Vinnige feite
- Die loesing by Fort Necessity was die eerste en laaste oorgawe in George Washington se loopbaan. 2
- Keiserin Elisabeth se dood word soms die “wonderwerk van die huis van Brandenburg” genoem. Sy was ongelooflik anti-Pruisies en sou nooit oorgee nie. Indien dit nie vir haar dood was nie, sou die oorlog langer aangehou het, en Pruise sou waarskynlik oorwin word. 2
- In die Sewejarige Oorlog is daar in Europa miljoene spandeer en tienduisende mense is dood, en daar was ná die tyd geen verskil aan die kaart van Europa nie. 6
Lank voor die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 was daar ’n oorlog wat ook as die “Eerste Wêreldoorlog” bekend kon staan.
Ons noem dit vandag die Sewejarige Oorlog, maar dit word ook soms die Franse en Indiaanse Oorlog genoem. Die oorlog het homself meestal in Noord-Amerika en Sentraal-Europa afgespeel. Daar was egter ook gevegte in die Karibiese eilande, Afrika en Indië.
Wat was die Sewejarige Oorlog?
Die Sewejarige Oorlog was ’n oorlog wat amptelik tussen 1756 en 1763 geveg is. Daar was egter reeds sedert 1754 skermutselings. 1
Die oorlog het meestal op twee tonele afgespeel: Noord-Amerika, waar dit ook die Franse en Indiaanse Oorlog genoem word, en Sentraal-Europa. 2
- In Noord-Amerika het die Britte en Franse oor politieke invloed en kolonies
- In Sentraal-Europa het die magte van Frederik die Grote van Pruise, in bondgenootskap met Brittanje, in ’n stryd met Oostenryk en Rusland betrokke geraak oor Silesië. 3
Deur die loop van die oorlog het die groot moondhede hulself in twee bondgenootskappe opgedeel:
- Aan die een kant was Brittanje, Pruise, Hanover (op daardie stadium in besit van die Britse koning George II), Portugal en ’n paar klein Duitse state.
- Aan die ander kant was Frankryk, Oostenryk, Rusland, Sakse, Swede en Spanje. 1
Die Franse en Indiaanse Oorlog
Frankryk en Brittanje was die heersende Europese magte in Noord-Amerika. Frankryk het aanspraak gemaak op grondgebied in vandag se Kanada, asook die gebied rondom die Groot Mere. Brittanje het hul 13 Amerikaanse kolonies teen die Atlantiese Oseaan gehad. 2
In die 1750’s het die Franse en hul Amerikaans-Indiaanse bondgenote al hoe meer suid beweeg. Daar het hulle in kontak gekom met Britse koloniste wat wes uitgebrei het. 4 Hulle het mekaar by die bolope van die Ohio-riviervallei ontmoet en konflik het gevolg. 1
Die Franse het Fort Duquesne opgerig waar Pittsburgh in Pennsylvania vandag is. Hulle het aanvanklik die oorhand gehad en Britse uitbreiding ’n paar keer afgeweer. 2
Oorlog breek uit
Aan die einde van 1753 het die Britte vir George Washington, toe 22 jaar oud, as gesant na die Franse by Fort Duquesne gestuur. Hy het die Franse gewaarsku om uit Britse gebied te bly, maar die Franse het geweier. Op pad terug het Washington se troepe in ’n skermutseling met die Franse betrokke geraak, waartydens ’n Franse offisier gesterf het.
Washington het weerwraak gevrees en Fort Necessity begin oprig. Die Franse het egter toegeslaan voor die fort voltooi is. Washington se troepe is by die Slag van Necessity (ook genoem die Slag van Great Meadows) op 2 Julie 1754 verslaan. 2
Die Franse het vir die volgende vier jaar die gebied oorheers. In Julie 1755 het die Britte ’n groot aanslag op Fort Duquesne aangevoer, maar hulle is op pad deur Franse en Amerikaans-Indiaanse troepe in ’n lokval gelei en verslaan. Die konflik is gekenmerk deur kleiner skermutselings en strooptogte. Die Franse het goeie oorwinnings by die Slag van Oswego in 1756 en die Beleg van Fort William Henry in 1757 behaal. 5
Nuwe taktiek
Die Britte het in 1756 amptelik oorlog verklaar, maar dit het nie ’n wesenlike verskil gemaak nie. Hulle moes ’n ander plan maak.
