Vinnige feite

  • Die wêreld se grootste stad (volgens landoppervlak) is Altamira in Brasilië, wat 159 696 km2 beslaan (dit is meer as 97 keer so groot soos Johannesburg!). 24
  • Hongkong was in Maart 2019 die stad in die wêreld met die meeste hoë geboue of wolkekrabbers. Altesaam 2 580 geboue was hoër as 100 m. 25
  • Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, het die hoogste bevolkingsdigtheid in die wêreld. Met ʼn bevolking van 16,8 miljoen inwoners oor 368 km2, bly daar 45 700 mense per km2. 26
  • Mongolië het, met ʼn bevolking van 3 198 913 in ʼn gebied van 1 553 556 km2,  ʼn bevolkingsdigtheid van 2,05 mense per enkele vierkante kilometer. 27
  • Gedink Venesië is die stad met die meeste brûe? Hamburg in Duitsland spog met tussen 2 300 en 2 500 brûe. Dit is meer brûe as Londen, Amsterdam en Venesië saam. Zollenbrücke is die oudste brug en is in 1663 opgerig. 28
  • Die Vatikaanstad is nie net die kleinste land nie, maar het ook net 800 inwoners. 29
  • Monaco is die tweede kleinste land in die wêreld (naas die Vatikaanstad). Met ʼn grootte van 2 km2, skaars groter as ʼn winkelsentrum in Suid-Afrika, het dit die grootste bevolkingsdigtheid in die wêreld met byna 25 000 inwoners per vierkante kilometer. Daar woon sowat 40 000 mense in die land. 11
  • Voor die Tweede Wêreldoorlog was slegs belangrike geboue in Tokio, Japan met stene gebou. Die meeste ander geboue is van papier en hout gemaak. Papier en hout kan egter baie vinnig brand en aan die einde van die oorlog was daar omtrent niks van die stad oor nie – byna alles het tydens aanvalle afgebrand. Toe die Japannese die stad herbou, is die geboue hierdie keer van staal en beton gemaak. 30
  • New York is die mees diverse stad op aarde. Inwoners praat minstens 800 verskillende tale hier. Engels is eintlik ʼn minderheidstaal met net vier uit elke tien gesinne wat dit as hul eerste taal gebruik. 30
  • Kiëf in Oekraïene het die diepste moltreinstelsel of ondergrondste netwerk van treine in die wêreld. Hierdie struktuur is 105 m ondergronds en is in die 1960’s gebou. Dit is voorheen ook gebruik om skuiling gedurende oorloë te bied. 30

Verbeel jou ʼn land sonder winkelsentrums, flieks, restaurante en selfs skole. Vandag is dit byna onmoontlik om te dink dat daar ooit só ʼn wêreld kon wees, maar lank, lank gelede was daar min mense op die aarde en hulle het geboer. Families het ver van mekaar af gewoon en het geleef van die vis wat hulle kon vang, bessies en vrugte wat hulle kon pluk en eet, en die diere wat hulle gejag het.

Oor die eeue het hierdie prentjie drasties verander. Mense het begin om met mekaar handel te dryf en geld of goedere te gee in ruil vir dinge wat hulle graag wou hê. Stadig maar seker het mense begin trek na plekke waar hulle werk kon kry, ryk kon word en waar daar skole vir hul kinders was.

Soos lande oor die afgelope twee en ʼn half eeue ontwikkel het en nywerhede opgerig is, het al hoe meer stedelike gebiede begin uitbrei omdat inwoners van die landelike of plattelandse gebiede na stede begin trek het – dit word verstedeliking genoem. 1

Redes vir verstedeliking

Aan die begin het verstedeliking stadig gebeur, maar met die nywerheidsrevolusie – toe goedere al hoe minder met die hand gemaak is, maar eerder met masjiene in groot fabrieke – het al meer mense na groter plekke verhuis.

