamflet met die titel Common Sense gepubliseer. In die pamflet het hy uitgewys hoe die koloniste deur Brittanje uitgebuit word. Baie eksemplare van die pamflet is verkoop, en steun vir onafhanklikheid het gegroei. 6
Die koloniste het gehoop dat Frankryk, ’n jare lange vyand van Brittanje, hulle sou help. Maar om dit te kon regkry, sou die koloniste formeel alle bande met hul vaderland moes breek. Op 7 Junie het Richard Henry Lee van Virginië die Kontinentale Kongres in Philadelphia gevra om te oorweeg om onafhanklikheid van Groot-Brittanje te verklaar. 6
Die Kongres het ’n komitee van vyf aangestel om die formele verklaring te skryf. Thomas Jefferson het die eerste konsep geskryf. ’n Paar veranderinge is deur ander lede van die komitee voorgestel: John Adams, Benjamin Franklin, Roger Sherman en Robert R. Livingston. 6
Die Onafhanklikheidsverklaring stel drie basiese beginsels: (1) God het alle mense gelyk gemaak en aan hulle die reg van lewe, vryheid en die strewe na geluk gegee; (2) die hoofbesigheid van die regering is om hierdie regte te beskerm; (3) as ’n regering probeer om hierdie regte te ondermyn, mag die mense in opstand kom en ’n nuwe regering op die been bring. 6
Spesifieke aanklagte is teen die persoon van die koning ingedien. Die koloniste het aangevoer dat George III geen werklike mag oor die Amerikaanse kolonies gehad het nie. Deur standpunt in te neem teen die tirannie van die koning, het die Amerikaners probeer om die simpatie van die Britse volk te verkry. Die koloniste het ook aangevoer dat hulle geen verteenwoordiging in die Parlement het nie, en daarom mag Brittanje hulle nie belas nie. Die koloniste het geglo dat hulle hul eie wette kon maak en hulself kon verdedig. 6
Op 2 Julie het die Kontinentale Kongres die idee van onafhanklikheid aanvaar. Twee dae lank het hulle die Verklaring bespreek, en op 4 Julie, die dag wat vandag nog as Onafhanklikheidsdag (in Engels: Independence Day) in die VSA gevier word, is die Onafhanklikheidsverklaring deur die verteenwoordigers van 12 state aanvaar. Die New York-afvaardiging het dit 11 dae later aanvaar. Die ondertekenaars van die Verklaring het elkeen ’n groot risiko geloop. As die kolonies die oorlog verloor het, sou die Britte dalk die handtekeninge kon gebruik as bewys van hoogverraad. 6
Die Verklaring alleen het nie die Amerikaanse kolonies onafhanklik gemaak nie. Dit sou geweld kos om Brittanje se beheer oor die VSA te beëindig, maar toe die Verklaring eers aangeneem is, was daar nie meer omdraaikans nie.
