Vinnige feite

Die Slag van Blaauwberg.
  • ‘n Lys van agt vroeë grensoorloë: 1
    • VOC-tydperk:
      • Eerste Grensoorlog 1779-1780
      • Tweede Grensoorlog 1792-1793
    • Britse tydperk:
      • Derde Grensoorlog 1799-1802
      • Vierde Grensoorlog 1811-1812
      • Vyfde Grensoorlog 1819-1820
      • Sesde Grensoorlog 1834-1835
      • Sewende Grensoorlog 1846-1847
      • Agtste Grensoorlog 1850-1851
  • Dinge het nie altyd sleg op die Oosgrens gegaan nie. ’n Xhosa-man het in 1819 die volgende onthou: “Toe ons vaders en die vaders van die Amabulu (Boere) in die Zuurveld begin woon het, het hulle in vrede saamgeleef. Hul troppe het op dieselfde heuwels gewei, en hul veewagters het dieselfde pype saam gerook.” 1
  • Adriaan van Jaarsveld, die eerste kommandant, was ’n interessante karakter. Hy was ’n dapper en vernuftige leier. Ten spyte van die feit dat hy betrokke was by ’n menseslagting – toe hy sy troepe opdrag gegee het om tabak na ’n groep mense toe te gooi en hulle toe doodgeskiet het – het hy in 1794 voorgestel: “… ter wille van vrede met die Xhosas moet die Zuurveld, wat hul grond was, aan hulle teruggegee word.” 1
Foto: iStock

Die vroeë grensoorloë was ’n tydperk van konflik tussen die wit burgers en die Xhosas tussen 1779 en 1851. Die groepe het geveg vir grond en weiveld in die gebied rondom die Visrivier in die hedendaagse Oos-Kaap.

Agtergrond

In die 1770’s het Nguni-gemeenskappe wat suid getrek het in aanraking gekom met wit koloniste, ook genoem burgers, trekboere of grensboere, wat vanuit die Kaapse binneland oos getrek het. 1 Die eerste kontak het wes van die Visrivier plaasgevind, in ’n gebied wat as die Zuurveld bekendgestaan het. 2

Die Suid-Nguni het bestaan uit verskillende Xhosasprekende groepe, insluitende die Xhosa-, Thembu-, Mpondo-, Mpondomise-, en Gcaleka-stamme. Die trekboere het egter na almal as Xhosas verwys. 1 Tot in daardie stadium was die wit mense se enigste kontak met ander bevolkingsgroepe die Khoi-Khois en die San. Hulle was min in getal, en nie goed georganiseerd nie. Daarteenoor was die Xhosas ’n menigte, in sterk georganiseerde stamme ingedeel en gereed om militêr op te tree om hul doelwitte te bereik. 3

Die Zuurveld

Die Zuurveld, ook genoem Suurveld, was ’n groot gebied rondom die Visriviervallei. Dit was ’n land van uitstekende weivelde met goeie somer- en winterweiding. Aan die begin het die trekboere en Xhosas wat in die Zuurveld gebly het, in vrede saamgewoon. 1

Dit was egter van korte duur. Die koloniste én die Xhosas was veeboere wat weiding vir hul beeste en skape gesoek het. 3 Die weiveld was beperk, en soos wat meer mense van albei kante die gebied binnegetrek het, was konflik onvermydelik. 4

Een van die redes waarom die Zuurveld ’n brandpunt gebly het, was omdat die voordeel wat die koloniste gewoonlik bo die inheemse groepe gehad het, naamlik perde en gewere, hier nie so baie gehelp het nie, want die Xhosas kon in die digte bosse skuiling vind. 1

Vroeë interaksie

Die konflik het stadig maar seker versprei. Lede van albei groepe het gereeld mekaar se gebiede ingeval, en daar was baie strooptogte, diefstal en moord. 4

Die interaksie was nie altyd gewelddadig nie. Al het die Kaapse owerhede dit verbied, was daar onderlinge handel, waar die trekboere beeste vir tabak, koper, yster en krale geruil het. Sommige Xhosas het ook vir die burgers begin werk. Hulle is in die vorm van kos, krale, snuisterye of vee vergoed (betaal). 4

Die Xhosas het nie aan die begin verstaan hoe waardevol hul vee en arbeid vir die koloniste was nie, en dit goedkoop aangebied. Toe hulle begin verstaan het wat dit werd was en meer betaal wou word, het dit tot nóg konflik gelei. Die Xhosa-werkers was steeds gebonde aan hul stamme. Indien hulle gevoel het dat hulle sleg of onregverdig behandel is, het hulle hul hoofmanne gaan vra om wraak te neem, of hulle het die Boere se beeste as vergoeding gebuit. 1

Die gebied waar Paarl vandag is.

