Vinnige feite

De Roos en Slegtkamp by Tabanyama
  • Slegtkamp en sy makkers het die Vyfkleurvlag op Tabanyama geplant. Die Vyfkleur was die Transvaalse Vierkleur met ʼn oranje baan skuins daaroor, om die Vrystaat – wat oranje en wit as die hoofkleure in hulle vlag gehad het – te verteenwoordig. 4
  • Slegtkamp het op een geleentheid ʼn kas sjampanje uit ʼn trein gebuit. Hy het dit op sy perd gelaai, en hy en van sy manskappe het later op die gesondheid van koningin Wilhelmina van Nederland ʼn glasie gedrink. 3
  • As lid van Hindon se verkennerkorps het hulle met spoormyne – die voorloper van landmyne – die treine opgeblaas of ontspoor. Hierdie spoormyne is in Engels bekend as IED’s – improvised explosive devices. 3
  • Slegtkamp was die leier van die groepie in die korps wat die myne gelê het. Die ander lede was Carl Cremer, Lucas van As, Max Beuster en Jack de Wit. Die ander lede van die korps het gewag tot die trein weens die ontploffing tot stilstand gekom het, en het dan gekom om met die Britte slaags te raak. 3
  • Slegtkamp was by Jack Hindon toe hy aan die Britte oorgegee het. Hindon se besluit het hom platgeslaan. Hy moes ook die nuus aan die res van die korps gaan meedeel. 3
  • Die Huisgenoot­-tydskrif het in die 1930’s reekse oor die Anglo-Boereoorlog gepubliseer. Een daarvan was Die Held van Spioenkop, wat deur Dirk Mostert saamgestel is uit Slegtkamp se dagboeke. 1
Foto: iStock

Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was daar onder die Boere verkenners – vreeslose, vaardige mans wat hul kennis gebruik het om die vyand uit te oorlê. Hulle het die Britte se kommunikasielinies gebreek, hul vervoermiddels opgeblaas en voorrade by hulle geroof. Een so ʼn man was Hendrik Fredrik Slegtkamp (1873-1951), ʼn rustelose, manhaftige Boereverkenner van Nederlandse afkoms. 1

Hy was ʼn soldaat en treinvernietiger en is veral bekend vir sy aandeel in die aanloop tot die Slag van Spioenkop tydens die Anglo-Boereoorlog, een van die Boere se glorierykste oorwinnings gedurende die oorlog.

Vroeë jare

Henri Slegtkamp is in Beverwijk, Nederland, gebore, die seun van Hendrik Slegtkamp en Elisabeth Venlet. Hy het op jong ouderdom na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) verhuis, op soek na avontuur, en in die Middelburg-distrik gaan woon. 2

Tydens die Jameson-inval van 1895 het hy by die Middelburgse kommando aangesluit, en aan die kortstondige geveg (geveg wat net ʼn rukkie geduur het) teen sir Leander Starr Jameson se troepe by Doornkop, wes van Johannesburg, deelgeneem. In 1898 was hy betrokke by die onderdrukking van die Bunu-opstand in Swaziland (wat vandag bekend staan as Eswatini). Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 was hy steeds in Swaziland. Toe dit begin lyk asof oorlog teen Brittanje onvermydelik was, het hy na die Transvaal teruggekeer en op 15 September 1899 in Middelburg vir krygsdiens (diens in jou land se weermag) aangemeld. 2

Arrestasie van Jameson

Vroeë betrokkenheid in die oorlog

Op 30 September het Slegtkamp se kommando by die Middelburgse kommando onder kommandant P.F. Trichardt op die Natalse grens aangesluit. Hierna het hy by die Duitse Vrywilligerskorps onder veldkornet H.U. von Quitzow ingeskakel. Hy het saam met hulle aan gevegte rondom Dundee en Ladysmith in Oktober en November 1899 deelgeneem. Hy het egter nie tuis gevoel tussen die Duitsers nie, en hy het na die Middelburgse kommando teruggekeer. Saam met daardie kommando het hy geveg tydens die Boere se legendariese (beroemde) oorwinning gedurende die Slag van Colenso op 15 Desember 1899. 2

Intussen het hy verkenningswerk (die gebied bestudeer om inligting in te win) vir die Boerekommando’s aan die Tugela-rivier begin doen. Met die stigting van kaptein W.M. Edwards se verkennerskorps op 19 Desember 1899 het die avontuurlustige Slegtkamp daarby aangesluit. 2

Tabanyama en Spioenkop

Slegtkamp is veral bekend vir die gebeure by Tabanyama op 20 Januarie 1900, ʼn veldslag wat die voorspellende faktor vir die Boere se roemryke oorwinning vier dae later by Spioenkop was.