Die verloop van die oorlog
Die eerste twee jaar en die oorwinning by Saratoga
Gedurende die eerste twee jaar van die Amerikaanse Vryheidsoorlog het die meeste van die gevegte tussen die patriotte (soos wat die koloniste na hulself verwys het) en die Britte in die noorde plaasgevind. Die Britte se strategie was om die noordelike kolonies, waar die opstand die meeste steun gehad het, van die suidelike kolonies te skei. 4
Aanvanklik het Brittanje met sy sterk vloot die oormag gehad. Ten spyte van Washington se oorwinnings by Trenton en Princeton, New Jersey, aan die einde van 1776 en vroeg in 1777, was die Britte steeds in beheer. Maar die Britse magte was nie goed georganiseer nie, en die patriotte het geveg vir hul nuwe vaderland. Die patriotte het onder bevel van generaal Horatio Gates in Oktober 1777 ’n beduidende oorwinning by Saratoga, New York, behaal. 5
Frankryk raak betrokke
Die oorwinning by Saratoga was ’n keerpunt in die oorlog, want dit het die Franse oortuig dat die Amerikaners die Britte in ’n geveg kon verslaan. ’n Formele militêre alliansie tussen die Franse en Amerikaanse regerings is in 1778 onderteken, wat verhoogde finansiële en militêre steun vir die patriotte behels het. Die alliansie het selfs meer positiewe implikasies vir die Kontinentale Leër gehad, want dit het die Britse Parlement gedwing om mannekrag en hulpbronne tussen sy oorlog teen die Franse en sy oorlog in Noord-Amerika te verdeel. 7
Skaakmat in die noorde
Aan die einde van 1777 het Washington sy troepe by Valley Forge byeengebring. Gedurende die lang, swaar winter is hulle deur die Pruisiese militêre offisier Baron Friedrich von Steuben (wat deur die Franse gestuur is) en die Franse aristokraat, markies De Lafayette, opgelei. Op 8 Julie het ’n Franse vloot onder bevel van die Franse graaf D’Estaing in die VSA aangekom, gereed om teen die Britte te veg. ’n Gesamentlike aanval aan die einde van Julie op die Britte by Newport, Rhode Island, het misluk, en die oorlog het grootliks in skaakmat in die noorde beland. 4
Die stryd verskuif na die suide
Tussen 1778 en 1781 het Britse militêre operasies op die suide gefokus omdat die Britte geglo het dat die meerderheid koloniste in die suidelike state lojaal aan Brittanje was. Die Britte was suksesvol in die meeste konvensionele veldslae wat in die suide geveg is. Dit is eers toe die Amerikaanse generaals Nathanael Greene en Daniel Morgan hulle tot guerrilla– en tref-en-trap-oorlogvoering gewend het, wat hulle die Britte uiteindelik kon stuit. Teen 1781 het die Britse generaal lord Charles Cornwallis na Virginië beweeg en op versterking naby Chesapeake Bay te wag. Die Amerikaners en hul Franse bondgenote het op Cornwallis toegeslaan en hom by Yorktown verslaan. 5
Die Vredesverdrag van Parys
Yorktown was ’n oorwinning vir die patriotte, maar dit was steeds nie die einde van die oorlog nie. Twee jaar van sporadiese oorlogvoering, voortgesette militêre operasies en diplomatieke onderhandelinge het nog voorgelê. 5
In 1782 het Groot-Brittanje ’n voorstel gemaak vir ’n skikking wat aan die dertien state ’n mate van outonomie binne die Britse Ryk sou gee. Benjamin Franklin het hierdie voorstel verwerp. Hy het aangedring op Britse erkenning van Amerikaanse onafhanklikheid en het geweier om oor vrede te onderhandel sonder dat Frankryk, Amerika se getroue bondgenoot, by is. Franklin het uiteindelik saam met John Adams en John Jay op 27 September 1782 met die Britte vredesamesprekings begin voer. 8
Die Amerikaners en Britte het op 30 November 1782 ’n voorlopige vredesverdrag onderteken. Die finale verdrag, bekend as die Vredesverdrag van Parys, is op 10 September 1783 onderteken. 8
Die VSA ná die Amerikaanse Vryheidsoorlog
Die Onafhanklikheidsverklaring en die splinternuwe Konfederasie se oorwinning in die Amerikaanse Vryheidsoorlog was net die begin van die VSA se reis na nasiewording. Die tydperk wat op die oorlog gevolg het, was een van onstabiliteit en verandering. Die oorlog het ’n einde gemaak aan die Britse monargie se heerskappy oor die VSA, maar daar was nie gevestigde regeringstrukture in die nuwe land nie. Alhoewel die state in 1777 polities verenig het onder die Statute van die Konfederasie, het hulle nog nie as ’n verenigde nasie bestaan nie. Elke staat het individuele soewereiniteit behou en onder sy eie grondwet gefunksioneer. 9
Die Kongres het gesukkel om die state bymekaar te hou, en belange het dikwels gebots. Die kongres kon die state vra om inkomste aan die Konfederasie te verskaf, maar elke staat het net betaal wat hy kon bekostig. As gevolg daarvan het die Kongres dikwels nie die geld gehad wat nodig was om sy aansienlike oorlogskuld te betaal, om die weermag in stand te hou en om ander koste van die regering te betaal nie. 9
Eers in 1787 het ’n groep afgevaardigdes van die state ’n nuwe Grondwet geskryf om die Statute van die Konfederasie te vervang. Die Grondwet het die state as ’n enkele nasie verenig, die federale regering versterk en die regering die reg gegee om inkomste in te samel, geld te munt en die weermag in stand te hou.
