Vinnige feite
- Mozart was een van Haydn se beste vriende. Hoewel Mozart baie jonger was as hy, het hulle baie by mekaar geleer. Mozart het ’n stel kwartette aan sy “geliefde vriend” Haydn gewy. 1
- Beethoven was een van sy studente. In ’n brief aan die jong Beethoven se weldoener, het Haydn gesê: “Beethoven gaan eendag beskou word as een van Europa se beste komponiste, en ek is trots om sy leermeester genoem te word.” 1
- Haydn was getroud met Maria Anna Keller. Hul huislike lewe was nie gelukkig nie. Sy vrou het nie musiek verstaan nie, en het sy manuskripte gebruik om haar koekpanne mee uit te voer en haar hare mee in te draai! 1
- In Mei 1809, baie naby aan die einde van Haydn se lewe, het Napoleon Wene binnegeval. Die gevegte was naby Haydn se huis en bomme het sy vensters laat ratel. Maar die Franse leër het Haydn geken en hulle het nie sy huis aangeval nie. Een offisier het sy respek aan Haydn kom betoon en ’n aria uit Die Skepping vir Haydn gesing. 5
- Haydn is aanvanklik in ’n begraafplaas in Wene begrawe voordat hy in 1820 deur Prins Nikolaus Esterházy II by Eisenstadt herbegrawe is. Haydn se skedel is egter gesteel deur frenoloë, studente van ’n pseudowetenskap wat gedink het jy kan ’n persoon leer ken deur die knoppe op sy of haar skedel te bestudeer. Die skedel is uiteindelik in 1954 met die res van Haydn se oorskot herenig. 5
Musiek is al van die vroegste tye af deel van die mens se bestaan. Oral oor die wêreld maak mense van alle kulture al eeue lank musiek, en daarom is musikante en komponiste wat ’n nuwe soort musiek of styl musiek ontwikkel, altyd belangrik.
(Franz) Josef Haydn (1732-1809) was só ’n komponis. Hy was ’n Oostenryker wat musiek geskryf het in wat ons vandag die Klassieke styl noem. 1 Hy is veral bekend vir die ontwikkeling van die simfonie en kamermusiek (in Engels: chamber music). Dit is musiek wat deur ’n klein groepie baie goeie musikante gemaak word: ’n trio (drie spelers), kwartet (vier spelers), kwintet (vyf spelers), en so aan. Omdat hy hierdie nuwe vorme van musiek ontwikkel het, het hy die bynaam gekry van “Vader van die simfonie” en “Vader van die strykkwartet”. 2
‘klassieke musiek’ teenoor ‘Klassieke musiek’
Hierdie artikel verwys na “klassieke musiek” en “Klassieke musiek”. Kyk altyd mooi as jy navorsing oor musiek doen na watter skryfwyse gebruik word, want die twee terme beteken nie dieselfde nie.
Die eerste term (met die kleinletter) verwys gewoonlik na musiek wat ons beskou as kuns, formeel en Westers. Teenoor klassieke musiek stel ons ander musiekgenres soos volksmusiek, popmusiek, jazz, blues, rock, en so aan. [Lees hier meer van musiekgenres.]
