Vinnige feite

  • Suid-Afrika se grootste mynramp het in 1960 by een van Sasol se steenkoolmyne naby Sasolburg gebeur. Tydens die Coalbrook-mynramp is 435 mynwerkers ongeveer 180 m onder die grond vasgekeer toe ondergrondse pilare ingegee het. Daar was nie ʼn masjien wat in staat was om groot genoeg gate te boor om die mense ondergronds te bereik en te red nie. Boorgate is geboor in gebiede waar oorlewendes na verwagting sou wees en mikrofone is in die gate afgesak. Hulle kon egter geen teken van lewe vind nie. Toe geen liggame ná weke se pogings gevind is nie, is die reddingspoging gestaak en die skag is met beton toegegooi. Ná hierdie voorval het die Kamer van Mynwese ʼn boor gekoop wat dit moontlik sou maak om mense, wat ondergronds in steenkoolmyne vasgevang word, te bereik. 17
  • Op 23 Augustus 1955 om 13:30 het Sasol die eerste drom petrol vervaardig. Hierdie geskiedkundige oomblik is vir baie jare met ʼn jaarlikse wedren in die strate van Sasolburg herdenk. 2
  • Baie immigrante (mense van ander lande) het na Sasolburg gekom vir werk. Burgers van Denemarke was van die eerste wat vir werk aangeklop het. Die Vrystaatse vlaktes was egter heeltemal anders as die groen weligheid van Europa waaraan hulle gewoond was. Een Deen het ʼn dag ná sy aankoms in Sasolburg gesê: “I arrived at night and saw nothing. The next morning there was still nothing, but now I could see it better.” 7
  • Die inwoners van Sasolburg is aangemoedig om tuine te vestig. Sasolburg is as ʼn tuindorp beplan met ʼn groot aantal bome. Altesaam 72 000 bome is aangeplant waarvan 12 000 akkerbome (26 verskillende soorte) was. Dit is selfs meer as in Stellenbosch wat bekend is vir al sy akkerbome. 7
  • Een van die maatreëls in Suid-Afrika tydens die oliekrisis in 1973 tot 1974 was ʼn spoedgrens van net 80 km/h buite stede. Dink net hoe lank dit daardie Desembervakansie geneem het om by die see uit te kom! 8
  • Op die aand van 31 Mei 1980 is Sasol I, Natref (nog ʼn aanleg in Sasolburg) en Sasol II in Secunda gelyktydig deur Umkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die ANC, aangeval. Die bomme wat in Sasolburg gebruik is, het agt petroltenke beskadig wat ongeveer R66 miljoen se skade veroorsaak het. Die bomme wat in Secunda gebruik is, is onskadelik gestel voor dit afgegaan het. Niemand is tydens die aanvalle dood nie, maar ʼn veiligheidswag in Sasolburg het ligte beserings opgedoen. 18
  • Anders as die nommerplate van vandag, wat die provinsie aandui waar ’n motor geregistreer is (byvoorbeeld GP vir Gauteng of MP vir Mpumalanga), het die nommerplate van ouds na spesifieke dorpe verwys. Nommerplate vir motors in Sasolburg was heel gepas OIL, gevolg deur ’n paar syfers. 19
Foto: iStock

Vliegtuigbrandstof, naellakverwyderaar, was, kunsmis, teer, rubber, velprodukte, ink … Kyk gerus rondom jou: êrens sal daar iets wees wat gemaak is danksy die produkte wat Sasol vervaardig. Wat hierdie Suid-Afrikaanse maatskappy veral besonders maak, is dat dit die eerste en enigste maatskappy in die wêreld was wat brandstowwe redelik goedkoop uit steenkool en gas kon vervaardig.

Van ʼn nederige begin op ʼn paar plase waar daar nie eens huise vir die werknemers was nie, is Sasol vandag ʼn groot internasionale maatskappy met 34 000 werknemers in 37 lande wat in meer as 100 lande sake doen. Voorwaar ʼn prestasie om op trots te wees!

