Vinnige feite

  • Paul Kruger, die latere president van die Transvaal, wat ook ’n lid van die Dopper Kerk was, het amper deelgeneem aan die Dorslandtrek, omdat hy bang was dat die “Christendom sal ondergaan”. Hy het egter besluit om in die Transvaal te bly en ’n suiwer kerk daar te bou. 1
  • Die Dorslandtrek is deur Lawrence Green beskryf as “die pynlikste hoofstuk in die hele geskiedenis van die Afrikanervolk”. 3
  • Piet Venter, die leier van die Tweede Trekgeselskap, was met Paul Kruger se stiefma, Heiltjie Levina Etresia Kruger, getroud. 3
  • Die bekende Afrikanerhistorikus Gustav Preller het geskryf dat die Dorslandtrek nie gepas het by die gewoonlik nugter mentaliteit van die Boere nie. Dit was onnadenkend en onverantwoordelik, want dit was basies ’n klomp gesinne wat sonder ’n plan die woestyn ingevaar het. 2
  • In 1928 en 1929 het die regering afstammelinge van die Dorslandtrekkers uit Angola teruggebring Suid-Afrika toe. Hul verhouding met die Portuguese owerheid het daar versuur, want hulle kon nie volle burgerregte geniet nie, kon nie eiendomsreg op hul plase kry nie, Afrikaans is op skool verbied, en hulle het gevoel hul geloof is bedreig. Omtrent 373 gesinne, oftewel 1 922 persone, is in Suid-Afrika hervestig. 2
  • Vandag is daar vyfjaarlikse feesvieringe op die oewer van die Kunene en vyfjaarlikse historiese toere op die spore van die Dorslandtrekkers na die suide van Angola. Ook ’n Facebook-groep, die Dorslandtrek Afstammelinge met 3 500 lede. 3
Foto: iStock

In die 1870’s het drie groepe Transvalers kort ná mekaar besluit om hul republiek te verlaat en ’n beter toekoms te gaan soek. Hulle het met hul ossewaens noordweswaarts koers ingeslaan en getrek – deur die volle breedte van vandag se Botswana en die noorde van die gebied wat vandag as Namibië bekendstaan – en hulle uiteindelik in die suidweste van Angola gevestig.

Dié Trek was rampspoedig en omtrent die helfte van die Dorslandtrekkers asook hul trekosse het op pad gesterf aan dors, siekte en ontbering.

Kaart van Dorslandtrek

Waarom het hulle getrek?

Die meeste Dorslandtrekkers het om godsdienstige redes getrek, alhoewel redes soos familiedruk, vrees vir gelykstelling, die politieke situasie in die Transvaal en ’n trekgees ook bygedra het.

Godsdiens

Onder godsdiens was daar drie belangrike faktore. Eerstens was hulle ongelukkig met wat hulle beskou het as die ongodsdienstigheid van die regering, veral die president, Thomas Francois Burgers. 1

Burgers was self ’n predikant, 2 maar hy het dele van sommige burgers se geloof in die openbaar as onsin afgemaak. Hy het selfs ’n skolewet voorgestel wat godsdiensonderrig tydens skoolure verbied het. 3 Dit was natuurlik vir die uiters godsdienstige Boere ’n probleem, en hulle het sy optrede as onchristelik beskou. 2

Thomas Francois Burgers

Hierdie was egter net deel van die probleem, want as dit so ’n groot probleem was, sou meer mense en ’n groter verskeidenheid van mense getrek het.

Pres. Burgers was egter redelik populêr (gewild) en het met gemak die verkiesing gewen. 3

’n Groter oorsaak kan gesoek word in die toestande in die Gereformeerde (Dopper) Kerk. Die Dopper Kerk was die mees konserwatiewe van al die kerke in die Transvaal, wat beteken hulle het nie van verandering of nuwe idees gehou nie. Altesaam 174 van die 198 volwassenes in die Tweede Trekgeselskap was lede van die Gereformeerde Kerk. Daar het 18% van die Gereformeerde Kerk se lede getrek, teenoor minder as 1% van die Nederduitse Gereformeerde en Hervormde Kerk se lidmate. 3

Dit was dus spesifiek die sogenaamde Doppers wat ’n probleem gehad het met Burgers, en gevoel het dat onder sý bewind hul kerk nie in hul behoeftes kon voorsien nie.

