Vinnige feite

  • Die duurste natuurlike ramp in die geskiedenis was ’n tsoenami (verskriklike groot seegolf wat deur ’n aardbewing veroorsaak word) wat Japan op 11 Maart 2011 getref het. Die totale skade was $210 miljard waarvan net $35 miljard verseker is. Dit beteken dat $175 miljard se geboue en besittings nie vervang of reggemaak kon word nie. 17
  • ’n Russiese versekeringsmaatskappy het in 2006 ’n wedloop verseker waar elke deelnemer 100 m ver in hoëhakskoene wat ten minste 9 cm hoog was, moes hardloop. 18
  • ’n Maatskappy het in 1962 ’n bedrag van $100 miljoen (sowat $1 miljard of R18 miljard in vandag se geldwaade) gevra om die Mona Lisa, Leonardo da Vinci se bekende skildery, te verseker sodat dit tussen Parys, Frankryk en New York in die VSA vervoer kan word. Dit is die duurste bedrag waarvoor ’n skildery nog ooit gewaardeer is. Die versekering is nooit gekoop nie, want die bedrag wat dit sou kos om dit te verseker (die geld wat aan premies betaal moes word), sou meer wees as wat dit sou kos om die skildery veilig te hou. 19
  • Insurance, die Engelse woord vir versekering, kom van die Franse woord ensurer wat “’n belofte om te trou” beteken. 20
  • Santam het in die 1960’s baie slim (en ouer) mense in hul direksie gehad. Die voorsitter was al negentig jaar oud en sewe van die tien direksielede het doktorsgrade gehad. 3
Foto: iStock

Die lewe is vol verrassings – soms is dit lekker verrassings soos as jy ’n splinternuwe fiets vir jou verjaarsdag kry. Ander verrassings is nie so lekker nie, soos wanneer daardie einste fiets ’n paar maande later gesteel word.

Versekering help dat die slegte verrassings nie so sleg is wanneer dit wel gebeur nie. Eintlik werk versekering baie eenvoudig. Sê nou maar jy gaan met vakansie, maar jy wil nie al jou sakgeld in jou beursie hou nie, want as jou beursie gesteel word, het jy niks geld meer oor nie. Een manier om die risiko dat dit gebeur, minder te maak, is om ʼn deel van jou sakgeld byvoorbeeld in jou tas (of natuurlik in die bank!) te bêre. ’n Mens noem dit risikoverdeling as jy die risiko dat ál jou geld op een slag gesteel word, minder maak deur die geld op ander plekke te bêre (of te versprei).

Versekering werk op dieselfde manier: Wanneer iemand ’n polis (die kontrak tussen die kliënt en die versekeringsmaatskappy) uitneem, belowe die maatskappy dat geld uitbetaal sal word indien iets soos ’n brand die polishouer se besittings beskadig. Hierdie geld kom van die polishouer se eie premies (die bedrag wat maandeliks vir versekering betaal word), die premies van ander kliënte wat nie enige skade gely het nie en die maatskappy self. Die kliënte wat nie skade gely het nie, “verloor” hulle geld, maar as hul motor volgende keer in ’n ongeluk is, sal ’n bedrag geld aan daardie kliënt uitbetaal word. As ’n klomp mense die risiko deel, dan is die skade nie so groot nie. 1

Daar is twee soorte versekering: Met lewens- of langtermynversekering koop ’n persoon versekering op sy of haar lewe. Die kontrak tussen die polishouer (die kliënt wat die versekering koop) en die versekeringsmaatskappy bestaan langer as met korttermynversekering. Daar is lewensversekering wat byvoorbeeld eers uitbetaal as jy die dag doodgaan. Dit is gewoonlik een groot bedrag (in geselstaal noem ons dit sommer ʼn lompsom) wat uitbetaal en wat gebruik kan word om enige skuld van die oorledene te betaal. Dit kan ook deur sy gesin gebruik word vir ’n inkomste indien die broodwinner (persoon in die gesin wat werk en geld verdien) sou sterf. 2

Korttermynversekering het niks met ’n persoon se lewe te doen nie. Met korttermynversekering word die polishouer se besittings beskerm. Daar is verskillende soorte korttermynversekering vir motors en huise teen byvoorbeeld brandskade (’n vuur), haelskade, oorstromings of diefstal. As jou juwele gesteel word, sal ’n korttermynpolis die waarde van die juwele aan jou gee sodat jy weer nuwe juwele kan koop of die gesteelde goedere vervang (vir jou nuwes koop). 2

