Vinnige feite

  • Einstein is in 1952 deur die Israelse eerste minister David Ben-Gurion gevra om die president van Israel te word. Al was die rol van president net seremonieel van aard (die eerste minister het die uitvoerende mag gehad), het Einstein dit van die hand gewys omdat hy gevoel het dat hy nie genoeg ervaring gehad het om met mense te werk nie. 24
  • Volgens Denis Brian se boek Einstein: A Life was Einstein se kop by geboorte baie geswel en was hy só oorgewig dat sy ouma geskreeu het: “Heeltemal te vet! Heeltemal te vet!” 25
  • Daar is al dikwels berig oor kinders wat glo ʼn hoër IK as Einstein het, maar IK-toetse was nog in die beginstadium toe Einstein sy baanbrekerswerk gedoen het. Niemand weet of sy IK ooit getoets is nie. ʼn Telling van 132 of hoër plaas ʼn persoon in die uiters begaafde-kategorie (net 2% van die wêreldbevolking val in dié kategorie). Einstein se IK word op 160 gereken, hoewel dit onduidelik is waarop dié skatting gegrond is. 26
  • Het jy geweet Einstein kon modeontwerp op sy CV ingesluit het? Einstein het ʼn bloes met twee stelle knope ontwerp wat gestel kon word soos die persoon wat dit dra, gewig verloor of optel. 27
  • Einstein het in sy loopbaan meer as 300 navorsingstukke en 150 niewetenskaplike werke gepubliseer. Die eerste was op 16-jarige ouderdom oor die kompas en die magnetiese veld. 28
  • Hoewel hy nie kon swem nie, was hy mal daaroor om te seil. Einstein, wat tydens sy studies in Zürich op seilvaart versot geraak het, het dié stokperdjie deur sy hele lewe beoefen en sou dikwels met ʼn bootjie op ʼn meer vaar, al kabbelend in sy notaboek krabbel, of sommer net ontspan en peins (nadink). 29
  • Einstein het nooit sokkies (kouse) gedra nie. Toe hy ʼn seuntjie was, het sy groottoon gereeld ʼn gaatjie in sy sokkie gedruk. Dit was vir hom ongemaklik en irriterend, en hy het gevolglik besluit: basta met dié kouskaskenades! 30
  • Hoewel die Scott Paper Company van Pennsylvania in die VSA weggooibare papierhanddoeke in 1907 bekendgestel het as ʼn meer higiëniese alternatief vir materiaalhanddoeke, het Einstein reeds in sy heel eerste fisika-artikel wat ooit gepubliseer is, geskryf oor die verskynsel wat papierhanddoeke in staat stel om vloeistowwe op te suig (absorbeer), selfs wanneer swaartekrag die vloeistof afwaarts wil laat beweeg. 31
  • Op 6 Augustus 1945 het die Enola Gay-bomwerper (ʼn spesiale soort vliegtuig) van Amerika die eerste atoombom genaamd Little Boy op Hirosjima laat val. Drie dae later, met nog geen oorgawe deur Japan in sig om ʼn einde aan die Tweede Wêreldoorlog te bring nie, is die Fat Man-bom op 9 Augustus op Nagasaki gegooi. Die twee bomme saam het meer as 100 000 mense doodgemaak en die twee Japannese stede met die grond gelykgemaak. 32

As iemand jou ʼn Einstein noem, kan jy jouself gerus ʼn klop op die skouer gee, want dit beteken jy is superslim! Albert Einstein se naam is sinoniem met die woord genie.

Hoewel dié merkwaardige man met sy kenmerkende woeste bos grys hare se IK (ʼn toets of maatstaf wat gebruik word om te bepaal hoe intelligent of slim iemand is) nie bekend is nie, word hy as een van die slimste mense ooit beskou. Sy uitvindings het die wêreld van wetenskap vir altyd verander en byna almal ken vandag sy bekende en baanbrekersformule E = mc2.

