Vinnige feite

  • Theiler is in 1907 deur die Britse regering met ’n Companion of the Order of St. Michael and St. George vereer, en hy is in 1914 tot ridder geslaan.
  • Hy het in sy leeftyd meer as 250 wetenskaplike pamflette en brosjures oor dieresiektes uitgegee.
  • Hy kon minstens vyf Europese tale vlot praat, maar het ’n werkende kennis van baie meer gehad.
  • Hy is verskeie kere in sy leeftyd bekroon en het ook verskeie eredoktorsgrade Sy medaljes en eerbewyse kan vandag in die Onderstepoort-museum gesien word.
  • Die sir Arnold Theiler-gedenklesing is in 1962 ingestel en word tot vandag toe steeds jaarliks deur die Universiteit van Pretoria gehou. 5
Foto: iStock

Daar is net iets aan diere wat ’n mens se hart week maak, veral natuurlik ons troeteldiere, en as mense is dit ons verantwoordelikheid om hulle te beskerm en ook om natuurlik ons wilde diere se voortbestaan te verseker. Een man wat baie lief vir diere was, is sir Arnold Theiler (1867-1936).

Hy word as die vader van veeartsenykunde in Suid-Afrika beskou. Hy het baie jare gelede van Switserland af na Suid-Afrika gekom en was die staatsveearts vir die Zuid-Afrikaanse Republiek. Hy het die bekende Onderstepoort- veeartsenykundige navorsingsinstelling in Pretoria en die eerste fakulteit vir veeartsenykunde in Suid-Afrika begin.

Van Switserland na Suid-Afrika

Theiler is op 26 Maart 1867 in Frick, Switserland, gebore. Sy pa was ’n onderwyser, en sy naam was Franz. Sy ma se naam was Maria. Theiler se pa het van kleins af sy passie vir die natuur met sy seun gedeel, en hulle het graag tyd buitenshuis deurgebring.

Sy pa het met hom oor klippe, plante, diere, insekte en voëls gesels, en hulle het dit ook ondersoek. Theiler wou aanvanklik nes sy pa ’n onderwyser geword het, maar het toe besluit om veeartsenykunde aan die Universiteit van Zürich te studeer. Hy het in Augustus 1889 gegradueer. 1

Universiteit van Zürich

Hy was ’n avontuurlustige jong man wat graag boeke oor ekspedisies of ontdekkingsreise na verre lande gelees het. Hy het besluit om ook ’n avontuur te onderneem en het in 1891 sy tasse gepak en na Suid-Afrika gereis. Hy het klere, boeke, ’n mikroskoop en veeartseny-instrumente gepak en met ’n skip na die Kaap gereis. Van daar af het hy verder na Pretoria gereis, en het eers plaaswerk gedoen.

Hy het egter ’n lelike ongeluk met ’n kerfmasjien gehad en in die proses sy linkerhand verloor. Tog het hy hom egter nie deur die terugslag laat stuit nie en het teen die einde van daardie jaar as ’n veearts in Pretoria begin werk. Hy was ’n uitstekende navorser en toe daar in 1893 ’n uitbreking van waterpokkies onder mynwerkers aan die Witwatersrand was, het hy ’n suksesvolle entstof vir hulle voorberei. Sy naam het hierdeur bekend geword, en hy is op 11 Mei 1896 as die staatsveearts van die Zuid-Afrikaanse Republiek ingehuldig.

Arnold Theiler en dr. Jos. R. Mohler

Sy gesin

Theiler het op 26 Oktober 1893 met Emma Sophie Jegge, ’n ou skoolmaat uit Switserland, getrou. Die paartjie het twee seuns en twee dogters gehad. Hul oudste seun, Hans, het ook later ’n veearts geword. Hul twee dogters se name was Margaret, wat ’n onderwyseres geword het, en Gertrud, wat ’n bekende parasitoloog geword het. 2

Hul jongste seun, Max, was ’n bekende mikrobioloog wat ’n Nobelprys gewen het omdat hy die eerste entstof teen geelkoors ontwikkel het. Geelkoors is ’n siekte wat endemies in sommige tropiese dele van die wêreld voorkom. Dit word deur ’n virus wat deur muskiete oorgedra word, veroorsaak. 3

Max Theiler

Sukses teen runderpes

Theiler en ’n kollega, Herbert Watkins-Pitchford, wat die hoofveearts van die Natal-kolonie was, het in 1896 in ’n veldlaboratorium naby Groot-Marico gewerk. Hulle het in slegs ses weke die eerste veilige entstof teen runderpes ontwikkel.

In daardie tyd het runderpes groot skade aan die beesbevolking aangerig, maar die entstof het gehelp om die siekte in 1897 tot ’n einde te bring.

Met die aanbreek van die Anglo-Boereoorlog moes Theiler saam met die magte in die veld gaan werk het. Hy was die enigste veearts aan die Boere se kant, terwyl die Britte verskeie veeartse gehad het.

Hy is ná die oorlog as die regering se veeartsenykundige bakterioloog aangestel. Hy het nog sukses behaal toe hy gesien het dat perdesiekte deur ’n virus veroorsaak is en ’n entstof daarteen kon ontwikkel. Theiler was ook die eerste een wat gesien het dat daar veelvuldige stamme in die perdesiektevirus was, ’n ontdekking wat later baie belangrik in die ontwikkeling van ’n doeltreffender entstof was. 1

Navorsingsinstituut

Dit was Theiler wat voorgestel het dat ’n navorsingsinstituut gestig moes word vir die navorsing oor en ontwikkeling van entstowwe. Hy het Daspoort, aan die buitewyke van Pretoria, daarvoor voorgestel. Daar was in daardie stadium reeds perdestalle by Daspoort.