Die term “Klassieke musiek” (met die hoofletter) is die naam van musiek wat tydens ’n spesifieke era in die ontwikkeling van klassieke musiek gekomponeer is. 3
Die term met die kleinletter – “klassieke musiek” – is dus ’n sambreelterm, en onder hierdie indeling val daar 7 verskillende musiektydperke:
- Middeleeus (1150-1400)
- Renaissance (1400-1600)
- Barok (1600-1750)
- Klassiek (1750-1830)
- Vroeë Romantiek (1830-1860)
- Laat Romantiek (1860-1920)
- 20ste en 21ste eeu (1920 tot tans) 4
Die bekendste komponiste van die Klassieke tydperk was Mozart en Haydn. 4
Vroeë lewe
Haydn was die tweede seun van baie gewone ouers. Sy pa was ’n ambagsman en sy ma het in ryk mense se kombuis gewerk. Van kleins af was dit vir sy ouers duidelik dat hy buitengewone musiektalent gehad het, en ’n familielid van die Haydns wat ’n skoolhoof en koorleier in ’n nabygeleë stad was, het aangebied om die jong seun in sy huis te neem en hom op te lei. Haydn was toe nog nie eens ses jaar oud nie! 1
Die jong Haydn het in die kerkkoor gesing, verskeie instrumente leer speel en ’n goeie basiese kennis van musiek opgedoen. Toe hy agt jaar oud was, het die musiekhoof van die Sint Stefansdom in Wene hom hoor sing en hom genooi om in die koor van die Oostenrykse hoofstad se belangrikste kerk te kom sing. Haydn se ouers het die aanbod aanvaar, en Haydn is in 1740 Wene toe. Hy het nege jaar lank die koorskool bygewoon en ’n enorme praktiese kennis van musiek opgedoen, maar min onderrig in musiekteorie ontvang. Toe sy stem breek, is hy summier uit die katedraalkoor en die koorskool geskop. 1
Op 17 was hy sonder enige heenkome. Hy het geen geld, goed of blyplek gehad nie, en hy moes los werkies doen om aan die lewe te bly. Dit was jare van vreeslike swaarkry waarin hy saam met ’n ander musikant ’n kamer gedeel het. Maar hy het nie sy musiek prysgegee nie. Met groot moeite en toewyding het hy homself in musiek opgelei. 1
Sy harde werk is beloon. Hy het eers ’n pos gekry as begeleier van ’n Italiaanse sangmeester, toe is hy aangestel as ’n musikant in die hofhouding van ’n Oostenrykse adellike, en daarna het hy die leier geword van ’n orkes wat aan ’n Hongaarse prins behoort het. Uiteindelik het sy groot deurbraak gekom toe ’n ryk Oostenryker met die naam van prins Esterházy hom raakgesien het. 1
Ryk weldoener bring groot verandering
In daardie tyd het baie musikante hul bestaan gemaak deur patronaatskap (in Engels: patronage). Dit het beteken dat ’n ryk persoon met ’n hoë status die musikant in diens neem om permanent in die persoon se hofhouding musiek te maak en uit te voer. Soms moes die musikant ook musieklesse vir die weldoener en ander lede van die persoon se hofhouding gee. 5
Haydn het in 1761 so ’n patronaatskap by die Esterházy-familie gekry. Die Esterházys was ryk, en die hoof van die familie, prins Esterházy, was ’n groot musiekliefhebber. In 1766 het Haydn die kapelmeester geword. Hy het ’n uniform gedra en saam met die gesin van landgoed tot landgoed gereis. Sy werk was om musiek te skryf wat deur die Esterházys se voltydse orkes uitgevoer is. Dit het egter ook beteken hy moes musiek skryf waarvan die prins gehou het. Die prins het van opera gehou, daarom het Haydn in hierdie tyd baie operas geskryf. 5
In 1799, ná 28 jaar in diens van die Esterházy-familie, kon Haydn sy kontrak verander. Vantevore was al sy komposisies die eiendom van die Esterházys, maar van 1799 af het Haydn die reg gehad om musiek vir ander mense te komponeer en om sy komposisies aan uitgewers te verkoop. Kort daarna het Haydn minder opera en meer simfonieë en strykkwartette begin skryf, wat hy makliker kon verkoop. Sy musiek het gou deur Europa versprei en kort voor lank was hy die bekendste komponis in Europa. 5
Bekendste komposisies
Haydn het letterlik honderde stukke musiek gekomponeer, en baie van sy musiek is vandag nog bekend en gewild. Die paar hier onder is maar enkele van sy heel bekendste werke. By elkeen is daar ’n skakel na ’n uittreksel waarna jy op YouTube kan gaan kyk:
Die Skepping
’n Oratorium wat handel oor die skeppingsverhaal soos wat dit in Genesis vertel word. Kyk in hierdie video hoe die Audi-jeugkoor die bekende deel sing wat die woorde van Psalm 19 gebruik: “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.”
https://www.youtube.com/watch?v=QGojv8xO8ow&ab_channel=AudiJugendchorakademie
Strykkwartet in C-majeur, Op. 76 No 3 “Keiser”
Luister hier na die tweede deel van hierdie strykkwartet. As dit vir jou bekend klink, is dit waarskynlik omdat jy die melodie gehoor het by sportgeleenthede waaraan Duitsland deelgeneem het – dit is die melodie van die hedendaagse Duitse volkslied.
