Vinnige feite

  • Die klassieke era van musiek verwys na musiek wat vanaf die 16de eeu tot die begin van die 19de eeu gekomponeer is, met die klem hoofsaaklik op vorm.
  • Kletsrym, ook genoem rap of rapmusiek, is ʼn uitvloeisel van hip-hop en bestaan uit rymende woorde wat ritmies op die maat van musiek voorgedra of gepraatsing word.
  • Johnny Cash (1932-2003) was ʼn wêreldbekende countrysanger wat bekendheid gedurende die 1950’s verwerf het.
  • Gospel- en spirituele musiek is godsdiensliedere wat uit die musiektradisies van Afrika-slawe in die VSA ontwikkel het.
  • Elvis Presley was een van die gewildste rocksterre, en die suksesvolste rockgroep was The Rolling Stones, wat oor meer as 50 jaar wêreldwye sukses met hul albums en konserte behaal het.
Foto: iStock

Musiek is reeds vir baie eeue iets spesiaal, amper soos ‘n taal. Daar word nie verniet gesê musiek begin waar woorde ophou nie! Soms is ‘n mens in die bui vir rustige klassieke musiek as jy wil ontspan, en ander keer weer vir vinnige dansmusiek as jy oefening doen of partytjie hou.

Daar is baie verskillende soorte musiek wat in uiteenlopende taal-, kultuur- en ouderdomsgroepe se smaak val. Musiek word in verskillende musiekgenres verdeel. Die ritme, melodie en harmonie van die musiek bepaal onder watter musiekgenre dit ingedeel word. 1

Die vernaamste musiekgenres

Klassieke musiek

Die term klassieke musiek word meestal gebruik om na Europese klassieke musiek of musiek uit die klassieke era te verwys. Dit verwys ook na musiek van aangeleerde tradisies wat deur instellings geleer word. 2

Die klassieke era van musiek verwys na musiek wat vanaf die 16de eeu tot die begin van die 19de eeu gekomponeer is, met die klem hoofsaaklik op vorm. Dit sluit in werk van die Duitse en Oostenrykse komponiste Gluck, Haydn, Mozart en Beethoven. Hierdie tydperk – gedurende ongeveer 1740 en 1810 – staan as die klassieke tydperk bekend. Dit is voorafgegaan deur ʼn baroktydperk met komponiste soos Schütz, Bach, Händel en gevolg deur die tydperk van die romantiek met, onder andere, Chopin en Schumann. 2

Kenmerkend van hierdie musiekgenre is die gebruik van veelvuldige instrumente wat die genoteerde musiek uitvoer, bekend as ʼn simfonie-orkes. Die musiekstyl is ook op sekere beginsels van komposisie en polifonie gebaseer. Sonates en simfonieë is ook kenmerkend aan dié musiekvorm. 3

Voorbeelde

Die musiek van Wolfgang Amadeus Mozart (1756-1791) en Ludwig von Beethoven (1770-1827) is deel van wêreldbekende klassieke musiek wat vandag nog deur kunstenaars opgevoer word en in verskeie opvoerings gebruik word. 3

Opera

Opera word beskou as ʼn toneelstuk wat opgevoer word waarvan die dialoog (dit wat die mense sê) eerder gesing as gepraat word. ʼn Opera word meestal met die volle begeleiding van ʼn simfonie-orkes uitgevoer en soms ook met ander kunsvorme soos ballet gekombineer. 2 Hierdie musiekvorm het rondom die 1600’s ontstaan toe ʼn groep musikante, digters en filosowe die Griekse tragedie – ʼn vorm van teater van antieke Griekeland – wou laat herleef. Opera word gekombineer met indrukwekkende kostuums en verbeeldingryke dekor. 3

Voorbeelde

Een van die gewildste operas is Die Towerfluit deur Wolfgang Amadeus Mozart. 3

Ruk-en-rol (rock and roll)

Dié musiekstyl dateer uit die 1950’s en het sy oorsprong in die Verenigde State van Amerika (VSA) gehad. Dit word deur elektriese kitare, lawaaierige dromme en ʼn harde gesing gekenmerk. 4

Voorbeelde

Elvis Presley was een van die gewildste rocksterre, en die suksesvolste rockgroep was The Rolling Stones, wat oor meer as 50 jaar wêreldwye sukses met hul albums en konserte behaal het. Die Beatles was ʼn Engelse rockgroep wat in die 1960’s tot stand gekom het en word as een van die invloedrykste musiekgroepe van alle tye beskou.