Die keerpunt van die oorlog het gekom toe William Pitt in 1756 Brittanje se eerste minister geword het.
Pitt het geglo dat Noord-Amerika die kern van die Britse ryk was. Dit moes ten alle koste beskerm en uitgebrei word. Die stryd daar met Frankryk was dus deurslaggewend. Hy het drie belangrike besluite geneem:
- Geld geleen vir meer en beter toegeruste troepe;
- ’n bondgenootskap met Pruise in Europa aangegaan om Frankryk te verswak; en
- die regerings in Amerikaanse kolonies betaal vir enige troepe wat hulle kon oproep om teen die Franse te veg. 3
Terwyl die Britte hul militêre hulpbronne vermeerder het, het die Franse nie. Omdat die Britte se seemag magtiger as hulle s’n was, was hulle bang dat die Britte hul skepe op pad na Noord-Amerika sou onderskep of sink. Hulle het te min troepe in Noord-Amerika gehad om dit die moeite werd te maak. Hulle het verkies om hul aandag eerder op die oorlog in Europa te vestig. 5 Dit het die Britse oorlogspoging laat herleef.
Hierna het hulle die Franse teruggedryf. 2 Hulle het Fort Duquesne verower en dit na Fort Pitt herdoop. 3
Die Britte het toe met ’n opmars langs die St. Lawrencerivier af na Quebec begin. Die Franse het daar ’n groot garnisoen in ’n sterk posisie gehad. 5
Die Britte onder majoor-generaal James Wolfe het met oorlogskepe na Quebec geseil. Hulle het die Franse in ’n geveg by die Slag van Quebec (ook die Slag van Plains of Abraham) in September 1759 verslaan.
Montreal, die laaste Franse bastion, het kort hierna oorgegee. Die Britte het in daardie stryd belangrike hulp van hul Iroquois-bondgenote gekry. 5
Die oorgawe van Montreal was die einde van Franse invloed in daardie deel van Noord-Amerika. 1
Sewejarige Oorlog in Europa
Die tweede oorlogstoneel was in Europa rondom Silesië (vandag waar Pole, Duitsland en Tsjeggië ontmoet) afgespeel.
Agtergrond
Tussen 1740 en 1748 het Europese magte in die Oostenrykse Suksessieoorlog geveg. Dié stryd het op ’n bittere noot geëindig en spanning het hoog gebly:
- Oostenryk was ongelukkig omdat Pruise Silesië by hulle afgeneem het. 2
- Rusland was ontevrede oor hoe magtig Pruise geword het.
- Pruise het geweet dat die ander lande ongelukkig oor Silesië was en het vermoed oorlog gaan weer uitbreek. Frederik II, die koning van Pruise, het daarvoor begin gereed maak, met die hoop dat hulle selfs nóg grondgebied kon verower. 6
Die Diplomatiese Revolusie
Die stryd in Noord-Amerika het bygedra tot die spanning. Frankryk wou Hanover, ’n gebied onder die Britse koning se beheer, inval. Brittanje het ’n verdrag met Pruise geteken om Hanover te beskerm. Frankryk het daarop ’n verdrag met Oostenryk aangegaan. 5
Ou alliansies het in die stof gebyt. 1 Oostenryk en Rusland het nou bondgenote van Frankryk geword, en Pruise en Sakse, ’n kleiner Duitse staat, bondgenote van Engeland. 2
Hierdie omwenteling in verhoudings tussen Europese state staan as die Diplomatiese Revolusie van 1756 bekend.