Nog ʼn faktor wat verstedeliking vinniger laat gebeur het, is bevolkingsgroei (die tempo waarteen mense meer word). Aan die begin van die negentiende eeu was daar vir die eerste keer 1 miljard mense op aarde. Tot 1900 was die bevolkingsgroei maar stadig, maar daarna het die bevolking tussen 1975 en 2011 elke twaalf jaar met 1 miljard mense vermeerder met intervalle van vier, vyf en ses miljard mense wat telkens bereik is. 2

Saam met hierdie bevolkingsgroei het daar meer stede ontstaan, want almal kon nie in dieselfde gebied boer nie. Vandag leef meer as die helfte van die wêreld se bevolking in stede en daar word geskat dat 70% van die wêreld se bevolking teen 2050 in ʼn stad gaan bly.

Skaars ʼn honderd jaar gelede was net twee uit elke tien mense stadsjapies. In 2050 gaan sewe uit tien mense in stede bly! 3

Verskil tussen landelike en stedelike nedersettings

Verstedeliking is die proses waar mense van landelike gebiede na stedelike gebiede verhuis. Die tempo van verstedeliking word gewoonlik uitgedruk as ʼn persentasie van die totale bevolking. 1

ʼn Nedersetting is ʼn gebied waar ʼn klomp mense naby aan mekaar bly en van dieselfde infrastruktuur soos hospitale of skole gebruik maak. Nedersettings word uitgeken aan hul funksie, grootte en die aantal mense wat daar bly. Die funksie van ʼn nedersetting verwys na die aktiwiteite (bedrywighede) wat in ʼn nedersetting plaasvind. Hierdie funksies kan primêr, sekondêr en/of tersiêr wees.

Daar is net twee soorte nedersettings, naamlik landelik en stedelik. 1

ʼn Landelike nedersetting (plase en klein dorpe) het meestal net een funksie of aktiwiteit wat in die omgewing plaasvind. Die ekonomie is gebaseer op primêre aktiwiteite wat beteken dat daar hoofsaaklik grondstowwe in die gebied ontgin word. [Lees hier oor ekonomie.] Dit kan aktiwiteite soos landbou (vee- en gewasboerdery), bosbou, mynbou en vissery wees. 1

Stedelike nedersettings (groter dorpe en stede) het weer verskeie funksies met sekondêre aktiwiteite (vervaardiging van goedere in byvoorbeeld fabrieke) en tersiêre aktiwiteite (verrig van dienste byvoorbeeld bankdienste, handel, vervoer en onderwys) wat in die omgewing plaasvind. 1

Antieke verstedeliking

Die vroegste verstedeliking het in die antieke tyd (baie lank gelede) in Mesopotamië tussen 4300-3100 voor Christus (v.C.) plaasgevind. Een van die redes wat kenners aanvoer, is dat stamme wat minder suksesvol en nie baie ryk was nie, by meer suksesvolle stamme gaan bly het. Mettertyd het daar só baie mense by hierdie stam aangesluit, dat hul nedersetting as ʼn stad kon bekend staan. 4

Historici glo dat die eerste stede Uruk (4500 v.C.) en Ur (3800 v.C.) in Mesopotamië was (vandag die Midde-Ooste). Albei hierdie stede het naby die oewer van die Eufraatrivier gelê. Die veiligheid wat die stadslewe gebied het, het mense na hierdie stede laat trek. Teen die jaar 2900 v.C. het Ur sowat 65 000 inwoners gehad. 4

In vandag se tyd sou Ur beslis te klein gewees het om ʼn stad genoem te word, maar in die antieke wêreld was ʼn stad ʼn nedersetting waar ʼn klomp mense baie naby aan mekaar gewoon het en geboue en strate ʼn sekere patroon gevolg het. Daar was gewoonlik ʼn belangrike gebou soos ʼn tempel (plek waar mense aanbid) in die middel van die stad. Die strate en geboue het van die middelpunt na buite uitgebrei. 4