Wie was dié slimkop wat kleintyd die bynaam “die dom een” gehad het en in 1999 as die tydskrif Time se persoon van die eeu aangewys is? 9

Geboorte en kinderjare

Albert Einstein is op 14 Maart 1879 in Ulm, Duitsland, as die enigste seun van ʼn Joodse middelklasgesin gebore. Sy pa, Hermann Einstein, wat aanvanklik verebeddens verkoop het, het ʼn elektrochemiese maatskappy in München bedryf en was sag en stil. Sy ma, Pauline Koch, was ʼn huisvrou (of tuisteskepper) met ʼn borrelende persoonlikheid. Toe Albert twee jaar oud was, is sy sussie Maria (wat ook Maja genoem is) gebore. 1

Albert en Maja Einstein

Anders as wat ʼn mens van ʼn briljante persoon soos Einstein sou verwag, was hy nie ʼn wonderkind wat op tweejarige ouderdom al kon lees en op vier ingewikkelde (moeilike) somme kon doen nie. Hy het eers laat begin praat en toe hy uiteindelik begin praat het, het hy sinne oor en oor herhaal. Hy het selfs in ʼn stadium die bynaam “die dom een” (der Depperte) gehad!

Abraham en Helen Einstein, oupa en ouma van Albert Einstein

Dit was vir die klein Einstein baie lekkerder om op sy eie as saam met kinders van sy eie ouderdom te speel. Hy het daarvan gehou om hoë torings met speelkaarte (tot 14 vlakke hoog!) en ingewikkelde strukture met blokkies te bou. Hy het dit ook baie geniet om boeke oor wiskunde te lees, somme te doen en legkaarte te bou. 2

Einstein se ma, Pauline

Ma Pauline het hom aan musiek, een van sy gunstelingtydverdrywe, bekendgestel. Hoewel Pauline ʼn goeie klavierspeler was, was dit Mozart se musiek wat Einstein geïnspireer het om viool te leer speel. Musiek was reg deur sy lewe vir hom ʼn toevlug. Hy het hom dikwels in sy latere lewe tot musiek gewend as hy met ʼn moeilike probleem gestoei het. “As ek nie ʼn wetenskaplike geword het nie, sou ek graag ʼn musikant wou word,” het Einstein gesê. “Ek dink dikwels in musiekterme, my dagdrome draai om musiek; ek sien my lewe in terme van musiek.” 3

Einstein speel viool tydens die liefdadigheidskonsert in die Nuwe Sinagoge in Berlyn, 1930

Net soos musiek ʼn groot invloed op die koers (rigting) van sy lewe gehad het, het ʼn kompas – wat Einstein se pa vir hom gegee het om mee te speel toe hy op vyf of ses siek geword het – ʼn geweldige indruk op hom gemaak. Einstein het vertel dat dié kompas die rede was waarom hy vir die res van sy lewe probeer het om die onbekende te verklaar. 4

Vyfjarige Einstein

Skool- en studiejare

Die eerste skool wat hy in Duitsland bygewoon het, was ʼn Rooms-Katolieke skool. Hoewel die onderwysers hom regverdig behandel het, is Einstein deur die kinders gespot omdat hy Joods was. Einstein het nie (soos sommige mense beweer) wiskunde gedruip nie. Inteendeel, as hy vandag geleef het, sou hy heel moontlik ʼn akademiese sertifikaat vir wiskunde én wetenskap ontvang het! Hy het egter nie so goed in tale gevaar nie. 2

Einstein se sluitkas

Op skool was Einstein nogal rebels, waarskynlik omdat hy so intelligent (slim) was. Kommunikasie met ander was egter vir hom ʼn groot remskoen (struikelblok). Einstein het sy unieke vermoë (aanleg) om moeilike probleme te ontrafel (op te los) én nuwe idees uit te dink, aan sy uitdagende kinderjare toegeskryf. Hy was dalk syferslim, maar in sy eie woorde was hy eintlik ʼn prentjiemens wat beelde bo woorde verkies het as hy iets moes verduidelik. 2

In 1894 misluk pa Hermann se sakeonderneming en die gesin trek sak en pak Italië toe. Einstein bly aanvanklik alleen in die koshuis agter om sy skoolloopbaan te voltooi, maar dit was vir hom ʼn moeilike tyd. Hy raak baie depressief en besluit dieselfde jaar nog om eerder by sy gesin in Italië aan te sluit. 2

Einstein het net tot op sestienjarige ouderdom formele skoolopleiding ontvang. Hy wou graag aan die tegniese kollege (soos ’n universiteit) Eidgenössische Polytechnische Schule (die Swiss Federal Polytechnic School wat later hernoem is as die Federale Instituut vir Tegnologie of FIT) in Zürich, Switserland studeer, maar sy kennis van ander vakke as wiskunde was nie op peil (standaard) nie, en hy het die toelatingseksamen gedruip. 5

Hy besluit toe om eers sy diploma (soos ʼn matrieksertifikaat) aan die Cantonal-skool in Aarau, Switserland, te verwerf en in 1896 word hy tot die FIT toegelaat. Hier het hy besef dat hy meer in fisika as wiskunde belanggestel het. 6