Laastens het die Dorslandtrekkers hulself as God se verkose volk gesien. Hul leiers het begin glo dat die “Beloofde Land” nog verder noord was, en hulle moes dáár gaan soek vir die “Nuwe Jerusalem” wat in die Bybel aan hulle belowe is. 3  Hierdie mense was só streng gelowig, dat hulle andere rondom hulle vervreem het.

Die koerant De Volksstem, wat in 1873 gestig is, het geskryf dat die mense se redes vir trek onnatuurlike, sieklike en oordrewe (té erg) godsdienstigheid was. 3

Ander redes

Tesame met die godsdiens was daar, soos dit gaan met sulke trekke, familieverbintenisse. Die Trekke het meestal bestaan uit uitgebreide familiegroepe, wat druk op mekaar gesit het om ook te trek. 3

Verder was die Dorslandtrekkers bang vir gelykstelling met die swart inwoners van die Transvaal, oftewel die idee dat wit en swart mense dieselfde regte sou hê. In 1873 het ’n nuwe wet swart mense groter geleentheid gegee om hul eie werk te soek. Die Trekkers, wat nie regtig geweet het wat in die wet staan nie, was bang dit gee die swart mense te veel vryheid (wat nie die geval was nie). 3

Gelykstelling was vir hulle onchristelik en dus iets wat nie aanvaar kon word nie.

Die situasie in die Transvaal in die 1870’s was maar onseker. In die vorige tien jaar was daar ’n burgeroorlog tussen twee groepe wit Transvalers; die Soutpansberg moes ontruim word ná invalle deur die Vendas; daar was oorlog met die hoofman Sekhukhune; en die Transvaal het sy aanspraak op die diamantvelde verloor. Daar was terselfdertyd ’n gebrek aan grond en armoede tussen die mense. Die mense het die regering die skuld gegee vir die armoede. 3 Burgers veral het die skuld gekry, al het hy die situasie geërf en dus nie regtig verantwoordelik was nie. 3

Tog was hy voortvarend en liberaal – bereid om nuwe idees te aanvaar. Die konserwatiewe Transvalers het egter nie daarvan gehou nie. 2

Die Trekkers is ook aangedryf deur die gees van die Trekboere, want hul voorgeslagte het reeds sedert die laat 1600’s in die Kaapkolonie telkens verder en verder oor die grense getrek. Talle Dorslandtrekkers het ook as kinders aan die Groot Trek deelgeneem. 1

Wie het getrek?

Die Dorslandtrekkers was Transvalers, en hul lewens was eenvoudig, soos die meeste van die binnelandse Suid-Afrikaners van daardie tyd. Met enkele uitsondering was hulle baie arm, selfs voor hulle getrek het. 3  Dié wat enigiets gehad het, het drasties verarm tydens die Trek. 1 Hulle was swak opgevoed, ook maar soos omtrent alle binnelandse inwoners van Suid-Afrika. En, soos alreeds gesê, was hulle uiters godsdienstig en die mees konserwatiewe lede van die Transvaalse gemeenskap. 3

Saam met die Trekkers het daar swart werkers getrek. Daar was tussen 130 en 200 van hulle saam op die Trek. Daar is ongelukkig omtrent geen inligting oor hulle nie, en die bronne met inligting oor dié tyd, noem hulle skaars. Baie was inboekelinge (jong swart persone wat vir sekere tydperke as arbeiders in diens geneem is) van Zoeloe-, Tswana en Ndebele-stamme en sommige is as slawe aangekoop toe hulle klein was, wat ná hul vrystelling as slawe by hul eienaars se families gebly het. 3

Dorslandtrekkers en hul kinders by Mombolo, 1916

Algemene probleme op die Trek

Die landskap en omgewing waardeur hulle getrek het, het vir die Trekkers ’n groot uitdaging ingehou. Die basiese trekroete het die trekkers noordwes gevoer, weg van die omgewing van Pretoria af tot by die Limpoporivier, net om toe wes te draai en oor die hele breedte van die huidige Botswana, en daarna oor die totale breedte van Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) te trek. 3

Daardie gebiede het destyds by reisigers bekendgestaan as die Groot Dorsland.