Die grensboere het dringend arbeiders nodig gehad en moes dus die Xhosas as werkers gebruik, maar hulle was terselfdertyd bekommerd oor die groot getalle Xhosas naby hulle. Daar was ook Xhosa-bendes wat oor die Boere se plase heen getrek het. Baie Xhosas het by die boere gestop en vir “geskenke” gevra– wat ’n groot irritasie vir die boere was. 1

Die gebied waar Mosselbaai vandag is.

Daar was ’n groot gaping tussen die groepe. Die koloniste het gedink hulle is beter as die Xhosas as gevolg van hul Christelike geloof, monogame huwelike, kleredrag en Westerse beskawing, maar daardie dinge het vir die Xhosas niks beteken nie. Die trekboere het gekla dat die Xhosas die veld oorbewei en brand. Die Xhosas kon op hul beurt weer nie glo hoeveel grond individuele boere wou hê nie. 1

Amptelike onderhandelings

In 1778 het die goewerneur van die Kaapkolonie, Joachim van Plettenberg, ’n paar Xhosa-hoofmanne ontmoet en gevra om die Vis- en Boesmansrivier as grens tussen die kolonie en die Xhosas se grondgebied te aanvaar. Só ’n ooreenkoms is gesluit, maar Van Plettenberg het nie geweet (of verstaan) dat hierdie hoofmanne nie die reg gehad het om namens ál die Xhosas ’n verdrag te teken nie. 1

Joachem van Plettenberg, goewerneur van die Kaapkolonie.

In 1789 het die regering die hele lengte van die Visrivier die grens tussen die kolonie en Xhosa-gebied gemaak. 1

Konflik en stryd

Tussen 1779 en 1851 was daar agt grensoorloë. Die oorloë was amptelik tussen die Xhosa aan die een kant en wie ook al die Kaapkolonie beheer het, aan die ander kant. Dit was die VOC tot in 1795, Brittanje se koloniale owerhede tussen 1795 en 1803 en weer ná 1806, en die Bataafse Republiek tussen 1803 en 1806. 3

Dit was nie gewone oorloë nie omdat daar nie altyd oorlogsverklarings was nie. Dit was dikwels ’n geveg sonder duidelike doelwitte, of net ’n verhewiging (of verergering) van die strooptogte wat deurentyd plaasgevind het. Die oorloë het ook meestal nie só geëindig dat daar behoorlike vrede gesluit kon word nie. Die oorloë het trouens meestal net die geweld vererger. 4

Die Kaapkolonie in ongeveer 1690.

Die eerste oorloë

Die Eerste Grensoorlog het in 1779 uitgebreek, en het begin toe ’n Boer ’n Xhosa doodgeskiet het. ’n Kommando onder Adriaan van Jaarsveld het in 1781 die Xhosas teruggedryf en ongeveer 5 000 beeste teruggeneem. 3

In 1792 het die Tweede Grensoorlog uitgebreek toe sommige grensboere met ’n Xhosa-hoofman saamgespan het om ’n Zuurveld-Xhosa-groep te probeer verdryf. Dit het misluk. Die Zuurveld-Xhosas het teruggeveg en tot diep in die Kaapkolonie ingedring. Op pad het hulle huise afgebrand, vee gesteel en veewagters doodgemaak. Die wit koloniste moes vlug. Slegs 4 van die 120 plaashuise in die Zuurveld is nié afgebrand nie. Altesaam 300 gesinne het al hul besittings verloor. 3

Die Zuurveld was hierna vir ’n rukkie onder beheer van die Xhosas. 1

Toe die Britte in 1795 oorgeneem het, moes hulle ’n oplossing vir die gespanne verhouding tussen die grensboere en Xhosas vind. Hulle het voortgegaan met die beleid van die Visrivier as oosgrens van die kolonie. Die Xhosas wat aan die kolonie se kant van die Visrivier gebly het, wou egter nie trek nie. Die situasie het gespanne gebly. 3