Moderne verstedeliking

Oor die eeue heen het stedelike nedersettings orals hul verskyning gemaak, maar die nywerheidsrevolusie is die enkele groot rede wat die verstedelikingskoers (hoe vinnig of stadig verstedeliking plaasvind) in moderne geskiedenis ʼn hupstoot gegee het. 5 Werksgeleenthede en ekonomiese groei wat deur die nywerhede geskep is, het mense al hoe meer na stede gelok. 5

Die nywerheidsrevolusie het in die 1750’s in Brittanje begin in ʼn tydperk van uitvindings en meganisasie waartydens masjiene ontwikkel is om grondstowwe te verwerk. 6

Verstedeliking gebeur wanneer fabrieke op plekke opgerig word en daar ʼn behoefte aan baie mense is wat in die fabrieke kan werk. Ander ondernemings, soos konstruksiemaatskappye, handelaars en diensverskaffers volg dan dié fabrieke om te voldoen aan die behoeftes van die werkers. Dit skep selfs nog meer werk en meer huise moet gebou word. Op só ʼn manier word ʼn stedelike gebied gevestig.

Hoewel mense van die vroegste tye af na plekke getrek het waar daar water is, het dit veral tydens die nywerheidsrevolusie gebeur. Fabrieke het baie water nodig om produkte te vervaardig en water word ook gebruik om goedere te vervoer. Vandag is sowat 75% van die wêreld se grootste stedelike gebiede langs die see. 5

Met die koms van fabrieke het daar baie werksgeleenthede ontstaan. Baie mense het hul plase verlaat om in fabrieke te gaan werk. Al was die werksomstandighede soms sleg en die betaling min, het mense steeds meer geld in die fabrieke verdien as die inkomste wat hulle met landbou gemaak het. Hoe meer werknemers by fabrieke aangesluit het, hoe groter het die nedersettings rondom daardie fabrieke geword. Industrialisasie is dus een van die direkte redes waarom verstedeliking plaasvind. 6

Stoot- en trekfaktore

Daar is baie redes waarom mense besluit om na stede te trek. Stootfaktore is die dinge wat jou oortuig om ʼn landelike gebied te verlaat. As daar probleme in ʼn gebied is, wil mense eerder verhuis. Hierdie faktore “stoot” jou dus weg van die platteland na die stad toe. Trekfaktore is weer die redes wat jou lok en aantrek na ’n stad. 1

Hier is ʼn tabel wat die verskille tussen die trek- en stootfaktore van verstedeliking uiteensit: 1

Stootfaktore Trekfaktore
Natuurrampe, soos droogtes of vloede, het ’n groter uitwerking in landelike gebiede omdat die ekonomie van boerdery ens. afhanklik is. Natuurrampe het ʼn kleiner uitwerking en meer hulp word ontvang van die owerhede in stedelike gebiede gedurende droogtes of vloede.
Landelike gebiede se gebrek aan fasiliteite, bv. minder skole, kolleges of universiteite, en minder klinieke en hospitale. Beter en meer toeganklike onderrig- en mediese fasiliteite in stedelike gebiede.
Landelike gebiede se gebrek aan dienste, bv. water, elektrisiteit en vervoer. Beter toegang tot dienste in stedelike gebiede, bv. water, elektrisiteit en vervoer.
Tekort aan werksgeleenthede – te min en slegs ʼn klein verskeidenheid van poste is beskikbaar omdat daar net ʼn handjievol ondernemings in landelike gebiede is wat werk kan verskaf. Meer werksgeleenthede en ʼn groter verskeidenheid poste (werk of beroepe) is in stedelike gebiede beskikbaar.
Gebrek aan behuising in landelike gebiede. Meer en beter behuising beskikbaar in stedelike gebiede.
Gebrek aan ontspanningfasiliteite, vermaak en sosiale geleenthede in landelike gebiede. Meer ontspanningfasiliteite, vermaak en sosiale geleenthede in stedelike gebiede.
Armoede in landelike gebiede wat mense se lewensgehalte beperk. Beter lewensomstandighede is moontlik in stedelike gebiede.