Popmusiek (populêre musiek)

Dit is moderne, gewilde musiek met ʼn treffende melodie en sterk ritme. Dit steun op elektroniese klanke en het ʼn vinnige tempo met woorde wat baie herhaal. 2 Popmusiekkultuur verwys na ʼn vermenging van musiek, die voorkoms en optrede van die musikante, asook verhoogvertonings met ligeffekte en choreografie wat alles saamkom om ʼn verdiepte ervaring te skep. Dit staan ook algemeen as dans- of treffermusiek bekend. Hierdie soort musiek word ook veral deur die massamedia – soos deur radio en TV-uitsendings – gespeel. Musiekvideo’s van dié treffers is ook ʼn integrale deel van popmusiek. 3

Voorbeelde

Taylor Swift en Justin Bieber is bekende popsterre, en albei is bekend vir hul skouspelagtige vertonings wat duisende toeskouers lok. Michael Jackson is tydens die 1980’s as die “koning van pop” bestempel en was bekend vir sy “moonwalk”, ʼn dansbeweging waartydens hy hom na agter getrek het asof hy vorentoe loop. 3

Gospelmusiek

Gospel- en spirituele musiek is godsdiensliedere wat uit die musiektradisies van Afrika-slawe in die VSA ontwikkel het. Die musiek van die Afro-Amerikaners is dikwels op die beginsel van roep en reageer gegrond. Daar is soms ʼn voorsanger wat ʼn frase op sy eie sing (of roep), gevolg deur die musikale reaksie van die koor. Gospelmusiek word meestal deur kore uitgevoer met ritmiese handeklap of musiek, maar word ook deur solokunstenaars uitgevoer. Hierdie musiekgenre het deur die jare uitgebrei, en dit het ʼn groot aanhang onder gelowiges. Gospelmusiek het ook vandag verdere variasie in die vorm van lofprysing- en aanbiddingmusiek, asook Christelike kontemporêre musiek. 3

Voorbeelde

James Cleveland (1931-1991) word as die “kroonprins van gospel” beskou. Hy was ook ʼn pianis, vervaardiger en komponis, het drie Grammy-musiektoekennings ontvang en is vereer vir sy bydrae tot gospelmusiek met die skryf van meer as 400 gospelliedjies. 5 Bekende sangers van Christelike kontemporêre musiek sluit in Michael W. Smith en Lauren Daigle.

Blues

Die blues – wat oorspronklik mondelings oorgedra is – vertel stories van die alledaagse lewe. Die twaalfmaatstruktuur (met ʼn kenmerkende opvolging van harmonieë) is tipies van die blues. Dit gebruik ook die bluestoonleer, wat een bykomende toon – die sogenaamde bluesnoot – tot die pentatoniese skaal (vyf note per oktaaf) voeg. 3

Voorbeelde

Die Amerikaanse sangeres Bessie Smith is – vanweë die passie waarmee sy bluesmusiek gesing het – die “keiserin van die blues” genoem. Kitaarspeler en sanger Riley B. King is as die “koning van die blues” beskou. Later jare het Eric Clapton (ʼn Britse kitaarspeler) bekendheid as ʼn ikoon van rock en die blues verwerf. Hy het in sy tienerjare opnames van die ou bluesmeesters bestudeer, wat die basis van sy musiekloopbaan in hierdie genre gevorm het. 3

Rhythm and blues (R&B)

“Rhythm and blues” is ʼn musiekstyl wat die elemente van blues, soul, hip-hop en pop kombineer. Gedurende die 1940’s is R&B meestal deur groot orkeste opgevoer, maar deesdae word die musiekgenre ook deur baie solokunstenaars beoefen. 3

Voorbeelde

Beyoncé het al verskeie toekennings vir haar musiek ingepalm, onder andere 28 Grammy-musiektoekennings. Sy het al meer as 118 miljoen albums wêreldwyd verkoop. Mariah Carey word as een van die voorlopers van kontemporêre R&B, asook ʼn inspirasie vir vele jonger kunstenaars beskou. Met meer as 200 miljoen albums wêreldwyd verkoop, bly sy ʼn gewilde kunstenaar wat groot spore in die musiekbedryf trap.

Jazzmusiek

Jazzmusiek word aan improvisasie (om op die ingewing van die oomblik te verander of aan te pas) – op ʼn sekere ritme, asook met ʼn bepaalde struktuur – gekenmerk. Dit word ook met instrumente en sangstemme uitgevoer, veral blaasinstrumente, soos ʼn saksofoon en trompet. 6 Vroeë soorte jazz het ragtime, New-Orleans-jazz en swing ingesluit. In die swingera van die 1930’s het orkesgroepe tot groot jazzorkeste ontwikkel wat groot vertonings in New York gehou het. Ander style – soos “cool jazz”, “free jazz” en “fusion jazz” – het dikwels in mekaar gevloei. Vandag is daar steeds talle ontwikkelinge in jazz, en hierdie musiekgenre word soms selfs met ander musiekstyle soos popmusiek gekombineer. 3

Folkmusiek

Die term folkmusiek (ook genoem volksmusiek) word gebruik om liedere of instrumentmusiek van spesifieke lande, streke of mense te beskryf. Hierdie soort musiek word ook aan die tradisies en kultuur van ʼn sekere groep mense verbind. Dit gee meestal iets van die streek, geskiedenis en gewoontes van ʼn gebied weer. Hierdie genre kan ook as tradisionele musiek gesien word. 3