Daar was net hier en daar tweespoorpaadjies. Hulle het oor lang afstande deur sanderige boomwoestyn getrek (sandvlaktes met verspreide doringbome en bosse). Daar was omtrent nooit genoeg water nie. Waar daar wel genoeg water was, was daar gewoonlik malaria wat die mense doodgemaak het, en tsetsevlieë wat die diere, en veral die osse, doodgemaak het. Dan weer moes hulle in stadiums deur moerasse trek waar die waens in modder vasgeval het. 3 [Lees meer hier oor malaria.]

Die Trekkers se osse was vir hulle onontbeerlik, want sonder osse kon die waens nie beweeg nie, en dus kon mense en besittings nie vervoer word nie. Onthou, hulle het getrek na ’n nuwe lewe toe en dus ál hul besittings by hulle gehad. Daar was boonop omtrent nooit genoeg weiding of water vir die osse nie. Soos hieronder bespreek sal word, het honderde osse gevrek. 3

Bowendien was daar ook onsekerheid en tweestryd tussen die Trekkers. Hierdie probleem is deur ’n reisiger wat hulle besoek het, Alfred Musson, as volg beskryf: “Die tragedie was dat hulle nie soos die kinders van Israel ’n Moses gehad het nie, of soos die Boere van die Groot Trek veertig jaar tevore ’n Piet Retief as hul leier gehad het nie. Die katastrofe van hul trek deur die Kalahari was die gevolg van ’n gebrek aan leierskap.” 3

Angola

Trekgeselskappe

Die mense het hoofsaaklik in drie Trekgeselskappe afgesit. Op pad het hulle soms saam getrek, en soms in verskillende groepe opgedeel.

Eerste Trekgeselskap, Mei 1874

Die eerste Trekgeselskap het die distrik Pretoria op 20 Mei 1874 verlaat. Dit was, onder andere, die gesinne van Gert Alberts, Roedolf Holtzhausen en sy seun, Jan Holtzhausen. Die Trek het op sy grootste bestaan uit tien gesinne – altesaam omtrent 60 wit mense en enkele swart werkers. Sowat ’n kwart van hierdie mense is uiteindelik oorlede. 3

Trekleier Gert Alberts

Hulle het getrek tot by die Limpoporivier, ’n jaar daar oorgestaan, en toe verby Shoshong en die Ngamimeer in Botswana. In Januarie 1876 het hulle by Rietfontein in die ooste van die huidige Namibië aangekom, waar hulle twee jaar gestaan het. Op Rietfontein is daar twee kinders gebore, en ’n paar Trekkers dood. Hulle wou hulle graag permanent by Rietfontein vestig, maar die plaaslike stamme, die Herero en Nama, wou nie aan hulle grond afstaan nie. Dit het hul planne in die wiele gery, en hulle het net hier oorgestaan tot die Tweede en Derde Trekgeselskappe by hulle aangesluit het. 3

Tweede trekgeselskap, April 1875

Die tweede groep het ’n wyle (rukkie) gevat om aan die trek te kom. Dit het begin as ’n groep van vyf gesinne onder Piet Venter in April 1875. Teen 1876 was daar veertig waens in die geselskap. Hulle het vir twee jaar langs die Limpoporivier gestaan omdat hulle onseker was in watter rigting om te gaan. Die onsekerheid en onenigheid sou hulle telkens kniehalter. 3

Terwyl hulle langs die Limpopo gestaan het, het kgosi (koning) Khama van die Bangwato (ook bamaNgwato genoem) van die huidige Botswana afvaardigings na hulle gestuur. Hy het hulle gewaarsku dat daar nie genoeg water was nie, en dat dit daarom beter sou wees om nie die gevaarlike tog aan te pak nie, en indien hulle dit tóg wou doen, in kleiner groepe te trek. Die Trekkers was agterdogtig oor sy goed bedoelde raad, en het vermoed dat hy hulle in klein groepies wou hou om hulle makliker te beroof of uit te moor. 3

In Augustus 1876 het hulle Trekregulasies opgestel, en vir Jan Greyling as hul kommandant verkies. 3

Toe Brittanje die Transvaal in April 1877 geannekseer het, met ander woorde die regering oorgeneem het, het die laaste 29 gesinne by hulle aangesluit. 1 Die Trekgroep het uiteindelik bestaan uit omtrent 116 wit gesinne en 581 gesinslede, en ’n onbekende aantal swart werkers. Vyf van hierdie gesinne het gou teruggedraai, en 18 mense is oorlede nog voor hulle begin trek het, meestal aan malaria. 3

