Vinnige feite

  • Die “Acker” in die van “Ackerman” kom van Duits of Oud-Engels, wat “geploegde land of veld” beteken. Daarom beteken Ackermann “ploegman” – ʼn baie gepaste van vir die sakereus wat Suid-Afrika se kleinhandelwêreld behoorlik oopgeploeg en sy kennis en vernuf daarin gesaai het. 10
  • Op 7 Februarie 1947 het Raymond en die kadetgroep van sy skool, Bishops, langs Adderleystraat in Kaapstad gestaan vir die staatsbesoek van die Britse koninklike gesin aan Suid-Afrika. Dit was vir hom ’n wonderlike geleentheid wat hy vir die res van sy lewe onthou het. 1
  • Sy pa het hom heel onder laat begin toe hy begin werk het sodat alle afdelings en fasette van ’n winkel kon leer ken. Hy moes op die winkelvloer werk om te leer hoe om met kliënte te werk, hulle moes altyd met respek behandel word, maak nie saak hoe moeilik dit dalk kon wees nie. 11
  • Hy het altyd geglo as sy winkels ’n artikel teen ’n laer prys aan kliënte kan verskaf, dan is die kliënte geregtig daarop. 4
  • Hy was baie lief vir alle sport, maar veral vir gholf. Hy het daarvan gehou om gholf te speel by die Clovelly Country Club wat sy pa in die 1930’s begin het. Hierdie was die eerste nierassige gholfklub in Suid-Afrika. 10
  • Die Clovelly Country Club het ontstaan toe Gus Ackerman se broer nie as lid by die Mowbray Gholfklub toegelaat is nie omdat hy ’n Jood was. Sy broer het toe die eiendom gekoop en die gholfklub daar ontwikkel. 1
Foto: iStock

Raymond Ackerman was saam met sy pa en oupa deel van die geskiedenis van winkels in Suid-Afrika – nie een mens in Suid-Afrika sal kan sê dat hulle nog nooit in een van hierdie gesin se winkels was nie.

Sy gesin

Raymond is op 10 Maart 1931 gebore. Hy het een broer met die naam Ken gehad. Sy pa was Gustave (Gus) en sy ma se naam was Rachel. Sy ouers is geskei toe hy sewe jaar oud was. Sy pa is weer getroud en toe het Raymond een stiefbroer, Peter, en later in 1944 een halfbroer, Bruce, bygekry. 1

Hy is op 4 September 1956 met Wendy Marcus getroud en hulle het vier kinders – Gareth, Suzanne, Kathryn, and Jonathan. 2

Raymond as student

Hy het in Kaapstad grootgeword en skoolgegaan by Bishops, ’n bekende skool in die stad. Daarna het hy aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer waar hy ’n BCom-graad behaal het. 3

Dit was tydens sy studies, in 1948, wat hy te doene gekry het met die dosent wat vir hom die teorie geleer het waarop hy later sy eie sakeryk gebou het. Sy naam was W.H. Hutt. Hy het vir sy studente beklemtoon dat die belange van die kliënt eerste kom. Hutt het onder meer gesê as jy vir die belange van die kliënte veg, sal daardie kliënte jou ondersteun. Terwyl die meeste sakelui in daardie dae slegs ingestel was om geld te maak, het Hutt sy studente geleer dat jy nooit geld sal maak as jy nie ’n duidelike doel het nie. Jy moet die belange van jou kliënte dien.

Raymond se pa, Gus, het nie saamgestem met wat sy seun geleer het nie. Hy het gesê dat besigheid nie so werk nie en dat mens dalk sal dink jy is ’n gawe kêrel as jy soveel aan jou kliënte se belange dink, maar dat jou eie besigheid daaronder gaan lei. 3

Waar alles begin het

Kleinhandel en besigheid was deel van Raymond se familie. Sy oupa, Meyer Ackerman, het vanaf Litoue na Suid-Afrika gekom as gevolg van die vervolging van Jode in sy vaderland. Teen Februarie 1892 was hy ’n inwoner van die Kaapkolonie en ’n gevestigde handelaar in volstruisvere. 1

Toe Meyer sterf, het sy weduwee ’n winkel in Plumstead, Kaapstad, begin waar sy vrugte, groente en lekkers verkoop het. Hier het die jong Raymond sy eerste ondervinding van winkels gekry toe hy as jong seun in die winkel gaan help het. 1

In 1919 het Meyer se seun, Gus, saam met twee vriende al hul spaargeld gebruik om die Ackermans-winkelreeks te begin. Hierdie was die eerste reeks kleinhandelwinkels in Suid-Afrika. OK Basaar is in 1927 gestig en Woolworths in 1930.