Nadelige gevolge van verstedeliking

Hoewel stede beslis beter werksgeleenthede, infrastruktuur en dienste bied, ontstaan daar baie probleme as gevolg van die groter aantal mense wat in ʼn klein gebied (area) naby aan mekaar bly. Onbeplande groei en die eise van die stedelike omgewing skep ook verskeie probleme. 7

Werkloosheid

Werkloosheid is een van die grootste nadelige gevolge van verstedeliking. Hoewel daar in stede meer werksgeleenthede is, is die kompetisie ook groter omdat meer mense vir dieselfde werk aansoek doen. Mense wat van die platteland na die stad verhuis, het dikwels ook nie die nodige opleiding vir die werk wat in die stede beskikbaar is nie. 8

Besoedeling en vernietiging van die omgewing

Met meer motors, meer fabrieke en meer mense is lug-, geraas– en waterbesoedeling een van die meer ernstige nadelige gevolge van verstedeliking. Die gevaarlike stowwe wat in die lug vrygestel word, kan boonop ʼn klomp gesondheidsprobleme veroorsaak soos asemhalingsiektes, hartsiektes en kanker. Riool, fabrieke en myne wat hul afval en chemikalieë in riviere stort, verswak ook die watergehalte in stede. 8

Die natuurlike omgewing word ook tydens boubedrywighede vernietig. Die grond kan besoedel word deur afval, plaagdoders, kunsmis en gifstowwe wat deur fabrieke vrygelaat word. Sekere gebiede het ʼn baie unieke ekosisteem. Wanneer daardie ekosisteem vernietig word, sterf al die plante en diere wat van daardie sisteem afhanklik was. 8

Misdaad

Misdaad en geweld kan ook toeneem vanweë verstedeliking, veral in gebiede waar die mense baie arm is of waar mense nie gelyke behandeling ontvang nie. Dit kan gebeur omdat dieselfde mense moet meeding vir dieselfde hulpbronne, of bloot omdat mense al hoe meer met mekaar te doen kry as in landelike gebiede. 8 Dwelmmisbruik en geweld is dikwels deel van die toename in misdaad. 7

Sielkundige probleme

Lewe op die platteland is baie rustiger as in stede. Die vinnige pas van die lewe in stede kan tot spanning en depressie lei. 9

Verkeersprobleme

Meer mense en meer aktiwiteite beteken natuurlik ook meer verkeer op die paaie. Byna elke stad en dorp sukkel met vervoerprobleme en verkeersknope. Hoe meer mense op die paaie is, hoe groter is die kanse op padsterftes weens ongelukke. 7

Ontstaan van informele nedersettings

Werkloosheid en armoede veroorsaak dat baie mense nie ordentlike huise in die stede kan bekostig nie. Hierdie gebrek aan finansies lei tot die ontstaan van informele nedersettings (ook genoem krotbuurte, plakkerskampe of blikkiesdorpe) op die buiterand van stede. 1

Die huise word gemaak van allerhande afvalmateriaal soos sinkplate, plastiek en hout. Die oorbewoning (te veel mense in ʼn te klein spasie) veroorsaak dat groot families soms in eenvertrekhuisies moet slaap. Daar is ook nie baie ruimte tussen die verskillende huise nie. 1

Dikwels is daar ook nie enige dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie/rioolverwydering of skole nie. Dit lei tot hoë vlakke van armoede en ʼn hoë misdaadkoers. 1

Wêreldwye verstedeliking

In 2022 was daar reeds 8 miljard mense in die wêreld, selfs al is die bevolkingsgroei stadiger as sedert die 1950’s.