Hulle het tog besluit om in kleiner groepe ’n paar dae uit mekaar te trek. Toe die eerste groep in Mei 1877 weggespring het, het wanorde egter geheers, soos wat families getrek het sonder ’n plan. Hulle leiers kon nie daarin slaag om die orde te herstel nie. In die volgende tien dae het rampspoed hulle getref. 3

Van die Limpopo af is hulle deur die ooste van die hedendaagse Botswana. Daar was nêrens genoeg water nie. Op een lang skof moes hulle vir drie dae en nagte sonder water trek. Dit was waarskynlik die ergste stuk van die eerste deel van die Trek. So baie van hul osse het gevrek, dat die meeste mense moes stap, en dít terwyl baie siek was met malaria. Hulle het hulle uiteindelik gevind by die Meersrivier. Dié rivier is aan die suidwestekant van die Makgadikgadi-soutpan, in die noordooste van Botswana. 3

Die landskap waardeur hulle in die eerste skof getrek het, was basies ’n woestyn. Die beeste het eerste die impak van die gebrek aan water gevoel. Hulle het mal begin rondhardloop van die dors, en die paar watergate wat daar wel was, vertrap. Baie beeste is nooit weer opgespoor nie en baie is dood van die dors. Die Trekkers self het só min water gehad dat hulle dit eetlepelsgewys vir hul kinders moes rantsoeneer. Sommige Trekkers het bokke, skape, perde, en selfs honde se kele afgesny en dié bloed, gemeng met penswater, gedrink. Gelukkig het geen Trekkers hier aan dors gesterf nie (wel aan malaria). Die Trekleier, Louw du Plessis, het nie leiding geneem nie, en uiteindelik die skuld op homself geneem en bedank. 3

Party mense is op pad by uitspanplekke agtergelaat. Sommige was nog steeds daar toe die derde Trekgeselskap verbygekom het. 3

Die Derde Trekgeselskap

Agt gesinne, bestaande uit 40 siele, met ’n onbekende aantal swart werkers het op 24 April 1877 in Rustenburg bymekaargekom, met die doel om by die Tweede Trekgeselskap aan te sluit. Die families hier was die gesinne van Hermanus Johannes Wilhelmus Grobler; sy seun Lambertus Grobler; skoonseuns Jacobus Frederik Botha, Jan Harm Robberts en Willem Frederik Visser; Johanna Susanna le Grange (Hermanus se suster); Izak Jacobus Grobler en Roelof Petrus du Toit. Die leier van dié Trekgeselskap was Koos Botha. 3

Die Trek het vir hulle net so sleg verloop as die Tweede Trek. Hulle moes ook langs die Trekpad mense en waens agterlaat, wat hulle later gaan haal het. 3

Tweede en Derde Trekgeselskap trek verder

Die twee Trekgeselskappe het by Meersrivier ontmoet, en eers daar oorgestaan. Hulle moes die vee en agtergelate waens bymekaarmaak, en voorbereidings tref vir die volgende skof. In Augustus 1877 was hulle gereed. Omdat hulle maar min osse oorgehad het, kon al die waens nie saam getrek word nie. Die Trekkers moes dus meubels en besittings agterlaat. Vir jare ná die Trek was daar nog dinge soos stukke wa, hoenderhokke en kiste langs die Trekpad te sien. 3

Van die Meersrivier af het hulle 25 dae gereis, eers noord en toe wes, na die volgende oorstaanplek, die Ngami-meer. Hier was daar nie so ’n knypende watertekort nie. Teen hierdie tyd was daar al 37 mense op die Trek oorlede, meestal van koors. By die Ngami-meer het daar hulp in die vorm van trekosse van die Eerste Trekgeselskap by hulle aangekom. Dit het gemaak dat hulle vinniger verder kon trek, omdat daar nou meer mense op waens kon reis. 3

By die Ngami-meer was daar weer onsekerheid oor hul pad vorentoe. Baie wou langs die Okavangorivier aftrek. Terwyl hulle daar oorgestaan het, het hoofman Moremi van die baTawana-stam by hulle kom besoek aflê, en hulle gewaarsku dat daar tsetsevlieë langs die Okavangorivier was. Greyling het hom egter nie geglo nie, en gedink dat Moremi hulle uit sy jagvelde wou weghou. Hulle het dus Moremi se waarskuwing geïgnoreer. 3