Stigting van Santam

Aan die begin van die 1900’s was daar nie baie Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappye nie. Die maatskappye wat wel sake in ons land gedoen het, se kantore was meestal oorsee. Die geld wat van versekering gemaak is, het dus na oorsese mense en lande gegaan. 3

Alfred MacDowall, ’n Skot wat met ’n Afrikaanse vrou getroud was, was die eerste persoon wat aan die idee van ’n Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappy – veral vir Afrikaanse mense – gedink het. Die voordeel van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy is dat die geld in die land bly en die Suid-Afrikaanse ekonomie verbeter. 3

Hoewel hy baie van banke en versekering geweet het, het hy nie geld gehad om só ’n maatskappy te begin nie. Op 5 Desember 1917 kom hy en ses ander mans in Kaapstad bymekaar om te gesels oor die moontlikheid om ’n Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappy te stig. Dit is die begin van die Suid-Afrikaanse Nasionale Trust- en Assuransiemaatskappij Bpk. (Santam). 3

Op 1 Mei 1918 begin Santam vir die eerste keer besigheid doen. Aan die begin sou die maatskappy kort- én langtermynversekering verkoop het, maar die bestuur (mense wat aan die hoof van ’n maatskappy is) het vinnig besluit dat dit beter gaan wees as daar ’n aparte maatskappy vir langtermynversekering begin word. In Junie 1918 begin die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewensassuransiemaatskappij Bpk. (Sanlam) as ’n aparte maatskappy wat lewensversekering verkoop. 4

1920’s en 1930’s: Die beginjare

Al was daar nou twee maatskappye wat versekering verkoop het, het Santam en Sanlam aan die begin baie nou saamgewerk om geld te bespaar. Hul kantore was in dieselfde gebou en die sekretaresses (’n persoon wat vir ’n ander persoon afsprake maak, briewe tik en telefone antwoord) het vir albei maatskappye gewerk. 3

Skaars twee maande nadat die maatskappye hul deure oopgemaak het, tref ’n verskriklike ramp die wêreld en Suid-Afrika. 3 ’n Baie aansteeklike siekte, die Spaanse Griep breek uit en veroorsaak die dood van tussen 250 000 en 300 000 Suid-Afrikaners. Suid-Afrika word die land wat die vyfde meeste in die hele wêreld deur hierdie grieppandemie getref is. 5

Die Spaanse Griep het ’n negatiewe, maar ook positiewe invloed op Sanlam se beginjare gehad. Met die uitbreking van die siekte het niemand geld gehad vir polisse nie, maar toe die pandemie verby is, het polisverkope die hoogte ingeskiet. Suid-Afrikaners het eerstehands beleef wat gebeur as die persoon wat werk en geld vir die gesin inbring, skielik sterf. 3

In daardie eerste jaar vaar Sanlam baie beter as Santam en word daar ’n rekordgetal van 3 228 polisse verkoop. 6

Hierteenoor het plaasboere, wat aan die begin die grootste aantal kliënte van Santam verteenwoordig het, baie geld verloor as gevolg van droogtes, vloede, ’n sprinkaanplaag en veesiektes. Daar was net nie geld vir versekering nie. Sanlam help in hierdie moeilike tyd vir Santam met geld sodat die maatskappy nie sy deure hoef te sluit nie. 7

Uitbreiding na ander besighede

In 1942 belê (gee geld aan ’n maatskappy met die hoop om eendag geld te maak) Santam in Saambou, ’n bougenootskap. 3 ’n Bougenootskap is amper soos ’n bank wat geld aan mense of maatskappye leen sodat eiendom (soos huise of winkelsentrums) gebou of gekoop kan word. Die geld wat geleen word, moet met rente (’n persentasie bo-op die bedrag wat geleen is) terugbetaal word totdat al die geld wat geleen is, terugbetaal is. Sodra al die geld terugbetaal is, behoort die geboue aan die persoon wat die lening aangegaan het. Die bougenootskap maak geld deur die rente wat hulle by die geleende bedrag voeg. 8

In hierdie tyd word polisse deur agente verkoop. ’n Agent verkoop namens een versekeringsmaatskappy polisse aan kliënte. Daar was twee soorte agente: Plaaslike agente wat in die dorpe gewerk het en reisende agente wat na plase en ver plekke gereis het. Die reisende agente is later vervang toe Santam kantore in ander dorpe oopgemaak het. In 1948 bestaan net 1,2% van korttermynversekering in Suid-Afrika uit Santam-besigheid. 3