Die Sewejarige Oorlog in Europa breek uit
Die oorlog in Europa het uitgebreek toe Frankryk in Junie 1756 die Britse eiland van Minorka in die Middellandse See aangeval en beset het. 5
Twee maande later het Frederik II Sakse ingeval. Sy plan was om die Oostenrykse magte te oorwin voordat Frankryk en Rusland kon mobiliseer. 6
Oostenryk het oorlog teen Pruise verklaar, en die res van die Europese moondhede het gou in die stryd betrokke geraak.
Brittanje se aandag was op hul vloot en kolonies, maar het finansiële hulp en troepe aan hul bondgenote gestuur. 5
Die verloop van die oorlog
Die oorlog het nie vir Frederik goed begin nie. Sy troepe het Leipzig en Dresden beset, maar kon nie in Mei 1757 Praag oorwin nie. 2
Op 5 November 1757 het Frederik se magte egter ’n skitterende oorwinning oor ’n Frans-Oostenrykse mag by die Slag van Rossbach behaal. ’n Maand later het hy Oostenrykse en Sweedse magte in die Slag van Leuthen verpletterend verslaan. 2
In beide gevegte het Frederik se troepe teen ’n oormag te staan gekom, en geseëvier. Hy kon dit egter nie regkry om sy opponente tot oorgawe te dwing nie. 6
Hierna het Oostenrykse en Russiese magte stadigaan die Pruise teruggedryf. Hulle het Berlyn, toe die hoofstad van Pruise, in Oktober 1760 beset. Hulle moes egter onttrek toe Pruisiese versterkings opgedaag het. Die Pruise het oorleef, maar dit was ’n duur oorwinning. 2
In die weste is ’n Pruisies-Britse mag op 26 Julie 1757 by Hastenbeck deur die Franse oorwin. Die Britse aanvoerder, die hertog van Cumberland, moes in sy oorgawe belowe om sy troepemag te ontbind. William Pitt het Cumberland se oorgawe verwerp. Hy het Britse versterkings na Cumberland se magte, nou onder beheer van Ferdinand van Brunswick, ’n Pruisiese prins, gestuur.
Hierdie troepe het die Franse in 1758 begin terugdryf. Hulle het die Franse magte op 13 April 1759 by Bergen die stryd aangesê, maar die aanval is deur die Franse afgeslaan. Vier maande later het Ferdinand ’n oorwinning by Minden behaal.
Ferdinand het intussen ook oorwinnings by Emsdorf en Warburg in 1760, Villinghausen in 1761 en Wilhelmsthal in 1762 behaal.
Spanje het in 1762 tot die stryd toegetree toe hulle met Franse ondersteuning Portugal, Brittanje se bondgenoot, aangeval het. Die Portugese het hulself egter suksesvol verset. 5
Einde van die oorlog
Teen 1762 was magte aan al die kante afgemat en uitgedun, en geen kant kon ’n beslissende aanval van stapel stuur nie. 1
Frederik en Pruise was egter in ’n penarie. William Pitt is in 1761 gedwing om te bedank, en die Britte se finansiële steun aan Pruise het opgedroog. 7
Op hierdie stadium het ’n geluk vir Frederik getref. In 1762 het die Russiese keiserin Elizabeth II gesterf. Sy was uiters anti-Pruisies. Haar opvolger, Peter II, was nie en het met Pruise vrede gesluit. 6
Wêreldoorlog
Die Britte, en veral William Pitt, was vasbeslote om die Franse ryk te vernietig en Britse seeheerskappy te vestig.