Sowat 56,2% van hierdie mense leef in stede en daar word voorspel dat ongeveer 70% van mense teen 2030 in stede sal bly. 10 Die gemiddelde bevolkingsdigtheid, met ander woorde die aantal mense in die wêreld wat in ʼn vierkante kilometer (km2) bly, is 60 mense per km2, terwyl Asië die streek is wat die grootste bevolkingsdigtheid in die wêreld het. 11

Noord-Amerika is die vasteland waar die grootste deel van die totale bevolking verstedelik is met meer as 80% van die bevolking wat in stedelike gebiede woon. Hierteenoor woon minder as die helfte van Afrika se bevolking in stede. ʼn Vyfde van die wêreld se beboude gebiede – gebiede met meer as 500 000 inwoners – is in China geleë. 12

Hoewel Noord-Amerika se bevolking die meeste verstedelik het, was daar met ʼn opname in 2022 geen Amerikaanse stad onder die tien grootste stede in die wêreld nie. Agt van die stede met die meeste mense wat daar woon, is in Asië. 12

Wanneer daar meer as 10 miljoen mense in ʼn stad woon, word dit ʼn megastad of ʼn megapool genoem. Daar is tans minder as 37 van dié megastede in die wêreld, maar teen 2030 word daar verwag dat daar sowat 41 megastede in die wêreld sal wees. 10

Hier is die wêreld se grootste stede (2022) volgens die getal inwoners wat daar bly: 10

  1. Tokio, Japan: 37 274 000
  2. Delhi, Indië: 32 065 760
  3. Sjanghai, China: 28 516 904
  4. Dhaka, Bangladesj: 22 478 116
  5. São Paulo, Brasilië: 22 429 800
  6. Mexikostad, Mexiko: 22 085 140
  7. Kaïro, Egipte: 21 750 020
  8. Beijing, China: 21 333 332
  9. Mumbai, Indië: 20 961 472
  10. Osaka, Japan: 19 059 856

Verstedeliking in Suid-Afrika

Die eerste swart stedelike nedersettings is rondom die groot stamhoofde en konings in die binneland gevestig. Die Sotho-Tswana-sprekendes het in die binneland in nedersettings van duisende mense saam gebly. Die Nguni-groepe, soos onder andere die Zoeloes, het verder van mekaar af gewoon naby die kus van Suid-Afrika, wat vandag as KwaZulu-Natal bekendstaan. Gevegte met die Voortrekkers en die Britse setlaars in die negentiende eeu het veroorsaak dat nedersettings soos Dithakong in die Noord-Kaap en Ulundi in KwaZulu-Natal verwoes en verlaat is. 13

Kaapstad was die eerste stad wat deur Nederlandse kolonialiste gebou is om onder meer water en kos aan verbygaande skepe te voorsien. Dorpe soos Stellenbosch, Tulbagh, Graaff-Reinet en Swellendam is dieper in die binneland gestig. Met die aankoms van die Britse setlaars het stede soos Gqeberha (Port Elizabeth), Makhanda (Grahamstad), Durban en Beaufort-Wes in die Karoo ontstaan. 13

Die Groot Trek in die 1830’s het gelei tot binnelandse nedersettings wat gefokus het op kerk- en regeringsaktiwiteite. Voorbeelde hiervan is Winburg, Pietermaritzburg, Potchefstroom, Bloemfontein, Lydenburg (Mashishing) en Pretoria. 13

Slag van Vegkop

Tot in die 1860’s was alle Suid-Afrikaanse dorpe maar klein in vergelyking met die res van die wêreld. Kaapstad, wat die grootste stad was, het in 1865 minder as 40 000 inwoners gehad. 13