Die Ngami-meer is in die omgewing van die Okavangodelta, ’n malariastrook. Baie Trekkers is hier dood. Hulle was in ’n stadium vasgevang op ’n plek wat vrot (besmet) was van die malaria, maar hulle kon nie verder trek nie, want die tsetsevlieë het die osse doodgemaak. Hulle het uiteindelik gekom by ’n pan reënwater, maar toe hulle sien dat daar nie genoeg water vir almal was nie, moes hulle noodgedwonge in groepe verdeel. 3

Een groep het omgedraai terug Transvaal toe. Ander het van hier af reg wes in die woestyn na die Debraveld getrek om te probeer wegkom van die tsetsevlieë én die malaria. Nóg ’n groep het noordwes gehou langs die Okavangodelta, want hulle was banger vir die woestyn en die dors as die malaria. Dit het met al die groepe swaar gegaan, hetsy as gevolg van malaria, tsetsevlieë, honger of dors. 3

’n Besoeker wat ’n groep in hierdie tyd raakgeloop het, het soos volg geskryf: “Hulle het hierdie ongelukkige mense in ’n treurige toestand aangetref, die meeste van hulle siek aan [malaria]koors, met hul beeste wat in hope rondom hulle dood gelê het nadat hulle gevrek het omdat hulle giftige plante gevreet het … Hierdie ongelukkige mense het oor geen meer voorrade beskik nie en het bloot aan die lewe gebly deur die karkasse van hul dooie beeste en die wortels van wilde plante te eet.” 3

Die groep wat die woestyn wou vermy, het aan die begin bestaan uit 10 gesinne met omtrent 65 lede en ’n onbekende hoeveelheid swart werkers, onder leiding van Gert du Preez. Tsetsevlieë en ander siektes het hul diere doodgemaak, en malaria en ontbering ál die wit mense buiten drie vroue en 19 kinders. Dit is nie bekend hoeveel swart werkers oorleef het nie. Hulle is deur ’n ander groep gered wat hulle na Leeupan geneem het. 3

Uit die groep wat na die Debraveld toe is, het daar miskien nog soveel as 50 mense aan malaria gesterf. Teen die einde van April 1878 het hulle die Debra verlaat omdat die koors daar te straf was, en ook koers gevat Leeupan toe. 3

Tot dusver was die Dorslandtrek ’n katastrofe. Rondom hulle was onvriendelike swart stamme en ongesonde gebied, en hulle het nie geweet waarheen nie. En die einde van die lyding was nog nie in sig nie. 3

Gesamentlike trek van Leeupan na Kaokoland, Julie 1878 – April 1879

By Leeupan het dit steeds sleg gegaan. Die Trekkers het nie kos, trekosse of geld gehad nie. Nóg het aan siektes gesterf. Die Trekgroepe, nou almal saam, het ’n nuwe bestuur verkies en nuwe Trekregulasies opgetrek. Daar was egter weer verwarring en meningsverskille oor waarheen om te trek, en die groep het weer versplinter. Meeste het noord getrek na die Okavangorivier, maar sommige het gebly en begin om vir die handelaars te jag ten einde ’n geldjie te maak. Nog ’n groep van 19 gesinne het teruggetrek Transvaal toe. Hulle het minder teëspoed op die pad terug gehad. Sommige van die terugkerendes het later weer deur die Dorsland teruggetrek Angola toe. 3

Die groep wat noord getrek het, se verhouding met die swart gemeenskappe langs die Okavango het egter versuur en hulle was verplig om verder te trek, suidweswaarts in die rigting van die Etoshapan. 3

Intussen het ’n verkenningsekspedisie vir hulle ’n rusplaas gekry in Kaokoland, in die noordwestelike hoek van Namibië. Hulle het tussen April en Julie 1879 daar aangekom en tot in Oktober 1880 gebly. Hier het hulle tydelike wonings gebou, tuintjies en landerye aangelê en gejag. Daar was steeds koorssterftes, asook botsings met Ovambo-stamme op Portuguese grondgebied. Hier het hulle die eerste keer kennis gemaak met die Portugese, wat waarskynlik die saadjie geplant het vir die uiteindelike verhuising na Angola. 3

Teen November 1880 was daar omtrent 57 gesinne (51 mans, 51 vroue, 82 seuns, 86 dogters), 50 swart werkers, 61 waens, 840 trekosse, 2 160 beeste, 120 perde, muile en donkies en 3 000 skape en bokke. 3