Stigting van Sasol

In die 1950’s het Suid-Afrika sy merk as ʼn nywerheidsreus begin maak. Yskor het groot fabrieke in Pretoria en die Vaaldriehoek gebou, en danksy die ontdekking van goud, diamante en ander minerale, is myne oral opgerig. Een grondstof wat Suid-Afrika nie in oorvloed gehad het nie, was petroleum. ʼn Ander grondstof waarvan daar wel meer as genoeg was, was steenkool. Brandstof was baie belangrik vir Suid-Afrika se ekonomiese en nywerheidsgroei. Goedkoop, plaaslike brandstof vir eie gebruik was dus nodig om die nywerhede te ondersteun. 1

Dr. Hendrick van Eck is deur die regering genader om te ondersoek hoe Suid-Afrika sy eie vloeibare brandstof kon vervaardig. Hy het ʼn doktorsgraad in ingenieurswese gehad. As die voorsitter van Suid-Afrika se Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), wat die ontwikkeling van nywerhede in Suid-Afrika moes aanvuur, stel hy Etienne Rousseau as ʼn navorsingsingenieur aan om die steenkool-tot-vloeistof-proses (STV-proses) te ondersoek. 2

Sasol se aanleg in Secunda.

Die STV-proses was gegrond op ʼn metode wat twee Duitse wetenskaplikes in die laat 1920’s ontwikkel het. Die Fischer-Tropsch-proses, vernoem na die wetenskaplikes wat dié metode ontwikkel het, werk (eenvoudig gestel) soos volg: Steenkool word in die teenwoordigheid van suurstof en stoom in ʼn gas verander. Hierdie ru-gas (onverwerkte gas) word gesuiwer en ondergaan hierna die Fischer-Tropsch-sinteseproses waaruit vloeibare petroleum (petrol en diesel) en ander petrochemiese produkte verkry word. 3

Tot in daardie stadium het niemand nog probeer om dit kommersieel te vervaardig nie. Ná jare se navorsing, het Suid-Afrikaanse wetenskaplikes soos Etienne Rousseau geglo dat dit ʼn haalbare manier is om petrol en diesel te verwerk omdat Suid-Afrika so baie steenkool het. Rousseau word in Februarie 1950 genader om die besturende direkteur (ʼn persoon wat aan die hoof staan van ʼn maatskappy se daaglikse bedrywighede) van ʼn maatskappy te word wat die uitsluitlike doel gehad het om steenkool in petrol en diesel om te skakel.

Op 26 September 1950 word die Suid-Afrikaanse Steenkool, Olie- en Gaskorporasie Beperk (Sasol) as ʼn staatsbeheerde maatskappy geregistreer met die doel om die Fischer-Tropsch-proses te gebruik om steenkool in petrol en diesel om te skakel. 2 ʼn Staatsbeheerde instelling beteken dat die maatskappy steeds onder die beheer van die regering is. Die regering deel ook in die maatskappy se wins.

Sasol se eerste aanleg

Die vraag was nou waar die Sasol-aanleg (fabriek) gebou moes word. Die STV-proses het baie water en steenkool nodig gehad om suksesvol te wees. Ná ʼn bietjie kopkrap, is ʼn gebied in die Noord-Vrystaat gekies omdat dit naby die Vaalrivier én steenkoolmyne was. ʼn Verdere voordeel was dat die Witwatersrand ook in die omgewing was. Die Witwatersrand sou ʼn goeie afsetgebied (plek waar produkte verkoop kon word) vir Sasol se produkte wees. 3

In daardie stadium het die dorp Sasolburg nog nie bestaan nie. Die Zevenfontein-plaashuis is as Sasol se eerste kantore gebruik. Op 16 Oktober 1951 begin die mynbedrywighede by die nabygeleë Sigma-steenkoolmyn. Hierdie myn moes die steenkool verskaf wat vir die STV-proses nodig was. Die konstruksie (bou) van die Sasol-aanleg het in 1952 begin. In 1954 het die eerste eenhede begin werk en teen die einde van 1955 is die eerste fase van Sasol se eerste aanleg voltooi. 2

Die Sigma-steenkoolmyn was teen 1955 gereed om daagliks 7 600 ton steenkool te produseer. Ongeveer 3 200 ton hiervan sou na gas omgeskakel word om 3 miljoen m3 (kubieke meter) gas te produseer wat vir die Fischer-Tropsch-proses gebruik kon word. Daar is geskat dat Sasol 55 miljoen gallon (31 miljoen liter) motorbrandstof en 16 miljoen galon (9 miljoen liter) byprodukte (ander produkte wat ook tydens die proses vervaardig word) per jaar sou kon produseer. 4

Ammoniak, teer, verfverdunners, springstof, kunsmis en was is maar net ʼn paar van die byprodukte wat deur Sasol geproduseer is. 5

Teen die einde van 1955 kon motoriste die eerste keer Sasol-brandstof in hul motors gebruik. 2

Die Secunda-aanleg.