1950’s: Santam en Sanlam se paaie skei

Hoewel Santam en Sanlam verskillende soorte versekering verkoop het, was hulle as maatskappye so naby aan mekaar dat as daar ’n hofsaak teen Sanlam sou kom, dit ook Santam sou beïnvloed. Omdat Sanlam in die vyftigerjare geld in ander ondernemings soos myne en voedselmaatskappye begin belê het, het die bestuur van die twee maatskappye besluit dis beter dat hulle juridies (volgens wet) in heeltemal afsonderlike maatskappye van mekaar funksioneer. 3

In 1954 skei die twee maatskappye se paaie. Santam staan nou bekend as Santam Versekeringsmaatskappy Beperk en verkoop slegs korttermynversekering. Sanlam onderneem om slegs langtermynversekering te verkoop.

In 1958 word Santam as die grootste algemene versekeraar in Suid-Afrika aangewys. 3

’n Algemene versekeraar is eintlik maar soos ’n korttermynversekeraar wat meestal besittings verseker. Voorbeelde van algemene versekering is motor- of brandversekering. 9

1960’s: ’n Eie gebou

Die sukses van ’n maatskappy kan baie keer gesien word in die gebou waar sy kantore is. In 1965 maak Santam sy eie kantoor in Kaapstad oop. Die gebou het selfs lugversorging ter waarde van R2 miljoen gehad. Die lugverkoelingstelsel was só groot dat dit die hele kelderverdieping (verdieping onder ’n gebou wat baie keer vir parkering gebruik word) opgeneem het. Mense kon die gebou besoek om te sien hoe dit lyk.

In 1967 word Santam aangewys as die suksesvolste korttermynversekeraar in die land wat die grootste inkomste uit premies gekry het. 3

1970’s: Die beste polis in die wêreld

Die sewentigerjare word deur baie mense beskou as een van die belangrikste tydperke in Suid-Afrika se versekeringsbedryf. By Santam het daar ook groot veranderings gebeur.

Een van die veranderings is dat makelaars baie belangriker geword het om polisse te verkoop. ’n Makelaar verskil van ’n agent omdat dit namens verskillende maatskappye versekering verkoop. Waar ’n agent net polisse van Santam kon verkoop, kan ’n makelaar saam met ’n kliënt besluit watter polis van watter maatskappy die beste vir ’n kliënt gaan werk. ’n Makelaar verkoop dus byvoorbeeld polisse namens Santam en ander maatskappye soos Old Mutual of Momentum. 10

Santam se Multiplex-polis verander korttermynversekering vir altyd in Suid-Afrika en selfs die wêreld. Waar mense voorheen vir elke soort versekering ’n afsonderlike polis moes uitneem, het hulle met hierdie polis net een nodig gehad. Kliënte kon dus huis-, motor- en diefstalversekering met een polis koop en later versekering byvoeg of wegneem soos hulle dit nodig gehad het. Die geel sambreel wat in advertensies gebruik is, het só bekend geword dat dit in 1981 Santam se logo (handelsmerk; teken waarmee ’n mens ʼn maatskappy kan uitken) geword het. 11

Apartheid was ’n politieke stelsel in Suid-Afrika waar wit, bruin en swart mense of Indiërs nie na dieselfde skole kon gaan, in dieselfde plekke kon bly of selfs by dieselfde strand kon swem nie. In die sewentigerjare het oorsese lande kwaad geword vir Suid-Afrika oor apartheid. Baie oorsese maatskappye het hul kantore in Suid-Afrika toegemaak omdat hulle nie meer in die land wou besigheid doen nie. Tussen 1970 en 1980 verminder die hoeveelheid buitelandse versekeraars in Suid-Afrika van 88 tot slegs een! 3

1980’s: Sensasionele sukses

Met al die oorsese maatskappye wat nie meer in die land was nie, is daar baie minder maatskappye om van te kies. Al hoe meer Suid-Afrikaners kies dus om versekering by Santam te koop. In 1983 wys die koerant Financial Mail Santam aan as die beste kort- én langtermynversekeringsmaatskappy in die land. 3

1990’s: Die einde van apartheid

In 1994 hou Suid-Afrika die eerste demokratiese verkiesing waar almal mag stem. Dit het die einde van apartheid beteken. Hierna begin oorsese lande weer in Suid-Afrika besigheid doen. Meteens kon kliënte uit verskillende polisse van baie meer maatskappye kies. Teen die einde van die 1990’s was Santam nie meer die grootste korttermynversekeraar in die land nie. Die sukses van Santam se Multiplex-polis het egter gehelp dat Santam steeds besigheid gedoen het. 3