Daar was toe nóg oor-en-weer-gevegte, wat uitgeloop het in die Derde Grensoorlog (1799-1802/1803). Hier is die Xhosas deur dele van die Kaapse Khoi-Khoi-gemeenskap gesteun. Hulle was só bedrywig dat baie grensboere hul plase moes opgee. Teen die middel van 1799 het meeste van die Zuurveld-boere gevlug. 1 Teen 1803 was daar sowat 470 plase afgebrand, geplunder en verlaat, omtrent die helfte van al die plase in daardie omgewing. Die Xhosas het sowat 50 000 beeste en 50 000 skape gebuit. 1

Khoi-vroue.

In 1806 het die Britte permanent die Kaap oorgeneem. Die Britse owerheid was hierna onseker oor hul beleid teenoor die Xhosas. Hulle het nie verstaan hoe ingewikkeld die situasie was nie, en hul oplossings het nie gelyk of dit sou werk nie. 1 Hulle wou ook beheer hou met so min uitgawes as moontlik. Dit het byvoorbeeld veroorsaak dat hulle probeer het om trekboere of lojale Khoi-Khois (pleks van Britse troepe) in die oorloë teen die Xhosas te gebruik. 4

Teen 1811 het die konflik só ’n groot probleem en só wydverspreid geraak dat die Britte besluit het om die Xhosas vir eens en altyd te verdryf. Dit was die Vierde Grensoorlog (1811-1812). ’n Mag van sowat 440 Britse troepe, 431 Khoi-Khoi-soldate en 450 burgers is saamgestel. Die veldtog is vroeg in 1812 van stapel gestuur. Binne twee maande is sowat 20 000 Xhosas uit die kolonie (8 000 uit die Zuurveld ingesluit) gedryf. Die Xhosas se oeste is ook vernietig. Dit was op die oog af ’n suksesvolle veldtog. 4

Die Britte het hierna wagposte oprig en gereelde patrollies onderneem. In 1812 is ’n permanente pos in die Zuurveld (vroeër bekend as Grahamstad, vandag Makhanda) gestig. 4

Die vrede was egter van korte duur. Veediefstalle is hervat. In ’n poging om die probleem op te los, het die Britse owerheid die omstrede spoorstelsel ingebring. Daarvolgens moes die kraal waarheen spore van gesteelde vee gelei het, vergoeding betaal, of die vee daar gevind was of nie. Dit het tot groot ongelukkigheid onder die Xhosas gelei. 4

In April 1819, tydens die Vyfde Grensoorlog, het 10 000 Xhosa-krygers Grahamstad helder oordag aangeval, maar ná ’n geveg van sowat twee uur, is die Xhosas teruggedryf. Sowat 1 000 Xhosas is dood of gewond, teenoor 3 sterftes en vyf gewondes aan die verdedigers se kant. Die owerheid het in reaksie hierop in Junie 1819 teen die Xhosas opgetrek, hulle verslaan en duisende vee by die Xhosas gebuit. Die gebied tussen die Vis- en Keiskammarivier is as neutrale buffersone verklaar. Dit het eintlik maar net beteken dat die kolonie uitgebrei het tot by die Keiskammarivier en dat die Xhosas nog grondgebied verloor het. 4

Die grens is aanhoudend deur die burgers, Khoi-Khois en Xhosas geskend. Met verloop van tyd het die Oosgrens onverbiddelik oos geskuif, in die guns van die burgers: in 1825 tot by die Koonaprivier en in 1829 na die Katrivier. Dit het natuurlik die Xhosas baie verontreg laat voel. 4

In 1834 het die Sesde Grensoorlog uitgebreek. Britse troepe en ’n burgerkommando het die Xhosas teruggedryf. 3 Tydens hierdie veldtog het baie burgers groot veeverliese gely. Dosyne plaasopstalle is deur die Xhosas verwoes. Talle boere het verarm en magteloos en onveilig gevoel. Menige het hul plase verkoop. Hulle wou met hul diere en besittings noord trek, oor die grens na ander gebiede. Dit was een van die redes vir die Groot Trek. Meeste Afrikanerboere wat die Groot Trek meegemaak het, was van die oostelike distrikte afkomstig. 3

Hierna was daar nog twee amptelike grensoorloë: die Sewende Grensoorlog (1846-1847) en die Agtste Grensoorlog (1850-1851). Daar het egter niks noemenswaardig van hulle gekom nie.