Die stigting van Sasolburg

Daar was nou ʼn fabriek en ʼn steenkoolmyn, maar nog nie huise vir Sasol se werknemers nie. Die maatskappy moes dringend ʼn dorp aanlê. 6 Faktore soos klimaat (weerstoestande), helling (hoe steil die grond was), heersende winde, bestaande toegangsroetes (paaie) en die Vaalrivier is in ag geneem voor daar op ʼn geskikte ligging vir ʼn dorp besluit is. Die eerste oorweging was langs die Vaalrivier, maar die muskiete in die somer was een van die redes waarom die dorp verder weg van die rivier gebou is. Uiteindelik is daar op ʼn paar plase in die omgewing besluit wat Grootfontein, Zevenfontein, Kleinfontein, Geduld en Willowgrove insluit, en op 7 Augustus 1954 is die dorp Sasolburg gestig. 7

Aan die begin was daar geen winkels nie en die inwoners moes met ʼn pont oor die Vaalrivier vaar. ʼn Pont is ʼn groot plat vaartuig wat mense en goedere oor ʼn rivier vervoer. ʼn Brug is eers later gebou om die dorp met ander te verbind. 7

Sasolburg is ʼn voorbeeld van ʼn dorp wat volgens “moderne” beginsels uitgelê is. Strate is met draaie beplan sodat daar nie verkeersopeenhopings sal wees nie. Daar is groen gedeeltes met bome waar voertuie nie toegelaat is nie. Selfs die parke en skole is só beplan dat kinders nie hoofstrate hoef oor te steek nie. Sasolburg is 15 keer in ‘n ry as die mooiste dorp in die Vrystaat aangewys. Die laaste keer was in 1994. Sasol het selfs Abrahamsrust langs die Vaalrivier as ʼn vakansieoord vir sy werknemers en die inwoners van Sasolburg ontwikkel. 7

Sasol in die 1970’s

In 1973 ervaar die wêreld vir die eerste keer watter uitwerking die prys van olie op brandstof kan hê. In Oktober 1973 breek ʼn oorlog uit tussen Egipte, Sirië en ander Arabiese lande aan die een kant, en Israel aan die ander kant. Die Verenigde State van Amerika (VSA) het Israel gesteun. As strafmaatreël besluit die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul of Opec in Engels), bestaande uit hoofsaaklik Arabiese lande, om die prys van ruolie met 70% te verhoog. Daar word ook besluit om die vervaardiging van ruolie met 5% per maand te verminder totdat hul politieke en ekonomiese doelwitte bereik word. 8

Suid-Afrika word saam met die VSA en die meeste Westerse lande in ʼn oliekrisis gedompel. Drastiese besparings word ingestel om te keer dat olievoorrade opraak. In Suid-Afrika kon vulstasies net 12 ure per dag brandstof verkoop. Oor naweke was geen petrol of diesel beskikbaar nie. Die hoeveelheid brandstof wat ʼn persoon afsonderlik in kannetjies kon koop, is ook beperk. Selfs die spoedgrens buite stede is tot 80 km/h beperk om brandstof te bespaar! 8

Sasol se aanlegte in Sasolburg het teen 1973 soos goed geoliede masjiene geloop. Die oliekrisis was ʼn bewys van hoe belangrik dit was dat Suid-Afrika nie moes steun op ruolie wat van die buiteland ingevoer word nie.

Op 5 Desember 1974 word daar aangekondig dat Sasol ʼn tweede aanleg gaan bou. Op 28 Junie 1976 word Secunda (Latyn vir “tweede”) amptelik as ʼn dorp geproklameer (aangekondig). Die ligging van Secunda is – net soos Sasolburg – gekies omdat dit naby steenkoolneerslae en water was. 2

‘n Sasol-vulstasie in Boksburg in Gauteng.