Albert Einstein se huwelike

Hy was net 17 jaar oud toe Albert Einstein en Mileva Marić, ’n 20-jarige fisika- en wiskundestudent uit Serwië, in Zürich ontmoet het. Hulle was gou baie geheg aan mekaar en Mileva het swanger geraak. In daardie tyd was dit ʼn groot skande om ʼn kind te hê sonder dat die ouers getroud was. Einstein wou aanvanklik nie trou nie en Mileva skenk in haar geboorteland (Serwië) geboorte aan ʼn dogtertjie met die naam Liserl. Daar kan nie met sekerheid presies gesê word wat met Liserl gebeur het nie, maar geskiedkundiges glo sy is waarskynlik as ʼn kleuter aan skarlakenkoors oorlede. 7

Albert Einstein en sy vrou, Mileva Maric

Die spanning van Liserl se geboorte het Mileva só beïnvloed dat sy nie die eindeksamen slaag nie. In 1903 trou Einstein wel met Mileva en hul eerste seun, Hans Albert, is ʼn jaar daarna gebore. Terwyl Einstein sy wetenskaplike loopbaan voortgesit het, was Mileva glo jaloers en depressief omdat sy by die huis moes bly en na die huishouding omsien. Mileva en Einstein dryf al meer uitmekaar en selfs die geboorte van hul tweede seun, Eduard, kon nie die huwelik red nie. 8

In 1912 het Albert ʼn verhouding met sy niggie Elsa Einstein aangeknoop. Elsa was nie net sy niggie aan moederskant nie (hulle ma’s was sussies), maar Elsa se pa, Rudolf Einstein, was ook Albert Einstein se pa se neef! Einstein en Mileva het reeds vir ʼn paar jaar nie meer saamgewoon nie en Mileva stem tot ʼn egskeiding in op voorwaarde dat sy die prysgeld kon kry indien Einstein ooit die Nobelprys sou wen. 9

Albert en Elsa Einstein

In 1919 is Einstein en Elsa getroud. Sy het drie kinders, twee dogters en ʼn seun, uit haar vorige huwelik met Max Lowenthal gehad. Haar seun is baie jonk dood. Ná die opkoms van Nazisme in Duitsland besluit Einstein en Elsa in 1933 om na die universiteitsdorp Princeton in Amerika te verhuis. Kort ná hulle aankoms daar kry Elsa nuus dat haar oudste dogter, Ilse, baie siek is aan kanker. Sy reis na Parys om haar dogter by te staan, maar keer weer na Princetown terug ná Ilse se dood. Elsa sterf kort hierna in 1935. 10

Akademiese loopbaan

Net nadat Einstein by die FIT as wiskunde- en wetenskaponderwyser gegradueer het, wou hy graag ʼn dosent by ʼn universiteit word waar hy sy akademiese loopbaan kon voortsit. Omdat hy so baie klasse gemis het, wou die professors by dié tegniese kollege egter nie vir hom goeie verwysings of aanbevelingsbriewe gee nie. Hy kry ʼn pos as ʼn hoërskoolonderwyser, maar dit het nie lank gehou nie. Uiteindelik kry hy ʼn pos as klerk by die patentekantoor in Bern, Switserland in 1902. Sy pa sterf kort hierna. Einstein het later gesê dat dit vir hom een van die hartseerste dinge in sy lewe was dat sy pa nie geleef het om te sien hoe hy ʼn sukses van sy lewe maak nie. 11

Albert Einstein tydens ‘n lesing in Wene in 1921

Einstein het vir die volgende sewe jaar in die patentekantoor gewerk waar hy genoeg tyd gehad het om aan sy idees en teorieë oor lig, materie, swaartekrag, tyd en ruimte te skaaf. In 1905 verwerf hy ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van Zürich. Hierna volg ʼn uiteenlopende akademiese loopbaan as dosent: In 1908 is hy as dosent in Bern aangestel; in 1909 word hy ʼn buitengewone professor in Zürich; in 1911 professor in teoretiese fisika in Praag; en hy keer in die volgende jaar terug na Zürich om ʼn soortgelyke pos te vul. In 1914 word hy aangestel as direkteur van die Kaiser Wilhelm Fisiese Instituut en professor aan die Universiteit van Berlyn. Hy word in dié jaar ook ʼn Duitse burger en woon tot in 1933 in Berlyn toe hy sy burgerskap om politieke redes prysgee en na Amerika geëmigreer om die pos van professor in teoretiese fisika aan Princeton te beklee. Hy word in 1940 ʼn Amerikaanse burger en tree in 1945 uit sy pos. 12

Sy ‘wonderwerkjaar’

Einstein se grootste bydrae aan die mensdom is sekerlik dat hy ons anders laat dink oor die wêreld om ons. In wat sy wonderwerkjaar in 1905 genoem word, publiseer hy vier artikels wat die basis van al sy latere werk was.