In Suid-Afrika het die ontdekking van goud en diamante verstedeliking versnel (vinniger gemaak). Teen 1886 was daar ongeveer 600 wit boere in die Witwatersrand-omgewing. Ná die ontdekking van goud in daardie jaar het baie mense, veral jong mans, na die gebied gestroom. Binne ʼn jaar ná die ontdekking van goud was daar ongeveer 7 000 mense wat hulle naby vandag se Johannesburg gevestig het. 14

Diep in ‘n goudmyn by Langlaagte naby Johannesburg, 1920’s

Suid-Afrikaners was egter nie die enigste mense wat rykdom in Johannesburg kom soek het nie. Tien jaar later het ongeveer 75 000 mense van Brittanje na Suid-Afrika geïmmigreer. Waar goud op ander plekke ontdek is, het mynkampe met tente orals begin opspring. Soos die aantal mense na die kleiner “myne” getrek het, het nedersettings aan die ooste van Johannesburg soos Springs, Brakpan en Benoni ontstaan. Dieselfde het gebeur aan die weste van Johannesburg toe plekke soos Roodepoort, Krugersdorp en Randfontein begin is. Al hierdie klein nedersettings het uitgebrei en saamgesmelt tot die stad van Johannesburg wat op 4 Oktober 1886 gestig is. 14

Aansig van die Randse goudmyn

Saam met die uitbreiding van die spoorweë het verstedeliking ook in Kaapstad plaasgevind. Hoewel daar teen die begin van die 1900’s sowat 130 000 mense in Kaapstad gebly het, was Johannesburg reeds groter as Kaapstad. 13

Die verhuising van arm wit en swart persone na die stede is een van die belangrikste veranderings wat die Suid-Afrikaanse bevolking vroeg in die 1930’s gesien het. Die Groot Depressie en die Groot Droogte van 1933 het boere op hul knieë gehad. Baie het hul plase verloor en hulle kon hul werkers nie soveel betaal as wat die myne en vervaardigingsbedryf in die stede hulle kon betaal nie. Selfs as kos en behuising by die plaaswerkers se lone getel is, was dit steeds net ʼn kwart van die salaris wat werk in die stede kon bied. 15

Die verstedeliking van swart mense het baie vinnig gebeur. In 1911 het slegs ʼn tiende van die swart bevolking in stede gewoon, maar in 1947 was daar reeds 400 000 swart mense in Johannesburg – dit was twee keer soveel as in 1936. Teen 1960 het ʼn derde van Suid-Afrika se swart bevolking in stede gebly. 15

Die prentjie vir verstedelikte Afrikaners lyk dieselfde. In 1890 was daar net sowat 10 000 wat in dorpe met meer as 2 000 inwoners gebly het. Teen 1936 het sowat 535 000 Afrikaners – in daardie tyd die helfte van hierdie groep – in stede gebly. 15

Die nuwe stedelinge kon nie ordentlike werk kry nie en hulle was arm. In 1932 het ʼn verslag bevind dat daar 300 000 sogenaamde armblankes was (17% van die wit gemeenskap) en indien die kategorieë “baie arm” en “arm” bymekaargetel word, het meer as die helfte van die wit skoolkinders uit huise gekom wat nie in staat was om hulle behoorlik van kos en klere te voorsien nie. [Lees hier oor die armblankevraagstuk.] Die regering het baie geld gegee vir skole en opleiding om dié situasie te verander. 15

Armblanke gesin voor sinkhuisie

Swart stedelinge se lewensbestaan was net so ellendig. Ongeveer ʼn derde het in informele huise gewoon. Min kon eiendomsreg kry en daar was dus nie enige aansporing vir die gelukkiges wat wel in formele huise gewoon het, om dit te verbeter nie. Swart werkers het boonop só min geld (salaris) verdien dat hulle skaars kos op die tafel kon sit. Hul belasting was ook nie genoeg om die wit munisipaliteite in staat te stel om die informele nedersettings te verbeter nie. 15

