Vinnige feite

J. Robert Oppenheimer, E. Fermi en Ernest O. Lawrence
  • Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 in Europa uitgebreek het, moes sir Ernest Oppenheimer steeds gereeld tussen Suid-Afrika en Engeland reis. In een stadium is sy skip deur Duitse duikbote raakgeskiet en ’n Britse skip het hom en ander oorlewendes gered.
  • Die Brenthurst-biblioteek het ontstaan uit die versamelings van sir Ernest Oppenheimer en sy seun, Harry. Dit bevat baie boeke, manuskripte, kaarte, kunswerke, foto’s en poskaarte.
  • Harry Oppenheimer het manuskripte van Engelse digters versamel en het veral Lord Byron bewonder. Hy het ook ’n groot versameling Africana gehad.
  • Harry Oppenheimer het ’n privaat natuurreservaat besit en het ook ’n groot liefde vir resiesperde gehad. Hy en sy vrou het baie geld vir natuurbewaring geskenk.
  • Harry se seun, Nicky Oppenheimer, het in 2012 sy 40%-belang in De Beers aan Anglo American verkoop. Hy was die derde generasie van sy familie om aan die stuur van De Beers te wees.
  • Die Oppenheimer-familie het vir 85 jaar die wêreld se diamanthandel beheer.
  • Harry Oppenheimer het ná die Sharpeville-slagting in 1961 die South Africa Foundation begin en het die Urban Foundation ná die 1976-opstande in Soweto begin. Die stigtings het miljoene rande vir welsyn en behuising geskenk.
  • Harry Oppenheimer se seun, Nicky, het in 1968 met Orcillia “Strilli” Lasch getroud en hulle het ’n seun, Jonathan, gehad. Jonathan Oppenheimer is vandag aan die hoof van die Oppenheimers se sakebelange. Sy vrou, Jennifer, is in 2017 oorlede. Hulle het drie kinders.
  • Nicky Oppenheimer het al verskeie kere Forbes se lys van die wêreld se rykste mense gehaal. Hy was in 2023 Suid-Afrika se tweede rykste man en die derde rykste in Afrika. 6
Foto: iStock

Die Oppenheimer-familie is sinoniem met geld in Suid-Afrika, maar waar kom hierdie familie en hul fabelagtige rykdom vandaan?

Dit het als met sir Ernest Oppenheimer begin wat op 22 Mei 1880 in Friedberg, Hesse-Nassau, in Duitsland gebore is.

Sy gesin was Joods en sy pa het sigare gemaak.

Hy het op die ouderdom van 16 as ’n junior klerk by die diamanthandelaars Dunkelsbuhlers & Company in Londen begin werk. Hy was goed met die sorteer van diamante en het sommer gou-gou sy werknemers beïndruk. Nadat hy Britse burgerskap gekry het, is hy na Suid-Afrika gestuur om hier as Dunkelsbuhlers se verteenwoordiger te werk. 1

In Suid-Afrika het hy een van die suksesvolste diamanthandelaars geword omdat hy ’n fyn oog vir die kwaliteit van diamante gehad het. Hy het ook begin om klein beleggings in goudmyne in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) te maak.

Hy het in 1917 – met die hulp van die New Yorkse bank JP Morgan – die mynmaatskappy Anglo American begin om goud aan die Witwatersrand te ontgin en twee jaar later het hy die Consolidated Diamond Mines of South West Africa, Ltd begin.

Sy maatskappy was so suksesvol dat hulle ook beheer oor De Beers Consolidated Mines verkry het. De Beers het vroeër die wêreldiamantmark beheer.

In 1929 het hy die Rhodesian Anglo American Corporation begin om die ryk koperneerslae in Noord-Rhodesië (vandag Zimbabwe) te ontgin en in 1930 het Oppenheimer The Diamond Corporation Ltd gestig. 2

Ou De Beers-gebou, 1903

In Suid-Afrika het sy sakebelange gefloreer en hy het ook die politiek betree en ’n hegte vriendskap met die destydse eerste minister Jan Smuts gevorm.

Nadat nuwe diamantrykdom in 1927 in Namakwaland ontdek is, het Oppenheimer ’n beherende belang daar gekoop.

Eerste hoofkantoor, Kimberley

Sy maatskappy se belange het vergroot en hy was later die voorsitter en besturende direkteur van De Beers wat toe deel van sy Anglo American-onderneming geword het.

In 1929 het die Amerikaanse aandelemark geval en dit het ’n wêreldwye ekonomiese insinking tot gevolg gehad. Daardie ekonomiese insinking is die Groot Depressie genoem. Die mark vir diamante het verdwyn en die Londense diamanthandelsindikaat was teen 1931 byna bankrot. Oppenheimer het begin om beheer van hierdie sindikaat oor te neem. 3

Diamantverkope het egter in die jare dertig bly afneem en teen 1937 het Oppenheimer se De Beers-onderneming ongeveer 40 miljoen karaat diamante gehad wat hulle nie kon verkoop nie. Oppenheimer het bekommerd begin raak oor ’n moontlike bankrotskap, maar het ’n plan beraam om self ’n mark te skep. Hy het eerstens industriële maniere gevind om diamante van swak gehalte te benut en hy het ook sy seun, Harry, na New York gestuur om daar ’n plan van aksie te beraam.

