Vinnige feite
- Die komponis Mendelssohn het Chopin as ’n volmaakte musikus beskryf.
- Feitlik al Chopin se komposisies is vir die klavier geskryf; die enigste musiek wat verskil, is ’n trio – drie stukke vir tjello en klavier, ’n stel variasies vir fluit en klavier, en 17 Poolse liedere.
- Een van die ballades wat Chopin gekomponeer het, is nege minute lank. Hy het vier jaar aan hierdie nege minute gewerk!
- Chopin was vriende met heelwat komponiste, soos Franz Liszt, Vincenzo Bellini en Felix Mendelssohn.
- Chopin word as Pole se voorste komponis gereken.
- Mozart se bekende Requiem in D-mineur is by Chopin se begrafnis opgevoer.
- Chopin was ’n groot aanhanger van Bach se musiek.
- Sand se skoonseun, Clésinger, het ’n beeldhouwerk van Chopin vir sy graf gemaak. 1
- Chopin het sy eerste gepubliseerde musiekstuk, Opus I, Rondo in C-mineur, aan sy skoolhoof se vrou opgedra. Dr. Samuel Bogumil von Linde was die hoof van die Warskou-liseum, en sy vrou was ’n goeie pianis. Die jong Chopin het graag saam met haar duette op die klavier gespeel. 5
Frédéric Chopin (1810-1849) word as ’n musikale genie beskryf en as een van die beste komponiste van klaviermusiek gereken. Hy was só bedrewe op die klavier dat mense hom die “digter van die klavier” genoem het. Chopin het verskeie briljante stukke gekomponeer, wat wissel van polonaises tot walse, ballades, nokturnes en études.
Grootwordjare
Fryderyk Franciszek is op 1 Maart 1810 in Żelazowa Wola, ’n dorpie naby die stad Warskou in Pole, gebore. Sy naam is later tot Frédéric François verfrans. Sy pa, Nicholas, was ’n Fransman wat na Pole geëmigreer het, en sy ma, Justyna Krzyzanowska, was Pools. Frédéric se gesin het ’n paar maande ná sy geboorte na Warskou getrek. Chopin was die enigste seun en het ’n ouer suster, Ludwika (Louise), en twee jonger sussies, Izabela en Emilia, gehad. Sy jongste sussie is dood toe sy slegs 14 jaar oud was.
Chopin se pa, Nicholas, was aanvanklik ’n privaat onderwyser vir aristokratiese gesinne en het later ’n onderwyser by die Warskou-liseum geword. Chopin was van 1823 tot 1826 in dieselfde skool. 1
Chopin was van babatyd af mal daaroor as sy ma of oudste suster klavier gespeel het. Sy pa was ook musikaal en kon die fluit en viool bespeel. Chopin het later probeer om die klanke na te boots en om nuwe deuntjies op te maak. Sy suster Louise het hom aanvanklik geleer om klavier te speel, en hy het op die ouderdom van ses begin om musieklesse by die 61-jarige Wojciech Zywny te neem. Zywny het besef hy kan vir Chopin nie veel van klavierspel leer nie en het hom eerder aan die werke van musiekmeesters soos Bach, Haydn en Mozart bekendgestel. Chopin het egter gou sy eie manier van klavierspeel ontdek en was nie mal oor te veel reëls wat sy musiek aanbetref nie.
Mense het sy talent raakgesien en hy is genooi om by privaat partytjies op te tree. Hy was slegs agt jaar oud toe hy in sy eerste groot konsert opgetree het, en drie jaar later het hy vir die Russiese tsaar Alexander I opgetree. 2
Chopin het egter nie net op die verhoog uitgeblink nie. Sy Opus I, Rondo in C-mineur is gepubliseer toe hy 15 jaar oud was, maar hy het reeds tevore klavierstukke gekomponeer. Hy het ook ’n mars gekomponeer wat die Russiese groothertog Konstantyn só beïndruk het dat hy sy militêre orkes gevra het om dit tydens ’n parade te speel. Ander polonaises, masurkas, variasies, écossaises en ’n rondo het gevolg.
Hy het op 16-jarige ouderdom sy skoolopleiding voltooi en daarna verder by die Warskou-musiekkonservatorium studeer. Die konservatorium was onder die beheer van die Poolse komponis Joseph Elsner. Elsner was baie beïndruk met Chopin se talent.
Reise as pianis
Chopin het as 19-jarige twee suksesvolle konserte in Wene, Oostenryk, gehou, en hy het besef dat mense daarvan hou as hy Poolse volksmusiek met sy unieke klavierstyl meng. Hy het op 17 Maart 1830 sy Concerto no. 1 met groot sukses in Warskou uitgevoer, en ’n paar maande later het hy sy tweede concerto daar opgevoer. 1
Daar was in daardie tyd groot politieke drama in Pole. Pole is toentertyd deur die Russe regeer, en Poolse burgers het in opstand teen die regeerders gekom. Die opstand het misluk, en Warskou is onder streng militêre beheer geplaas.