Gus Ackerman

In 1931 het Harry Herber tot die kleinhandelwêreld toegetree. Ackermans was toe steeds ’n belangrike winkelgroep en Herber het sy winkels Greatermans genoem. Hierdie naam moes eintlik sê sy winkels is beter as Ackermans – “greater than Ackermans”. In 1946 het die moeilike omstandighede ná die Tweede Wêreldoorlog vir Gus en sy vennote gedwing om die beheer oor Ackermans aan Greatermans te verkoop.

Teen die tyd dat Raymond klaar gestudeer het, was sy pa ’n besturende direkteur by Greatermans. Harry Herber het vir die 20-jarige Raymond werk gegee by Greatermans om daar indiensopleiding te doen. In 1955 het hy vir Raymond na Checkers gestuur wat toe ook deel van Greatermans was.

Intussen is Harry Herber oorlede en sy seun Norman het by hom oorgeneem as direkteur van die Greatermansgroep. Raymond het hom oorreed om hom na die VSA (Verenigde State van Amerika) te stuur waar die kleinhandelbesigheid in supermarkte ’n groot oplewing getoon het ná die oorlog. 3

Hier het Raymond vir Bernardo Trujillo ontmoet, wat bekend was as ’n uitstekende kenner van bemarking. Dit is by hom dat Raymond die grondbeginsel van die vier pote van ’n tafel geleer het waarop Pick n Pay later gebaseer sou wees.  Meer hieroor later. 3

Checkers: Raymond se opgang én sy ondergang

Raymond is na ’n klein tak van Checkers in Boksburg gestuur, waar dinge glad nie goed gegaan het nie. Hy het die winkel in ’n suksesvolle winkel verander, uiteindelik in 1959 die bestuur van Checkers oorgeneem en teen 1966 het hy die groep opgebou tot nie minder nie as 85 winkels!

Hierdie jaar was die jaar waarin alles vir Raymond skeefgeloop het…

Sy pa Gus is oorlede.

Daar was kort-kort onenigheid en verskille tussen Raymond en die bestuur van Greatermans (onder wie se beheer Checkers geval het) omdat Raymond altyd nuwe idees wou invoer om die winkels te verbeter. Op ’n Maandagoggend, toe hy by die werk opdaag, is hy afgedank. 3

 

Dit was ’n groot skok vir Raymond en het uit die bloute gekom, terwyl hy juis gedink het alles gaan goed omdat hy die Checkersgroep so opgebou het. Hy het by die gebou uitgestrompel en al rondom die dieretuinmeer geloop terwyl hy gewonder het hoe hy dit vir sy vrou, Wendy, gaan vertel. 1

Hierdie afdanking is later deur Marinus Daling, voorheen besturende direkteur van Sanlam, as die enkele grootste fout in die Suid-Afrikaanse sakewêreld bestempel. 4

Raymond het vier kinders gehad, en skielik geen inkomste nie – dit was vir hom en sy gesin ’n baie moeilike tyd.

Raymond en Wendy

Pick n Pay word ’n suksesstorie

Raymond het nie in sak en as gaan sit nadat hy afgedank is nie. Hy het gelukkig ook die ondersteuning van Wendy gehad. Hy het wel nie geld gehad nie en was in groot moeilikheid sonder ’n werk, maar hy het planne en ambisie gehad.

Hy het geldelike steun gekry en het vier klein winkels in Kaapstad gekoop met die naam Pick n Pay. Checkers het alles probeer om die nuwe, jong kompetisie onder te kry, maar hulle het nie daarin geslaag nie. Raymond het sy besigheid uitgebrei en eers Pick n Pay-takke in Port Elizabeth en daarna in Johannesburg oopgemaak. Teen die jaar 2000 het hy reeds winkels in vyf ander lande in suidelike Afrika gehad. 3

Jack Goldin

Toe Raymond in 2010 afgetree het, het Pick n Pay 20 hipermarkte en 402 supermarkte regoor Suid-Afrika gehad. 5

Met sy dood in 2023 het Pick n Pay meer as 1 900 winkels in Suid-Afrika en in sewe ander lande in Afrika gehad. 6

In 2002 het altesaam meer as 30 000 mense vir Pick n Pay gewerk. 4

Hierdie getal personeellede het in 2023 toegeneem tot ongeveer 90 000! 6

Hy skryf hierdie boeke

Daar het drie boeke uit sy pen verskyn – in al drie boeke skryf hy oor sakebeginsels.