Slegtkamp by Spioenkop

Die burgers het ná ʼn hewige bombardement (aanhoudende aanval met bomme en kanonne) ʼn kop in die Tabanyama-bergreeks ontruim. Dit het die Boere se regterflank aan die Britte blootgestel. Slegtkamp, Albert de Roos en Jack Hindon het toe op eie inisiatief – met ander woorde, sonder dat iemand vir hulle gesê het om dit te doen – onder hewige Britse artillerievuur (kanonne), die kop uitgeklim. 3 Toe hulle bo kom, het hulle op die Britte begin skiet. 2 Die Britte het gedink dat die kop sterk beman was, eers gehuiwer, toe besluit om nie aan te val nie en het later inderdaad teruggeval. 4 Die drie manne se bedrywighede was selfs vir die Boere se aanvoerder, generaal Louis Botha, ʼn aangename verassing!

Spioenkop

Slegtkamp-hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle besetting van Tabanyama die moreel (geestelike krag wat mense vol moed en geesdrif laat bly) van die ander burgers versterk het, en dit het die weg vir die oorwinning by Spioenkop gebaan. 2

Op die kruin van Spioenkop, die dag na die geveg

Verkennerwerk

Teen Februarie 1900 was die Natalse front relatief kalm. Daarom het Slegtkamp vir Botha versoek om hom na die Vrystaat, waar daar meer aksie was, te verplaas. Hy het aangesluit by die Iers-Amerikaanse verkennerkorps onder kolonel J.Y.F. Blake. 2

Louis Botha

In Mei 1900 het hy lid van kaptein Danie Theron se verkennerkorps geword. Hulle het na die Vrystaat vertrek om die Britte se verbindingslinies te ontwrig. Hy is as korporaal oor dertig Nederlanders in die korps aangestel. Hulle het onder andere met die Kakies, soos wat hulle die Britse soldate in die oorlog genoem het, slaags geraak by Lindley in Junie 1900 en naby Bethlehem, waar hy swaar in die linkerheup gewond is. Hy het egter volkome van die wond herstel. 2

Danie Theron

Ná Theron se dood by Gatsrand het die verkennerkorps versplinter (opgebreek), so Slegtkamp het saam met kaptein Jack Hindon en andere na die Oos-Transvaal vertrek. Hindon het ʼn nuwe korps van vyftig man gestig, waarvan Slegtkamp die adjunkbevelvoerder was. Hierdie korps het hulle toegespits op die ontwrigting en ontsporing van Britse verbindingslinies en treine in die Oos- en Noord-Transvaal. 2

Slegtkamp was ʼn plofstofdeskundige – wat beteken hy was ʼn kenner as dit kom by die vervaardiging en plant van bomme, myne en handgranate (bomme in leë kondensmelkblikkies wat na die vyand gewerp kon word). 3 Saam met ʼn paar van sy makkers het hulle bomme op strategiese plekke onder treinspore geplant, sodat hulle die Britse treine kon opblaas en ontspoor om die voorrade te kon buit. 2 Hy was lid van die groep wat die heel eerste spoormyn van die oorlog op 6 September 1900 suksesvol laat ontplof het. 3

Slegtkamp was deel van die korps wat amper ʼn trein waarin lord Horatio Kitchener, die Britse opperbevelvoerder, gereis het, opgeblaas het. Kitchener was op pad van Pretoria na Middelburg. Hierdie korps was doenig langs die Noorderspoor – die treinspoor tussen Pretoria en Pietersburg (vandag se Polokwane) – in Julie en Augustus 1910. 2

Horatio Kitchener

Die korps was ook gereeld in gevegte langs die spoorlyne betrokke, soos ʼn hewige geveg naby Naboomspruit (vandag Mookgophong) in Augustus 1901. Buiten treine het hulle ook een keer ʼn steenkoolmyn naby Witbank (vandag Emalahleni) gesaboteer (doelbewus beskadig). 2

