Vinnige feite

  • D’Urban se pa was ʼn dokter, en sy ma se pa was ʼn chirurg. Hy het egter besluit op ʼn beroep in die weermag en nie as dokter nie. 1
  • D’Urban was baie geïnteresseerd in die nuwe kolonie wat besig was om in die 1830’s by Port Natal te ontstaan. Sy ondersteuning het daartoe gelei dat sy naam gebruik is vir die nuwe dorpie op die kus – Durban. Sy seun was ʼn lid van die Britse troepe wat Natal in 1942 beset het. 1
  • D’Urban het baie goed oor die weg gekom met twee Groot Trek-leiers: Piet Retief en Piet Uys. 9 Veral D’Urban en Uys het ʼn lewendige briefwisseling tydens die Trek gehad. 10
  • Sy naam is ook gebruik vir ʼn nuwe dorpie in die Tygerberg naby Kaapstad – Durbanville. 1
  • Ná sy dood in Kanada het hy een van die mees indrukwekkende begrafnisse gehad wat Montreal al ooit gesien het. 2 Daar is ʼn monument ter nagedagtenis aan hom in die gedenkpark by Pointe-Claire, Montreal, opgerig. 1
Foto: iStock

Sir Benjamin D’Urban (16 Februarie 1777 tot 25 Mei 1849) was die goewerneur van die Kaapkolonie tussen 1834 en 1837. 1

Al was hy net vir drie jaar die goewerneur het sy regeringstydperk saam met een van die mees dramatiese periodes in die Suid-Afrikaanse geskiedenis geval. Nie net is alle slawe in die Kolonie vrygestel nie, maar die Sesde Grensoorlog het in 1834 uitgebreek, en dit was ook gedurende sy regeringstyd dat mense die Kaap verlaat het in wat later as die Groot Trek bekend sou staan.

Kaapkolonie, ongeveer 1690
Perdewa

Vroeë lewe

D’Urban, die seun van John D’Urban en Elizabeth Gooch, is in 1777 in Suffolk, Engeland, gebore. Hy het in 1793 by die weermag aangesluit, en is in 1819 as majoor-generaal aangewys. Kort hierna is hy as goewerneur van die Britse kolonies Antigua, Montserrat en Barbuda in die Karibiese See aangestel, en toe in 1831 as die eerste goewerneur van Brits-Guiana, ʼn Britse kolonie op die noordkus van Suid-Amerika. In 1834 het hy die pos van goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop aanvaar. 1

Goewerneurskap

D’Urban het, voor hy ná die Kaap gekom het, ʼn ongunstige opinie gehad van die koloniste, veral die Nederlands-Afrikaner-koloniste. Hy het egter gou van siening verander en daarna sterk vir die belange van die koloniste geveg. 2 D’Urban se eerste taak as goewerneur was om Kaapstad se regering op te knap. In sy tyd het Kaapstad ʼn Wetgewende Raad gekry. 1 Dit was basies ʼn regeringsliggaam waarop die inwoners ook verteenwoordigers gehad en hul saak kon stel. 3

Die Wetgewende Raad het nie baie gesag gehad nie, en die goewerneur het die finale sê gehad in alle sake, maar dit was ten minste die begin van ʼn tradisie waar die inwoners insette op hul eie wette kon lewer. 3

D’Urban het ook plaaslike besture verbeter deur ʼn uitstekende munisipale administratiewe stelsel te skep, waar dorpe byvoorbeeld die reg gekry het om hul eie plaaslike sake deur die daarstelling van munisipale rade, te beheer. 3 Sy hervormings het vir effektiewer regering in die Kolonie gesorg en was vir hom ʼn sukses.

Slawerny

D’Urban het in die Kaap aangekom kort ná die Britse parlement die afskaffing van slawerny in alle Britse kolonies aangekondig het. Volgens die Vrystellingswet moes alle slawe in die Kaapkolonie op 1 Desember 1834 vrygestel word. Die vrystelling van die slawe het gevolge gehad wat D’Urban se verantwoordelikheid geword het, insluitende rondlopery, inboeking en kompensasie. 1

Ná die vrystelling van slawe was daar baie vrygestelde slawe wat nou vir hulself moes sorg, maar nie wou werk nie. Hierdie situasie het nie net gelei tot ʼn gebrek aan werkers nie, maar ook rondlopery en wetteloosheid. D’Urban het probeer om ʼn wet te maak om hulle te forseer om te werk, maar dit was onsuksesvol. 1