Diamantsorteerders

Die gevolg was ’n splinternuwe bemarkingsveldtog wat die vier C’s van diamante bekendgemaak het. Dit is in Engels “cut, color, clarity, carat”. Dit het tot ’n styging in verkope van meer as 50% gelei. De Beers se advertensies het ook ’n nuwe neiging in die wêreld bekendgestel: Die diamantverloofring. Dit was nie destyds die gebruik om so ’n ring te gee nie, maar daarna? Wel, vandag is dit ’n gebruik en dis als deur De Beers begin. De Beers se bekende logo “ ’n diamant is vir altyd” het ook bekendgeword.

Die jare ná die Tweede Wêreldoorlog was baie winsgewend vir De Beers en Oppenheimer. Die maatskappy het winste in nuwe goudmyne in Suid-Afrika herbelê en ook die platinum-, staal- en papierbedryf betree. Sir Ernest Oppenheimer het tot 1953 die voorsitter en direkteur van sy maatskappy gebly.

Die Oppenheimer-diamant

Meer inligting oor sir Ernest

Sir Ernest Oppenheimer was ook van 1912 tot 1915 die burgemeester van Kimberley en ’n lid van die Unie van Suid-Afrika se parlement. Hy was ’n filantroop (weldoener) en het graag geld geskenk aan veral opvoeding.

Oppenheimer is deur Engeland se koning George V tot ridder geslaan en was een van slegs ’n hand vol Jode aan wie hierdie eer betoon is.

Harry Oppenheimer-toekenning

Ernest Oppenheimer is op 19 Junie 1906 met Mary Lina (May genoem) Pollock getroud en hulle het twee seuns, Frank en Harry, gehad. May Pollock is in 1934 dood en sy seun, Frank, is in 1935 in ’n swemongeluk in Madeira oorlede.

Oppenheimer het die jaar daarna die Anglikaanse geloof aangeneem. Hy is ’n paar maande daarna met Caroline Ina Harvey getroud. Sy was die dogter van ’n Engelse baron en die weduwee van sy neef Michael.

Oppenheimer is in 1957 aan ’n hartaanval oorlede.

Harry Oppenheimer

Ná Ernest Oppenheimer se afsterwe, het sy seun Harry hul maatskappy bestuur en die Oppenheimer-ryk het bly groei.

Die De Beers-maatskappy het op ’n tyd ongeveer 80% van die wêreld se diamanthandel beheer en baie geld gemaak.

Harry Oppenheimer het die maatskappy en familiefortuin tot sy dood in 2000 beheer. Hy was in die jare sewentig ’n kampvegter vir politieke hervorming en het die idee van vakbonde vir die regte vir myners ondersteun.

Harry Oppenheimer is op 28 Oktober 1908 in Kimberley gebore. Hy het ’n Suid-Afrikaanse laerskool bygewoon, maar is later na Engeland waar hy aan die bekende Charterhouse skoolgegaan het. Hy het ná skool aan die Universiteit van Oxford (Engeland) filosofie, politiek en ekonomie gestudeer en in 1939 gegradueer. 4

Hy het in 1931 na Suid-Afrika teruggekeer en vir Anglo American begin werk.

In die vroeë jare dertig is sy ma, May, oom Leslie Pollak en sy broer, Frank, kort ná mekaar oorlede en het ’n groot impak op hom gehad.

Harry het in die Tweede Wêreldoorlog geveg en in Noord-Afrika diens gedoen. Hy het in daardie tyd vir Bridget McCall ontmoet en hulle is in 1943 getroud. Hulle het twee kinders, Mary en Nicky, gehad. 5

Ernest Oppenheimer (regs) tydens ‘n besoek aan ‘n diamantfakbriek, Amsterdam, 3 Desember 1945

Harry het ná die oorlog die politiek betree en het ’n lid van Suid-Afrika se parlement geword. Hy was teen apartheid gekant en was ’n lid van die opposisieparty, die Verenigde Party. Hy het ’n parlementslid gebly tot en met sy pa, Ernest, se dood in 1957. Hy het toe heeltyds die sakewêreld betree en moes beheer oor Anglo American en De Beers oorneem.

Hy wou graag ’n verenigde Suid-Afrika sien en was een van die groot ondersteuners van die Progressiewe Party, ’n liberale party wat teen apartheid gekant was.

Hy het in 1982, ná 25 jaar as voorsitter van Anglo American, afgetree en sy seun, Nicky Oppenheimer, het in 1998 die voorsitter van De Beers geword.

Harry Oppenheimer is op 19 Augustus 2000 in Johannesburg oorlede.

Tydens ‘n besoek aan Amsterdam

Woordbank

Africana Boeke, geskrifte, landkaarte, meubels en dies meer wat van geskiedkundige belang in verband met Afrika is.
fabelagtige Ongelooflik/wonderlik.
filantroop Dis iemand wat die armoede en lyding van ander mense wil versag, veral deur liefdadigheid; weldoener.
gefloreer Welvarend word, voorspoedig/suksesvol wees, groei, uitbrei; goeie sake/besigheid doen.
sindikaat ’n Vereniging van handelsondernemings om ’n gemeenskaplike doel te bereik. 6
winsgewend Wat wins oplewer.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die Oppenheimer-familie se geskiedenis

Ernest Oppenheimer

’n Gesprek oor ’n boek oor Harry Oppenheimer

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024