Tipiese armblanke gesin by delwery

Swart trekarbeiders het nog swaarder in die stad gekry. ʼn Trekarbeider is iemand wat slegs vir ʼn bepaalde taak en tydperk deur ʼn werkgewer in diens geneem word. Wanneer dié taak afgehandel is, moet hulle weer elders werk gaan soek. Die trekarbeiders moes dus hul families verlaat om in die stad te gaan werk en dan het hulle die geld wat hulle verdien het, huis toe gestuur. Met die idee dat hulle eendag weer na hul huise sou terugkeer, het hulle in krotbuurte en kampongs gebly. In 1950 is daar bevind dat die helfte van verstedelikte swart mans van plase afkomstig was. 15

Die bruin mense was ʼn uiteenlopende gemeenskap. Aan die een kant was daar die plaaswerkers, mense wat in huise gewerk het en ongeskoolde werkers in die dorpe – wat gewoonlik maar min betaal is. Aan die ander kant was daar ʼn paar geskoolde werkers en ʼn klein groep wat in beroepe gestaan het, meestal onderwysers. Diegene wat later na stede verhuis het, het onderwys as die vernaamste roete gesien om aan armoede te ontkom. 15

‘n Tipiese plaasskool

Volgehoue groei oor die volgende paar dekades het veroorsaak dat groot groepe mense – buiten in Kaapstad en Johannesburg – hulle ook rondom Durban en Port Elizabeth gevestig het. 13

Al hoe meer dorpe is reg oor Suid-Afrika gevestig wat volgens hul funksie verdeel kon word in sentrale dorpe, handels- of vervoerdorpe en gespesialiseerde dorpe: 1

  • Sentrale dorpe is hoofsaaklik nedersettings wat stedelike dienste en goedere aan die mense wat in ʼn landelike gebied woon, verskaf. Dit is byvoorbeeld dorpe waar boere of mynwerkers in die omgewing dokter toe kan gaan of brood en melk kan gaan koop.
  • Vervoerdorpe en -stede bied toegang na verskeie roetes. ʼn Vragverbrekingspunt is waar een soort vervoer na ʼn ander verander, byvoorbeeld van land (paaie en spoorweë) na die see (hawe) soos Durban. De Aar is weer ʼn voorbeeld van ʼn dorp wat die kruising tussen hoofvervoerroetes is. ʼn Poortdorp is ʼn toegangspunt na natuurlike versperrings, soos byvoorbeeld De Doorns net voor die Hexrivierpas in die Kaap.
  • Gespesialiseerde dorpe is gestig met ʼn spesifieke doel in gedagte. Dit het gewoonlik een hooffunksie. Voorbeelde hiervan is Welkom (mynbou), Grahamstad, oftewel Makhanda  (onderwys), Secunda (nywerheid), Margate (toerisme en vakansie) en Soweto (slaap- of pendeldorp). ʼn Slaapdorp is ʼn dorp buite ʼn groot stad waar mense net kom oorslaap en die volgende dag weer terugkeer na hul werk in die stad.

Van die 1860’s af het verstedeliking bly toeneem. Op die oomblik bly 63% van Suid-Afrikaners reeds in stedelike gebiede. Hierdie syfer gaan waarskynlik tot 71% toeneem in 2030 en teen 2050 sal agt uit elke tien Suid-Afrikaners in ʼn stad woon. 16

Suid-Afrika het vandag agt metropole waarvan vier meer as drie miljoen inwoners het. Benewens die agt metropole is daar 44 distriksmunisipaliteite wat in 205 plaaslike munisipaliteite verdeel is. 17

Die ses grootste metropole in Suid-Afrika is:

  1. Johannesburg: 6,1 miljoen 18
  2. Kaapstad: 4,89 miljoen 19
  3. Ekurhuleni (Germiston): 4,11 miljoen 20
  4. eThekwini (Durban): 3,22 miljoen 21
  5. Tshwane (Pretoria): 2,81 miljoen 22
  6. Nelson Mandelabaai (Gqeberha): 1,29 miljoen 23