Voorbeelde

Kwaito, kwêla en Afrikaanse popmusiek bevat elemente van folkmusiek. Van die bekendste folkmusiekkunstenaars is Bob Dylan en Simon & Garfunkel. 7

Countrymusiek

Die Amerikaanse countrymusiek is ʼn samestelling van laat elemente van die folkmusiek van die Britse Eilande en blues. Afgesien van kitare en slaginstrumente gebruik dit ook instrumente soos banjo’s, mandoliene, viole en mondfluitjies. Nashville in die VSA word as die tuiste van countrymusiek beskou. 3

Voorbeelde

Johnny Cash (1932-2003) was ʼn wêreldbekende countrysanger wat bekendheid gedurende die 1950’s verwerf het. 3 Die immergewilde Dolly Parton het ook ʼn groot bydrae tot countrymusiek gelewer, wat steeds ʼn gewilde musiekgenre in veral die VSA is. Hedendaagse kunstenaars soos Blake Sheldon en Carrie Underwood kombineer ook countrymusiek met popklanke.

Kletsrym

Hip-hop

Tieners op die strate van New York het hip-hop ontwikkel om hulself van die gewilde nagklubmusiek te onderskei. Die hoofelemente van hip-hop is ritme, basklanke en rapmusiek (kletsrym). Die musiekstyl word as ʼn jeugkultuur – wat deur spesifieke kleredrag, briekdans en graffitikuns gekenmerk word – gesien. Dit gaan ook soms gepaard met ʼn platejoggie (DJ) wat die klank met ʼn draaitafel verskaf en iemand wat rapmusiek beoefen. 3

Kletsrym, ook genoem rap of rapmusiek, is ʼn uitvloeisel van hip-hop en bestaan uit rymende woorde wat ritmies op die maat van musiek voorgedra of gepraatsing word. 2 Kletsrym is ʼn populêre musiekstyl wat ook in Suid-Afrika groot aanhang het, selfs in Afrikaans.

Voorbeelde

Die Amerikaanse Jay-Z word as ʼn kletsrymer met ʼn groot invloed op die hip-hop-genre beskou. In Suid-Afrika word die kunstenaars Early B, Snotkop en Jack Parow as kletsrymers wat na die hip-hop-genre neig, gesien.

Musiekblyspel (ook bekend as musiekteater of Broadway)

ʼn Musiekblyspel is ʼn film- of teaterproduksie waarin dialoog afgewissel word met sang, groepsang en danse. Hierdie opvoering het meestal ʼn sentimentele of komiese karakter en vertel ʼn storie vir die gehoor. 2 Hierdie musiekvorm kombineer elemente van opera, operette, vaudeville, revue en drama. Dit gaan gewoonlik met verbeeldingryke dekor en indrukwekkende kostuums gepaard. 3

Voorbeelde

Musiekblyspele van die Britse komponis Andrew Lloyd Webber is wêreldberoemd. Hy het onder meer Cats en The Phantom of the Opera geskryf. 3 Nog bekende musiekblyspele is West Side Story, Singin’ in the Rain, High School Musical en The Greatest Showman.

Andrew Lloyd Webber

Woordbank

musiek ʼn Reeks aangename/interessante klanke voortgebring deur instrumente of die menslike stem.
genre Soort; tipe; veral literatuur- of kunssoort.
melodie ʼn Eenstemmige opeenvolging van tone in ʼn ritmiese, afgeronde orde. Dit word dus gesien as ʼn groep verskillende toonhoogtes (lae en hoë frekwensies) wat uit note van verskillende lengtes bestaan en saam die melodie vorm.
harmonie Die vereniging van gelyktydige of opeenvolgende tone wat mooi/aangenaam is om na te luister; sameklank.
simfonie Veelstemmige musiekstuk vir stryk- en blaasorkes met verskeie gekontrasteerde, maar verwante bewegings.
sonates Musiekstuk vir instrumente – veral vir die klavier – wat dikwels uit drie of meer gedeeltes bestaan.
komponiste Iemand wat musiek skryf of ʼn skepper van musiekstukke.
komposisie ʼn Musiekstuk.
polifonie ʼn Meerstemmige/-tonige musiekstuk.
operette ʼn Komiese of romantiese toneelstuk waarin die meeste van die woorde gesing word.
vaudeville ʼn Lugtige musikale toneelstuk met vrolike, komiese liedjies, dikwels satiries. Genoem na ’n Franse digter, gebore te Vau de Vire in Normandië.

Lees dié om meer te wete te kom

Luister hierdie om nog meer te leer

Die beste van Mozart

Koormusiek van Stellenbosch Universiteitskoor

Kombinasie van pop- en countrymusiek

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 November 2021 | Bygewerk op 12 Maart 2024