Vinnige feite

  • Lloyd Webber was net 19 jaar oud toe hy Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat geskryf het!
  • Andrew Lloyd Webber het twee kinders uit sy eerste huwelik met Sarah Hugill (Imogen Lloyd Webber, gebore in 1977, en Nicholas Lloyd Webber, gebore in 1979) en drie kinders uit sy huidige huwelik met Madeleine Gurdon (Alastair Lloyd Webber, gebore in 1992, William Lloyd Webber, gebore in 1993, en Isabella Aurora Lloyd Webber, gebore in 1996).
  • Sarah Brightman, die sanger en aktrise, was Andrew se tweede vrou. Hulle het ontmoet toe sy in 1981 by Cats aangesluit het. Hy het die karakter van Christine Daaé in The Phantom Of The Opera spesifiek vir haar geskryf.
  • Hy verjaar op dieselfde dag as ’n ander groot komponis, Stephen Sondheim. 5
  • Sy musiek is al in meer as 200 rolprente en televisieprogramme gebruik.

Andrew Lloyd Webber (gebore in 1948) is ’n Engelse komponis en teatervervaardiger (in Engels: theatrical producer) wie se vernuwende styl gehelp het om Britse en Amerikaanse musiekteater te laat herleef. 1 Hy het rockmusiek en moderne storielyne met tradisionele beginsels van musiekteater vermeng en daardeur mense weer lus gemaak om musiekteater by te woon. Met treffers soos Cats, Joseph and the Technicolour Dreamcoat, Evita en Phantom of the Opera het hy wêreldbekend geword. 2

Vroeë lewe

Andrew Lloyd Webber is op 22 Maart 1948 in Londen gebore. Lloyd Webber kom uit ’n musikale familie: sy pa was die direkteur van die London College of Music, sy ma was ’n klavieronderwyser en sy jonger broer, Julian, is ’n bekende tjellis. Hy was ’n wonderkind, en het vroeg in sy lewe reeds klavier, viool en die Franse horing gespeel. Op 6-jarige ouderdom het hy sy eie musiek begin skryf. 3

Hy wou eers ’n geskiedkundige word, daarom is hy ná skool na die Magdalen College aan die Universiteit van Oxford. Halfpad deur sy eerste jaar het hy egter besef musiek is eintlik sy roeping, en hy is toe na die Royal College of Music om daar verder te studeer. 3

In daardie jaar, toe hy net 17 jaar oud was, het hy ’n brief van ’n 21-jarige regstudent, Tim Rice, ontvang. Tim Rice het toe reeds die lirieke vir ’n paar popliedjies geskryf, en hy het gehoor Lloyd Webber soek na iemand wat moderne en hip-lirieke vir sy liedjies kon skryf. Só het die lang samewerking tussen Rice en Lloyd Webber begin. 3

Roemryke loopbaan in die musiekwêreld

Andrew Lloyd Webber en Tim Rice se eerste noemenswaardige onderneming was Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat (1968), ’n pop-oratorium vir kinders wat die storie van Josef in die Bybel op ’n vrolike, moderne manier vertel. Die oratorium het wêreldwyd gewild geword. Dit was die begin van ’n roemryke loopbaan. 1

Van Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat (1968) tot Cinderella (2021), is Lloyd Webber se werk nog aanmekaar op wêreldverhoë te sien. Voor die Covid-pandemie die wêreld getref het en alle sosiale byeenkomste tot stilstand gebring het, het Lloyd Webber vir 48 aaneenlopende jare vertonings in die West End (Londen se teaterdistrik) gehad. 4

Op Broadway (New York se teaterdistrik) het hy vir 41 agtereenvolgende jare vertonings gehad. Sy werk School of Rock was die eerste Britse musiekblyspel wat ’n wêreldpremière op Broadway gehad het. Toe Sunset Boulevard saam met School Of Rock, Cats en Phantom of the Opera op Broadway opgevoer is, het hy die bekende Rodgers en Hammerstein se rekord van vier vertonings gelyktydig op Broadway geëwenaar. 4

Hier onder is ’n lys (in stygende volgorde) van die toptien- musikale blyspele uit sy pen. Jy kan op die name van die trefferliedjies uit elkeen klik om na ’n opname daarvan te luister: 2

Love Never dies, die opvolg vir Phantom of the Opera, met die trefferliedjie “Love Never Dies”.