Volgens die Vrystellingswet moes volwasse slawe vir vier tot ses jaar by hul eienaars ingeboek bly, wat beteken hulle moes teen vergoedig by hulle bly werk. D’Urban was baie betrokke by die aspekte van die inboekelingstelsel. 1

Die koloniste wat slawe-eienaars was, was baie ongelukkig oor kompensasie (vergoeding) vir hul slawe. Volgens die wet moes hulle self hul kompensasiegeld in Brittanje gaan haal. Dit was vir baie, waarskynlik die meeste slawe-eienaars, onmoontlik om so lank van hul boerdery af weg te wees, en boonop peperduur. D’Urban was, soos die meeste koloniste, ten gunste daarvan dat ten minste ʼn deel van die kompensasiegeld op die dag wat slawe vrygestel is, in die Kaap uitbetaal moes word. Hy kon dit egter nie regkry om te reël dat dit so gebeur nie. Die uitbreek van die Sesde Grensoorlog in 1834, die groot afstande wat afgelê moes word en kommunikasieprobleme tussen hom en die koloniste as gevolg van taalverskille het egter sy planne in die wiele gery. Op die ou end was die kompensasie ʼn gemors. 1

Dit moes vir D’Urban moeilik gewees het om ʼn wet te implementeer wat voor sy aanstelling en sonder sy toedoen aanvaar is, en waarmee hy boonop nie saamgestem het nie. Deur die manier hoe die vrystelling op die ou end gebeur het, het baie koloniste groot verliese gely, en dit het die gesindheid van die Afrikaanssprekende koloniste tenoor die Britse gesag verder versleg. 3

Probleme op die oosgrens en die Sesde Grensoorlog van 1834

Intussen was daar spanning tussen die koloniste en die Xhosa-gemeenskappe op die Kaapse oosgrens. Die maatreëls wat D’Urban se voorgangers getref het, kon nie spanning ontlont nie. D’Urban is later daarvan beskuldig dat hy nie betrokke genoeg op die grens was nie. Hy was vir ʼn jaar die goewerneur voor hy die eerste keer die grens besoek het. Tot sy verdediging het die slawekwessie hom baie besig gehou, en bowendien het die kommandant op die grens hom nooit laat weet dat daar ʼn dreigende oorlog was nie. 1

D’Urban se pogings om ʼn meer vreedsame en stabieler grenssituasie te skep, het ingesluit dat hy verdrae (ooreenkomste) met die inheemse hoofmanne moes sluit. Dit was ʼn nuwe idee vir die Britse Ryk. Toe hy in Desember 1834 ʼn verdrag met die Griekwa-kaptein Andries Waterboer gesluit het, het dit geskiedenis gemaak. 1

Die Sesde Grensoorlog het in Desember 1834 uitgebreek, en dit het chaos op die grens veroorsaak. Aan die begin van die oorlog het die Xhosa-krygsmanne tot ver in die Kolonie ingedring en dosyne plase verwoes en vee gestroop. 4 ʼn Groot koloniale mag het egter teruggeveg en die Xhosas ver oos teruggedryf. 1

Ná die oorlog, op 10 Mei 1835, het D’Urban aangekondig dat hy die Kaap se oosgrens na die Keirivier geskuif het, die grondgebied tussen die Keiskamma- en die Keirivier namens Brittanje geannekseer (gevat) het, en dit die Provinsie van Koningin Adelaide genoem het. 1 Hierdie gebied is later die Ciskei genoem. D’Urban wou gehad het dat die koloniale trekboere daar kon grond kry, wat natuurlik ʼn populêre besluit onder die wit inwoners was. 1

Koningin Adelaide

Sommige Xhosas is ook toegelaat om hulle in reservate in die Provinsie van Koningin te vestig, as hulle Britse onderdane sou word. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die Kaapkolonie wat die Kaapse regering direk beheer oor ʼn swart groep uitgeoefen het. 3

Dit het later die algemene gebruik geword. Hierdie reëling van D’Urban het by beide die Afrikaners en die Britse koloniste in die Kaap byval gevind. 4

D’Urban se beleid was egter nie populêr onder die Britse sendelinge nie. John Philip, die hoof van die London Missionary Society (LMS) in Suid-Afrika, het ʼn afsku in D’Urban gehad, veral omdat hy eenmaal na die Xhosas as “reddelose barbare” verwys het. D’Urban het boonop in die openbaar die belange van die trekboere verdedig. 5 Dit het hom meer populêr onder die trekboere, maar minder populêr onder die sendelinge gemaak. Daarom het Philip en die sendelinge by die Britse regering gaan kla oor die anneksasie. 5