In 1978 was daar weer ʼn wêreldwye oliekrisis wat Sasol in ʼn posisie geplaas het om sy pryse te verhoog, aangesien die prys van ruolie in die wêreld drasties gestyg het. Dit het só goed met Sasol gegaan dat hy dadelik met nog ʼn aanleg in Secunda begin het nadat die eerste aanleg (bekend as Sasol II) in 1980 voltooi is. Hierdie nuwe aanleg, bekend as Sasol III, is in 1982 voltooi. Aangesien die aanlegte in Secunda ook die Fischer-Tropsch-proses gebruik het, kon dit sintetiese brandstof en ander petrochemiese produkte vervaardig. 4

Secunda is, soos Sasolburg, deur Sasol aangelê om huisvesting vir werknemers te verskaf. In 1976 het die dorp reeds 7 000 inwoners gehad. 9

Danksy hierdie sukses is daar besluit om Sasol te privatiseer. Dit beteken dat ʼn staatsinstelling op die aandelebeurs genoteer word sodat die publiek die geleentheid kan kry om aandele in die maatskappy te koop. Altesaam 17,5 miljoen aandele is aan die publiek beskikbaar gestel. 4

In Oktober 1979 word Sasol-aandele teen R3,17 per aandeel verkoop. 10

Sasol se aandele op die JSE (oftewel die Johannesburgse Effektebeurs) het teen begin September 2023 teen sowat R247 elk verhandel!

Sasol sprei sy vlerke

Nadat Sasol op die aandelebeurs genoteer is, kon hy nie meer op die regering staatmaak vir die finansiering van groot projekte nie. Sy bedrywighede moes uitgebrei word om ʼn groter inkomste te genereer. Tot in daardie stadium het Sasol hoofsaaklik in Suid-Afrika sake gedoen. Met die navorsing en ervaring wat Sasol oor die jare opgedoen het, kon hy buitelandse maatskappye help om dieselfde soort produkte te ontwikkel. Gedurende die tagtigerjare gebruik maatskappye in die VSA Sasol om tegniese dienste en raad aan soortgelyke aanlegte te gee. 4

Sasol Flying Tigers L29 Delfin ZU-AUX.

Dit word verder duidelik dat daar ʼn groter aanvraag vir Sasol se petrochemiese produkte wêreldwyd was. Op daardie tydstip sou die maatskappy waarskynlik $1 000 per ton vir die produkte kry teenoor $200 per ton vir sintetiese brandstof. Produkte is geïdentifiseer wat uitgevoer kon word. 4

Deur met oorsese maatskappye saam te span, kry Sasol ʼn voet in die deur van verskeie buitelandse markte. Hierdie strategie dra vrug en in 1995 beloop die inkomste aan petrochemiese uitvoerprodukte reeds $400 miljoen. 4 In 1995 was $400 miljoen gelykstaande in koopkrag aan meer as $800 miljoen vandag. 11 Dit wil sê meer as R14 miljard! 12

Ten spyte van Sasol se sukses op die uitvoermark, bly dit steeds ʼn doelwit van die maatskappy om bekostigbare sintetiese brandstof te vervaardig. Die moontlikheid om brandstof uit natuurlike gas te vervaardig, word nou ondersoek. In 1999 sluit Sasol ʼn $1 miljard-ooreenkoms met die maatskappy Chevron om ʼn gas-tot-vloeistof-aanleg (GTV-aanleg) in Nigerië te begin. In 2000 word Sasol Chevron Holdings gestig om wêreldwyd soortgelyke raffinaderye (fabrieke waar brandstof verwerk word) te stig. 4

In Suid-Afrika word die Sasol I-aanleg in Sasolburg sodanig omskep dat dit ook natuurlike gas pleks van steenkool as grondstof vir die GTV-proses gebruik. In 2004 pak Sasol ʼn projek aan van $1,2 miljard (sowat $2 miljard in vandag se geldwaarde) om natuurlike gas van Mosambiek met ʼn pyplyn na Suid-Afrika te vervoer. Die Sasol Natuurlike Gasprojek (SNGP) vorm die ruggraat van die natuurlikegasbedryf in Suid-Afrika en Mosambiek. 4

Secunda-wedren, 2022.