Die Grondwet het gehelp om die ekonomie te stabiliseer en het ’n band van gemeenskaplike belang tussen die state bevorder. Om vrese te besweer dat die federale regering onderdrukkend kan word, is ’n Handves van Regte (in Engels: Bill of Rights) wat individuele vryhede gewaarborg het, by die dokument gevoeg. 9
Woordbank
afgevaardigdes | Mense wat ’n vergadering of ander geleentheid bywoon om die mening van ’n vereniging, groep of regering te stel. |
aggressie | Bakleierigheid; aanvalsdrang. |
alarm gemaak | ’n Uitdrukking wat beteken om ander te waarsku. |
alliansie | Vereniging/verbond tussen mense/volke; bondgenootskap. |
aristokraat | Iemand wat tot die hoogste sosiale klas behoort. |
beginsels | Reëls, riglyne. |
belas | ʼn Geldelike heffing oplê. |
beset | Met geweld oorneem/inneem; in besit neem. |
beslag te lê | Konfiskeer; afneem/in besit neem. |
besweer | Keer dat iets gebeur; stuit. |
bevelvoerder | Iemand wat beheer of gesag oor ander het. |
bewerkstellig | Tot stand bring, uitvoer. |
boei | ʼn Ysterklou om die polse van ’n gevangene. Vroeër is ’n swaar ysterbal aan ’n ketting om gevangenes of slawe se enkels vasgemaak. |
Britse Kroon | ’n Uitdrukking waarmee ons na die Britse monarg (koning of koningin) verwys. |
demokrasie | ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers van al die inwoners van ’n land. |
diplomatieke onderhandelinge | Besprekings met ander state op internasionale vlak. |
federale | Wat bestaan uit ʼn groep state wat hul eie sake bestuur, maar beheer word deur ʼn nasionale regering. |
forensiese tandheelkunde | Die veld van wetenskaplike ondersoek waar tande gebruik word om leidrade te vind en raaisels op te los. |
gegraveer | Om met ’n harde, skerp instrument of stilet letters of simbole op marmer, metaal, ens. uit te krap. |
griewe | Klagtes. |
guerrilla | Om oorlog op ’n onkonvensionele of ongewone manier te maak deur klein groepies soldate wat vinnig rondbeweeg, wat infrastruktuur (soos brûe, spoorlyne, ens.) van die vyand te vernietig. |
hoogverraad | Verraad teen die staat. |
implikasies | Gevolge, voortvloeisels. |
insident | Gebeurtenis, voorval. |
kampvegters | Persone wat die voortou neem in of stry vir ʼn saak waarvoor hulle hulself beywer. |
keerpunt | ’n Punt/tydstip waar dinge in die teenoorgestelde rigting begin beweeg. |
kolonies | Grondgebiede wat deur ’n koloniale moondheid verkry, beheer en regeer is. |
kongres | ’n Byeenkoms waar verskillende verteenwoordigers bymekaarkom. |
kontinent | Groot landmassa omring deur see; vasteland. |
konvensionele | Standaard, tradisioneel, gebruiklik. |
lojaal | Getrou aan iemand/’n beginsel/’n belofte/’n regering of volk; opreg. |
maatreëls | Skikkings/reëlings. |
markies | Adellike titel van iemand laer as ’n hertog, maar bokant ’n graaf. |
metaforiese | Figuurlike, simboliese. |
militêre | Alles wat met die krygswese/oorlogvoering te doen het. |
mobiliseer | Aan die gang sit, in werking stel of aanwakker. |
monargie | Staat of regeringsvorm met ’n monarg (soos ‘n koning of keiser) aan die hoof. |
moondheid | Onafhanklike, dikwels invloedryke, welvarende land. |
munt | Die proses om geld te slaan of maak. |