Dit was ook hy wat aanbeveel het dat ’n staatsveearts die regering ingelig moes hou oor die navorsing oor dieresiektes en die vervaardiging van medikasie en entstowwe. Hy het ook aanbeveel dat die laboratorium as ’n inligtingsentrum vir die publiek moes dien. Sy aanbevelings is in Maart 1898 aanvaar, en hy is as gevolglik as direkteur van die instituut aangestel. 4

Onderstepoort

Die Onderstepoort- veeartsenykundige navorsingsinstelling is in 1908 gestig met Theiler as die eerste direkteur. As gevolg van sy harde werk is baie plaaslike siektes nagevors en entstowwe is daarvoor vervaardig. Theiler het onder meer bewys dat ooskuskoors deur Piroplasma parva (Theileria parva) veroorsaak word. Hy het ook navorsing oor ander siektes gedoen, soos antraks in volstruise. As gevolg van sy navorsing en deurbrake is duisende diere gered en kon boerderye voortgaan. Dit het ’n groot bydrae tot die land se ontwikkeling gemaak. 4

Theiler het egter nie al sy tyd in die laboratorium deurgebring nie. Hy het baie in Suid-Afrika rondgereis waar hy lesings gegee en boere toegespreek het. Hy was baie lief vir plante en het dit graag versamel. Hy het ook dikwels na die buiteland gereis.

Onderstepoort, 1910

Fakulteit Veeartsenykunde

Die Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria is in 1920 gestig en stel sedertdien voornemende veeartse in staat om in Suid-Afrika opgelei te word. Mense wat veeartse wou word, moes voorheen oorsee reis om opgelei te word. Die eerste groep van agt studente van die Fakulteit Veeartsenykunde het in 1924 hul BVSc-graad ontvang. Die eerste vroulike student, dr. Joan Morris, het in 1927 gegradueer. ’n Standbeeld van Theiler staan vandag voor die hoofgebou. 4

Aftrede

Theiler het in Maart 1918 vir die eerste keer probeer aftree, maar hy kon net nie sy werk laat staan nie. Hy het aanhou navorsing doen en sy opvolger by Onderstepoort het hom toe gevra om terug te kom om navorsing oor lamsiekte te doen. Dit is toe dat hy besef het dat lamsiekte deur gifstowwe veroorsaak word. Hy het gevind dat beeste die verrotte karkasse met hierdie gifstowwe eet omdat hulle ’n fosfortekort het. Dit is daarom so belangrik dat fosfor in omgewings bygevoeg word waar lamsiekte voorkom.

Op 1 April 1920 is Theiler weer as direkteur van Onderstepoort aangestel en was hy ook die dekaan van die Fakulteit Veeartsenykunde.

Theiler het in 1927 finaal by Onderstepoort afgetree. Hy en sy vrou het toe op ’n wêreldreis gegaan, en Theiler het ook in Switserland verdere navorsing gedoen. Hulle het egter in 1934 na Suid-Afrika teruggekeer, en Theiler het sonder vergoeding by Onderstepoort gaan werk. Hy is op 24 Julie 1936 aan ’n hartaanval oorlede. Hy was in Londen om ’n konferensie waar sy seun, Max, ’n spreker was, by te woon.

Woordbank

antraks ’n Miltsiekte wat veral beeste kry.
bakterioloog Iemand wat ’n kenner van bakterieë (klein organismes wat infeksies en besmetlike siektes veroorsaak) is.
dekaan Die voorsitter van ’n fakulteit aan ’n universiteit.
ekspedisies Lang reise wat deeglik beplan is, veral na onbekende en gevaarlike plekke.
endemies Beperk tot ʼn bepaalde streek of gebied. ʼn Siekte kom dus in ʼn bepaalde gebied voor.
entstof Preparaat van ’n mikroörganisme/virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van antiliggame te stimuleer sodat die liggaam onvatbaar (immuun) kan word vir besmetting; vaksien.
eredoktorsgrade ’n Mens kry eredoktorsgrade vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
fakulteit Die hoof- akademiese afdelings waarin ’n universiteit verdeel word.
geelkoors ’n Gevaarlike, aansteeklike koorssiekte wat deur muskiete oorgedra word.
gegradueer ’n Akademiese graad ontvang.
lamsiekte Ook gallamsiekte genoem. Dis ’n siekte by beeste, wat hul spiere verlam en wat deur die kiem Clostridium botulinum veroorsaak word.
mikrobioloog ’n Kenner van die wetenskap van mikro-organismes en hul uitwerking op ander lewende organismes.
ooskuskoors ’n Beessiekte in Suidelike Afrika wat deur bosluise oorgedra word.
parasitoloog ’n Kenner van parasitologie (wetenskap van parasiete).
perdesiekte ’n Aansteeklike virussiekte by perde, wat deur ’n onsigbare, filtreerbare virus veroorsaak word, wat waarskynlik deur vlieënde insekte oorgedra word.
runderpes Hoogs besmetlike koorssiekte, veral onder beeste, maar ook by skape en bokke.
tropiese siekte Siekte wat in tropiese gebiede (tipiese warm omgewings naby die ewenaar) voorkom.
veeartsenykunde Die geneeskunde van diere.
virus ’n Baie klein organisme wat sekere siektes kan veroorsaak.
voortbestaan Om verder te bly bestaan.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Theiler

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Theiler

Kyk hoe lyk Theiler se fakulteit vandag

’n Kykie na Onderstepoort

Wat is lamsiekte?

Max Theiler, sy jongste seun

Gepubliseer op: 16 April 2024 | Bygewerk op 16 April 2024