In die Amerikas het die Britte Franse en ook later Spaanse eilande beset. 5 Dit het Guadeloupe, Frankryk se rykste eiland, ingesluit. 8 Die Britte het die Franse ook uit Martinique en Havana gedryf. 5 Elders het die Britte Manila in die Filippyne by die Franse oorgeneem. 2
In Indië was die verhouding tussen Frankryk en Brittanje voor die oorlog reeds gespanne. Die stryd in Noord-Amerika en toe in Europa het sake vererger. Franse en Britse koloniale troepe het mekaar in 1756 en 1757 rondom Kolkata en Plassey (vandag se Palashi) die stryd aangesê. 5 Pondicherry (vandag se Puducherry), die hoofstad van die Franse ryk in Indië, het op 16 Januarie oorgegee. 1
In 1759 het die Britte Franse grondgebied in Afrika, spesifiek Senegal en Gambië, verower. Dit het Franse invloed in Afrika drasties laat kwyn. 1
Vrede
Daar is twee vredesverdrae ná die oorlog gesluit:
- Die Verdrag van Parys vir koloniale sake
- Die Verdrag van Hubertusburg vir Europese sake
Die Verdrag van Parys
Oorlog in Noord-Amerika het op 10 Februarie 1763 met die Vrede van Parys tot ’n einde gekom. Dit is deur Brittanje, Hanover, Frankryk en Spanje onderteken.
Die Britte het Kanada by Frankryk en Florida by Spanje oorgeneem. Frankryk het afstand gedoen van alle grondgebied oos van die Mississippi-rivier. 7 Brittanje het in werklikheid hul Europese mededingers uit Noord-Amerika verdryf, en kon nou sonder teenstand wes uitbrei. 2
In ruil daarvoor kon Frankryk ’n paar Wes-Indiese eilande, insluitende Guadeloupe en Martinique, terugkry. 7 Senegal is ook aan hulle terugbesorg. 2 Spanje het Havana en Manila gekry, asook beheer van Louisiana, die gebied in Noord-Amerika wes van die Mississippi-rivier. 3
Vrede van Hubertusburg
Vyf dae ná die Vrede van Parys is die Vrede van Hubertusburg op 15 Februarie 1763 onderteken, deur Pruise, Oostenryk en Sakse. 1 Rusland en Swede het in 1762 aparte verdrae met Pruise gesluit. 5
Die vrede het die Europese kaart weer opgetrek presies soos wat dit voor die oorlog gelyk het. Pruise het Silesië, die stuk land waaroor die oorlog oorspronklik begin het, behou. 1
Nalatenskap
Die oorlog het ’n belangrike nalatenskap op Europese- en wêreldsake gehad.
Pruise was nou die magtigste land in Europa, en Oostenryk se invloed het gedaal. Rusland het as belangrike rolspeler in Europese sake ontluik. 7
Brittanje was nou die magtigste koloniale moondheid in die wêreld. 2
Aan die ander kant het Brittanje mildelik geld geleen vir die oorlogspoging, veral by Britse en Nederlandse . Dié skuld moes terugbetaal word.
Die Britte het besluit dat die Amerikaanse koloniste moes help om die oorlogskuld te betaal omdat hulle by die oorwinning gebaat het. Hulle het ook ’n heeltydse Britse garnisoen in Noord-Amerika gehou om hul nuwe grondgebied te beskerm. 3
Die gelde sou ingewin word deur die kolonies te belas. Dit was die eerste keer dat die Britte hul Amerikaanse kolonies belas het.