Aspects of Love, waaruit die trefferliedjie “Love Changes Everything” kom.

School of Rock, wat gebaseer is op die 2003-rolprent met Jack Black. Die treffer “Stick It to the Man” kom daaruit.

Cinderella, wat van die beste resensies van al sy blyspele gekry het, maar wat as gevolg van Covid moes sluit. Luister hier na “Bad Cinderella”.

Cats, wat gebaseer is op die bekende Britse skrywer T.S. Eliot se werk Old Possum’s Book of Practical Cats. Die blyspel is ook in ’n rolprent omskep, maar Andrew Lloyd Webber het glo niks van die rolprent gehou nie. Die blyspel het die treffer “Memory” opgelewer, wat aanvanklik deur Elaine Paige bekend gemaak is.

Sunset Boulevard, ’n verwerking van ’n 1950-rolprent met dieselfde naam. Die treffers “As If We Never Said Goodbye” en “With One Look” kom daaruit. Luister by die skakels hoe die bekende aktrise Glenn Close en Patti LuPone dit sing.

Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat se grootste treffer is ongetwyfeld “Any Dream Will Do”. Dié blyspel is later in ’n rolprent omskep, en jy kan by die skakel luister hoe die bekende Donny Osmond dit sing.

Die rock-opera Evita is gebaseer op die lewe van die kontroversiële Argentynse presidentsvrou Eva Perón. Die grootste treffer daaruit is “Don’t Cry For Me, Argentina” en jy kan by die skakel na die rolprentweergawe daarvan luister waar dit deur Madonna gesing word.

Jesus Christ Superstar was nog ’n rock-opera wat hy saam met Tim Rice geskryf het. Dit is gebaseer op die lewe van Jesus en het heelwat kontroversie veroorsaak toe dit aanvanklik opgevoer is. Die trefferlied “Gethsemane” word beskou as een van die uitdagendste solo’s vir ’n manlike solis in ’n musiekblyspel.

The Phantom of the Opera, die suksesvolste Britse musiekblyspel ooit. Luister by die skakels na die treffers “The Phantom of the Opera”, “The Music of the Night” en “All I Ask of You”.

Die bekende traptoneel in The Phantom of the Opera.

Afgesien van musiekblyspele, het hy ook ’n ernstige werk, Requiem, geskryf. ’n Requiem is ’n mis wat tydens ’n begrafnisdiens in ’n Rooms-Katolieke kerk uitgevoer word. Die baie bekende “Pie Jesu” kom uit hierdie werk.

‘n Dansuitvoering in Requiem.

Toekennings en titels

Andrew Lloyd Webber is een van die uitgelese groep kunstenaars met EGOT-status. EGOT is ’n akroniem wat staan vir Emmy, Grammy, Oscar en Tony – die vier belangrike toekennings wat kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf kan wen.

Andrew Lloyd Webber het een Emmy, vier Grammys (insluitend Beste Kontemporêre Klassieke Komposisie vir Requiem), ’n Oscar (vir die musiek in die rolprent Evita) en agt Tony-toekennings (insluitend die 2018 Spesiale Tony vir Lewenslange Prestasie in die Teater) ontvang. Hy het ook sewe Oliviers (’n Britse toekenning vir teater) en ’n Golden Globe gewen. Sy eerbewyse sluit ’n Classic Brit-toekenning vir uitstaande bydrae tot musiek, die Praemium Imperiale, die Richard Rodgers-toekenning vir uitnemendheid in musiekteater, ’n BASCA-genootskap en die Kennedy-sentrum-eerbewys in. 4