Hierdie artikels het oor die volgende onderwerpe gehandel:

Die fotoëlektriese effek het bewys dat lig nie ʼn aaneenlopende golf is nie, maar saamgestel is uit fotone of klein deeltjies energie wat Einstein quanta genoem het. Dié idee is aanvanklik deur die wetenskaplike gemeenskap, onder andere die meeste groot fisici van die tyd, verwerp. Dit was eers baie jare later, in 1919, toe eksperimente die akkuraatheid van Einstein se teorie getoon het. Toe Einstein in 1921 met die Nobelprys bekroon is, is sy werk oor die fotoëlektriese effek spesifiek uitgesonder. Vandag is die foton ʼn fundamentele (baie belangrike) deel van moderne fisika. 13

Die Brown-beweging, wat die eerste keer in 1827 deur die plantkundige Robert Brown deur die lens van ʼn mikroskoop raakgesien en beskryf is, is die onreëlmatige (dit verander die heeltyd) beweging van partikels (of deeltjies) in ʼn vloeistof of gas as gevolg van molekulêre aksie. Brown het nie geweet hoekom dit gebeur nie, maar Einstein het die antwoord op dié vraag gevind met sy teorie dat alle materie uit atome en molekules bestaan. 14

Die spesiale relatiwiteitsteorie het verskeie splinternuwe konsepte opgelewer, insluitend die idee dat tyd, massa en ruimte nie konstant (dieselfde) is vir voorwerpe wat teen verskillende snelhede (spoed) beweeg nie. Dink só daaraan: Gestel ʼn tennisbal sweef in ʼn leë spasie rond. Hoe weet jy of dit beweeg of nie? ʼn Mens weet nie! As jy egter ʼn krieketbal by die tennisbal in dieselfde ruimte sit, kan jy sien of die tennisbal nader aan die krieketbal kom of verder weg beweeg. Dit is hoekom dit relatiwiteit genoem word. Die beweging van een ding is altyd relatief tot die beweging van iets anders. Spesiale relatiwiteit sê ook dat lig altyd teen dieselfde spoed beweeg, naamlik 300 000 km per sekonde. 15

Die wêreld se bekendste vergelyking, E = mc2 toon die verband tussen die spoed van lig (c), massa (m) en energie (E) aan. Dit het die grondslag van die eerste atoombom en die moderne kernbedryf gevorm en bewys dat ʼn enorme hoeveelheid energie vrygestel word wanneer massa in energie omgesit (omgeskakel) word. 14

ʼn Groot bevestiging van Einstein se werk het in 1919 gekom toe sir Arthur Eddington, sekretaris van die Koninklike Astronomievereniging (Royal Astronomical Society), ʼn ekspedisie na Afrika gelei het om die posisie van sterre tydens ʼn totale sonsverduistering te meet. Die groep het bevind dat die sterre verskuif het volgens die buiging van lig rondom die son – net soos Einstein voorspel het. 16

Hoewel Einstein die bekendste vir sy relatiwiteitsteorie is, het hy in 1921 die Nobelprys vir Fisika vir sy ontdekking van die fotoëlektriese effek ontvang. Einstein was nie baie ingenome daaroor dat die Nobelpryskomitee niks oor sy relatiwiteitsteorie gesê het nie en besluit om eerder na Japan te reis as om dié gesogte prys in Swede in ontvangs te neem. Tydens sy aanvaardingstoespraak later daardie jaar praat hy met opset oor relatiwiteit en nié die fotoëlektriese effek nie. 17

Die atoombom en die Teorie van Alles

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 uitgebreek toe Nazi-Duitsland Pole binnegeval het. In dieselfde tyd het Leo Szilard, een van Einstein se vriende, besef dat ʼn mens (op grond van Einstein se E = mc2-formule) ʼn verskriklik kragtige bom met uraan kan maak en ʼn kernreaksie kan veroorsaak. Hy het besef dat niemand na hom gaan luister nie en spoor Einstein op om dié dilemma aan hom te verduidelik. Einstein stem met Szilard saam dat dit beslis moontlik is en albei vrees dat Duitsland dalk al reeds só ʼn bom vervaardig het om in die oorlog te gebruik. 18