  • Hearing Grashoppers Jump – The Story of Raymond Ackerman as told to Denise Pritchard (2004).
  • The Four Legs of The Table (2005): Raymond Ackerman’s simple, straightforward formula for success as told to Denise Pritchard.
  • A Sprat to Catch a Mackerel (2020): Key principles to build your business. 2

Gemeenskapswerk en liefdadigheidsprojekte

Sedert die dae van Gus Ackerman, het die Ackermans hul geld gebruik om ook die gemeenskap te dien.

Gus Ackerman was betrokke by die stigting van die Rooikruis-kinderhospitaal en sy seun, Raymond, het daarmee voortgegaan. 7

Die Raymond Ackerman Akademie is in 2005 gestig. Dit bied ’n ses maande lange opleidingsprogram aan jongmense tussen 18 en 30 oor entrepeneurskap en sakeopleiding. Die kursusse word in samewerking met die Universiteit van Kaapstad asook die Universiteit van Johannesburg aangebied. Die opleiding wat hier verskaf word, is vir mense wat passievol is oor besigheid en persoonlike ontwikkeling. 2

Die hele Ackerman-gesin was en is steeds betrokke by liefdadigheidswerk. Twee persent van hul persoonlike inkomste uit hul aandele word gebruik in die Ackerman Family Educational Trust. Hierdie trust verskaf ondersteuning aan ongeveer 60 studente per jaar vir hul studies. Die trust gee ook ondersteuning aan organisasies wat na mense met fisieke en geestelike gestremdheid omsien. 8

Toekennings, toekennings, en nog toekennings!

1965: FOYSA-toekenning as Uitstaande Jong Suid-Afrikaner. (FOYSA – Four Outstanding Young South Africans)

1986: Eredoktorsgraad in die regte aan die Rhodes-Universiteit.

1987: Rotariërs Internasionaal se Paul Harris Fellowship-toekenning.

1993: Advertising Age International vereer hom as een van die Wêreld se 40 Supersterre in Bemarking.

1994: Cape Argus se Sakeman van die Jaar.

1994: The Herald Times se Sakeman van die Jaar. 2

1996: Uitnemende Sakeleierskap – toekenning deur The Indian Academy of South Africa, soos versoek deur koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes. 8

1999: Paul Harris-toekenning deur Rotariërs Internasionaal.

1999: Institute of Marketing Management se Millennium-toekenning.

1999: Verkies as een van die 100 mees invloedryke Suid-Afrikaners vir hul invloed in die 20ste eeu.

2001: Eredoktorsgraad in die handel, Universiteit van Kaapstad.

2001: Pionierstoekenning deur die South African Council of Shopping Centers.

2001: Tweede Paul Harris-toekenning deur Rotariërs Internasionaal.

2001: Protea-toekenning deur die Marketing Association of South Africa (MASA)

2001: Sunday Times se toekenning vir Lewenslange bydrae.

2004: 79ste posisie in die top 100 invloedryke Suid-Afrikaners.

2004: Hy is die enigste Suid-Afrikaner op die lys van die wêreld se 100 belangrikste sakeleiers, gekies deur die Financial Times.

2008: Toekenning vir Korporatiewe Burgerskap deur die Woodrow Wilson-sentrum in die VSA.

2010: David Rockefeller Leierskaptoekenning in Afrika deur die Synergos Institute (Southern Africa).

2011: Eredoktorsgraad deur die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA).

2014: Toekenning deur die Vryemarkstigting (VMS).

2016: Eredoktorsgraad, Rutgers-Camden (Universiteit in Camden, New Jersey, VSA). 2

Wyshede en sakebeginsels waarvoor hy bekend was

Raymond het onder meer die volgende gesê: “Miskien rus my sukses daarop dat my kop in die wolke, maar my voete op die grond is. Ek glo vas dat om wins te maak enige onderneming aan die lewe hou, maar wins is nie die hart van besigheid nie.” 4

Net soos kliënte vir Pick n Pay belangrik is, is die welsyn van werknemers ook belangrik. Raymond het geglo dat werknemers wat gemotiveer word en wie se menswaardigheid aandag kry, sal verseker dat kliënte ook goed behandel sal word. 4

“In ’n suksesvolle besigheid is die verbruiker die belangrikste persoon, die verbruiker is die uiteindelike doel vir die suksesvolle sakeman of sakevrou. Alles moet gerig wees op die kliënt – die kwaliteit, diens en die regte prys.”