Intussen het berigte die Kaap bereik oor hoe sleg dit met die Trekkers gaan, en daar is vir hulle goedere gestuur. Dit is ongelukkig eers maande later aan hulle oorhandig. Sommige Trekkers is met die skip wat die goedere afgelewer het, van Walvisbaai af terug Kaapstad toe, en toe met liefdadigheidshulp terug Transvaal toe. 3

Aankoms en vestiging in Angola, Julie 1880-Julie 1883

Die Trekkers kon nie in Namibië bly nie, en het afvaardigings na die Portuguese gestuur. Daar is met moeite, veral omdat hulle nie mekaar se tale kon verstaan nie, op voorwaardes besluit waarvolgens die Trekkers in Angola kon vestig. Een voorwaarde wat aanvaar is, was dat die boere grond sou kry om te boer. Nadat die voorwaardes bepaal is, het die Trekkers Angola begin binnetrek. Op hierdie laaste stukkie trek het een vrou en 11 kinders aan masels gesterf. 3

Hul eindbestemming was Humpata, naby die hedendaagse Lubango. Jare van moeilike aanpassing het gevolg. Hulle het ’n dorpie gebou, met ’n dam en leivore, en probeer boer. Hulle was egter brandarm, en het omtrent niks gehad om ’n lewe mee te begin nie. Daar het later hier en daar nog Trekkers by die Angola-Boere aangesluit. Teen 1 Julie 1883 was daar 325 Afrikaners en 43 swart werkers. 3

In Julie 1882, ’n jaar ná hul aankoms, het ’n Portuguese graaf die Boeredorpie by Humpata beskryf: “As mens hulle in die geheel beskou, het ek nog nêrens ’n taaier groep mense gesien nie; die verskriklike reis van sewe jaar het ongetwyfeld uitgeloop op die oorlewing van die sterkstes.” 3

Uiteinde en gevolge

Die Dorslandtrek was ’n mislukking en amper ’n volslae ramp. Tussen 500 en 600 mense het die Transvaal tussen 1874 en 1880 verlaat. Omtrent die helfte het gesterf of teruggekeer Transvaal toe. 1 Omtrent almal het al hul besittings verloor. 2

Dorslandtrekker se kothuis

Aan die positiewe kant het die mense wat getrek het, soos familie van mekaar geword. Dié wat oorleef het, is soos volg deur een van die Trekkers, Jan Prinsloo, beskryf: “Behalwe in die gevalle waar kwale oorgehou is van die vreeslike koors, het ons almal sterker en gesonder mense geword, minder vatbaar vir siektes, ja, soms met ’n yster-konstitusie.” 3

Diegene wat dit gemaak het tot in Angola, het belangrike rolle in die geskiedenis van Angola en Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gespeel. 3

Woordbank

geannekseer Om besit van ʼn gebied te neem.
burgeroorlog Oorlog tussen partye van een land of volk.
gelykstelling Die gee van gelyke regte.
graaf Adellike titel.
inboekelinge Jong swart persoon wat vroeër vir ’n bepaalde tydperk as arbeider in diens geneem is.
 in die wiele gery Benadeel; dwarsboom; verhinder; belemmer.
katastrofe Ramp, ongeluk, rampspoedige gebeurtenis; noodlottige voorval of gebeurtenis.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
konstitusie Liggaamsgestel; Toestand van die liggaam wat krag/gesondheid/ens. betref.
liberaal Om bereid te wees om ander mense se idees te aanvaar en te respekteer.
malaria Koors veroorsaak deur die byt van ‘n sekere soort muskiet in tropiese en subtropiese gebiede; moeraskoors.
oordrewe Iets wat te ver gevoer of te erg is.
populêr Gewild; almal hou van daardie persoon.
rampspoed Teenspoed; ellende; terugslag.
straf Baie erg/sleg.
tsetsevlieë Giftige vlieg in tropiese en subtropiese streke van Afrika, waarvan die steek dodelik is vir huisdiere, en wat slaapsiekte veroorsaak by die mens.
vrystelling Om aan iemand vryheid te gee.
wanorde Chaos; sonder orde; baie deurmekaar.
wyle Rukkie; oomblik. 4

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Dorslandtrek

Kyk hierdie videos om nog meer te leer oor die Dorslandtrek

Die Dorslandtrek (Deel 1)

Die Dorslandtrek (Deel 2)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 September 2022 | Bygewerk op 3 November 2023