Albert Einstein saam met vriende Conrad Habicht en Maurice Solovine, 1903

Einstein en Szilard het besef wat ʼn vernietigende wapen soos ʼn atoombom in die hande van die Nazi’s kon doen, en skryf ʼn brief aan die Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt waarin hulle hul bekommernisse uiteengesit het. Met die lees van die brief het Roosevelt met geheime navorsing oor kernwapens begin (dit is die Manhattan-projek genoem). Die VSA ontwikkel die atoombom én gebruik dit in 1945 teen Japan in Hirosjima en Nagasaki. Ná die verwoestende aanval teen Japan het Einstein en Szilard die Noodkomitee van Atoomwetenskaplikes gevorm om te probeer verhoed dat só ʼn bom ooit weer in oorlogvoering gebruik word. 19

Albert Einstein in sy woonstel saam met violis, Bronislaw Huberman, Maart 1937

Ná sy aftrede uit die akademie in 1945 werk Einstein in sy laaste jare aan die Teorie van Alles (Theory of Everything) waarin hy probeer om ʼn teorie te ontwikkel wat alle velde van die fisika (kwantum- en klassieke fisika) verduidelik. Waar klassieke fisika gaan oor die beweging van groot objekte (voorwerpe) deur middel van swaartekrag, poog kwantumfisika om die beweging van klein deeltjies waarvan die groot objekte gemaak is, te beskryf. Hierdie soeke na ʼn omvattende teorie isoleer Einstein in sy laaste jare van ander wetenskaplikes wat nie dink dat só ʼn teorie moontlik is nie. 19

Einstein en Robert Oppenheimer by die Instituut vir Gevorderde Studie
Albert Einstein en ‘n Salvation Army-orkes, Pasedena

Die bekende Britse wetenskaplike Stephen Hawking se werk het later jare heelwat op dié teorie van Einstein voortgebou. 20

Albert Einstein saam met die Yamamoto-familie in 1922

Vyf van Einstein se gewilde aanhalings

  1. “Daar is net twee maniere om jou lewe te lei: ʼn Mens kan leef asof niks ʼn wonderwerk is nie, of ʼn mens kan leef asof alles ʼn wonderwerk is.”
  2. “As jy iets nie aan ʼn sesjarige kan verduidelik nie, verstaan jy dit nie self nie.”
  3. “Verbeelding is belangriker as kennis. Kennis is beperk, maar verbeelding omring die wêreld.”
  4. “Die lewe is soos fietsry. Om jou balans te behou, moet jy aanhou beweeg.”
  5. “Enigiemand wat nog nooit ʼn fout gemaak het nie, het nog nooit iets nuuts probeer nie.” 21
Albert Einstein en Charlie Chaplin by die Los Angeles-première van die film City Lights. Einstein het gesê Chaplin was die enigste persoon in Hollywood wat hy wou ontmoet

Einstein se dood en die geheimenis van sy brein

Op 18 April 1955 sterf Einstein in die Princeton-hospitaal as gevolg van interne bloeding nadat die wand van sy hoofslagaar geskeur het. Hy was in dié stadium besig om aan ʼn televisietoespraak te werk wat hy op die sewende herdenking van die stigting van die staat van Israel sou lewer. 22

Later dié dag, net voordat die 76-jarige Einstein volgens sy wense veras is, het sy seun Hans Albert deur ʼn voorbladartikel van die The New York Times uitgevind dat “die brein wat die relatiwiteitsteorie uitgewerk en die ontwikkeling van kernkrag moontlik gemaak het, vir wetenskaplike studie verwyder is”. Hans Albert was woedend, maar dr. Thomas Harvey, die dokter wat die outopsie (lykskouing) uitgevoer het, het hom oortuig om toe te laat dat Einstein se brein bestudeer word. Harvey het gehoop dat dit, soos The New York Times berig het, “lig sou werp op een van die natuur se grootste raaisels – die geheim van ʼn genie”. 23

Jare het verloop sonder dat Harvey enige navorsingsbevindings oor Einstein se brein gepubliseer het. Mettertyd het mense hiervan vergeet, totdat ʼn jong joernalis, Steven Levy, in 1978 die opdrag by sy redakteur kry om Einstein se brein op te spoor. Levy het wyd en syd gesoek, en uiteindelik vir Harvey opgespoor in ʼn klein laboratorium waar hy gewerk het. Al het Harvey meer as 23 jaar vantevore toesig gehou oor die verdeling van Einstein se brein in 240 klein stukkies en 200 skyfies met weefselmonsters wat reg oor die VSA vir navorsing gestuur is, het Harvey wraggies nog groot dele van Einstein se brein in glasbottels in ʼn boks gehad!