nedersettings | Gebiede waarin setlaars hulle vestig. |
onderdane | Mense wat deur ’n monarg regeer word. |
onderskep | Iemand of iets verhinder om voort te gaan na sy bestemming. |
ontlok | Veroorsaak, teweegbring. |
ontwrig | Probleme veroorsaak en verhinder dat iets op die gewone manier gebeur/voortgaan; deurmekaar maak. |
oorskot | Die oorblyfsels van ʼn mens of dier wat gesterf het. |
oorweeg | Nadink, beskou, oordink; bepeins. |
op die been bring | Iets begin. |
opgeruk | Begin aanval. |
outonomie | Selfregering, selfbestuur. |
owerhede | Regerings. |
pamflet | Brosjure, strooibiljet. |
parlement | ’n Liggaam in ’n demokratiese bestel, wat gewoonlik uit slegs twee huise (groepe parlementslede) bestaan. Die lede word deur die mense van die land verkies. |
patriotte | Persone wat baie lief is vir hul land. |
polities | Staatkundig. |
protes | Iets wat jy doen, jou optrede om vir iemand te wys iets is verkeerd of onregverdig. |
risiko | Om te waag sonder om te weet of dit suksesvol sal wees. |
setlaars | Mense wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon. |
silwersmid | Iemand wat silwergoed maak en/of herstel. |
simpatiseerders | Goedgesindes, ondersteuners. |
skaakmat | Figuurlik gebruik, ’n situasie waarin al die partye ewe sterk is en daar geen beweging of ontwikkeling na een of ander kant is nie. |
slaags geraak | Geveg, baklei, aangeval, beveg, verdedig. |
sluipmoordkomplot | ’n Sameswering om iemand deur ’n sluipmoordenaar te laat vermoor. |
soewereine | Met die oppermag of hoogste gesag om te regeer. |
sporadiese | Plek-plek, hier en daar, dan en wan, ongereeld, met tussenposes. |
staat | Die regering en politieke organisasie van ʼn land. |
standpunt | Houding/posisie wat iemand ten opsigte van ʼn bepaalde saak inneem; uitgangspunt; gesigspunt; opvatting. |
statute | Wetsbepalings, verordenings. |
strateeg | Persoon wat weet hoe om probleme te hanteer of te oorkom; krygskundige. |
strategie | Wyse waarop ʼn mens volgens beplanning beoog om ʼn doel te bereik. |
stuit | Tot stilstand bring, keer, teëhou of stop. |
tablet | ’n Plat stuk klip of klei met woorde daarop gegraveer. |
tereggestel | Die doodstraf voltrek. |
tirannie | Alleenseggenskap/-heersery waar mense deur vrees gedwing word om dinge op ʼn sekere manier te doen. |
tref-en-trap-oorlogvoering | Verrassingsaanvalle wat met ’n klein aantal manskappe op die vyand uitgevoer word, waarna die manskappe terugval sodat daar nie ’n konvensionele geveg kan plaasvind nie. |
vaderland | Die land waarvandaan ’n groep setlaars oorspronklik gekom het. |
verdoesel | Wegsteek; kamoefleer. |
verset | Weerstand/teenstand/opstand teen. |
versterking | Uitgeruste troepe wat na ʼn oorlog gestuur word. |
voorgestaan | Bepleit, ondersteun, ten gunste gewees van. |
Vrybuiters | Seerowers, kapers. |
werf | Iemand/mense versoek of probeer oorhaal om iets te doen. |
Verbreed jou kennis met hierdie artikels
- Alles wat jy oor die Amerikaanse Revolusie (Vryheidsoorlog) wil weet
- Opsomming van die Amerikaanse Vryheidsoorlog
- Nog inligting
Kyk ook hier
Die kwessie van belasting
Waaroor het die Amerikaanse Vryheidsoorlog gegaan?
Die historiese rit van Paul Revere
Die Slag van Lexington en Concord