Chopin het besluit om Parys toe te gaan, wat beskou is as die kern van die destydse Romantiek of Romantiese tydperk. Hy het eers na Oostenryk gereis en van daar af na Duitsland en toe na Parys in Frankryk. Chopin het die res van sy lewe in Parys deurgebring, en die Franse was mal oor hom. Hy het privaat lesse bo konserte verkies en groot aansien daar geniet. 3
Verhoudings
Chopin was nooit getroud nie, maar het liefdesverhoudings met die sangeresse Konstancja Gladoqska en Delfina Potocka, en die pianis Maria Wodzinska gehad. 1
Chopin het ’n lang liefdesverhouding met die Franse romanskrywer Amantine Lucile Aurore Dupin gehad. Sy het onder die naam George Sand geskryf. Hulle het tyd in Majorka in Spanje deurgebring, en dit was daar wat Chopin siek geword het. Hy het in 1839 na Marseille in Frankryk gereis, waar hy vir sy swak gesondheid behandel is. Die paartjie het daarna in Sand se huis in die platteland gaan bly, en die volgende sewe jaar was baie gelukkig en produktief vir Chopin. Hy het verskeie meesterstukke gekomponeer, wat sy Sonate in B-mineur, die nokturne Opus 55 en die masurka Opus 56 insluit.
Teen die middel van die 1840’s het Chopin se gesondheid en sy verhouding met Sand agteruitgegaan. Sy gedrag het ook glo eienaardig geword, en daar word vandag gedink dat hy dalk ’n vorm van epilepsie gehad het. Sand en Chopin se verhouding het in 1848 geëindig. Sand het blykbaar hom ook as ’n karakter in haar boek Lucrezia Floriani gebruik en hom só in ’n slegte lig gestel. Chopin het daarna konserte in Brittanje gehou, waar hy onder andere voor koningin Victoria opgetree het. Sy laaste openbare vertoning was in Manchester, en meer as 2 000 mense het dit bygewoon.
Chopin se dood en nalatenskap
Hy het na Parys teruggekeer, maar op 17 Oktober 1849 aan tuberkulose gesterf. Hy was slegs 39 jaar oud. Sy suster Louise en ’n paar Poolse vriende was glo by hom in sy laaste ure. Hy is by die Père Lachaise-begraafplaas tot ruste gelê, maar sy hart is glo by ’n kerk in Warskou begrawe. 4
Chopin het slegs ’n paar concerto’s en sonates geskryf. Hy het meer van vryer musikale vorms gehou. Hy het onder meer 50 masurkas, 26 preludes, 24 études, 19 nokturnes, 15 walse, 11 polonaises, vier ballades en drie sonates geskryf. Poolse volksmusiek was die inspirasie vir sy polonaises en masurkas.
Woordbank
aristokratiese | Wat met mense van ’n hoër stand of adellikes te doen het. |
ballades | ’n Musiekstuk met ’n sekere dramatiese en emosionele karakter. |
concerto | ’n Werk in simfoniese vorm, gewoonlik met drie bewegings, vir een of hoogstens drie soliste met ’n orkes. |
écossaises | ’n Lewendige, historiese dans in 2/4-maat. |
epilepsie | ’n Senuweesiekte wat deur stuiptrekkings gekenmerk word. |
études | ’n Musiekstuk wat ten doel het om tegniese vaardighede te ontwikkel. |
groothertog | Dit was, in sekere lande, die titel van die regeerder net onder ’n koning. |
liseum | ’n Skool vir middelbare onderwys in Europese lande. |
masurkas | ’n Poolse volksdans in drieslagmaat met ’n kenmerkende ritme. Daar is ’n sterk klem op die tweede maatslag, en dit is ’n baie lewendige dans. |
nokturnes | Nagmusiek. Dromerige en vloeiende musiek, gewoonlik vir een instrument, maar ook vir die stem en groter ensembles. |
parade | Die tentoonstelling van troepe/wapens. |
polonaises | ’n Stadige, Poolse dans in drieslagmaat. |
preludes | ’n Instrumentale werk wat as inleiding tot ’n komposisie dien. |
rondo | ’n Vorm met ’n tema wat gewoonlik drie maal herhaal word. |
sonates | ’n Komposisie vir een of hoogstens twee instrumente, in sy algemeenste vorm bestaan dit uit minstens drie of vier bewegings. |
tsaar | ’n Titel van ’n Slawiese vors, veral ’n Russiese keiser. |
tuberkulose | ’n Besmetlike siekte wat deur bakterieë veroorsaak word en wat veral gekenmerk word deur gewigsverlies, ’n gehoes, koors en die vorming van knoppies in die longe. |
variasies | Die omvorming van ’n tema terwyl dit steeds herkenbaar bly. Die veranderinge is harmonies of ritmies. |
walse | ’n Dans wat uit die 18de eeu ontwikkel het tot ’n vorm wat in die 19de of 20ste eeu deur feitlik elke komponis beoefen is. Daar is ’n sterk klem op die eerste maatslag. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Chopin se musiek
Die lewe van ‘n musiekgenie
Die storie van Chopin in sketse
Wat is die verskil tussen die wals en masurka?