Die Britte het naderhand begin terugveg teen die treinopblasers. Hulle het reekse blokhuise opgerig – klein fortjies op sleutelplekke om hulle teen Boeraanvalle te beskerm – loopgrawe (vore in die grond waarin soldate kon skuil) langs die treinspore gegrawe, gepantserde treine (treine wat met ʼn laag metaal bedek is om dit teen aanvalle te beskerm) gebruik en inspeksies van die spore gedoen. 5 In hierdie tyd het baie van Slegtkamp se makkers hoop verloor en gepraat van oorgawe omdat daar niks meer oor was om te verloor nie. Hierop was Slegtkamp se reaksie dat daar dan niks meer oor was om te wen nie. Hy was nie bereid om sy eie vryheid te verloor saam met die oorlog nie, en hy wou daarom enduit veg. 3

Twee weke voor die einde van die oorlog het Hindon vrywilliglik aan die Britte oorgegee. Slegtkamp het die kaptein en leier van die korps geword. As bittereinder moes hy kort daarna die wapen neerlê. 2

Ná die oorlog

Slegtkamp het ná die oorlog Suid-Afrika verlaat. Hy het in Nederland gaan woon, maar kon nie in Europa aanpas nie, en het in 1903 teruggekeer na die Transvaal toe. Hy het eers as arbeider op ʼn plaas in Standerton gewerk, en in 1912 het hy grond naby Witbank gekoop en op klein skaal begin boer. 2

In 1912 is hy as ʼn droogtenoodleningsinspekteur van die Landbank in die Kaap aangestel. Hy het rondgereis om boere te help met voorskotte, asook om boere wat nie hul bankvoorwaardes nagekom het nie, aan die man te bring. 2

Slegtkamp was ontnugter deur die Boere se oorgawe en het lewenslank ʼn ondersteuner van die republikeinse ideaal – die idee dat ʼn regering deur ʼn land se burgers verkies moet word en nie ʼn koning/koningin wil hê nie – gebly. Hy het in die laat dertigerjare by die Ossewabrandwag aangesluit. Al was hy al in sy laat 50’s het hy ʼn aktiewe lid geword en is bevorder tot hoofgeneraal op die Hoëveld. 2

Wapen van die Ossewabrandwag

Persoonlike lewe

Slegtkamp het in 1911 met Jacomina Elizabeth van Rooyen getrou, en hulle het een seun gehad. Hy het sy laaste jare rustig op sy tuisdorp, Middelburg, spandeer. 2 Hy is op 2 Februarie 1951 oorlede. Hy is begrawe in die Middelburg-Wes-begraafplaas, nie ver van die graf waar sy boesemvriend Jack Hindon vroeër begrawe is nie. 3

Slegtkamp was kort, skraal en rusteloos. Hy het ʼn voortvarende en ontembare gees gehad, 3 en het nie maklik by vredestoestande aangepas nie. 2 Hy was miskien nie in die Transvaal gebore nie, maar het hom volkome met die lotgevalle van sy aangenome vaderland vereenselwig. 2 Hy het roem en eer gesoek en sou slegs rus wanneer die Vierkleur weer oor die Transvaal wapper. 3

Woordbank

artillerie Groot geskut van ʼn leër, soos kanonne.
blokhuis Klein fort wat die Britte opgerig het om ʼn sleutelpunte teen Boere-aanvalle te beskerm.
bombardement Aanhoudende aanval met bomme en kanonne op ʼn plek.
inisiatief Die vermoë om besluite te neem en dinge te doen sonder dat iemand vir jou hoef te sê wat om te doen.
kortstondig Wat net ʼn rukkie lank duur.
krygsdiens Om te gaan diens doen in jou land se weermag.
legendaries Wat baie beroemd is en bewonder word.
loopgrawe ʼn Lang, smal voor wat in die grond gegrawe word, veral tydens ʼn oorlog sodat soldate daarin kan skuil en daaruit kan skiet.
meedoënloos Sonder simpatie of genade.
moreel Geestelike krag wat mense vol moed en geesdrif laat bly.
pantser ʼn Sterk laag metaal wat militêre voertuie teen aanvalle beskerm.
plofstofdeskundige Kenner as dit kom by vervaardiging en plant van bomme, myne en handgranate.
saboteer Om doelbewus eiendom te beskadig.
verkenningswerk Om ʼn gebied te bestudeer om inligting oor die vyand te kry.
versplinter Om iets in stukke te laat breek. 6

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Henri Slegtkamp

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Henri Slegtkamp

Middelburg-begraafplaas

 

Bittereinder kommando

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 November 2022 | Bygewerk op 10 November 2023