John Philip

In Desember 1835 het die Britse regering D’Urban forseer om die geannekseerde gebied op te gee. 1

Philip en andere het só vir D’Urban by die Britse regering belaster dat hulle hom in Mei 1837 uit sy pos ontslaan het. 2 Hy het aanhou diens doen tot in Januarie 1838, toe hy deur sir George Napier as goewerneur vervang is. 1

Die Groot Trek

Die oorgrote meerderheid van mense wat aan die Groot Trek deelgeneem het, het tydens D’Urban se goewerneurskap getrek. Die Trekkers het nie spesifiek as gevolg van D’Urban se beleid getrek nie – hulle was al ongelukkig voor hy die goewerneur geword het. Die kwessie van die vrystelling van slawe – nie soseer die idee van vrystelling nie, maar die kompensasiechaos – asook die Sesde Grensoorlog het bygedra tot baie Trekkers se planne. 1

Die anneksasie van die Provinsie van Koningin Adelaide het boonop aan ʼn groot aantal koloniste hoop gegee om grond te kry, wat toe beskaam het na die anneksasie teruggetrek is. 6 Bowendien het die Britse regering se skrapping van D’Urban se grensreëlings, wat deur die meeste grensboere as baie positief ervaar is, hulle teleurgestel en meer vasberade gemaak om te trek. 7

Dit was onder andere die laaste strooi vir beide Piet Uys en Piet Retief. 8

Piet Uys
Piet Retief

D’Urban was nie totaal teen die Trek gekant nie. Hy het in elk geval nie gedink daar was wette om die Trek te keer nie. 6 Hy het eenkeer in ʼn brief oor die Groot Trek geskryf: “Dit is bitter jammer dat ʼn groot gedeelte van die boere wat die Kolonie verlaat het tot die oudste en fatsoenlikste inwoners vanuit die distrikte waaruit hulle afkomstig was, behoort het, en dat die vertrek van hierdie onverskrokke, geduldige, arbeidsame, ordelike en godsdienstige mense ʼn onberekenbare verlies vir die Kolonie beteken, in watter lig ons ook al die emigrante beskou: as die verbouers van die grond of as die verdedigers en belastingbetalers van die land wat hulle verlaat het en waaruit hulle vanselfsprekend ook al hulle vaste eiendom en roerende goed soos beeste, skape en perde saamgeneem het. Die waardevolste gedeelte van ons plattelandse bevolking is dus onherstelbaar verlore.” 3

Persoonlike lewe

D’Urban is op 7 Augustus 1797 met Anna Wilcocks getroud. Sy was ʼn ondersteuner van liefdadigheidsorganisasies, en sy het in 1836 ʼn nywerheidskool vir dogters gestig. Hulle het twee kinders gehad. 1

D’Urban het ná sy ontslag in Suid-Afrika gebly en in Wynberg gaan woon. Hier is hy gereeld deur regeringsamptenare geraadpleeg. Sy vrou is in 1843 daar oorlede. In 1846 het hy Kanada toe getrek, om bevel te voer oor die Britse troepe daar. Hy is in 1847 op 72-jarige ouderdom in Kanada oorlede. 2

Sy drie jaar as goewerneur het saamgeval met ʼn baie uitdagende tydperk in die geskiedenis van die Kaapkolonie. 1 Hy was ongetwyfeld bekwaam. Onder hom het die Kolonie deur ʼn beter, alhoewel nie minder spanningsvolle, tyd gegaan as onder sy voorganger, lord Charles Somerset. 2

Die chaos rondom die vrystelling van die slawe en die uitbreek van die Sesde Grensoorlog was nie sy toedoen nie. D’Urban was populêr onder sowel die Engels- as Afrikaanssprekende koloniste. Hy was waarskynlik een van die gewildste goewerneurs wat die Kaapkolonie ooit gehad het. 2

Woordbank

annekseer Besit neem van iets of ‘n gebied.
fatsoenlikste Beskaafd en eersaam. 11
inboeking Voormalige slawe wat as arbeiders deur hul voormalige eienaars in diens geneem is.
belaster Om kwaad te praat van iemand sodat hulle in ʼn slegte lig gestel word.
verdrag ‘n Ooreenkoms tussen twee of meer lande/state/magte.

Lees hierdie artikel om nog meer te leer oor sir Benjamin D’Urban

vFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 September 2022 | Bygewerk op 8 November 2023