Andrew Lloyd Webber is in 1992 tot ridder geslaan en het in 1997 ’n ere-lewensaristokraat (in Engels: honorary life peer) geword. Sy amptelike titel is nou “baron”. Ter viering van sy 70ste verjaardag is sy topverkoper-outobiografie Unmasked in Maart 2018 deur Harper Collins gepubliseer. 4

Nalatenskap

Andrew Lloyd Webber se grootste bydrae tot musikale teater is ongetwyfeld sy vermoë om tradisionele teaterbeginsels en klassieke musiekstyle met moderne idees en musiektendense te vermeng. Sy blyspele is ’n suksesvolle kombinasie van treffermusiek, goeie storielyne, vermaaklike lirieke, dans, dekor en ligvertonings, en het dikwels die gehoor op hul voete. 1

Maar hy het meer vir die teater gedoen as net musiek geskryf. Hy het ook sy eie vertonings vervaardig, insluitend Cats en The Phantom of the Opera. Hy was ook die vervaardiger vir die baanbrekerswerk Bombay Dreams, wat die dubbele Oscar-bekroonde Bollywood-komponis A.R. Rahman aan die Westerse verhoog bekendgestel het. Ander produksies sluit in die Olivier-bekroonde Daisy Pulls It Off en La Bete, die London Palladium-produksie van The Sound Of Music en The Wizard of Oz. 4

Hy besit self ses teaters in Londen, insluitend die ikoniese London Palladium en Theatre Royal in Drury Lane. Laasgenoemde is volledig gerestoureer en opgeknap teen ’n koste van meer as £60 miljoen (sowat R1,4 miljard). Dit is een van die grootste projekte wat nog ooit deur ’n private teatereienaar aangepak is. Sy beginsel is dat elke sent wins wat uit sy teaters gemaak word, in die teaters self teruggeploeg word. 4

Lloyd Webber is ook passievol oor musikale opvoeding en diversiteit in die kunste. Die Andrew Lloyd Webber-stigting verskaf elke jaar 30 beurse vir uitvoerende kunste aan talentvolle studente met finansiële behoeftes en ondersteun ’n reeks projekte soos die Music in Secondary School Trust en navorsing oor diversiteit in teater. 4

Binne die teater van die Andrew Lloyd Webber-stigting.

Woordbank

Broadway New York se teaterdistrik.
diversiteit Uiteenlopendheid; verskille, dikwels met betrekking tot ras.
Franse horing ’n Koperblaasinstrument wat besondere vaardigheid verg om te bemeester.
hip Byderwets; wat byval vind by jongmense.
kontroversiële Wat aanleiding kan gee tot twis en onenigheid.
musiektendense Musiekneigings/-modes.
oratorium ’n Musikale werk wat gebaseer is op ’n Bybelse verhaal.
outobiografie ’n Biografie wat deur die persoon self geskryf is.
teatervervaardiger Iemand wat die geld gee sodat ’n teaterproduksie opgevoer kan word.
tot ridder geslaan Dit is ʼn eerbewys wat deur die koning of koningin van Engeland gegee word vir ʼn persoon wat baie goed presteer; die persoon ontvang ridderskap. Dié persoon kry dan die titel “sir” voor sy naam.
uitdagendste Wat die meeste uitdagings stel.
uitgelese Die eienskap van mense dat hulle baie besonders is.
uit sy pen Deur hom geskryf/gekomponeer.
uitvoerende kunste Kunsvorms wat uitgevoer word, soos musiek, dans en dramas.
wêreldpremière Die eerste uitvoering ooit van ’n bepaalde werk.
West End Londen se teaterdistrik.
wonderkind ’n Kind wat op ’n baie vroeë ouderdom in staat is om musiek te maak of te skryf wat eintlik deur volwassenes voortgebring behoort te word.

Verbreed jou kennis met dié artikels

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wie is Andrew Lloyd Webber? 

Die geskiedenis van die musiekblyspel

Kom neem jou sitplek in en kyk saam na Joseph and His Amazing Technicolour Dreamcoat

Gepubliseer op: 12 Maart 2024 | Bygewerk op 15 April 2024