Daar was heftige weerstand hierteen. Dit was waarskynlik die vernaamste oorsaak van die Amerikaanse Vryheidsoorlog, wat in 1776 uitgebreek het. 4
Die Franse se wrokkigheid oor hul loesing het hulle geïnspireer om die Amerikaners tydens dieselfde oorlog by te staan. 2
Woordbank
aangevoer | ʼn Begin maak met iets; iets onderneem. |
afgemat | Baie moeg, gedaan, uitgeput. |
afgeweer | Keer dat iets gebeur. |
afstand gedoen | Iets opgee of laat vaar. |
alliansies | Vereniging/verbond tussen mense/volke; bondgenootskap. |
Amerikaanse Vryheidsoorlog | Stryd tussen 13 Amerikaanse kolonies om hul onafhanklikheid van Brittanje te kry. |
bastion | Iets wat iets anders beskerm, want indien dit faal gaan daardie ding heeltemal verdwyn. |
bedank | Sê dat jy nie meer vir iemand of by ʼn plek gaan werk nie; jou diens beëindig. |
belas | ʼn Geldelike heffing oplê. |
beleg | Militêre insluiting van ‘n stad of vesting. |
beset | Met geweld in besit neem van iets. |
bondgenootskap | Vereniging of verbond tussen mense/volke. |
die oorhand gehad | Wanneer jy aan die wenkant is of meer mag as die vyand het. |
die stryd aangesê | Geveg/oorlog gevoer. |
garnisoen | Aantal troepe wat ’n versterkte plek, veral ’n fort, beset. |
gebaat | Voordeel uit iets kry. |
geïnspireer | Om iemand selfvertroue te gee, hom aan te moedig om iets te doen. |
gesant | Ambassadeur, oftewel iemand wat sy land by ’n ander land verteenwoordig. |
geseëvier | Oorwinning behaal. |
Groot Mere | Die gebied rondom vyf groot mere in die sentrale noordooste van Noord-Amerika. |
heftige | Hewige, kragtige, geweldige. |
hertog | ’n Adellike titel wat oorgeërf word. |
in die stof gebyt | Verloor. |
in werklikheid | Soos wat dinge is. |
keerpunt | Tydstip wanneer daar ’n beslissende verandering plaasvind. |
kern | Middelpunt; plek waar alles gebeur. |
kolonies | Grondgebiede wat deur ’n koloniale moondheid verkry, beheer en regeer is. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande. |
kwyn | Verswak of tot nuut gaan. |
loesing | Verloordery. |
mildelik | Ruim en vrygewig. |
militêre hulpbronne | Dinge wat tot nut is van ’n weermag, soos kos, uniform, wapens en toerusting. |
mobiliseer | Aan die gang sit, in werking stel of aanwakker. |
moondhede | Onafhanklike, dikwels invloedryke, welvarende land. |
omwenteling | Wanneer ’n groot verandering plaasvind en dinge van daar af heeltemal anders begin gebeur. |
onderskep | Iets verhinder om voort te gaan na ’n bestemming. |
ontbind | Ophou om te bestaan. |
ontluik | Te voorskyn kom of ontpop. |
op ’n bittere noot geëindig | Baie sleg eindig. |
owerhede | Die regering. |
penarie | ʼn Onaangename/moeilike/benoude toestand/situasie. |
ryk | ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser) regeer. |
skermutselings | Botsing of geveg (gewoonlik klein) tussen vyande. |
skitterende | Uitstaande. |
strooptogte | Dit word gewoonlik gebruik wanneer ’n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog (diefstal/rooftog) uitvoer. |
troepe | Gewone soldate sonder enige rang. |
uitgedun | Baie verminder. |
van stapel stuur | Begin, aan die gang gesit. |
verdrag | ’n Ooreenkoms tussen twee of meer magte. |
vernaamste | Wat hoë aansien geniet; hoog aangeskrewe; belangrik. |
verpletterend | Vernietigend. |
vloot | Die afdeling van die gewapende magte van ’n land/staat wat militêre operasies op see uitvoer. |
weerwraak | Vergelding vir kwaad of onreg wat gely is; terugbetaling. |
wesenlike | Werklike of ernstige. |
wrokkigheid | Stille, opgekropte haat. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Sewejarige Oorlog
- Volledige oorsig oor die Sewejarige Oorlog
- Wie was William Pitt die Ouere?
- Wat was die Diplomatiese Revolusie van 1756?
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Sewejarige Oorlog
Oorsig oor die Franse en Indiese Oorlog
Die “Eerste Wêreldoorlog”
George Washington, die eerste Amerikaanse president, het ’n belangrike rol in die oorlog gespeel
Frederik II was ook bekend as Frederik die Grote. Wie was hy?