2000’s: ’n Nuwe eeu breek aan

In 1999 koop Santam die maatskappy Guardian National Insurance en word in 2000 wéér die grootste korttermynversekeraar in Suid-Afrika. Waar Santam altyd baie Afrikaanssprekende kliënte gehad het, is die meeste polishouers nou Engels. Die Multiplex-polis word selfs ook in Brittanje verkoop. ’n Inbelsentrum word in 2004 begin sodat kliënte sewe dae van die week kan bel as hulle enige vrae het. 3

Santam vandag

Die maatskappy brei uit na Namibië, Ghana, Malawi, Uganda, asook na Indië en Suidoos-Asië. Behalwe vir makelaars en agente wat steeds namens Santam polisse verkoop, kan mense nou direk by MiWay en deur die internet self hul polisse koop. 3

Santam verkoop tans die volgende soort versekering:

  • Voertuigversekering vir motors, motorfietse en selfs karavane teen ongelukke, brand, diefstal, weerlig en selfs ontploffings. 12
  • Gebouversekering is vir kliënte se huise en alles wat deel is van die huis, soos ’n swembad en mure. Indien brand, ’n vloed of weerlig jou huis beskadig, sal Santam genoeg geld uitbetaal sodat die beskadigde eiendom vervang kan word vir dieselfde hoeveelheid geld as wat die eiendom werd was toe die ongeluk gebeur het. Daar is ook huisinhoudsversekering wat die besittings in die huis verseker. 13
  • Maatskappyversekering is vir kliënte wat hul ondernemings teen rampe verseker. ’n Maatskappy kan byvoorbeeld rekenaars, voertuie of die winkel self verseker. Daar is ook versekering as ’n maatskappy geld verloor omdat dit moes toemaak, byvoorbeeld, as gevolg van afsonderingsregulasies tydens ʼn pandemie soos Covid-19. 14
  • Landbouversekering is vir boere wat hul oeste (groente of vrugte) wil verseker teen brand, vloede of droogtes. Die bedrag wat die boer sou gemaak het as hy die oes sou kon verkoop, is die hoeveelheid geld wat die versekeringsmaatskappy aan die boer uitbetaal. 15

Santam het tans meer as 1 miljoen polishouers. 16

Sedert 1948, toe Santam slegs 1,2% van aandele in korttermynversekering in Suid-Afrika gehad het, het dit tot 22% gegroei – nie sleg vir ’n maatskappy wat deur sewe mense gestig is en waarvan net twee iets van versekering geweet het nie! 3

Woordbank

aandele Een van die gelyke dele waarin die kapitaal van ’n maatskappy verdeel is.
agente Persoon wat vir ’n ander optree, veral ’n verteenwoordiger van ’n firma.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
belê Uitlening van geld teen rente.
direksie Groep persone wat ‘n maatskappy of saak bestuur.
firma Maatskappy of sakeonderneming.
juridies Geregtelik; volgens wet.
kapitaal Som geld wat belê is om rente te verdien.
makelaars Persoon wat koop en verkoop namens ander mense – veral aandele; tussenhandelaar.
miljard Die getal 1 000 000 000 of duisend miljoen.
polis Kontrak tussen ’n versekeringsmaatskappy en ’n versekerde waarvolgens daar finansieel vir die versekerde se aftrede voorsiening gemaak word, of vir sy/haar afhanklikes sou hy/sy te sterwe kom, of waarvolgens die versekerde se eiendom finansieel teen skade of verlies gedek word, op voorwaarde dat die versekerde gereeld ’n bepaalde premie aan die versekeraar betaal.
premies Vasgestelde bedrag wat ’n versekerde persoon volgens ’n bepaling in sy/haar polis op bepaalde tye aan die versekeraar moet betaal.
rente Opbrengs van geld wat uitgeleen/belê is.
risiko Slegte kans of gevaar; moontlikheid van skade of verlies; waagstuk.
versekering Ooreenkoms waarby teen betaling van ’n premie ’n uitkering op ’n sekere leeftyd of ná die dood gewaarborg word of skadevergoeding in die geval van ’n ongeluk of brand/diefstal/haelskade/ens.
gewaardeer Die waarde bepaal.

Lees meer oor korttermynversekering

Kyk dié video’s om versekering beter te verstaan

Waarom dit goed is om versekering te hê

15 dinge wat jy beslis nie van versekering geweet het nie

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Julie 2022 | Bygewerk op 15 April 2024