Oorloggevolge

Die grensoorloë het tot langtermynspanning gelei.

Die oorloë en interaksie met die koloniste was vir die Xhosas verpletterend. Die grootste impak is gevoel in die groot aanval van 1811-1812, gedurende die Vierde Grensoorlog. Hier het die Xhosa besef die wit koloniste was sterker as wat hulle ooit verwag het. Die Xhosas het boonop gedink dit sou moontlik wees om saam met die koloniste te leef, soos wat hulle saam met die Khoi-Khois geleef het. Hulle is egter verdryf asof die wit mense glad nie met hulle wou meng nie. Dit het die verskille tussen die Afrikane en Europeërs duidelik uitgewys. 1

Die Xhosas het ook stadig maar seker die wedywering oor grondbesit verloor. Dit sou tot ongelukkigheid en verwyt lei wat nog vir 200 jaar sou voortduur.

Die verhouding tussen die Oosgrensboere en die Kaapse owerhede was bitter. Dit is vererger as gevolg van die invloed van die Britse sendelinge. Die grensboere het gereeld kommando’s gevorm, soms op versoek van die Britse owerhede, om die Britse troepe by te staan om orde te handhaaf. Ná 1833 is sulke kommando’s verbied omdat die Britse sendelinge die Britse regering oortuig het dat die kommando’s roofekspedisies was.

Die grensboere was baie gefrustreerd. Hulle het gevoel die Britse regering wou hulle nie beskerm nie, maar wou hulle nie toelaat om hulself te beskerm nie. Ná die Sesde Grensoorlog het die Kaapse goewerneur, Benjamin D’Urban, die grensreëls só gemaak dat dit vir die grensboere aanvaarbaar was. Dit is egter in 1835 herroep toe die sendelinge die grensboere die skuld vir die konflik gegee het. Hulle het soos vreemdelinge in hul eie land begin voel. 3

Sir Benjamin D’Urban.

Hierdie ongelukkigheid teenoor Brittanje sou ook jare lange gevolge hê.

Woordbank

beleid   ’n Program vir die bestuur van iets.
gefrustreerd Desperaat, ontevrede, raadop.
hedendaags Van vandag of die huidige tyd.
interaksie   Wisselwerking, aksie en reaksie tussen mense; gedrag, optrede, houding teenoor mekaar; direkte kontak van aangesig tot aangesig.
irritasie  Ergernis, hindernis, verergdheid, ontstemming.
menseslagting   Grootskaalse doodmaak van mense, dikwels in ‘n oorlogsituasie.
neutrale buffersone Niemandsland; strook onbesette gebied tussen vegtende partye.
Nguni Omvattende term vir ’n aantal verwante (swart) Suidoos-Afrikatale, naamlik Zoeloe, Xhosa, Swazi en Ndebele.
noemenswaardig Werd om vermeld te word.
onverbiddelik Meedoënloos, ongenadig.
ooreenkoms Handeling wat mens teenoor ‘n ander bind.
oorlogsverklarings Formele aankondiging van die begin van vyandelikhede en die verbreking van diplomatieke betrekkinge.
plunder   Roof of steel.
roofekspedisies ’n Krygstog om goedere te steel.
skend  Beskadig of ontsier.
snuisterye  Rariteite, sierware, versierinkies.
uitgawes Geld wat uitgegee word.
verhewiging Iets groter maak; vererger.
verontreg Iemand opsetlik skade berokken of benadeel.
verpletterend Wat nie deurstaan/verduur kan word nie, oorweldigend; vernietigend.
wraak  Strewe of daad om onreg, leed of vernedering wat gely is, te vergeld/straf.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video om meer te wete te kom

Die Vyfde Grensoorlog (Grahamstad)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockvFoto: Jackie Grobler-versameling
Gepubliseer op: 12 Augustus 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024