“Om geld te maak, moet ’n beloning wees, maar nie die rede waarom jy ’n besigheid het nie.” 2

“Jy is in die sakewêreld ter wille van die verbruiker, net soos ’n dokter daar is vir sy pasiënte.
Selfs al kan jy al jou uitgawes betaal, beteken ’n besigheid wat geen wins maak nie, vir niemand iets nie.”

“Jy moet teruggee aan die gemeenskap – hoe meer jy gee, hoe meer sal jy ontvang.”

“Soek iets wat jou begeester en maak dit jou werk vir die res van jou lewe.”

“As jy na jouself in die spieël kan kyk en jy leef na aan jou familie – dit is die grondslag van sukses.” 2

Die vier pote van die tafel

Soos hy heel aan die begin van sy loopbaan in Amerika geleer het, het hy sy winkels bedryf op die beginsel van die vier pote van ’n tafel:

  • Administrasie
  • Produkte en dienste
  • Advertensie en sosiale verantwoordelikheid
  • Mense (personeel en kliënte) 9

Luister hier hoe hy self hierdie beginsel verduidelik:

Sy dood

Raymond Ackerman is op 6 September 2023 oorlede – hy was 92 jaar oud.

Woordbank

administrasie    Dit is wanneer iets beheer of bestuur word.
afgedank Wanneer ’n werkgewer die dienste van ’n werknemer beëindig.
ambisie ’n Sterk begeerte om te presteer, om eer/geld/ens. te kry, of om jou ideale te bereik.
beginsel Die morele beskouing of oortuiging waarvolgens ’n mens optree.
bemarking Aktiwiteite van ʼn onderneming om sy produkte of dienste aan moontlike kopers of gebruikers bekend te stel en hulle te oortuig om dit te koop of te gebruik.
direkteur Persoon wat bestuur of beheer uitoefen, veral een van ʼn groep persone (die direksie) wat die sake van ’n bedryf/maatskappy bestuur.
entrepeneurskap Die proses waartydens ’n nuwe besigheid begin, ontwikkel en bestuur word.
eredoktorsgraad ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
fasette Gedeelte of afdeling.
geregtig Wanneer mens die reg het om iets te kry.
halfbroer Die seun van jou eie pa of ma en jou pa se tweede vrou of jou ma se tweede man.
hipermarkte ’n Soort kleinhandelwinkel wat ’n supermark en ’n afdelingswinkel onder een dak kombineer. Dit is gewoonlik ’n baie groot onderneming wat ’n wye verskeidenheid produkte soos kos, klere en toestelle verkoop.
in sak en as Om heeltemal moedeloos te wees.
invloedryke Wat groot invloed het/uitoefen.
Kaapkolonie Tot 1910 naam van die destydse Kaapprovinsie.
kleinhandel Winkels wat aan die publiek verkoop.
kliënt Persoon/persone aan wie ’n winkel iets verkoop.
menswaardigheid Om iemand se waarde as mens raak te sien en te respekteer.
onenigheid Toestand van twis of verdeeldheid tussen mense.
passievol Om vol geesdrif oor iets te wees.
sakelui Sakemanne of -vroue, besigheidsmanne of -vroue.
stiefbroer Die seun van jou pa se tweede vrou of jou ma se tweede man.
supermarkte Supermarkte is selfdienwinkels wat ’n wye verskeidenheid kos, drank en huishoudelike produkte wat in afdelings georganiseer is, bied.
teorie Reëls waarvolgens iets bedryf word.
uitgestrompel Om onvas op jou voete te loop.
uit sy pen verskyn Hy/sy het dit geskryf.
vennote Eienaars van ’n besigheid/onderneming.
vervolging van Jode Boikotte van Joodse dokters, prokureurs en winkels het in 1933 begin en teen 1935 is Jode nie toegelaat om by die staatsdiens of die weermag aan te sluit nie.
welsyn Gesondheid en voorspoed.

Lees hier

Kyk hierdie interessante video’s

Raymond Ackerman – sakereus en omgeemens

ʼn Kykie na Raymond se lewe

Raymond ontvang sy eredoktorsgraad in 2016

Raymond Ackerman verduidelik die tafel-met-vier-pote-beginsel waarop hy sy sakeryk gebou het

Kyk na hierdie advertensie uit 1985!

Pick n Pay se betrokkenheid in gemeenskappe en die natuurlewe

Hy vertel self oor sy geskiedenis in die sakewêreld in hierdie onderhoud uit 2015

Onderhoud met Raymond Ackerman in 2019

Gepubliseer op: 6 Maart 2024 | Bygewerk op 6 Maart 2024