Sedertdien is uiteenlopende navorsing oor Einstein se brein gedoen, maar sonder enige noemenswaardige ontdekkings wat bewys dat dit van enige ander brein verskil. Een ding weet ons wel vir seker vandag, “gewone” brein of nie, Einstein was ʼn buitengewoon begaafde baanbreker wat sy plek as een van die merkwaardigste mense in die geskiedenis verdien!

Woordbank

atoom Kleinste deeltjie van ʼn chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan. 33
atoombom Bom van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus; kernbom. 25
baanbreker Iemand wat nuwe terreine ontsluit; voorloper; pionier. 25
burgerskap Amptelike burger van ʼn spesifieke land wat wettig daar(kan) woon. 25
CV curriculum vitae; stuk met besonderhede oor iemand se loopbaan, kwalifikasies, prestasies, ens. 25
doktorsgraad Hoogste kwalifikasie wat iemand aan ʼn universiteit kan behaal. 25
dosent Persoon wat les gee aan ʼn inrigting vir tersiêre onderwys. 25
fisika Wetenskap wat handel oor die verskillende vorms van lewelose materie en oor dié van hulle verskynsels waarby geen verandering van hul chemiese samestelling betrokke is nie. 25
genie Iemand met buitengewone begaafdheid/skeppingskrag. 25
intelligent Met ʼn goeie verstandelike vermoë; skrander; skerpsinnig. 25
IK Intelligensiekwosiënt; syfer wat die intelligensie van ʼn persoon aandui. 25
joernalis Iemand wat vir ʼn koerant/tydskrif/radiostasie/TV-kanaal/webblad nuusverslae skryf; verslaggewer. 25
Joodse Iemand wie se godsdiens die Judaïsme is. 25
kernkrag Krag/energie wat vrygestel word wanneer ʼn atoom gesplyt word; kernenergie. 25
kwantum Kleinste moontlike eenheid van energie. 25
laboratorium Vertrek/gebou wat spesiaal ingerig is vir wetenskaplike navorsing/eksperimente 25
materie Materiaal waaruit alles (vastestowwe, vloeistowwe en gasse) in die heelal bestaan. 25
merkwaardige Wat aandag verdien; betekenisvol; belangrik; opmerklik. 25
middelklasgesin Deel van die samelewing tussen die hoër stand en die werkersklas. 25
Nazisme Duitse nasionaal-sosialis, veral ʼn volgeling van Hitler voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog. 25
outopsie Geneeskundige ondersoek van ʼn lyk om die oorsaak van dood vas te stel; nadoodse ondersoek. 25
patent Dokument wat aan iemand die alleenreg gee om vir ʼn vasgestelde tyd ʼn uitvindsel te maak en te verkoop. 25
professors Openbare dosent van die hoogste rang aan ʼn universiteit of ander tersiêre inrigting; hoogleraar 25
rebels Ontevrede; nukkerig; opstandig. 25
relatiwiteit Die verhouding tussen tyd, ruimte en snelheid. 25
sonsverduistering Algehele/gedeeltelike verduistering van die son wanneer die maan tussen die son en die aarde verbybeweeg. 25
splyt Kloof; splits; bars; skeur. 25
struikelblok Belemmering; hindernis; beletsel. 25
swaartekrag Krag wat ʼn liggaam na die aarde toe trek; gravitasie. 25
teorie Grondreëls van ʼn wetenskap om waargenome feite/verskynsels te verklaar; voorstelling van iets in ʼn mens se gedagte sonder om rekening te hou of voordat rekening gehou is met die werklikheid. 25
versot Baie hou van; gaande wees oor. 25
wetenskap Kennis van die wêreld, veral gebaseer op feite wat deur ondersoek, navorsing en toetsing bewys is 25

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Einstein se metode om raaisels op te los.

ʼn Verduideliking van die relatiwiteitsteorie.

Einstein ontmoet die rolprentster Charlie Chaplin.

Einstein, die musikant.

Einstein, die grapjas.

Gepubliseer op: 1 Junie 2022 | Bygewerk op 12 April 2024