https://www.youtube.com/watch?v=mBmCcSz6HWw&ab_channel=SoundProfessionalBoston
Trompetkonsert
Hier speel die wêreldbekende Alison Balsom die derde deel van hierdie bekende werk.
https://www.youtube.com/watch?v=5drYSu_xORw&ab_channel=KiatMacPattaya
Latere lewe
Haydn het in 1802 sy laaste groot werk, sy sesde mis, voltooi. Daarna het sy gesondheid verswak, en teen 1803 kon hy nie meer komponeer nie. 5
Op 27 Maart 1808 het hy vir die laaste keer in die openbaar opgetree, by ’n uitvoering van Die Skepping, wat deur Beethoven, Antonio Salieri, ander komponiste, musikante en lede van die adelstand bygewoon is. Teen die pouse was hy só uitgeput dat hy moes huis toe gaan. 5
Op 26 Mei 1809 het Haydn drie keer die “Keiser”-melodie (sien hier bo) gespeel. Later die aand het hy inmekaargesak en vier dae later, op 31 Mei, is hy oorlede. ’n Gedenkdiens is op 15 Junie vir hom gehou waar sy vriend Mozart se Requiem uitgevoer is. 5
Nalatenskap
Haydn se grootste bydrae tot die musiekwêreld is dat hy wegbeweeg het van die swaar en komplekse styl van Barokmusiek, en ’n nuwe musiekstyl – Klassieke musiek – ontwikkel het. Sy werke was ligter, vroliker en meer gestruktureer, wat die weg gebaan het vir ander komponiste soos Mozart en Beethoven om ook hul unieke musiek te kon skryf. 1
Woordbank
ambagsman | Iemand wat ’n ambag verrig vir ’n inkomste – ’n smid, timmerman, messelaar, ens. |
frenoloë | ’n Pseudowetenskap wat ’n persoon se skedel bestudeer om die persoon beter te verstaan. |
heenkome | ’n Plek om te woon. |
hofhouding | Die huishouding van ’n adellike. |
kamermusiek | ’n Stuk musiek wat deur ’n klein groepie baie goeie musikante uitgevoer word en wat in ’n gewone vertrek (kamer) uitgevoer is eerder as in ’n konsertsaal. |
kapelmeester | Die naam van die pos wat ’n musikant in ’n hofhouding gehad het. |
klassieke musiek | Musiek wat beskou word as kuns; formele, Westerse musiek wat gewoonlik in konsertsale uitgevoer word. |
Klassieke musiek | ’n Styl klassieke musiek wat meer gestruktureerd was as Barokmusiek, wat hierdie era voorafgegaan het. |
komponiste | Iemand wat musiek komponeer (skryf). |
kwartet | ’n Stuk musiek wat deur vier spelers uitgevoer word. |
kwintet | ’n Stuk musiek wat deur vyf spelers uitgevoer word. |
mis | ’n Rooms-Katolieke kerkdiens. |
musiekgenres | ’n Soort musiek, soos klassieke musiek, popmusiek, rock, blues, ens. |
musikante | Iemand wat musiek maak, gewoonlik professioneel. |
oorskot | Die liggaam wat oorbly ná die dood. |
oratorium | ’n Stuk musiek wat gewoonlik deur ’n orkes, koor en soliste uitgevoer word en wat ’n storie vertel. Baie oratoriums het Bybelse temas. |
patronaatskap | ’n Posisie wat deur ’n ryk weldoener aan kunstenaars toegeken is, wat die kunstenaar in staat gestel het om deur kuns ’n bestaan te maak. |
simfonie | ’n Stuk musiek wat deur ’n orkes uitgevoer word, gewoonlik gestruktureer in drie of vier dele. |
strykkwartet | ’n Stuk musiek vir vier strykinstrumente. |
summier | Dadelik. |
trio | ’n Stuk musiek wat deur drie spelers uitgevoer word. |
Verbreed jou kennis met dié artikels
Kyk ook hierdie video’s
Hayden, die komponis