Wat sintetiese brandstowwe betref, het Sasol baanbrekerswerk gedoen toe dit in 2010 die eerste maatskappy word wie se sintetiese brandstof goedgekeur is om in kommersiële passasiersvliegtuie te gebruik. Hierdie brandstof word met die STV-proses vervaardig en deur heelwat straalvliegtuie gebruik. 13

Die steenkool wat vir hierdie proses gebruik word, is afkomstig van Sasol se ses myne wat ook die wêreld se grootste ondergrondse steenkoolmynkompleks is. Oortollige steenkool wat nie deur Sasol gebruik word nie, word vir elektrisiteitsopwekking gebruik. 2

Sasol se sakebelange het só uitgebrei dat dit ook op die New Yorkse aandelebeurs in Wall Street in die VSA gelys (genoteer) is. Die maatskappy verskaf vandag werk aan meer as 34 000 mense in 37 lande, en gee mense ook die kans om hul eie ondernemings te begin met Sasol-vulstasies reg oor die land. 14

Sasol se hoofgebou in Sandton.

ʼn Groen toekoms

Sasol beplan om nie verder enige geld aan steenkoolreserwes te spandeer nie. Die maatskappy het ʼn doelwit om teen 2050 koolstofneutraal te wees. Sasol wil reeds teen 2030 sy kweekhuisgasvrystellings (skadelike gasse wat deur byvoorbeeld fabrieke en motors vrygestel word) met 30% teenoor dié van 2017 verminder. Die maatskappy beplan om stelselmatig van steenkool weg te beweeg en geleidelik na aardgas oor te skakel. Sasol sal uiteindelik op waterstof fokus wat uit hernubare energie vervaardig word. 16

Woordbank

aanleg Gebou of struktuur met toestelle vir die vervaardiging van iets.
afsetgebied Gebied waar goedere verkoop (kan) word.
ammoniak Verbinding van waterstof en stikstof met ʼn prikkelende reuk.
brandstowwe Stof waaruit/waarvan iets vervaardig is/word.
ingenieurswese Wetenskap waardeur die eienskappe van materie en natuurlike kragbronne tot nut van die mens aangewend word in die vorm van masjinerie, vervaardigde produkte, bouwerk, ens.
kommersieel Wat betref die koop en verkoop van goedere/dienste; wat die handel betref.
mineraal Stof wat natuurlik in die aarde gevorm is, soos steenkool/sout/klip/goud wat vir gebruik verkry word deur delwing/ontginning van die aardkors; delfstof.
nywerheid Bedryf waarby grondstowwe verwerk word; industrie.
petrochemiese Afdeling van die chemiese tegnologie waarby chemiese produkte uit aardgas en olie berei word.
petroleum Dik, donkerkleurige, vlambare mengsel van gasagtige, vloeibare en vaste koolwaterstowwe wat natuurlik onder die aardoppervlak voorkom, veral in sedimentêre rotse om die Persiese Golf, in die Amerikas, en onder die Noordsee, en wat deur gefraksioneerde distillasie in gas, petrol, diesel, smeerolie, paraffienwas, asfalt, ens. verdeel kan word; aardolie.
privatiseer ʼn Staatsinstelling verkoop om deur lede van die privaat sektor bedryf te word.
produkte Iets wat groei of waarvan groot hoeveelhede in ʼn fabriek gemaak/vervaardig word, gewoonlik om verkoop te word.
proklameer Amptelik bekendmaak of afkondig.
sintese Verkry deur die vereniging van verskillende bestanddele/elemente; chemies vervaardig; nie natuurlik nie.
steenkool Harde, meestal swart, brandbare delfstof in lae/beddings onder die oppervlak van die aarde aangetref, ʼn fossielbrandstof wat ontstaan het uit saamgeperste versteende plantreste, wat hitte lewer vir, onder meer, die opwekking van elektrisiteit, en waaruit, onder meer, steenkoolgas (ʼn mengsel van waterstof, metaan en koolstofmonoksied) berei word.
straalvliegtuie Skroeflose vliegtuig; vliegtuig wat met ‘n straalmotor wat lugdruk benut, aangedryf word.
vervaardig Maak; saamstel; produseer.
was Vetterige stof van dierlike of plantaardige oorsprong, onder meer gebruik om mee te poets/poleer.

Lees dié om meer oor Sasol te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Verduideliking van die Fischer-Tropsch-proses

Sasol se planne vir die toekoms

Sasol borg ʼn wedren vir sonaangedrewe motors

Sasol-produkte waarvan jy nie eens geweet het nie

Gewilde televisieadvertensies van Sasol

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024