Woordbank

armblankes Baie behoeftige wit persoon wat deur die staat/kerk onderhou word.
eiendomsreg Reg wat iemand op ʼn eiendom het.
ekonomie Die stelsel waarvolgens ʼn land se goedere vervaardig en geld gebruik word.
ekosisteem Al die diere en plante in ʼn bepaalde gebied en hul verhouding met mekaar en hul omgewing.
faktor Een van verskeie dinge wat ʼn situasie skep/beïnvloed.
funksie Werk/taak waarvoor iets bestem is; doel.
grondstowwe Stof waaruit/waarvan iets vervaardig word.
handelaars Iemand wat handel dryf deur iets te verkoop; koopman; winkelier.
hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is om te lewe (soos water en grond) en vooruit te gaan (soos goud en steenkool om te verkoop en dinge soos masjiene waarmee mens produkte kan maak om geld te verdien).
geïmmigreer Van ʼn ander land kom om jou permanent in ʼn nuwe land vestig.
industrialisasie Skepping en uitbreiding van industrieë/nywerhede wat dinge vervaardig om te verkoop.
kampongs Eenvoudige behuising vir arbeiders in groot geboue, veral by ʼn myn.
kolonialiste Wanneer ʼn magtige land politieke beheer oor ʼn swakker land verkry en sy eie handel en gemeenskap daar vestig.
konstruksie Die bou van dinge soos huise/geboue/paaie/ens.
lewensgehalte Hoe goed of sleg die standaard van jou daaglikse lewe is. Dit word bepaal deur dinge soos die huis waarin jy woon en die geld wat jy verdien om alles wat jy nodig het mee te koop.
meganisasie Vervanging van menslike of dierlike werkkrag deur masjiene of tegniese hulpmiddels.
metropole Groot stad, veral die belangrikste stad van ʼn land/streek, maar nie noodwendig die hoofstad nie; wêreldstad.
munisipaliteite Besturende liggaam van ʼn stad/dorp, wat deur belastingbetalers gekies word; stadsraad.
nedersetting Stuk grond deur ʼn regering of ander owerheid beskikbaar gestel vir bewerking deur mense wat om een of ander rede nie self grond besit nie.
pas Snelheid van beweging, dus hoe vinnig ʼn mens, kar of ander voertuig teen ʼn konstante spoed beweeg.
primêr Wat met eerste beginsels te make het; wat eerste kom of eerste ontstaan het.
sekondêr Nie die belangrikste nie; wat in die tweede plek kom.
setlaars Iemand wat hom/haar in ʼn nuwe land/kolonie vestig; immigrant.
stamme Groep mense met dieselfde gebruike/gewoontes/taal/ens., wat gewoonlik saam in ʼn bepaalde gebied woon.
tersiêr Derde in ʼn rangorde/reeks.
vasteland Groot landmassa, omring deur see; kontinent.
verstedelik Na ʼn stad toe trek; in ʼn stad gaan woon; stadsgewoontes aanneem.

Lees hier meer oor verstedeliking

Ongelooflike video’s oor stede, dorpe en verstedeliking

Kyk hoe het antieke stede gevorm

Sal jy dit waag om in die koudste stad in die wêreld te bly?

Toe die diamante opraak, toe trek die inwoners. Kolmanskop in Namibië is ʼn skouspelagtige spookdorp

Putsonderwater is ook ʼn spookdorp in Suid-Afrika. Die dorp het leeggeloop toe die spoorlyn nie meer gebruik is nie

Geboue met verstommende (en vreemde) argitektuur

Vreemde stede oor die wêreld heen

Het jy hoogtevrees? Dan sal hierdie video oor die tien hoogste geboue in die wêreld jou koue rillings gee

Senuwees van staal! ʼn Groep sonder hoogtevrees klim die hoogste gebou in die wêreld

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Julie 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024